top of page

Search Results

36 results found with an empty search

  • Die Nare Waarheid oor Kersfees (Deel 2)

    Lukas 2:1-5 : “ En in daardie dae het daar ʼn bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word. Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was. En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad. En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was .” Daar is verskeie aanduidings in die Skrifte wat bewys dat Yeshua gebore is in September/Oktober. Die “registrasie” waarna hierbo verwys word, was vir belastingdoeleindes. Hierdie registrasie was aan die einde van die oestyd in Israel en het saam met die fees van Tabernakels geval, wat ook deur Abba Vader so beplan was dat dit aan die einde van die oestyd gehou word, naamlik September/Oktober volgens die Gregoriaanse kalender.  Keiser Augustus het nie so ʼn registrasie gedurende die wintermaande gedoen nie, aangesien dit enige reistog per voet of donkie baie moeilik sou gemaak het. Met ander woorde, dit was met hierdie reis Betlehem toe, toe Josef en Maria in September/Oktober daar aankom en Maria haar eersgebore Seun Yeshua gebaar het en Hom in doeke toegedraai en Hom in die krip neergelê het, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. Hoekom is hierdie feite oor die geboorte van Yeshua belangrik? Ons weet daar is geen opdrag in Abba Vader se woord om die geboorte van Yeshua te herdenk nie! En ons weet dat Yeshua nie sy dissipels geleer het om sy geboortedag te herdenk nie, maar wel sy kruisiging en opstanding. Die vraag is: Hoekom gedenk ons dan die geboorte van Yeshua, en dan ook nog op ʼn datum waarop Hy nie gebore is nie? Die antwoord is omdat dit ʼn tradisie is wat deur die Rooms-Katolieke Kerk ingestel was. En hierdie tradisie is ʼn verbastering van die waarheid van die Skrifte met die leuen van afgodery. Afgodery? Is dit hoekom Abba Vader sê: Hosea 4:6  “ My volk gaan ten gronde weens 'n gebrek aan kennis ”? Kersfees se oorsprong kan teruggevoer word na die Babiloniese godsdiens. Die groot hoer van Babilon (Op. 17:4-5) is verantwoordelik vir die uiteindelike vestiging van hierdie fees as ʼn sogenaamde Christenfees. Geestelike dwaling of misleiding staan bekend as hoerery. Babilon staan derhalwe bekend as “die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Op. 17:5).  Kortliks kan die geskiedenis soos volg opgesom word: Noag het drie seuns gehad, naamlik: Sem, Gam en Jafet. Gam het ná die sondvloed sy rug op Abba Vader gekeer. Hy het ʼn seun gehad met die naam Kus (Gen. 10:6) en hy het al hoe verder van Abba Vader se lig af beweeg en dus al hoe meer in geestelike duisternis verval. Kus was die vader van Nimrod en hy was ʼn geweldenaar of ʼn maghebber op aarde. Nimrod het die stad Babilon gebou (Gen. 10:9-10), asook die toring van Babel (Gen. 11:1-9). Hy en sy volgelinge het al verder afgewyk van die weë van Abba Vader. Nimrod het getrou met Semiramis wat ʼn seun met die naam Tammus gehad het. As hoof van die Babiloniese godsdiens was ʼn opperpriester aangestel wie se woord wet was. Semiramis, die vrou van Nimrod, was die eerste opperpriesteres. Sy het ʼn afgodsdiens daar gestel waar sy die hoëpriester was en waar sy en haar seun aanbid moes word: Semiramis was die hemelkoningin en haar seun, Tammus, die songod. Dit was die begin van die moeder-kind dwaalleer (kultus) waarvan die moeder met die kind in haar arms die simbool is. Lank voor die geboorte van Yeshua het volke van die Noordelike Halfrond feeste gehou wat die koms van die somer en die nuwe jaar gevier het. Hierdie feeste was grootliks toegewy aan die songod en die god van landbou, terwyl die moeder-kind aanbidding ook sentraal tot hierdie afgodery was. By die verskillende volke, en binne die verskillende kulture, het hierdie afgode onder verskillende name bekend gestaan en was hierdie feeste op verskillende wyses gevier. Hierdie feeste het saamgeval met die sonkeerpunt wat in daardie jare gereken was as op 25 Desember. Vandag weet ons egter dat die sonkeerpunt 21 Desember is. Die doel van hierdie fees was om die songod te verwelkom, of om sy oorwinning oor die winter te vier, of om sy geboorte te vier en om die gode van die toekomstige oes te vereer. Hierdie feeste het oor enkele dae (gewoonlik 12) gestrek, maar 25 Desember was gewoonlik die hoogtepunt van die feeste. Kenmerkend van hierdie feeste was ondermeer die volgende: Gee van geskenke; versiering van die immergroen boom (simbolies van lewe en voortplanting); brand van kerse om die koms van die songod aan te moedig; die sing van liedere in die strate en die versiering van huise met steekbessie (“Holly berry”) en voëlent (“Mistletoe”) (beide simbole van fertiliteit). Die bekendste van hierdie feeste, en die een wat die grootste invloed gehad het op die wyse wat Kersfees tans gevier word, en derhalwe op die kerk (die liggaam van Yeshua), was die fees van Saturnalieë. Jare later, het Keiser Konstantyn (312 nC) die liggaam van Yeshua as die staatskerk verklaar en op dié wyse die vervolging van kinders van Abba Vader beëindig. Hy het die sogenaamde, en selfaangestelde, “beskermer van die Christen-geloof geword”. Talle heidense gebruike is die kerk ingebring.  ʼn Gruwelike vermenging tussen die Christen-kerk en die moeder-kind afgodsdiens het gevolg. Gedurende die vierde eeu nC het die Roomse Kerk die fees van Saturnalieë as deel van die Christenfeeste herken. Hiermee is gehoop dat die ongelowiges na die kerk sou stroom en daar op dié wyse deur die kerk die beheer oor mense verkry sou word.  Omrede daar niks “Christelik” aan die fees was nie, het Pous Julius I in 350 nC die laaste dag van hierdie fees, naamlik 25 Desember, as die geboortedag van Yeshua verklaar. Op hierdie wyse het die Roomse Kerk ʼn heidenfees ʼn Christelike karakter gegee en ook die heidene binne die kerk tevrede gestel. Vermenging van die Christen-geloof en heidense praktyke het plaasgevind en die viering van Kersfees as die geboortedag van Yeshua het ontstaan. Dit alles in ag geneem, hoe seer moet dit nie ons Pappa God se hart maak nie. Hy het ons so lief Hy het sy eie Seun gestuur en ek val vir hierdie heidense feeste wat glad nie in Abba Vader se woord staan nie. Moet ek stilbly daaroor? Die besluit is myne en joune. Vir elkeen van ons wat hierdie nare waarheid oor kersfees hoor, is dit ʼn geweldige skok en daarom stel ek voor om self die Skrifte te ondersoek of hierdie dinge die waarheid is (Hand. 17:11). ʼn Oorvloed inligting is ook in ensiklopedieë en op die internet beskikbaar om self ʼn studie hieroor te maak en tot jou eie gevolgtrekking te kom. Die vraag bly egter: As jy gebore is in September/Oktober en mense vier jou verjaarsdag met heidense praktyke, wat sê dit vir jou oor hulle kennis oor jou?

  • Die Nare Waarheid oor Kersfees (Deel 1)

    Johannes 4:23-24 : “ Maar daar kom ʼn uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid .” Volgens hierdie bogenoemde verse is dit duidelik dat Abba Vader dié soek wat Hom in gees en waarheid aanbid. Psalm 119:160  sê: “ Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid .”  Dan sê Psalm 119:1  (AFR83): “ Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here .”  So, wat is die waarheid oor Kersfees? So, wat is die waarheid oor Kersfees? Of kan ons eers kyk wat is die waarheid aangaande die geboorte van Yeshua? Is dit op 25 Desember, soos die meerderheid kinders van Abba Vader glo?  Wanneer ons hierdie waarheid weet, kan elkeen self besluit om óf die waarheid te glo en daarvolgens op te tree óf om die tradisie van mense te bly volg. Het jy al gewonder wanneer is Yeshua werklik gebore? Is daar maniere wat ons kan bepaal wanneer Yeshua gebore is? Ons weet dat daar geen enkele teksvers is wat vir ons die presiese datum van Yeshua se geboorte gee nie.  Ons lees in Lukas 2:8 : “ En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het .” In die Noordelike Halfrond (Israel) is Desember die middel van die winter. Die skaapherders het nie gedurende die wintermaande saam met hulle skape in die oop veld oornag nie, want dit was te koud.  Maar om te bepaal wanneer die geboorte van Yeshua om en by was, moet ons kyk na die geboorte van Johannes die Doper. Die dienswerk wat Johannes se vader, Sagaría, in die tempel verrig het, is die sleutel om die “geheimenis” aangaande die datum van Yeshua se geboorte oop te sluit! In Lukas 1:5-9  staan: “ Daar was in die dae van Herodes, koning van Judéa, ʼn sekere priester met die naam van Sagaría, uit die afdeling van Abía; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet. En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel. En hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei op ver gevorderde leeftyd. En terwyl hy besig was om die priesteramp voor God te bedien in die beurt van sy afdeling, het die lot volgens priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die tempel van die Here en reukwerk te brand .” Sedert die dae van Koning Dawid, was daar 24 afdelings van priesters wat aangestel was om tempeldiens te verrig (1 Kron. 24; 1 Kron. 8:14). Die afdeling Abía waarby Sagaría ingedeel was, was die agtste afdeling (1 Kron. 24:10). Elke afdeling het twee keer per jaar vir sewe dae dienswerk verrig (1 Kron. 9:25). Elke afdeling se dienswerk het begin en geëindig op die Sabbat (2 Kron. 23:8). Volgens die Skrifte weet ons dat die dienswerk van die afdeling Abía gedurende die tiende week van die jaar volgens die Hebreeuse kalender (Abba Vader se kalender) was, naamlik ongeveer die 12de tot die 18de van die maand Sivan en wat ooreenstem met Mei/Junie volgens die Gregoriaanse kalender.  In Lukas 1:11-17 lees ons dat terwyl Sagaría met sy dienswerk besig was, het daar ʼn engel aan hom verskyn wat hom meegedeel het dat Elisabet swanger sal word met ʼn seun wat hulle Johannes moet noem. Volgens Lukas 1:23-25 kan ons wel ʼn berekening doen van wanneer Elisabet swanger geword het. Lukas 1:23-25 : “ En toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan. En ná hierdie dae het Elisabet, sy vrou, ontvang en haar vyf maande lank verberg en gesê: So het die Here met my gedoen in die dae toe Hy my aangesien het om my smaad onder die mense weg te neem .”  Die logiese afleiding wat ons dus hieruit kan maak, is dat Elisabet volgens die Gregoriaanse kalender gedurende Junie van daardie jaar met Johannes die Doper swanger geword het. Dit beteken dat Johannes nege maande later gebore is, naamlik in Maart of vroeg in April die daaropvolgende jaar. Volgens die Hebreeuse kalender stem dit ooreen met die maand Nissan, ook bekend as Aviv (Abib) en wat die eerste maand volgens die Hebreeuse, Abba Vader se, kalender is (Ex. 12:1-11). Die moontlikheid bestaan dus dat Johannes die Doper tydens Pesag (Paasfees) gebore is. Wat is die verband hiervan met die geboorte van Yeshua? Die antwoord vind ons in Lukas 1:26 : “ En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ʼn stad in Galiléa met die naam van Násaret …”  Dan lees ons ook in Lukas 1:36 : “ En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook ʼn seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is .” Beide hierdie verse verwys na die sesde maand van Elisabet se swangerskap. Indien Elisabet dus ses maande swanger was toe Maria swanger geword het, is die logiese gevolgtrekking dat Yeshua ses maande ná Johannes gebore is. Aangesien ons reeds gesien het dat Johannes in Maart /April (die maand Nissan) gebore is, beteken dit dat Yeshua gedurende September of vroeg Oktober  van dieselfde jaar gebore is! Volgens Abba Vader se kalender (die Hebreeuse kalender) stem dit ooreen met die sewende maand, bekend as Tishri . Volgens Levitikus 23:24-44. Daarom is dit ook ʼn logiese gevolgtrekking dat Yeshua gebore is tydens die Fees van Tabernakels.  Is daar meer bewyse? Ja, ons sal daarna kyk. Is dit belangrik om hierdie te weet? Yeshua sê in Johannes 8:31b-32 : “ As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak ."  Mag die waarheid ons vrymaak om Abba Vader in gees en waarheid te dien! Net ʼn vraag om oor te mediteer: As ek en jy in September of Oktober verjaar, wat sê dit vir jou van die mense wat jou verjaarsdag in Desember vier? Kén hulle jou?

