top of page

Die Liefde Is Nie Jaloers Nie

An image of a woman's dark silhouette watching another woman succeed, with a shadowy green mist representing jealousy, while the other is surrounded by light and joy, strong emotional contrast.

In 1 Korintiërs 13:4 staan:“Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie.”


Wanneer jy iemand regtig liefhet, wens jy hulle die beste toe, selfs al beteken dit dat hulle iets het wat jy nie het nie. Liefde vertrou, liefde gun, en vier saam met die ander — sonder om negatief te voel oor hul suksesse of vreugdes.

In Spreuke 27:4 sê die Woord:“Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou?”


“Woede is wreed” want woede kan impulsief en vernietigend wees — dit veroorsaak skade. Aanhoudende woede is selfs meer gevaarlik omdat dit opbou en dan uitbreek soos ’n vulkaan. Maar dan sê die Woord: jaloesie is selfs meer vernietigend as woede of toorn, omdat dit dikwels stil en langdurig is.


Jaloesie vreet aan ’n mens van binne en kan ander vernietig op subtiele maniere. Dit maak jaloesie amper onhanteerbaar as dit nie erken en aangespreek word nie. Daarom vra jaloesie selfondersoek — nie net van hoe ons ander hanteer nie, maar ook wat in ons eie harte aangaan. Daarom waarsku Abba Vader ons … om op ons hoede te wees vir jaloesie, want dit kan groter skade bring as woede.


Daarom sê 1 Korintiërs 13:4: “Die liefde is nie jaloers nie.”

A clay pot on a potter’s wheel with divine hands shaping it. You can only see the hands, the rest is illuminated and surrounded by heavenly light.

Hoe kan God jaloers wees, maar liefde bly?

Maar hoe is dit dan? Want tog sê Abba Vader in Sy huwelikkontrak in Eksodus 20:4–6:

“Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van dié wat My haat;en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van dié wat My liefhet en my gebooie onderhou.”

Hoekom mag jy nie enige gesnede beeld maak nie? Want Abba Vader is ‘n jaloerse God.

Maar 1 Korintiërs 13:4 sê: “Die liefde is nie jaloers nie.”

En ons weet

1 Johannes 4:8 sê: “God is liefde.”


Om te verstaan: Abba Vader is jaloers vir my en jou gevoelens en jaloers oor my en jou verhouding met Hom. Die woordjie “jaloers” wat Abba Vader gebruik as Hy sê in Eksodus 20:5 “Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God”, is in Hebreeus die woord “qanna.” 


Hierdie woord word gebruik om Abba Vader se jaloesie te beskryf — nie in ’n sondige sin nie, maar in ’n heilige en regverdige sin.

In mense is jaloesie dikwels sondig (as gevolg van afguns), maar Abba Vader se jaloesie beteken: “Hy verdra nie afgode of geestelike ontrouheid nie. Hy eis getrouheid omdat Hy ons liefhet en in ’n verbond saam met ons wil wandel.” Dit is die jaloesie of ywerigheid van ’n liefdevolle, regverdige Vader wat nie sy kinders met ander “gode” wil deel nie.


Dit wys Abba Vader se intense liefde en verbondstrou. Hy begeer eksklusiewe lojaliteit van Sy kinders.

A person sitting in darkness with envy visibly growing like roots from their chest, while others celebrate in the background.

Die jaloesie in 1 Korintiërs 13:4 waar staan “die liefde is nie jaloers nie”, die Griekse woord vir jaloesie is “zeloo.” Die wortelwoord is “zēlos” wat ywer, vurige begeerte, entoesiasme, of jaloesie kan beteken.

Jy sien, jaloesie in Grieks “zeloo” het ’n dubbele betekenis:

  • Positief: ’n vurige begeerte, strewe, of navolging.

  • Negatief: jaloesie, afguns, of nydigheid.


In die konteks van 1 Korintiërs 13 beteken jaloesie (of zeloo) afguns. Wanneer ons afgunstig is, begeer ons iets wat nie aan ons behoort nie.


Byvoorbeeld: as jy ’n motor bestuur en ek het nie een nie, en ek wil jóú motor hê – dan is ek jaloers of afgunstig.


Of jy sien iemand anders se man, en jy het nie ’n man nie, en jy wil háár man hê – dis afguns! Hierdie afgunstige jaloesie beteken: dit is iemand anders s’n, maar jy probeer dit vat.


