Ware liefde is nie liggeraak en neem nie aanstoot nie – Deel 1
- Houtkruis AlephTav
- May 7
- 5 min read
Updated: May 8

Liefde is nie vinnig om liggeraak of aanstoot te neem nie; nee, liefde is verdraagsaam.
Paulus sê in 1 Korintiërs 13:5-6: Liefde “…soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.”
Hoe vinnig raak jy geïrriteerd en kwaad?
Wanneer iets skeefloop, trek mense soms vinnig voordeel uit die situasie deur te laat blyk hoe seergemaak en gefrustreerd hulle is. Dit is egter die teenoorgestelde reaksie van liefde. Iemand wat liggeraak is, is emosioneel sensitief en vat dinge vinnig persoonlik, al was dit dalk nie bedoel om te kwets nie.

So hoekom is mense so vinnig liggeraak of neem hulle maklik aanstoot?
Abba Vader se Woord leer ons: onvervulde verwagtinge lei tot aanstoot!
Hoe baie keer het ons nie ‘n verwagting van ons huweliksmaats, vriende of van medegelowiges nie? As daardie verwagting dan nie vervul word nie, dan neem ons geweldig aanstoot.
Die Griekse woord vir aanstoot is “skandalon.”
Die prentjie wat Abba Vader vir ons skilder van aanstoot (skandalon), is dat die vyand ’n groot struikelblok (klip) in ons pad rol om ons te laat val.
Yeshua sê in Matteus 18:7: “Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom.”
Struikelblok in Grieks is “skandalon.”

PASOP VIR DIE VYAND SE VANGHOK
Om verder te verduidelik oor “skandalon”: Op plekke waar hulle ape in Afrika wil vang, bou hulle ’n draadhok wat vasgekap word op die grond. Die draadhok is heeltemal toe, met gapings net groot genoeg vir ’n aap om sy hand deur te druk. Dan sit hulle ’n piesang binne-in die hok. Wanneer die aap sy hand insteek en die piesang vat, is sy hand saam met die piesang te groot om weer uit te trek – en so vang hulle die apie.
Daardie piesang in die hok word die “skandalon” genoem.
Net so stel die vyand ’n vanghok vir my en jou – hy sit ’n “skandalon” daar om ons mee te vang. En wanneer ons nie hierdie “skandalon” los nie, word ons gevang!
Jy sien, ons gee baie keer self vir die vyand die “skandalon”, want ons sê goed soos: “As hy of sy dit doen, sal ek hom/haar nooit vergewe nie.”
Die vyand hoor dit en sê dan: “Dankie, jy het sopas vir my die ding gegee om jou huwelik of jou bediening te vernietig, want ek kom om te steel, te slag en te verwoes.”
So die vyand sê: “Dankie dat jy sopas vir my hierdie plan gegee het. Ek gaan nou al die ander areas los en net op hierdie een fokus – ek en my demone gaan vangnette stel!”

So prakties: Jy is in ’n verhouding met iemand, en hulle gee jou aanstoot. Wat hulle eintlik gedoen het, is om ’n struikelblok in jou pad te rol.
Jy kom aangestap in jou verhouding met Abba Vader, hand aan hand met Hom, en jy sien hierdie struikelblok in jou pad. Nou het jy ’n keuse!
Jy kan óf daaroor val, óf eenvoudig vir Abba Vader vra:
“Vader, lig my oor die struikelblok sodat ek nie val nie.”
Wat doen Abba Vader? Abba Vader sê: “Verseker, My kind,” en tel jou daaroor.
Hy doen dit, en dan word jy gevul met blydskap, want Abba Vader het jou geestelike oë oopgemaak en jou gewys wat jou wil laat val. Hy red jou uit die net van die voëlvanger, uit die verderflike pes.
Dis hoekom die psalmdigter sê in Psalm 91:2-3: “YHVH, my toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.”
Jy sien, wat die vyand wil hê ons moet doen wanneer iemand ’n klip in ons pad rol, is dat ons stop, Abba Vader se hand los, die klip optel en dit met ons saamdra – en vir almal wys en vertel van hierdie swaar klip.
Dis van: “Sien jy wat het hy of sy met my gedoen? Hulle het dit reg in my pad gelos dat ek moet struikel, val en seerkry.” En dan vra iemand: “Wanneer het hy of sy dit gedoen?”En jy antwoord: “Al drie jaar terug…”
En so loop jy al drie jaar met hierdie swaar struikelblok wat die vyand deur iemand in jou pad gerol het.
Die probleem is: Liggeraakte mense is geneig om oor te reageer – klein probleempies ontlok reuse-emosies.
Die waarheid is: Liefde word nie kwaad of seergemaak tensy daar vanuit Abba Vader se perspektief ’n geregverdigde rede is nie.
Yeshua sê in Johannes 15:5: "Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Wanneer Liefde – Yeshua – in ons bly, en ons in Hom, sal ons soos Yeshua kalm en geduldig bly, genade betoon en ons humeur beteuel. Woede en geweld is buite die kwessie. ’n Liefdevolle persoon is nie oorsensitief en knorrig nie, maar beheer sy emosies.
Dis hier waar jy kies om ’n roos tussen die dorings te wees en aangenaam te reageer te midde van prikkelbare situasies. As jy in Yeshua bly, sal jy ’n vreugde wees – nie ’n pyn nie.

DIE KRAG VAN VERGEWE EN GEBED
In Kolossense 3:12-14 staan:“Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergewe het, so moet julle ook doen.”
Met ander woorde, die Woord leer ons om toe te laat dat liefde ons verhoudinge lei, sodat ons nie betrokke raak by onnodige argumente nie.
En in Filippense 4:6-7 staan:“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Yeshua Ha-Mashiach.”
Met ander woorde, in tye van kommer – bid! Moenie probeer dinge op jou eie hanteer nie.
So die vraag is…Sit jy, soos die apie, vasgevang in ’n vanghok en is jy nie bereid om die piesang te los nie?
Sit jy met onvervulde verwagtinge?
Hou jy vas aan haat en woede teenoor mense omdat jy aanstoot geneem het – en jy kon hulle nog nie vergewe nie?
Los die piesang! Laat los. Laat God.
Hoekom nie dit vandag los nie? Vergewe vandag soos Abba Vader jou vergewe het. Draai terug na Abba Vader, vat Sy hand, en vra:
"Vader, ek kies om oor hierdie struikelblok te spring. Help my, Pappa God. En Vader, ek kies om te vergewe."

Kies om Abba Vader te vra om jou te help oor die klip – moenie die klip optel en verder saamdra nie.
Kom ons bid saam:
Vader, help ons om nie liggeraak te wees en aanstoot te neem nie. Was ons met die waterbad van U Woord en leer ons om ’n Yeshua-ingesteldheid te hê. Ek bid dit alles in Yeshua Ha-Mashiach se Naam, die Seun van YHVH. Amen.
Commentaires