  • Die Nare Waarheid oor Halloween

    Is dit nodig om te weet waarmee die wêreld besig is? Kan die wêreld met sy dinge ons insluk in goed wat ons nie eers besef waarvoor dit regtig staan nie? Halloween is nie net onskuldige pret nie Ek het so drie of vier jaar gelede, om en by hierdie tyd, een aand gou petrol ingegooi en toe stop daar twee jongmanne voor my. Dit het gelyk asof hulle in een massiewe oorlog was of in ʼn motorongeluk, want dis wonde en bebloede gesigte, tot ek besef het hulle is op pad na ʼn Halloween-partytjie toe, hulle is net so opgemaak. So, die vraag is: Is Halloween nie net onskuldige pret nie? Orals waar ons kom… en ek kry selfs foto’s van familie en vriende wat Halloween-partytjies hou. Die tipiese foto's wat jy kry van mense wat hulle opmaak in duiwels, spoke, demone en geraamtes; hekse – met vlegstrooihoede, wat dikwels op besems ry. En met ʼn swart kat op hulle skouers; dwerge; uile, vlermuise en spinnekoppe; vampiers en dan kry jy pampoene met lanterns in sommer by die naaste Woolworths. Dan die tradisionele kleure vir hierdie Halloween-partytjies is swart, rooi en oranje.  So die vraag is: Is dit gevaarlik vir ʼn kind van God om deel daarvan te vorm en hoekom?   Jy sien, ons sê so maklik: “Abba Vader sal ons vashou en niks sal ons uit sy hand uit ruk nie,”maar ons lees partykeer net so halfpad, want Abba Vader se instruksies sê: “Gaan van hulle af weg en sonder julle af en moenie wat onrein is aanraak nie, dan sal Ek julle aanneem en vir julle ʼn Vader wees en julle sal vir My seuns en dogters wees.” Moet nie wat onrein is eers aanraak nie! Um, dis nie hoe die wêreld ons leer nie, nee. Die wêreld kom sê: “Jy kan hieraan deelneem, dis onskuldige pret en vermaak vir die kinders. Jy kan hierdie heidense feeste vier en jy kan deel wees van Yeshua se bruid en Abba Vader is so duidelik daaroor.” Inteendeel, Abba Vader sê in  Hosea 4:6 : “ My volk gaan ten gronde weens 'n gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet .” Ek en jy as kinders van Abba Vader is uitgekies om in hierdie verhouding met Abba Vader te wees en om in sy teenwoordigheid te kan kom en saam met Hom te wandel maar ʼn gebrek aan kennis gaan maak dat Abba Vader ons verwerp, want Abba Vader se woord sê in  Hosea 4:6:  “ My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp… ” Met ander woorde, as ek nie Abba Vader se waarheid leer en dit nakom nie, sal ek nie in sy teenwoordigheid kom nie en sal Hy my verwerp.  Halloween is ʼn godsdienstige dag, maar nie vir Abba Vader wat ons dien nie. Hoor gou-gou: Die nare waarheid oor Halloween is dat dit nie onskuldige pret is om Halloween te vier nie. Dit is ʼn afgodsfees en kinders van Abba Vader moet wegbly daarvan af. Nee, dis tyd om Abba Vader se waarheid te ondersoek, sy geheimenisse, en dit te leef, om nie meer kompromieë met die wêreld te sluit nie. So, wat is die oorsprong van Halloween?   Dit is nodig om hierdie te weet, want Abba Vader se woord sê ons moet die strategieë van die vyand ken.  Halloween se wortels lê in heidense afgodsdiens. Dit is een van hierdie afgodsfeeste wat gevier is deur die heidennasies. Hierdie fees is gevier op die 31ste Oktober wat die einde was van die heidennasies se oesjaar. Met ander woorde, dit was die einde van hulle somer, die begin van winter. Hulle herfs het 1 November begin. Die naam van hierdie fees was die fees van Samhain. Samhain beteken ‘summer’s end’ of die einde van somer en dis ʼn fees wat gevier is tot eer van die dooies. Dit is ʼn fees van die dood.  Die heidennasies het geglo dat die dooies, mense wat in jou huis geleef het en wat op hierdie dag gesterf het, weer terugkeer aarde toe en terugkeer na hulle huise toe en dan het hulle hierdie fees gehou om eer te bring aan die dooies en aan die voorvaders van hulle wat al gesterf het.  Hulle het dan op hierdie fees lewende offers gebring. Sataniste het getuig hieroor en sê dit is nié ʼn storieboekstorietjie nie. Hierdie aand was baie sterk in waarsêery, in die oproep van geeste en in die kommunikasie met geeste. Die heidense gelowe het geglo en glo vandag nog dat op hierdie aand wat die somer en die winter van mekaar skei, was hierdie onsigbare hekke oop tussen die geesteswêreld en die fisiese wêreld en die dooies kon heen en weer beweeg, die demoniese magte. Hulle glo hierdie geeste kan heen en weer beweeg op hierdie aand en daarom is dit die hoë Sabbat-seisoen van waarsêery, goëlery en fortuinvertellings. Dit is hierdie afgodsgelowe wat Satan aanbid en 31 Oktober is die groot aand. Abba Vader sê in  Levitikus 19:31 : “ Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die HERE julle God .” Op hierdie dag van Halloween is gebid vir hierdie dooies, om eer aan hulle te bring en Paulus sê in  Romeine 1:22-25 : “ Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos 'n verganklike mens of soos voëls of diere of slange… Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen .” Abba Vader se instruksies is so duidelik teen afgodery en afgodery word ook meer veroordeel as enigiets anders. Abba Vader sê in  Eksodus 20:4-6 : “ Jy mag nie vir jouself afgode maak nie… jy mag nie voor hulle kniel om hulle te aanbid nie .” Johannes sê in  1 Johannes 5:21 : “ Moenie op afgode vertrou of vir julleself afgode maak nie. Ek, die Here, is julle God. ” Dan sê baie mense: “Ja, maar Halloween het ʼn Christelike oorsprong?” Halloween het geen Christelike oorsprong nie. In die jaar 837 is dit egter saamgevoeg met ʼn fees van die Rooms-Katolieke kerk, toe die Pous gesê het: “Kom ons vat hierdie fees van Samhain, en ons fees van  All Saints  en voeg dit saam.”   All Saints Day  is ʼn dag wat die Rooms-Katolieke vandag nog vier waar hulle ook bid vir die dooies (wat net so onbybels is). Hulle het hierdie twee dae saamgevoeg en hulle het dit genoem  All Hallow’s Eve  wat met tyd verander het na Halloween. In die woordeboek, as jy na die betekenis van Halloween soek,dan staan daar “Allerheiligeaand”. Daar is nêrens in Abba Vader se woord ʼn fees wat Hy ingestel het om te bid vir die dooies nie of om eer aan hulle te bring nie. Yeshua sê in  Matteus 8:22 : “ Volg My, en laat die dooies hul eie dooies begrawe. ” Met ander woorde, dit is ʼn “allerheiligeaand” maar vir wie? Vir seker nie vir Abba Vader nie! Net Abba Vader is heilig! So, op hierdie dag van Halloween is gebid vir dooies en dit was die fees van Samhain. As hulle die fees van Halloween vier maak hulle massiewe vreugdevure of “bonfires” en dan het die priesters van die heidense gelowe hulle deur sekere rituele gelei. Daar is op hierdie aand, onder andere offers, gebring van diere, bv. swart katte en van hulle oeste omdat die somer verby is. Vreugdevure se Engelse naam is  bonfire  en die oorspronklike naam van “bonfire” was “bone fire” omdat hulle hierdie karkasse van diere daarop gegooi het. Al hierdie offers is gebring vir die god van Samhain wat ʼn god van die dood is. Daar was selfs mense geoffer vir hierdie god van hulle. Abba Vader se woord sê in  Deuteronomium 12:29-31 : “ As die HERE jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? ‒ dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die HERE jou God nie; want alles wat vir die HERE ʼn gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode .” Abba Vader se woord sê vir ons dit is die werk van die Antichris, die magte van Satan, dit is lankal aan die werk, en dis vandag nog presies dieselfde. Hierdie heidense geloof het geglo dat deur die vuurproses, deur die offers te bring en deur die vuur te gaan, het hulle deur ʼn reiniging gegaan van die ou jaar die nuwe jaar in. Hierdie priesters het kostuums gedra rondom die vuur. So, hoekom het hulle kostuums gedra? Hoor gou-gou: As die dooies en hierdie geeste uit die geesteswêreld aarde toe gekom het, het die priesters hulleself vermom sodat hierdie geeste hulle nie sou herken as ʼn mens nie en gedink het hulle was een van hulle en dan kon hulle saam met hulle feesvier en dit is waar hierdie kostuums vandaan gekom het. Hoe belaglik! Wil ek en jy ook hierdie kostuums dra? Nee dankie vir Halloween-kostuums! Want Halloween is ʼn hoë Sabbat vir satanisme en baie ander afgodsdienste en afgodery. Dan word daar ʼn speletjie gespeel, naamlik “trick-or-treat”. Die priesters en hulle dienaars het by huise en by plase om gegaan en dan het hulle offers gekollekteer wat vir die afgod Samhain gebring is. As hulle by jou huis gekom en vir ʼn offer gevra het, vir ʼn graan offer, of ʼn kalwer, of ʼn skaap, of enigiets en jy het vir hulle gegee, dan het hulle hierdie voorspoed oor jou uitgespreek (ge- chant ). As jy niks gegee het nie en geweier het om by te dra, het hulle jou vervloek met teenspoed. Met ander woorde,  trick or treat … jy kan kies.  Later jare, het hierdie ontwikkel dat arm mense by die huise om gegaan het en dan het hulle vir kos gevra en soos wat mense vir hulle kos gegee het, in ruil vir die kos, het hulle vir hulle dooies gebid. Al die dooies wat in daardie familie of daardie huis gesterf het en dan het hierdie mense vir hulle voorspoedseëninge gegee, soos wat die arm mense vir hulle dooies bid. As jy geweier het om vir hulle kos te gee, het hulle ʼn vloek oor jou gespreek. So, het die kinders van Abba Vader hierdie heidense praktyke of satanistiese rituele begin doen en versag met “dis onskuldige pret”. So, nou hardloop kinders die strate vol met sakkies… klop aan deure en sê: “trick or treat” en wat hulle sê is: “seën of vloek”. Is dit hoekom Abba Vader sê sy kinders gaan ten gronde weens ’n gebrek aan kennis, want Abba Vader se kinders gaan na ʼn “onskuldige” Halloween-partytjie toe en hulle weet nie waarmee hulle besig is nie? Hulle besef nie hulle is deel van hierdie afgodsritueel nie en noem dit “onskuldige pret”. Wil ons regtig ons kinders leer om vloeke uit te spreek oor ander? Is dit wat die woord van Abba Vader ons leer? Of leer die woord ons: “Jy moet jou naaste liefhê en jy moet bid vir jou vyande?” Abba Vader se woord sê  Spreuke 22:6 : “ Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie. ” Wat daarvan as ons ons kinders eerder van Abba Vader se woord leer in plaas daarvan om hulle met die wêreldse pret besig te hou soos die tandmuis, die paashaas, Halloween en Vader Kersfees, wat jy ook een of ander tyd moes leer is nie die waarheid nie. Hoekom nie net die waarheid van Abba Vader se woord nie? Dan vat die wêreld hierdie pampoene en hulle sny ʼn gesig uit en sit ʼn lantern of ʼn kers daarbinne, bekend as Jack O’Lantern. Hierdie is gebruik tydens die fees as ʼn “watchman” om in die geesteswêreld te kyk en dan ook om te sê jy neem deel aan hierdie afgodsfees sodat hulle jou nie kan vervloek nie. Met ander woorde, hierdie pampoengesigte wat al die winkelsentrums vol is, is gedoen vir jou voorspoedseëninge wat sou kom omdat jy deel is van hierdie fees. Die simbool van hierdie pampoen, hierdie Jack O’Lantern, wat wêreldbekend is en wat deur ons “onskuldig” gedoen word, want dis “pret”… Die simbool is “a damned soul” of ʼn verdoemde siel. Die vraag is: Hoekom wil ek en jy deel hê daarvan? Is dit dalk omdat ons nooit die waarheid geleer is nie? Abba Vader sê in sy woord Hy haat dit, dit is ʼn afsku vir Hom as ek en jy deelneem aan die rituele van die heidennasies. Abba Vader se woord gaan verder en sê in Deuteronomium 12:29-32 en 18:9-4 bly weg van hierdie maniertjies en die maniere wat hulle hulle gode aanbid. Abba Vader sê nêrens in sy woord dat ons ʼn fees moet hou om die dooies te eer nie. Regdeur Abba Vader se woord, Ou en Nuwe Testament, sê Abba Vader se woord niemand kan twee here dien nie; want hy sal die óf een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Paulus sê in  1 Korintiërs 10:21-22 : “ Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie .” Dit vraag is: Aan wie se tafel wil ek en jy sit? Abba Vader sê as iemand in jou familie of enige iets vir jou belangriker is as Hy, is jy nie werd om sy kind te wees nie. Dan, in  Eksodus 20:2-5  sê Abba Vader: “ Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ʼn jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat .” Met ander woorde, moenie pampoen sny, kostuums dra of enigsins in hierdie satanistiese feeste deelneem nie, maar soek allereers die Koninkryk van God.   2 Korintiërs 6:14-18 : “ Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?   Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ʼn volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ʼn Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige .”

  • Wanneer Spyt Te Laat Kom - Die waarheid oor die wegraping (Deel 3)

    Wanneer Spyt Te Laat Kom - Deel 3 “Wanneer die basuin skielik blaas, sal dit te laat wees om reg te maak of jou besluit te verander — alles sal in ’n oogwink verander. Die wegraping gaan gebeur — of ons gereed is of nie. Die Woord waarsku ons herhaaldelik: moenie ewigheid verruil vir iets tydelik nie. Soos Esau…” In Hebreërs 12:16-17 lees ons van Esau. Hy het sy eersgeboortereg, iets baie kosbaars, verruil vir net ’n bord lensiesop. Op daardie oomblik het sy honger vir hom belangriker gelyk. Maar later, toe hy besef wat hy verloor het, was dit te laat — selfs toe hy gehuil en gesoebat het, kon hy dit nie terugkry nie. Dit wys vir ons: spyt kom altyd te laat. Esau het sy ewige seën verruil vir iets wat net vir ’n kort rukkie bevrediging gegee het. Dit was ’n dom ruil. En dis ’n groot waarskuwing vir my en jou — moenie jou hemelse beloning verruil vir tydelike plesiertjies van hierdie wêreld nie. Moenie toelaat dat sonde, gemak of wêreldse dinge jou wegneem van dit wat ewig is nie. Jou erfenis in Yeshua is baie meer werd! Jy kan jouself dalk nou oortuig: “Dis niks ernstig nie,” maar daardie dag gaan kom waar jy wens jy het die regte keuses gemaak. Ons het gesien die wegraping gaan in ’n oogwink plaasvind — sonder waarskuwing, sonder uitstel. Daardie dag gaan baie, ja, baie wens hulle het vroeër ernstig geraak oor hul verhouding met Yeshua. Moenie een van hulle wees nie. Moenie jou ewigheid verkoop vir ’n kort oomblik van plesier nie. Wees wakker, wees gereed… sodat jy nie agterbly soos Esau wat eers te laat besef het wat hy verloor het nie. Lesse uit die Skrif oor die Wegraping Dan, in Matteus 25 , leer Yeshua ons ook ’n baie belangrike les. Daar was tien maagde, maar vyf van hulle het nie ekstra olie saamgevat nie. Hulle het uitgestel om reg te maak. Hulle het gedink daar is nog tyd. Maar toe die bruidegom onverwags kom, was hulle nie gereed nie. En toe hulle later probeer regmaak — toe hulle olie gaan koop en terugkom — was dit te laat. Die deur was gesluit. Hulle het sekerlik gewens: “As ons maar net eerder voorberei het… As ons maar net genoeg olie gehad het.” Maar spyt het niks gehelp nie. Die geleentheid was verby. By die ryk man en Lasarus in Lukas 16 leer ons dieselfde les: die ryk man het eers ná sy dood spyt gehad. Eers toe dit te laat was, het hy berou gekry oor hoe hy gelewe het. Hy het gesmeek dat iemand sy broers moet waarsku, maar hy kon niks meer aan sy eie lot verander nie. Sy kans om reg te maak was verby. Dis presies wat Yeshua ons leer deur hierdie verhale: spyt ná die tyd help nie. Die Woord se boodskap is duidelik — Abba Vader is nou genadig. Nou is die tyd om reg te maak, nie eendag nie. 2 Korintiërs 6:2 sê dit direk: “Nou is die tyd van genade, vandag is die dag van verlossing.” Nie môre nie, nie volgende week nie — vandag. Net soos die dwase maagde en die ryk man, sal daar geen tyd wees om later reg te maak wanneer daardie dag kom nie. Die wegraping gaan skielik gebeur, soos ’n dief in die nag. Dan sal daar nie meer tyd wees om te besin, reg te maak of om terug te hardloop vir olie nie. Die vraag is: is jy gereed? Wegraping as God se Belofte van Ontsnapping Hoor gou in Lukas 21:36 maak Yeshua ’n belofte. In die KJ-Bybel sê Hy: “Waak dan en bid altyd deur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” Nou, die woord “ ontvlug ” in Grieks beteken: “ to flee out of, or to escape from. ” Met ander woorde, Yeshua gee ’n belofte dat Sy bruid iets gaan ontvlug. Wat sal dit wees? Ons gaan daarna kyk… maar as Yeshua ’n belofte maak, sal dit so wees. Wanneer ons kyk na 1 Tessalonisense 4:17 , sien ons een van die mees wonderlike beloftes in die hele Woord. Ja, die Woord sê daar gaan ’n dag wees wanneer Yeshua, ons Messias, Sy bruid sal kom haal. Hy gaan ons wegvoer, weggryp, opneem na Hom toe in die lug — nie om weg te vlug in vrees nie, maar om vir ewig by Hom te wees. In die oorspronklike Grieks gebruik Paulus hier die woord “ harpazō ,” wat baie kragtig is. Dit beteken “om te gryp, om weg te ruk, om met krag weg te neem” — amper soos ’n Vader wat Sy kind met liefde uit gevaar wegruk. Dit is iets dramaties, vinnig en onherroeplik. Dit wys die ernstigheid van wat op die wêreld gaan kom, maar ook die liefdevolle beskerming van Yeshua vir Sy getroue bruid. Waarom gebeur hierdie dramatiese wegruk? Die antwoord lê in die woorde van Yeshua self. In Lukas 21:36 waarsku Hy: “Waak dan en bid altyd, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” Wanneer ons Lukas 21 lees, vanaf vers 7 tot 36 , sien ons ’n vreesaanjaende prentjie van wat oor die wêreld gaan kom — nie net gewone moeilike tye nie, maar tye van oordele soos die wêreld nog nooit gesien het nie: Oorloë, opstande, mense teen mekaar Hongersnode, pandemies en natuurrampe soos aardbewings Vervolging van ware gelowiges, haat, verraaiing, selfs gesinne wat mekaar uitlewer Vrees wat mense se harte verskrik — wêreldwye paniek en verwarring Bonatuurlike tekens in die hemel, en uiteindelik, die openbare wederkoms van Yeshua, wanneer elke oog Hom sal sien en Hy op die Olyfberg sal staan ( Sagaria 14:4 ) en regverdig sal oordeel by Armageddon. Let op: In Lukas 21 praat Yeshua nie van die wegraping self nie, maar van die verskriklike dinge wat oor die aarde gaan kom vóór Sy openbare koms. Maar Hy gee Sy volgelinge ’n wonderlike belofte van ontsnapping — ’n wegvoering van die bruid vóór hierdie oordeel losbars. Dit leer ons iets diep belangrik: Die wegraping is nie net ’n beloning nie, dit is ’n reddingsaksie. Dit is nie vir almal nie, maar vir hulle wat waak en bid, wat naby Yeshua bly, wat volhard in getrouheid. Die wegraping is ’n bruilofsmoment, ’n bruilofsfees — die Bruidegom kom Sy bruid haal om haar veilig by Hom te hê vóór die oordeel op die wêreld losbreek. So, die vraag is eenvoudig, maar dringend: Wil jy vasgevang word in hierdie oordeel oor die wêreld — of wil jy deel wees van die bruid wat weggeruk word na Yeshua toe? Die keuse is vandag. Nie môre nie. Nie wanneer dit te laat is nie. Vandag is die dag om seker te maak jy wandel naby Yeshua, jy waak en bid, jy berei jou hart voor om Hom tegemoet te gaan. Yeshua sê self in Openbaring 3:11 : “Ek kom gou; hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.” Daarom moenie wag vir ’n dag van spyt wat dalk te laat kom nie. Vandag is die dag van genade . Vandag is die dag om jou oliekan vol te hê, jou hart skoon te hê, en jou oë op Yeshua gevestig te hou.

  • Die eerste wegraping - Die waarheid oor die wegraping (Deel 4)

    Die liefde waarsku - Deel 4 Ons het gesien in 1 Tessalonisense 4:17 dat ons een van die mees wonderlikste beloftes in die hele Woord kry. Ja, die Woord sê daar gaan ’n dag wees wanneer Yeshua, ons Messias, Sy bruid sal kom haal. Hy gaan ons wegvoer, weggryp, opneem na Hom toe in die lug, nie om weg te vlug in vrees nie, maar om vir ewig by Hom te wees. In die oorspronklike Grieks gebruik Paulus hier die woord " harpazō ", wat baie kragtig is. Dit beteken “om te gryp, om weg te ruk, om met krag weg te neem” , amper soos ’n Vader wat Sy kind met liefde uit gevaar wegruk. Dit is iets dramaties, vinnig en onherroeplik. Dit wys die ernstigheid van wat op die wêreld gaan kom, maar ook die liefdevolle beskerming van Yeshua vir Sy getroue bruid. Wegraping is nie 'n eenmalige gebeurtenis nie Nou, in die Woord leer ons dat hemelse wegrapings nie net ’n eenmalige gebeurtenis is nie — daar is verskeie voorbeelde, vyf ander voorbeelde in die Woord! En elkeen getuig van Abba Vader se krag en moontlikhede buite ons begrip. Hierdie wegrapings herinner ons daaraan dat Abba Vader altyd beheer het oor lewe en dood, en dat Hy Sy kinders op spesiale maniere beskerm en opneem of wegraap soos Hy wil. Hierdie wegrapings, elkeen van hulle, help ons om te verstaan dat ons lewe nie net hier op aarde beperk is nie — daar is ’n ewige lewe by Hom. Die eerste wegraping: Henog Die eerste wegraping in die Woord waarvan ons lees, is dié van Henog. In Genesis 5:24 word gesê: “En Henog het met YHVH gewandel; en hy was daar nie meer nie, want YHVH het hom weggeneem.” Die Hebreeuse woordjie vir " weggeneem " is “ laqach ” ( LA-KWA-G ). Die wortel of grondwoord van laqach beteken: om te neem / om weg te neem om op te neem om iemand te vat of in besit te neem soms ook gebruik vir om iemand tot jou te neem (soos in ’n huwelik of om te verskuif van een plek na ’n ander) Nou, laqach bestaan uit drie Hebreeuse letters, nl. Lamed , Qof en Chet . Elke Hebreeuse letter het ’n piktogram-prentjie met ’n betekenis. Wanneer ons na hierdie drie prentjies saam kyk, kan dit ’n dieper, simboliese betekenis gee aan die woord laqach. Die eerste letter is Lamed , en sy piktogram-prentjie is ’n Herderstaf wat Abba Vader se leiding voorstel, die staf van die Herder wat lei en versorg. Die tweede letter is Qof , en sy piktogram-prentjie is dié van ’n sonsopkoms. Dit wys na die son wat afgesonder is, wat heiligheid voorstel. Die derde letter is Chet , en sy piktogram-prentjie is dié van ’n heining. ’n Heining is daar vir beskerming. Die geestelike betekenis is dié van ’n verbond, ’n plek van beskerming of toegang tot ’n heilige plek (soos die tabernakel of tempel). So, as jy kyk na die prentjies van die drie letters van laqach , wat beteken “om weg te neem” , dan skilder Abba Vader vir ons die prentjie van: Abba Vader, ons Goeie Herder (Lamed) sal ons lei of neem na ’n plek van Heiligheid en afsondering (Qof), ’n plek waar Hy is, onder Sy beskerming, en ’n plek van verbond (Chet). Dis asof Abba Vader Sy staf uitstrek (Lamed) om iemand uit die wêreld weg te lei (Qof), en hulle dan binne-in Sy verbond of heilige ruimte te bring (Chet). Die piktogram-prentjies en -betekenis van laqach bevestig ook wat in Genesis 5 gebeur: Henog is deur Abba Vader geneem — afgesonder uit die wêreld, en in beskerming geneem. Nou, in Genesis 5 , waar daar staan “YHVH het hom weggeneem,” dui dit op ’n bonatuurlike handeling. Henog het nie gesterf nie, maar is deur Abba Vader self weggeneem, opgeneem of verwyder. Henog se wegraping bevestig geloof en gehoorsaamheid Die Woord leer ons dat Henog se geloof só besonders was dat sy lewe opgeskryf is in die “Wall of Faith” , die geloofsgalery van Hebreërs 11 . Ja, in Hebreërs 11:5 staan daar duidelik: “Deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy die dood nie gesien het nie...” Met ander woorde, Henog het nie gesterf soos ander mense nie — Abba Vader het hom op bonatuurlike wyse weggeneem, omdat hy in geloof saam met Hom gewandel het. Wat ’n kragtige herinnering dat geloof nie net ’n idee of ’n belydenis is nie, maar ’n lewenswyse. Ons sien hier weereens dat redding nog altyd deur geloof kom, maar ware geloof is nooit passief nie. Dit vra aksie. Geloof word sigbaar in die manier waarop jy leef. Henog het nie net in Abba Vader as ’n Lewende God geglo nie — hy het saam met Abba Vader gewandel — en dit het alles verander. Hoor weer wat sê Hebreërs 11:5–6 van Noag se oupagrootjie: “Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.” Die simboliek van Henog se roeping Net ’n bietjie agtergrond… van Adam tot by Noag was daar 10 geslagte. Die sewende in hierdie geslagsregister is Henog , en as ons kyk na die getal 7 beteken dit volmaaktheid . Die naam Henog beteken “onderrig,” “lering,” “onderwys” of “leer.” Henog was nie net ’n man wat saam met Abba Vader gewandel het nie — hy was geroep om te leer en ander te onderrig. Sy naam dra reeds sy roeping. Sy naam beteken om mense te leer oor die waarheid , oor Abba Vader se weë , en oor reg en verkeerd . 'n Wegraping herinner ons aan ons sending Soos ons vandag vir ’n oomblik stilstaan by hierdie eerste wegraping in die Woord — Henog wat nie die dood gesien het nie, maar weggeneem is — sien ons ook iets van onsself as die bruid van Yeshua daarin. Ons is die bruid van Yeshua. En net soos Henog, het ons ook ’n opdrag gekry. Yeshua sê in Matteus 28:19 : “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en leer hulle...” Ons is ook geroep om te leer, te onderrig, en waarheid te deel. Dis ’n opdrag vir elke dissipel — die bruid van Yeshua. Net soos Henog moet ons ook wandel saam met Abba Vader, gehoorsaam wees, en ander leer om Hom te volg. Henog se lewe was ’n voorbeeld van geloof wat geleef word, nie net gepraat word nie — en dít is wat Yeshua ook van Sy bruid verwag. In Judas 1:14 sien ons dat Henog nie net met Abba Vader gewandel het nie — hy was ’n profeet van Abba Vader. Henog was ’n spreekbuis in Abba Vader se hande. Hy het die Woord van YHVH verkondig en die mense gewaarsku: die oordeel sou kom. Sy boodskap was duidelik — mense moes terugkeer na Abba Vader. Henog het die volk opgeroep tot bekering . Net so het Yeshua ook Sy dissipels uitgestuur. In Markus 6:12 lees ons: “En hulle het uitgegaan en verkondig dat die mense hulle moes bekeer.” Die opdrag van Yeshua was duidelik. Dissipels van Yeshua is geroep om die evangelie te verkondig, en die hart van daardie boodskap is bekering — teshuvah — ’n terugkeer na Abba Vader. Dis nie net ’n boodskap van liefde en aanvaarding nie, maar ook van verandering, gehoorsaamheid en ’n geloof wat vrug dra. Henog het dit verstaan. En as ons vandag die bruid van Yeshua is, dan is ons opdrag dieselfde: Om te roep tot bekering, om te wandel saam met Abba Vader, en om Sy stem op die aarde te wees. Henog het in sy tyd die mense gewaarsku: “As julle aanhou om in sonde en ongeregtigheid te leef, sal daar oordeel kom.” Hoor mooi… die boodskap wat Henog verkondig het, was ’n boodskap van Abba Vader. Wat het later gebeur? ’n Paar geslagte later het Abba Vader se waarskuwing waar geword. Die sondvloed het gekom. Die aarde is vernietig. Waar was Henog tydens die oordeel? Hy was weggeraap voor die oordeel. So, ek sien as’t ware, voordat Henog weggeraap was, hoe hy deur die dorpe en stede geloop het en geroep het: “Draai terug na Abba Vader! Los julle sondes en leef reg! Die oordeel is op pad — dit is nader as wat julle dink!” Soos daar toe ’n oordeel gekom het deur water, sê die Woord dat daar weer ’n oordeel kom, maar die volgende keer sal dit deur vuur wees ( 2 Petrus 3:7 ). As Henog in sy tyd almal gewaarsku het, hoeveel te meer moet ons nie vandag dieselfde doen nie? Ons is geroep om die bruid van Yeshua te wees — mense wat: saam met Hom wandel, soos wat Henog gedoen het ( Genesis 5:24 ), gehoorsaam is aan Sy Woord, en ander waarsku en roep tot bekering. Ons het nodig om vandag die stem te wees wat sê: “Kom terug na Abba Vader toe in verbond! Die oordeel is naby! Nou is die tyd van genade!” Want sien, in Openbaring 22:12 sê Yeshua: “Kyk, Ek kom gou, en My loon is by My om aan elkeen te gee volgens sy werke.” Henog het Abba Vader se hart geken. Hy het nie geswyg nie. Hy het die mense gewaarsku — en nou roep Yeshua ons, Sy bruid, om dieselfde te doen. Mag ons, soos Henog, in geloof en in gehoorsaamheid saam met Abba Vader wandel, en Sy stem wees in hierdie tyd.

  • Die liefde waarsku - Die waarheid oor die wegraping (Deel 2)

    Die liefde waarsku - Deel 2 Regdeur die hele Woord van Abba Vader, van die Ou Testament regdeur tot in Openbaring word daar geprofeteer oor die laaste dae en die eindtyd. Wanneer ons praat oor die wegraping en eindtydgebeure, moet ons nie vreesbevang word nie, maar die Woord sê ons moet mekaar bemoedig daarmee. Waar staan dit? In 1 Tess. 4:16-18 staan: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.” Hier sê Paulus reguit dat die lering oor Yeshua se koms nie bedoel is om ons bang of vreesbevange te maak nie, maar om mekaar te bemoedig.In Abba Vader se Woord belowe Hy dat Yeshua weer gaan kom, dat Hy Sy bruid gaan wegraap, en dat ons vir altyd by Hom gaan wees. Dit is nie ’n dreigement nie, dit is ’n wonderlike vooruitsig! Ons praat daaroor, want dit gee ons hoop, herinner ons aan Abba Vader se getrouheid en help ons om gereed te bly. Daarom bemoedig ons mekaar daarmee … omdat ons weet: ons toekoms is saam met Hom, vir ewig! Liefde waarsku wanneer daar gevaar is Stel jou voor … iemand kom na jou toe en sê: “Ek het van ’n betroubare bron gehoor dat daar op 23 September ’n aanval gaan wees — ja, van vliegtuie wat in ’n groot gebou gaan invlieg.” Kan ek jou vra … wat sou jy doen as jy regtig geglo het dit is waar? Sou jy stilbly omdat jy bang is mense gaan jou uitlag of dink jy maak onnodige drama? Of sou jy mense waarsku omdat jy hulle wil help? Selfs al sou dit nie daardie dag gebeur nie, sou jy tog nie stilbly nie — want jy sou mense liefhê genoeg om hulle te waarsku, sodat hulle voorbereid is. Net so sê die Woord van Abba Vader dat Yeshua weer kom, dis die waarheid. Ons weet nie presies watter dag en uur nie, maar Yeshua self sê ons moet waak en gereed wees.In 1 Tessalonisense 5 waarsku Paulus ons om nugter en waaksaam te wees, want die dag van die Here kom skielik soos ’n dief in die nag. Ons moet egter gereed wees, wag met vreugde, nie met vrees nie. Want ons weet ons gaan by Yeshua wees! Jy sien … liefde bly nie stil wanneer daar gevaar is nie. Ware liefde waarsku, bemoedig en help ander om reg te wees. Dis hoekom Yeshua self vir ons vertel en gewaarsku het oor Sy wederkoms — nie om ons bang te maak nie, maar omdat Hy ons liefhet en wil hê ons moet gereed wees. Die Waarheid oor die Wegraping en die Wederkoms van Yeshua Wanneer ons kyk na die wonderlike beloftes van Abba Vader, staan een belofte uit bo alles — die grootste van almal: Yeshua gaan weer kom! Maar wanneer ons praat oor Sy wederkoms, moet ons mooi verstaan daar is twee verskillende gebeure. Eerstens, daar is die wegraping. Dit is wanneer Yeshua nie aarde toe kom nie, maar Sy bruid kom haal om Hom in die wolke te ontmoet (1 Tessalonisense 4:17). Dis nie vir almal nie, maar vir Sy bruid — diegene wat gereed is, wat Hom ken en wat Hom liefhet en wag op Hom. Nou, mense verskil oor wanneer dit gaan gebeur: sommige glo voor die groot verdrukking, ander sê in die middel daarvan, en sommige sê aan die einde — daarna gaan ons kyk, maar vir nou wat belangrik is, is dat Yeshua gesê het ons moet gereed wees, want ons weet nie presies wanneer nie. Tweedens, daar is Yeshua se openlike wederkoms. Hierdie keer kom Hy nie alleen nie — Hy kom saam met Sy vrou, die bruid wat saam met Hom was. Hy kom nie net in die lug om ons weg te haal nie, maar Hy kom fisies terug aarde toe. Die Woord sê in Sagaria 14:4 dat Hy Sy voete op die Olyfberg sal sit. Dit gebeur aan die einde van die groot verdrukking, by die slag van Armagedon, waar Yeshua Sy vyande oorwin. Daarna vestig Hy Sy Koninkryk op aarde en regeer oor al die nasies as Koning van konings. Daar is dus ’n duidelike verskil: Die wegraping is privaat , vir die bruid, en ons ontmoet Hom in die wolke. Die wederkoms is openlik , vir die hele wêreld om te sien, en Hy kom aarde toe om te regeer. Beide is beloftes in die Woord — en dit wys hoe belangrik dit is om gereed te wees! Die Geheime Betekenis van die Wegraping – Harpatso en Atomos Ons het gesien in gedeelte 1 dat 1 Tessalonisense 4:17 sê “Then we who are alive and remain shall be caught up together with them in the clouds to meet the Lord in the air...” “Caught up” is die woord in Grieks “harpatso.” “Harpatso” beteken: “to seize, to catch away, to be pulled or taken away by force.” Dit is wat die Griekse woord beteken. Die doel van die wegraping, hierdie “weggryp” van Yeshua se bruid, is baie spesiaal: Eerstens: Dit is om die bruilofsmaal van die Lam by te woon. Die Woord praat op verskeie plekke van hierdie vreugdevolle feesmaal waar Yeshua Sy bruid ontvang — ’n tyd van blydskap, liefde en beloning vir hulle wat gereed was. Tweedens: Dit is om saam met Yeshua na die plek te gaan wat Hy voorberei het. Yeshua sê in Johannes 14:1-3: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van My Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as ek gegaan het en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Nou Abba Vader se Woord sê die wegraping sal in ‘n oogwink plaasvind. In 1 Korintiërs 15:52 sê Paulus: “Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.” “In ’n oogwink” beteken in ’n splinternuwe, vinnige oomblik, so vinnig soos om jou oog te knip — dit gaan nie oor minute of ure nie, maar letterlik binne ’n splitsekonde. Die oorspronklike Griekse woord wat hier gebruik word, is “ atomos ”, wat beteken “‘n ondeelbare klein tydseenheid” — iets wat nie verder opgedeel kan word nie. M.a.w. die wegraping gaan skielik en onmiddellik gebeur, sonder waarskuwing of tyd om voor te berei op daardie oomblik. Daarom sê die Woord ons moet altyd gereed wees, want wanneer die basuin blaas, gebeur dit vinnig, onverwags, en niemand kan dit stop of keer nie. Yeshua sê ook in Lukas 21:34-36 :“Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle skielik oorval nie. Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die aarde woon. Waak dan en bid altyd deur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” Het jy gehoor? Yeshua waarsku ons om wakker en gereed te wees, omdat daar ’n tyd van groot moeilikheid oor die aarde kom. Yeshua, wat alles weet, praat van swaarkry, verdrukking, oordeel, hongersnood, oorlog, siektes en baie ander dinge wat die wêreld gaan tref voordat Hy as Koning terugkom. Is dit nie dalk die tyd waarna die Bybel verwys as die Groot Verdrukking nie? Yeshua waarsku ons om nie vas te klou aan hierdie wêreld en sy dinge nie. Dinge soos basiese lewensbehoeftes, geld, kos, partytjies, plesier, bekommernisse en daaglikse dinge kan maklik ons harte oorlaai. Dan raak ons geestelik lui, afgestomp of onverskillig — en ons raak geestelik aan die slaap. Dan kom daardie dag skielik soos ’n strik en vang ons onkant, sonder enige waarskuwing. So Yeshua sê ook vir ons wat om te doen: Waak en bid altyd. Dit beteken: Bly geestelik wakker — moenie geestelik lui of aan die slaap wees nie. Bid dat jy waardig geag sal word om hierdie dinge te ontvlug — in ander woorde, dat jy gereed sal wees om saam met Hom weggevat te word vóór die oordele losbars. So belowe Yeshua dat as ons waak en bid, sal Hy ons nie in die oordeel los nie. Dat ons saam met Hom sal gaan, om by Hom veilig te wees wanneer die wêreld swaar tye deurmaak. Yeshua sê nie hierdie dinge om ons bang te maak nie, maar om ons te help om voorbereid te wees. Dis ’n liefdevolle waarskuwing sodat ons nie agterbly nie. Stel jou voor: jy hoor daar kom ’n groot storm, groter as enigiets wat die wêreld al gesien het. En iemand waarsku jou: “Oor ’n paar dae gaan alles hier oorstroom word.” Ja, sommige mense sal lag en sê dis onsin; ander sal sê: “Ons sal later dink daaraan.” Maar ’n paar mense sal egter luister, hulle goed pak, en betyds ry na ’n veilige plek toe. En wanneer die storm kom, sal dit te laat wees vir diegene wat bly lag het. Maar dié wat gewaak en voorberei het, sal veilig wees. Is dit nie wat Yeshua ons self oor waarsku en sê nie? Die storm van oordeel kom, maar as ons waak, gereed is en saam met Hom gaan, hoef ons nie te vrees nie.

  • Wat as jy agterbly? - Die waarheid oor die wegraping (Deel 1)

    Die Waarheid oor die wegraping - Deel 1 Dink net vir ‘n oomblik… jy word wakker een oggend… jou huis is tjoepstil… jou geliefdes is skielik net… weg. Jy sit die nuus aan… chaos oral. Motors wat verongeluk het sonder bestuurders. Vliegtuie wat uit die lug geval het. Mense spoorloos verdwyn. Het jy al gehoor van die wegraping? Jy gaan daarvan hoor — en as jy agterbly, omdat jy nie reg is daarvoor…gaan jy dit met jou eie oë sien. Die Woord van Abba Vader sê dit gaan gebeur. En as dit gebeur, sal die wêreld desperaat probeer verduidelik wat plaasgevind het. Die media gaan leuens versprei. Die wêreldleiers gaan stories uitdink. Mense gaan selfs sê dit was aliens… of ‘n geheimsinnige energieverskynsel… maar almal sal weier om die waarheid te glo! Want die Woord sê duidelik in 1 Korintiërs 2:14 : “Die natuurlike mens verstaan nie die dinge van die Gees van God nie… dit is vir hom dwaasheid.” Die vraag is: Wil jy die waarheid hoor voor dit te laat is? Wil jy weet wat die Woord regtig sê oor hierdie skokkende dag wat voorlê? “Moenie jouself laat mislei deur mense se stories of opinies nie… moenie eers my glo sonder om self die Woord na te slaan nie. Laat die Woord die Woord verduidelik. Vra Abba Vader om self vir jou Sy Waarheid oop te breek oor hierdie dag wat op pad is — die Waarheid wat jou siel kan red!” Yeshua het ons vooraf gewaarsku oor die wegraping Yeshua self het ons gewaarsku in Matteus 24:37-39 toe Hy sê: “Net soos dit in die dae van Noag was, so sal dit wees by die koms van die Seun van die mens. Mense het geëet en gedrink, getrou en in die huwelik uitgegee — tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en hulle het niks verstaan totdat die vloed gekom en almal weggeneem het nie. So sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens.” Hierdie woorde van Yeshua is ernstig. Yeshua sê die meeste mense gaan aangaan asof niks gaan gebeur nie. Hulle gaan hul normale lewens leef — werk, trou, hul eie dinge doen — en dan… onverwags… gaan alles verander in ’n oogwink. Een van die grootste redes waarom baie mense nie gereed gaan wees nie, is omdat hulle nie die Woord van Abba Vader ken nie. Abba Vader sê in Hosea 4:6 : “My volk gaan ten gronde weens ’n gebrek aan kennis.” Die vyand weet al te goed dat onkunde mense weerloos maak. Wanneer jy nie Abba Vader se Woord ken nie, glo jy enige storie, enige vals lering, en jy raak maklik mislei. Ons het nodig om nugter en waaksaam te wees want daar is ‘n vyand wat aktief werk om mense geestelik blind te hou. Sy naam was Lucifer, wat beteken “ligdraer” — iemand wat moes lig bring. Maar ná sy val weens hoogmoed…is hy die een wat mense weghou van die Lig. Hy gebruik leuens om jou oë toe te maak sodat jy nie die waarheid sien nie. Die Woord sê in 2 Korintiërs 4:4 : “Die god van hierdie wêreld het die sinne van die ongelowiges verblind sodat die lig van die evangelie nie oor hulle kan skyn nie.” Die vyand wil hê jy moet aanhou leef in die duisternis… onbewus van die ware gevaar en onvoorbereid vir Yeshua se koms.Yeshua sê in Lukas 21:36 : “Waak dan en bid altyd, dat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge te ontvlug en om voor die Seun van die mens te staan.” Die keuse lê by elkeen van ons — gaan jy waaksaam en nugter wees, of gaan jy soos die mense in Noag se tyd verras word wanneer dit te laat is? Die tyd is min — Die waarheid moenie verswyg word nie In Noag se tyd het hy almal gewaarsku, maar niemand het na hom geluister nie. Hoekom nie? Omdat hulle nie kon verstaan dat reën uit die hemel sou val nie (want dit het nog nooit gereën nie – Gen. 2:5-6 ) — net so kan mense vandag nie verstaan dat Yeshua Sy bruid gaan wegraap en in die wolke ontmoet nie. Hoor gou-gou: Noag het gewaarsku, maar mense het vir hom gelag, hom belaglik gemaak, en aangehou leef soos hulle altyd gedoen het. Maar toe die eerste druppels reën geval het, was dit al te laat. En vandag? Net so. Baie predikers en kerke bly stil oor die wegraping. Hoekom? Omdat daar soveel verskillende opinies is. Baie leraars is bang die waarheid gaan mense aanstoot gee. Sommige is bekommerd dat mense gaan wegloop uit die kerk as hulle oor oordeel en gereedheid preek. Ander glo dit is ‘n moeilike onderwerp en eerder vermy hulle dit. Maar die Woord waarsku ons: die dag van ons Bruidegom Yeshua gaan kom soos ‘n dief in die nag ( 1 Tessalonisense 5:2 ) — skielik. Onverwags. En net diegene wat gereed is, sal saam met Yeshua weggeraap word — die res gaan agterbly. ’n Ander rede hoekom daar so min oor die wegraping gepraat word, is omdat mense sê dit saai vrees. Maar ek verstaan dit nie, want ek wil liewer nou al weet. Ek kan nie wag om by Yeshua te wees nie — dit maak my opgewonde! Ja, daar is hierdie opgewondenheid, hierdie wederkoms-verwagting in my hart van … Kom Yeshua, kom! HY KOM — EN DIT IS ’N BELOFTE Yeshua se wederkoms is ’n belofte. In Handelinge 1:10-11 , net nadat Yeshua in ’n wolk weggeraap is, sê twee manne in wit klere vir die dissipels: “Galilése manne, hoekom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Yeshua wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien wegvaar het.” Hierdie belofte leer ons dat Yeshua presies weer gaan kom soos Hy weggegaan het — op ’n wolk. Net soos Hy die eerste keer op die wolke na die hemel toe opgevaar het, gaan Hy ook Sy bruid kom haal op ’n wolk. Dit gaan ’n wonderlike en vreugdevolle ontmoeting wees, waar ons vir ewig by Hom sal wees. Maar tog sê baie mense: “Maar kyk, die woord ‘wegraping’ staan nêrens in die Bybel nie!”Is dit waar? Wel, in 1 Tessalonisense 4:17 in die KJ staan: “Then we who are alive and remain shall be caught up together with them in the clouds to meet the Lord in the air... And thus we shall always be with the Lord.” In die oorspronklike Grieks word die woord vir “caught up” vertaal as harpazō . Hierdie woord beteken letterlik: “om te gryp, weg te ruk, of met krag weg te neem.” Dit is dus presies wat die wegraping beteken — ons word met krag uit hierdie wêreld weggeruk om by Yeshua in die wolke te wees. Baie mense lag vandag as hulle hoor van die wegraping. Hulle sê: “Dit sal nooit gebeur nie… mense het dit al gesê vir jare en niks het gebeur nie.” Maar die Bybel waarsku ons oor hierdie houding. In 2 Petrus 3:3-4 sê Petrus: “Eerstens moet julle weet dat daar in die laaste dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeertes lewe en sê: ‘Waar is die belofte van Sy wederkoms? Want van die begin af het alles dieselfde gebly.’” Dit is niks nuuts nie. In Noag se tyd het mense gelag — totdat die eerste druppels geval het. Sara het gelag toe God sê sy sal ’n kind hê, want sy het gedink dis onmoontlik. Maar God het haar reguit gevra: “Is iets vir die Here te wonderbaar?” ’n Jaar later het sy die belofte vasgehou. God se beloftes verander nie. Die wêreld sê dis ’n grap, maar vir die bruid van Yeshua is dit ’n vaste waarheid. Ons Bruidegom kom op die wolke — skielik, onverwags, soos Hy belowe het. Die vraag is: Lag jy… of leef jy gereed?

  • Liefde groet

    Liefde se ware eienskappe is wat uiteindelik ’n diepe en blywende indruk op mense maak. In 1 Korintiërs 13 beskryf Paulus liefde as iets wat nie probeer beïndruk nie, maar juis indrukke los deur opregtheid, geduld, goedhartigheid en nederigheid. Ware, egte liefde in ons word gesien deur wat ons doen, nie deur hoe ons spog nie – en dít raak Abba Vader en ander mense se harte. Hoe ons mekaar behandel is vir Abba Vader baie belangrik. Hy wil hê ons moet gevul wees met Hom, en dit sal gesien word in ons vrug: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (volgens Gal. 5:22 ). Die manier waarop ons mekaar as kinders van Abba Vader en ander groet, kan dus vir ons onbelangrik lyk, maar hierdie skynbaar nietige kwessie het verbasend groot betekenis. Hoe groet jy as ’n dissipel? Jy kan baie te wete kom oor hoe dissipels van Yeshua mekaar groet. Daarom sê Petrus in 1 Petrus 5:14: “Groet mekaar met ’n soen van Christelike liefde.”  Nou dit beteken nie as jy by die kerk kom, soen almal nie. Nee, Petrus verwys na ’n kulturele gebruik van daardie tyd waar mense mekaar met ’n soen op die wang of voorkop gegroet het. Dis ’n teken van nabyheid, aanvaarding en liefde – soortgelyk aan hoe kinders van Abba Vader mekaar vandag groet met ’n warm drukkie of handdruk. Maar Petrus gee dit ’n geestelike betekenis: Hy sê nie net “groet mekaar vriendelik” nie, maar doen dit in liefde wat uit Yeshua kom – opreg, rein, eerbiedig en sonder valsheid. ’n Soen in Yeshua is ’n uitdrukking van broederlike of susterlike liefde in die liggaam van Yeshua. Dis ’n manier om te sê: “Jy is deel van die familie van Abba Vader. Jy is ’n Koninkrykskind met ’n doel, en ek eer jou as my broer of suster in Yeshua.” ’n Groet wat Familie in Yeshua Bevesti Onthou, terwyl Yeshua met ’n skare praat op ’n tyd, sê iemand vir Hom: “Jou moeder en jou broers staan buite en wil met U praat.”  Yeshua antwoord in Matteus 12:48–50: “Wie is my moeder? En wie is my broers?”  En Hy steek Sy hand oor Sy dissipels uit en sê: “Dáár is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” Yeshua verwerp nie Sy aardse familie nie, maar Hy leer ’n dieper geestelike waarheid: Abba Vader se familie is nie net volgens bloed nie, maar volgens gehoorsaamheid aan Abba Vader se wil. Yeshua sê in wese: “Die mense wat My Vader se wil doen, is werklik na aan My – hulle is My familie.” Yeshua leer ons as Sy dissipels: Jy word deel van Sy familie deur gehoorsaamheid en geloof. Gemeenskap in Yeshua is diep, geestelik en ewigdurend – dikwels selfs nader as aardse familieverhoudings. Daarom sê Petrus: Groet mekaar met opregte, liefdevolle warmte wat wys dat jy die ander persoon as deel van Abba Vader se familie sien.  Laat elke groet eerbied, respek en Yeshua-liefde uitstraal – of dit ’n drukkie, handdruk, glimlag of ’n vriendelike woord is. Hierdie klink dalk vir jou soos ’n klein saak of iets onbelangriks, maar die Woord sê meer hieroor as wat ’n mens verwag. Paulus moedig ons aan om mekaar hartlik te groet wanneer ons ontmoet. In Romeine 16:16 sê hy: “Groet mekaar met ’n heilige kus. Al die gemeentes van Yeshua groet julle.”  Dan in 1 Korintiërs 16:20 sê hy: “Groet mekaar met ’n heilige kus.” Ook aan die einde van sy brief aan die Romeine vra hy medegelowiges om 27 van sy vriende en geliefdes namens hom te groet. Hy noem selfs elkeen se naam. Dit gaan egter nie net oor jou vriende nie. In Yeshua se Bergrede, toe Hy Sy dissipels leer oor dissipelskap, sê Yeshua dat selfs heidene vriendelik is met mense van wie hulle hou. Dit is vir enigeen maklik om dit te doen. Hy neem dit egter ’n stap verder en sê om godvresend te wees, beteken om nederig en hoflik genoeg te wees om selfs jou vyande met vriendelikheid aan te spreek. Die krag van ’n opregte groet Hoe groet jy jou vriende, kollegas en bure? Wat van kennisse en mense wat jy in die openbaar ontmoet? Jy loop dalk iemand raak van wie jy nie noodwendig hou nie, maar uit hoflikheid groet jy hulle tog. As jy dus so vriendelik en hoflik teenoor ander mense is, verdien kinders van Abba Vader en mense saam met jou in die kerk nie dieselfde nie? Wanneer jy opreg wys dat jy bly is om iemand te sien, kan dit hul dag beter maak. Ja, ’n eenvoudige, opregte welkom kan iemand se dag ophelder. Wanneer iemand kommunikeer dat hulle bly is om jou te sien, neem jou persoonlike gevoel van eiewaarde toe. Jy voel belangriker en meer gewaardeer. Dit is omdat ’n hartlike groet die atmosfeer skep vir positiewe en gesonde interaksie. Dink aan die verhaal wat Yeshua oor die verlore seun vertel het. Hierdie jongman het daarop aangedring om sy erfporsie te kry en het dit toe op ’n dwase lewenstyl gemors. Sy slegte keuses het hom egter vinnig ingehaal, en hy moes in ’n varkhok oorskietkos eet. Hierdie jongman was skaam en het sy verskoning geoefen in die varkhokke, en gewonder hoe hy sy pa in die oë gaan kyk as hy terugkom huis toe. Maar sy pa het hom glad nie op die manier gegroet wat hy verwag het nie. Nee, Lukas 15:20 sê: “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy het na hom gehardloop, hom omhels en gesoen.” Van al die scenarios waaraan hierdie jongman kon dink, was dit die een wat hy die minste verwag het. Maar hoe dink jy het dit hom laat voel toe sy pa hom omhels en met dankbaarheid terug verwelkom het? Hy het ongetwyfeld weer geliefd en gewaardeer gevoel. Wat dink jy het dit in hulle verhouding teweeggebring? Hoekom nie mekaar so in Yeshua-liefde groet en behandel nie? ’n Liefdevolle groet kan iemand se lewe vandag seën. Dink aan die geleenthede wat ons het om kinders van Abba Vader op ’n gereelde basis te groet. Daarom, dink bietjie oor die manier waarop jy ander groet. Benut jy hierdie geleentheid ten volle? Voel ander kinders van Abba Vader kosbaar en dat jy hom of haar waardeer? Voel hy of sy geliefd? Selfs wanneer julle nie so goed oor die weg kom nie, kan jy die spanning verlig en ander se eiewaarde verhoog deur die manier waarop jy hulle groet – met liefde in Yeshua. Onthou, liefde is ’n keuse. Kies daarom om die manier waarop jy groet, te verander. Kies om lief te hê. Kies om meer soos Yeshua te wees. Kom ons bid saam: Abba Vader, vergewe my norsheid en selfsugtigheid. Ek wil leeg wees van myself. Kom vul my met U Gees. Meer en meer van U. Leer my om lief te hê soos Yeshua – onbaatsugtig. Ek bid dit in Yeshua se Naam, die Seun van YHVH. Amen.

  • Die Liefde Is Nie Jaloers Nie

    In 1 Korintiërs 13:4 staan:“Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie.” Wanneer jy iemand regtig liefhet, wens jy hulle die beste toe, selfs al beteken dit dat hulle iets het wat jy nie het nie. Liefde vertrou, liefde gun, en vier saam met die ander — sonder om negatief te voel oor hul suksesse of vreugdes. In Spreuke 27:4 sê die Woord:“Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou?” “Woede is wreed” want woede kan impulsief en vernietigend wees — dit veroorsaak skade. Aanhoudende woede is selfs meer gevaarlik omdat dit opbou en dan uitbreek soos ’n vulkaan. Maar dan sê die Woord: jaloesie is selfs meer vernietigend as woede of toorn, omdat dit dikwels stil en langdurig is. Jaloesie vreet aan ’n mens van binne en kan ander vernietig op subtiele maniere. Dit maak jaloesie amper onhanteerbaar as dit nie erken en aangespreek word nie. Daarom vra jaloesie selfondersoek — nie net van hoe ons ander hanteer nie, maar ook wat in ons eie harte aangaan. Daarom waarsku Abba Vader ons … om op ons hoede te wees vir jaloesie, want dit kan groter skade bring as woede. Daarom sê 1 Korintiërs 13:4 : “Die liefde is nie jaloers nie.” Hoe kan God jaloers wees, maar liefde bly? Maar hoe is dit dan? Want tog sê Abba Vader in Sy huwelikkontrak in Eksodus 20:4–6 : “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van dié wat My haat;en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van dié wat My liefhet en my gebooie onderhou.” Hoekom mag jy nie enige gesnede beeld maak nie? Want Abba Vader is ‘n jaloerse God. Maar 1 Korintiërs 13:4 sê: “Die liefde is nie jaloers nie.” En ons weet 1 Johannes 4:8 sê: “God is liefde.” Om te verstaan: Abba Vader is jaloers vir  my en jou gevoelens en jaloers oor  my en jou verhouding met Hom. Die woordjie “jaloers” wat Abba Vader gebruik as Hy sê in Eksodus 20:5 “Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God”, is in Hebreeus die woord “qanna.”   Hierdie woord word gebruik om Abba Vader se jaloesie te beskryf — nie in ’n sondige sin nie, maar in ’n heilige en regverdige sin. In mense is jaloesie dikwels sondig (as gevolg van afguns), maar Abba Vader se jaloesie beteken: “Hy verdra nie afgode of geestelike ontrouheid nie. Hy eis getrouheid omdat Hy ons liefhet en in ’n verbond saam met ons wil wandel.” Dit is die jaloesie of ywerigheid van ’n liefdevolle, regverdige Vader wat nie sy kinders met ander “gode” wil deel nie. Dit wys Abba Vader se intense liefde en verbondstrou . Hy begeer eksklusiewe lojaliteit van Sy kinders. Die jaloesie in 1 Korintiërs 13:4 waar staan “die liefde is nie jaloers nie”, die Griekse woord vir jaloesie is “zeloo.”  Die wortelwoord is “zēlos”  wat ywer, vurige begeerte, entoesiasme, of jaloesie kan beteken. Jy sien, jaloesie in Grieks “zeloo” het ’n dubbele betekenis: Positief: ’n vurige begeerte, strewe, of navolging. Negatief: jaloesie, afguns, of nydigheid. In die konteks van 1 Korintiërs 13 beteken jaloesie (of zeloo) afguns.  Wanneer ons afgunstig is, begeer ons iets wat nie aan ons behoort nie. Byvoorbeeld: as jy ’n motor bestuur en ek het nie een nie, en ek wil jóú motor hê – dan is ek jaloers of afgunstig. Of jy sien iemand anders se man, en jy het nie ’n man nie, en jy wil háár man hê – dis afguns! Hierdie afgunstige jaloesie beteken: dit is iemand anders s’n, maar jy probeer dit vat. Maar wanneer Abba Vader sê: “Ek is jaloers oor wat Mýne is, want jy behoort aan My. Ek is jou Pottebaker,” dan is Abba Vader nie afgunstig nie, want afguns het geen reg nie.  Nee, Abba Vader sê Hy is jaloers omdat Hy my en jou “Tzelem Elohim” geskape het volgens Sy beeld, en ons behoort aan Hom. So, Abba Vader is jaloers oor ons liggame, want ons liggame is die tempel van die Heilige Gees. Daarom is dit Vader se hart dat ons nie mag neerbuig voor enigiets anders as voor Hom nie — ons behoort aan Hom. Yeshua het ten duurste betaal. Kan jy dink as jou vrou of man hul liggame uitleen aan iemand anders? Nee!! Net so behoort ons liggame aan Abba Vader, want Hy is lief vir ons en het ons duur gekoop. Kan dit vir ’n oomblik insink? Pappa God is jaloers op jóú! Jy is waardevol genoeg dat die Skepper van die heelal jaloers oor jou is. Daarom sal Abba Vader nie toelaat dat jy verlore gaan sonder ’n geveg nie. Sy jaloesie is ’n liefdevolle bewys dat jy gekies is. Abba Vader se jaloesie beteken liefde, verbondstrou, en ’n begeerte na ’n eksklusiewe verhouding met jou. Kan jy byvoorbeeld dink hoe jaloers jy op jou kind is? Jy wil nie hê iets moet sleg met hom of haar gebeur nie…is dit nie? Op dieselfde wyse sê Abba Vader regdeur Sy Woord hoe jaloers Hy op my en jou is. Geregverdigde vs. Ongeregverdigde Jaloesie Daar is in werklikheid twee vorme van jaloesie: ’n Geregverdigde jaloesie  gebaseer op liefde, en ’n ongeregverdigde jaloesie  gebaseer op afguns. Geregverdigde jaloesie kom na vore wanneer iemand wat jy liefhet, iemand wat aan jou behoort, sy of haar hart wegdraai en jou met iemand anders vervang. As ’n vrou ’n buite-egtelike verhouding het en haarself aan iemand anders gee, kan haar man ’n geregverdigde jaloerse woede ervaar as gevolg van sy liefde vir haar. Hy smag daarna om terug te kry wat regtens aan hom behoort. Dis presies wat ons doen met Abba Vader. En daarom het Abba Vader ’n geregverdigde jaloesie teenoor ons. Abba Vader is nie afgunstig op ons en wens dat Hy het wat ons het nie (alles behoort in elk geval reeds aan Hom). Nee, Hy smag na ons en begeer dat ons Hom as ons eerste liefde sal bly liefhê. Dis hier waar Hy eerste in ons lewens is. Abba Vader wil nie hê ons moet toelaat dat enigiets bo Hom voorkeur kry in ons harte nie. Die Woord waarsku ons om niks of niemand anders as Abba Vader te aanbid nie, want Deuteronomium 4:24 sê: “YHVH jou God is ’n verterende vuur, ’n jaloerse God.” Maar waar Paulus sê in 1 Korintiërs 13:4 : “Die liefde is nie jaloers nie” — dis is afgunstige  en selfsugtige jaloesie . Want dan is jy jaloers op iemand anders of iets anders as gevolg van selfsugtige redes. Hierdie tipe jaloesie skiet wortel in selfsug — en dit is nie liefde nie. Laat liefde jaloesie oorwin Sukkel jy met jaloesie teenoor ander? Soos: jou vriendin kry ’n baba en nie jy nie? Jou kollega kry die bevordering? Hy of sy het niks verkeerd gedoen nie, maar jy raak bitter as gevolg van hul sukses. Jaloesie is ’n algemene stryd. Dit ontvlam wanneer iemand anders jou kalklig steel en iets kry wat jy wil hê. Dit kan baie pynlik wees, afhangende van hoe selfsugtig jy is. In plaas daarvan om hulle geluk toe te wens, blaas jy jou woede aan en dink sleg van hulle. As jy nie versigtig is nie, seil jaloesie soos ’n adder tot in jou hart en vergiftig jou motiewe en verhoudings. Dit kan keer dat jy die lewe van liefde leef wat Abba Vader vir jou bedoel het. Jakobus 3:16 sê:“Waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.” Reg deur die Woord sien ons hoe jaloesie tot geweld, sonde en selfs moord lei: Kain en Abel: jaloesie lei tot moord. Josef se broers: jaloesie lei tot verraad en slawerny. Saul teenoor Dawid: jaloesie verander ’n koning in ’n moordenaar. Fariseërs teenoor Yeshua: jaloesie lei tot kruisiging. Abba Vader se Woord leer ons: jaloesie begin stil en ongesiens, maar groei tot woede, haat en vernietiging. Dit bring skeiding tussen mense en tussen ons en Pappa God. ’n Mens raak nie sommer jaloers op vreemdelinge nie. Die mense op wie jy geneig is om jaloers te wees, is gewoonlik naby aan jou. Hulle werk saam met jou, speel in jou liga, is in dieselfde sosiale kringe, leef in jou huis, of aanbid saam met jou Abba Vader in dieselfde liggaam. Omdat liefde nie selfsugtig is nie en die ander persoon eerste stel, weier dit om jaloesie vastrapplek te gee. Liefde lei jou om ander se sukses te vier in plaas daarvan om dit te verag. ’n Persoon gevul met Abba Vader se liefde gee nie om as iemand anders beter vaar met iets nie. Nee, hy bemoedig, vertroos, en stig ander in sy lewe. Dis tyd om toe te laat dat liefde, nederigheid en dankbaarheid enige jaloesie vernietig wat in ons harte na vore kom. 'n Gebed om vry te kom van jaloesie Abba Vader, ek is jammer dat ek soms jaloers is. Ek wil daarvan vry wees. Verander my hart en vul hom met U liefde. Leer my om ander te seën en nie te vergelyk nie. Om meer en meer soos Yeshua te wees, want liefde is nie jaloers nie. Ek bid dit in Yeshua se Naam, die Seun van YHVH. Amen.

  • Liefde bedek alles

    In 1 Korintiërs 13:7 staan: “Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” My en jou hart is soos ’n tuin. In die tuin van jou hart is daar ’n plek waar jy graag gaan sit, veral wanneer jy positiewe en bemoedigende dinge ervaar in die geestelike familie waarin Abba Vader jou geplant het. Let wel, elke dag plant ons iets daarin met wat ons dink , sê en doen. Wanneer jy liefde, vergifnis, hoop en geloof kies, plant jy blomme van vrede, vertroue en vreugde. Wanneer jy kies om vinnig te vergewe , maak jy die grond los sodat nuwe dinge kan groei. Wanneer jy die beste in ander sien , soos Abba Vader na Sy kinders kyk, gee jy sonlig en water aan wat goed is. Dít tussen die rose, waar jy rus vind. Elke blom in die tuin waar Abba Vader jou plant herinner jou aan iets mooi in iemand anders. In hierdie tuin sien jy die goeie eienskappe van ander — karaktertrekke soos eerlikheid , ywer , wysheid en vriendelikheid . Daarom, elke keer as jy hierdie tuin besoek, groei jou waardering en dankbaarheid vir jou geestelike familie. Hoe meer tyd jy in die tuin deurbring, hoe meer sien jy hoe ryk en mooi die tuin is wat Abba Vader rondom jou geplant het. Maar elke tuin het onkruid. Daar is teleurstellings , misverstande , kritiek of selfs jaloesie . Jy sien, as ons onkruid soos bitterheid , jaloesie of woede toelaat om te bly, begin daar onkruid groei wat dan die goeie verstik. Dis hier waar dit moeilik raak om die mooi in die tuin raak te sien. Daarom, trek die onkruid uit. Besproei die goeie dinge in jou hart en sien weer raak wat Abba Vader geplant het in die mense om jou. ’n Familie, nes ’n tuin, het daaglikse aandag nodig. Jy kan nie net een keer plant en hoop dit hou vir altyd nie. Jy moet gereeld onkruid uittrek, snoei, natgooi en soms net gaan sit en geniet daar waar Abba Vader jou saam geplant het. 🌾 Onkruid, Genade en Die Keuse om Liefde te Saai Jy sien, liefde is nie net ’n gevoel nie. Dis ’n verbintenis om daagliks in jou tuin te werk, selfs op dae wat dit moeilik is. Elke keer as jy positiewe dinge raaksien, soos vriendelikheid , harde werk , gebede of die klein maniere waarop mense vir jou omgee , word daar ’n saad van liefde , vertroue en waardering gesaai . Jy hou die tuin gesond deur gereeld water te gee met die Woord wat saam bestudeer word, met lof, dankbaarheid en bewuste aandag. In Filippense 4:8 staan: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” Abba Vader moedig ons aan om ons gedagtes te “plant” en te “versorg” rondom die goeie eienskappe van ander. In 1 Tessalonisense 5:11 staan: “Bemoedig mekaar dan en bou mekaar op, soos julle trouens reeds doen.” Jy sien, in die geestelike familie waar Abba Vader ons plant, moet ons mekaar opbou deur aanmoediging en liefde. In Galasiërs 6:9-10 staan: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd ook oes. Laat ons dus, solank ons die geleentheid het, aan almal goed doen, veral aan die huisgesin van die geloof.” Goed doen is soos saai, en in die geestelike familie is ons geroep om met liefde en waardering te oes en te saai. Maar wanneer jy nie fokus op die mooi nie en net fokus op foute, kritiek en teleurstellings, begin jy onkruid plant. En as jy dit nie gou uittrek nie, oorgroei dit alles wat mooi is, totdat die tuin verwaarloos lyk en jy wonder of daar ooit iets goed was. Die punt is: wat jy saai en versorg in jou gedagtes en dade, bepaal die gesondheid van jou verhoudings. Ons almal maak foute en ons almal het areas waar groei nodig is. Almal het onopgeloste probleme, seerkry en emosionele bagasie. Romeine 3:23 sê: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Daar is geen uitsonderings nie. Elke mens het al gefaal en tekortgeskiet aan Abba Vader se Woord. Ons het almal in woorde, dade of gedagtes iets gedoen wat nie met Abba Vader se wil ooreenstem nie. Die “onkruid” wat in ons harte groei, soos bitterheid, trots, jaloesie of ongeduld, is ’n gevolg van die sondeval. Romeine 3:23 herinner ons dat niemand se tuin perfek is nie en dat ons almal genade nodig het. Maar dit maak die goeie nuus nóg mooier. Romeine 3:24 (die volgende vers) sê: “en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Yeshua Ha-Mashiach is.” Met ander woorde, jy het dalk onkruid, maar Abba Vader gee jou genade, gereedskap en saad om weer mooi dinge in jou tuin te laat groei. Die probleem is egter dat ons hierdie aaklige geneigdheid het om ons eie negatiewe eienskappe as onbelangrik af te maak, terwyl ons ander se mislukkings onder ’n vergrootglas plaas. 💛 Laat Liefde die Fokus Bly Kom ons dring tot die kern van die saak. Die liefde kies om die beste oor ander kinders van Abba Vader te glo. Dit gee hulle die voordeel van die twyfel. Dit weier om die onbekende met negatiewe aannames te vul. En wanneer ons ergste vrese bewaarheid word, doen die liefde alles om dit te hanteer en vorentoe te beweeg. Die liefde fokus soveel moontlik op die positiewe. Dit is tyd om anders te begin dink. Dit is tyd om toe te laat dat liefde die tuin van jou gedagtes en fokus bewerk. Daar is dalk onkruid — herinneringe, teleurstellings en swakhede — maar die enigste rede waarom jy ooit daardie onkruid moet raaksien, is sodat jy weet hoe om doelgerig vir daardie persoon te bid. En wanneer jy daardie dor plekke of stukkende blommetjies raaksien, neem die waterkan van gebed en skryf teen die tuinmuur: “Met liefde bedek.” Dis nou tyd om in die tuin van waardering in te trek. Wanneer jy kies om op die mooi en goeie dinge te fokus, begin nuwe blomme skielik oopgaan. Jy sien dinge raak wat jy lank gelede miskien gemis het. Daar is drome wat nog moet blom, en talente wat wag om soos verborge skatte uitgegrawe te word. Maar om hierdie tuin regtig te leer ken, moet jy besluit: “Ek wil dit versorg.”“Ek wil ontdek, bewonder, waardeer." Jy sien, ek en jy moet ’n gewoonte daarvan maak om negatiewe gedagtes in toom te hou en eerder op ander se positiewe eienskappe te fokus. Dit is ’n besluit wat jy neem, of ander dit nou verdien of nie. Die keuse bly joune!

  • Ware liefde is nie liggeraak en neem nie aanstoot nie – Deel 2

    Ware liefde word nie maklik geïrriteerd of neem nie maklik aanstoot oor wat ander doen of sê nie. Dit impliseer dat liefde verdraagsaam, geduldig en nie selfgesentreerd is nie. In Joh 15:5 sê Yeshua: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Yeshua is die bron van lewe en geestelike vrugbaarheid, en sonder Hom is ons geestelik kragteloos. As jy in Yeshua is en Hy in jou, streef jy daarna om ander se foute of tekortkominge nie persoonlik op te neem nie, maar eerder om met begrip en genade te reageer soos Yeshua. Maar hoekom stoei ons dan so hiermee? Hoekom neem ons so maklik aanstoot of is ons so liggeraak? Wat bring ons uit balans? Daar is ‘n paar belangrike redes wat daartoe bydra: onder andere spanning, druk, angs, bekommernis, benoudheid en senuweeagtigheid. Al hierdie dinge maak ’n mens terneergedruk, tap jou energie, verswak jou gesondheid en maak jou knorrig, geïrriteerd en humeurig. Verder: te hard werk, te veel speel of te veel spandeer. Asook ‘n tekort aan rus, gesonde kos en oefening is alles oorsake. Dikwels bring ons hierdie dinge oor onsself, en dit maak ons liggeraak. Daarom is dit nodig. Om te leef is soos om ’n boek te lees – jy kan nie net die laaste bladsy oopmaak en alles verstaan nie. Nee, dis ‘n pad van heiligmaking waar jy hand aan hand saam met Abba Vader wandel. Dit beteken ons moet balans vind, prioriteite stel en dinge nie oordeel nie. Ons gooi te dikwels alle versigtigheid oorboord en hardloop volspoed vorentoe terwyl ons doen wat ook al op daardie spesifieke oomblik reg voel. Dan snak ons na asem, is soos ‘n snaar wat styf gespan is en gereed om enigiemand se kop af te byt. Die toenemende druk kan ons geduld en ons verhoudings laat kwyn. Die Woord leer ons egter om al hierdie ongesonde negatiewe dinge te vermy deur: Om te delegeer wanneer jy oorwerk is en voor jy uitgebrand is (Eks. 18:17-23). Om oormaat te vermy (Spr. 25:16). Abba Vader spoor ons ook reg deur Sy Woord aan om elke week die sabbatdag opsy te sit vir aanbidding en rus. Dit gee ons tyd om ons battery te herlaai, ons fokus reg te kry en om ‘n bietjie asem te haal in ons besige weeklikse skedule. Dieper redes agter ligteerbaarheid Daar is egter ‘n dieper rede waarom jy so vinnig ligtgeraak raak of aanstoot neem, nl.: Selfsug Wanneer jy vinnig ligtgeraak word, kan die kern van die probleem dikwels in jou hart gevind word. Yeshua sê in Mat 12:34: “Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.” Sommige mense is waarlik soos suurlemoene: wanneer die lewe hulle druk, bring dit ‘n suur reaksie voort in plaas daarvan om die geleentheid te gebruik om lemonade (soet) van die situasie te maak. Jy sien, wanneer iemand maklik kwaad word, is dit ‘n teken dat verborge selfsug of onsekerheid teenwoordig is waar liefde veronderstel is om te heers. Selfsug dra egter baie ander maskers: Wellus Wellus kom byvoorbeeld na vore wanneer jy ondankbaar is vir wat jy het en kies om hartstogtelik na iets te smag wat verbode is. Wanneer jou hart wellustig is, sal dit maklik gefrustreerd en kwaad word. Jakobus sê in Jak 4:1-3 : “WAARVANDAAN kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” Bitterheid Bitterheid skiet wortel wanneer jy veroordelend optree en weier om deur jou woede te werk. ‘n Verbitterde mens se opgekropte woede kom na die oppervlak wanneer hy uitgelok word. Paulus sê in Efe 4:31-32 : “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” Gierigheid In Gen 3:1 lees ons:“Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” M.a.w. die eerste ding wat die slang doen, is om twyfel te bring oor die Woord van Abba Vader. Eva antwoord die slang in Gen 3:2-4 : “Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;” So wat die slang doen, is om presies die teenoorgestelde as wat Abba Vader gesê het, te sê. Die slang gaan verder en sê vir Eva in Gen 3:5-6 : “maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.” M.a.w. die vyand se strategie is nog altyd om my en jou te kry om Abba Vader se Woord te betwyfel. Eva het gesien “dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë,” en wat amazing is: meeste van ons dink dit was die enigste boom wat ‘n lus was vir die oë. Dink gou – was dit die enigste boom wat ‘n lus was vir die oë? Nee, hoor gou wat sê Gen 2:9: “En YHVH het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.” M.a.w. al die bome in die tuin was begeerlik om te sien. Maar die slang het Eva oortuig dat hierdie boom anders was. Die woordjie “begeerlik” is ook soms vertaal as: gierigheid, wellus of begeer. Die woordjie “wellus” is egter baie keer vertaal as “begeer”. Met ander woorde, die slang het die boom so mooi ingekleur dat Eva gedink het dat Abba Vader vir haar iets wegsteek. Eva het gedink dat daar iets anders is wat haar sal gelukkig maak – en is dit nie gierigheid nie? Die vyand het Eva laat verstaan dat Abba Vader vir haar iets goeds wegsteek. En die vraag is: hoekom sal Abba Vader vir my en jou, Sy kinders, iets goeds wegsteek? Abba Vader wil vir ons net die beste hê – soos wat enige ouer vir sy kind die beste wil gee. Maar soos Eva, is dit nie wat ons ook soms dink nie? Dink ons nie Abba Vader steek vir ons goed weg nie? Dis een van die redes hoekom ons ook maklik ligtgeraak en aanstoot neem – en as ons net sou leer om Abba Vader te gehoorsaam en te vertrou... Abba Vader seën ons as ons in geloof op Hom vertrou en Hom gehoorsaam. 1 Tim. 6:9-10 sê: “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” Hierdie sterk begeertes, gekombineer met ontevredenheid, veroorsaak dat jy uitvaar teenoor enigiemand wat in jou pad staan. Trots Hoogmoed of trots veroorsaak dat jy bitsig optree ten einde jou ego en reputasie te beskerm. Sien, iemand wat hoogmoedig is, heg baie waarde aan hoe ander hulle sien. Enige woord van hulp of leiding voel vir ‘n hoogmoedige persoon soos 'n aanval op hul ego. Dit maak dat hulle oorreageer op dinge wat ander dalk maklik sou ignoreer. Trotse of hoogmoediges sien hulself as reg of beter , en dus is dit moeilik om te aanvaar dat hulle kan mislei of verkeerd wees. As iemand hulle teëstaan, voel dit soos ’n bedreiging – en hulle raak vinnig geïrriteerd of verdedigend. Wanneer dinge nie verloop soos hulle wil nie – of wanneer mense hul nie behandel met die verwagte respek nie – verloor hulle geduld, neem aanstoot en reageer bitsig of seergemaak. Liefde se genesende pad Liefde en nederigheid , aan die ander kant, help jou om dinge nie persoonlik op te neem nie — jy is dan meer geneig om te luister, te leer en ander met genade te hanteer. Wanneer liefde (Yeshua) egter jou hart in besit neem, wanneer Hy jou wingerstok is, is jou fokus nie langer net op jouself nie maar op Hom — en dan verander jy. Dis hier waar Hy wat in jou is, jou lei om maklik te vergewe in plaas daarvan om wrok te koester. Om dankbaar te wees in plaas van gierig. Om tevrede te wees eerder as om al hoe meer skuld te maak. Liefde (Yeshua in jou) spoor jou aan om gelukkig te wees wanneer iemand anders sukses behaal eerder as om uit pure jaloesie in die nag wakker te lê. KIES VANDAG OM LIEFDEVOL IN PLAAS VAN GEÏRRITEERD OP MOEILIKE SITUASIES TE REAGEER. KIES OOK VANDAG OM MAKLIK TE VERGEWE. “As die lewe vir jou suurlemoene gee, moenie suur wees nie — maak liewer lemoenade.” Kom ons bid saam Yeshua, U is ons Wingerstok en ons U lote – meer en meer asb van U. Vergewe ons asb dat ons so maklik ligtgeraak en aanstoot neem. Snoei ons, dat ons vir U vele vrug kan dra. Ek bid dit in Yeshua HaMashiach se Naam, die Seun van YHVH. Amen.

  • Ware liefde is nie liggeraak en neem nie aanstoot nie – Deel 1

    Liefde is nie vinnig om liggeraak of aanstoot te neem nie; nee, liefde is verdraagsaam. Paulus sê in 1 Korintiërs 13:5-6: Liefde “…soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.” Hoe vinnig raak jy geïrriteerd en kwaad? Wanneer iets skeefloop, trek mense soms vinnig voordeel uit die situasie deur te laat blyk hoe seergemaak en gefrustreerd hulle is. Dit is egter die teenoorgestelde reaksie van liefde. Iemand wat liggeraak is, is emosioneel sensitief en vat dinge vinnig persoonlik, al was dit dalk nie bedoel om te kwets nie. So hoekom is mense so vinnig liggeraak of neem hulle maklik aanstoot? Abba Vader se Woord leer ons: onvervulde verwagtinge lei tot aanstoot! Hoe baie keer het ons nie ‘n verwagting van ons huweliksmaats, vriende of van medegelowiges nie? As daardie verwagting dan nie vervul word nie, dan neem ons geweldig aanstoot. Die Griekse woord vir aanstoot is “skandalon.” Die prentjie wat Abba Vader vir ons skilder van aanstoot (skandalon), is dat die vyand ’n groot struikelblok (klip) in ons pad rol om ons te laat val. Yeshua sê in Matteus 18:7: “Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom.” Struikelblok in Grieks is “skandalon.” PASOP VIR DIE VYAND SE VANGHOK Om verder te verduidelik oor “skandalon”: Op plekke waar hulle ape in Afrika wil vang, bou hulle ’n draadhok wat vasgekap word op die grond. Die draadhok is heeltemal toe, met gapings net groot genoeg vir ’n aap om sy hand deur te druk. Dan sit hulle ’n piesang binne-in die hok. Wanneer die aap sy hand insteek en die piesang vat, is sy hand saam met die piesang te groot om weer uit te trek – en so vang hulle die apie. Daardie piesang in die hok word die “skandalon” genoem. Net so stel die vyand ’n vanghok vir my en jou – hy sit ’n “skandalon” daar om ons mee te vang. En wanneer ons nie hierdie “skandalon” los nie, word ons gevang! Jy sien, ons gee baie keer self vir die vyand die “skandalon”, want ons sê goed soos: “As hy of sy dit doen, sal ek hom/haar nooit vergewe nie.” Die vyand hoor dit en sê dan: “Dankie, jy het sopas vir my die ding gegee om jou huwelik of jou bediening te vernietig, want ek kom om te steel, te slag en te verwoes.” So die vyand sê: “Dankie dat jy sopas vir my hierdie plan gegee het. Ek gaan nou al die ander areas los en net op hierdie een fokus – ek en my demone gaan vangnette stel!” So prakties: Jy is in ’n verhouding met iemand, en hulle gee jou aanstoot. Wat hulle eintlik gedoen het, is om ’n struikelblok in jou pad te rol. Jy kom aangestap in jou verhouding met Abba Vader, hand aan hand met Hom, en jy sien hierdie struikelblok in jou pad. Nou het jy ’n keuse! Jy kan óf daaroor val, óf eenvoudig vir Abba Vader vra: “Vader, lig my oor die struikelblok sodat ek nie val nie.” Wat doen Abba Vader? Abba Vader sê: “Verseker, My kind,” en tel jou daaroor. Hy doen dit, en dan word jy gevul met blydskap, want Abba Vader het jou geestelike oë oopgemaak en jou gewys wat jou wil laat val. Hy red jou uit die net van die voëlvanger, uit die verderflike pes. Dis hoekom die psalmdigter sê in Psalm 91:2-3: “YHVH, my toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.” Jy sien, wat die vyand wil hê ons moet doen wanneer iemand ’n klip in ons pad rol, is dat ons stop, Abba Vader se hand los, die klip optel en dit met ons saamdra – en vir almal wys en vertel van hierdie swaar klip. Dis van: “Sien jy wat het hy of sy met my gedoen? Hulle het dit reg in my pad gelos dat ek moet struikel, val en seerkry.” En dan vra iemand: “Wanneer het hy of sy dit gedoen?”En jy antwoord: “Al drie jaar terug…” En so loop jy al drie jaar met hierdie swaar struikelblok wat die vyand deur iemand in jou pad gerol het. Die probleem is: Liggeraakte mense is geneig om oor te reageer – klein probleempies ontlok reuse-emosies. Die waarheid is: Liefde word nie kwaad of seergemaak tensy daar vanuit Abba Vader se perspektief ’n geregverdigde rede is nie. Yeshua sê in Johannes 15:5: "Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” Wanneer Liefde – Yeshua – in ons bly, en ons in Hom, sal ons soos Yeshua kalm en geduldig bly, genade betoon en ons humeur beteuel. Woede en geweld is buite die kwessie. ’n Liefdevolle persoon is nie oorsensitief en knorrig nie, maar beheer sy emosies. Dis hier waar jy kies om ’n roos tussen die dorings te wees en aangenaam te reageer te midde van prikkelbare situasies. As jy in Yeshua bly, sal jy ’n vreugde wees – nie ’n pyn nie. DIE KRAG VAN VERGEWE EN GEBED In Kolossense 3:12-14 staan:“Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergewe het, so moet julle ook doen.” Met ander woorde, die Woord leer ons om toe te laat dat liefde ons verhoudinge lei, sodat ons nie betrokke raak by onnodige argumente nie. En in Filippense 4:6-7 staan:“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Yeshua Ha-Mashiach.” Met ander woorde, in tye van kommer – bid! Moenie probeer dinge op jou eie hanteer nie. So die vraag is…Sit jy, soos die apie, vasgevang in ’n vanghok en is jy nie bereid om die piesang te los nie? Sit jy met onvervulde verwagtinge? Hou jy vas aan haat en woede teenoor mense omdat jy aanstoot geneem het – en jy kon hulle nog nie vergewe nie? Los die piesang! Laat los. Laat God. Hoekom nie dit vandag los nie? Vergewe vandag soos Abba Vader jou vergewe het. Draai terug na Abba Vader, vat Sy hand, en vra: "Vader, ek kies om oor hierdie struikelblok te spring. Help my, Pappa God. En Vader, ek kies om te vergewe." Kies om Abba Vader te vra om jou te help oor die klip – moenie die klip optel en verder saamdra nie. Kom ons bid saam: Vader, help ons om nie liggeraak te wees en aanstoot te neem nie. Was ons met die waterbad van U Woord en leer ons om ’n Yeshua-ingesteldheid te hê. Ek bid dit alles in Yeshua Ha-Mashiach se Naam, die Seun van YHVH. Amen.

bottom of page