Maar wanneer Abba Vader sê: “Ek is jaloers oor wat Mýne is, want jy behoort aan My. Ek is jou Pottebaker,” dan is Abba Vader nie afgunstig nie, want afguns het geen reg nie. Nee, Abba Vader sê Hy is jaloers omdat Hy my en jou “Tzelem Elohim” geskape het volgens Sy beeld, en ons behoort aan Hom.


So, Abba Vader is jaloers oor ons liggame, want ons liggame is die tempel van die Heilige Gees. Daarom is dit Vader se hart dat ons nie mag neerbuig voor enigiets anders as voor Hom nie — ons behoort aan Hom. Yeshua het ten duurste betaal. Kan jy dink as jou vrou of man hul liggame uitleen aan iemand anders? Nee!! Net so behoort ons liggame aan Abba Vader, want Hy is lief vir ons en het ons duur gekoop.


Kan dit vir ’n oomblik insink? Pappa God is jaloers op jóú! Jy is waardevol genoeg dat die Skepper van die heelal jaloers oor jou is. Daarom sal Abba Vader nie toelaat dat jy verlore gaan sonder ’n geveg nie. Sy jaloesie is ’n liefdevolle bewys dat jy gekies is. Abba Vader se jaloesie beteken liefde, verbondstrou, en ’n begeerte na ’n eksklusiewe verhouding met jou.


Kan jy byvoorbeeld dink hoe jaloers jy op jou kind is? Jy wil nie hê iets moet sleg met hom of haar gebeur nie…is dit nie? Op dieselfde wyse sê Abba Vader regdeur Sy Woord hoe jaloers Hy op my en jou is.


Geregverdigde vs. Ongeregverdigde Jaloesie

Daar is in werklikheid twee vorme van jaloesie:

  • ’n Geregverdigde jaloesie gebaseer op liefde,

  • en ’n ongeregverdigde jaloesie gebaseer op afguns.


Geregverdigde jaloesie kom na vore wanneer iemand wat jy liefhet, iemand wat aan jou behoort, sy of haar hart wegdraai en jou met iemand anders vervang. As ’n vrou ’n buite-egtelike verhouding het en haarself aan iemand anders gee, kan haar man ’n geregverdigde jaloerse woede ervaar as gevolg van sy liefde vir haar. Hy smag daarna om terug te kry wat regtens aan hom behoort.


Dis presies wat ons doen met Abba Vader. En daarom het Abba Vader ’n geregverdigde jaloesie teenoor ons. Abba Vader is nie afgunstig op ons en wens dat Hy het wat ons het nie (alles behoort in elk geval reeds aan Hom). Nee, Hy smag na ons en begeer dat ons Hom as ons eerste liefde sal bly liefhê. Dis hier waar Hy eerste in ons lewens is.


Abba Vader wil nie hê ons moet toelaat dat enigiets bo Hom voorkeur kry in ons harte nie. Die Woord waarsku ons om niks of niemand anders as Abba Vader te aanbid nie, want Deuteronomium 4:24 sê: “YHVH jou God is ’n verterende vuur, ’n jaloerse God.”


Maar waar Paulus sê in 1 Korintiërs 13:4: “Die liefde is nie jaloers nie” — dis is afgunstige en selfsugtige jaloesie. Want dan is jy jaloers op iemand anders of iets anders as gevolg van selfsugtige redes. Hierdie tipe jaloesie skiet wortel in selfsug — en dit is nie liefde nie.

The fruit of the Spirit tree with “liefde” at the root, and rotten fruit labeled “jaloesie” falling off.

Laat liefde jaloesie oorwin

Sukkel jy met jaloesie teenoor ander? Soos: jou vriendin kry ’n baba en nie jy nie? Jou kollega kry die bevordering? Hy of sy het niks verkeerd gedoen nie, maar jy raak bitter as gevolg van hul sukses.


Jaloesie is ’n algemene stryd. Dit ontvlam wanneer iemand anders jou kalklig steel en iets kry wat jy wil hê. Dit kan baie pynlik wees, afhangende van hoe selfsugtig jy is. In plaas daarvan om hulle geluk toe te wens, blaas jy jou woede aan en dink sleg van hulle. As jy nie versigtig is nie, seil jaloesie soos ’n adder tot in jou hart en vergiftig jou motiewe en verhoudings. Dit kan keer dat jy die lewe van liefde leef wat Abba Vader vir jou bedoel het.


Jakobus 3:16 sê:“Waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.”


Reg deur die Woord sien ons hoe jaloesie tot geweld, sonde en selfs moord lei:

  • Kain en Abel: jaloesie lei tot moord.

  • Josef se broers: jaloesie lei tot verraad en slawerny.

  • Saul teenoor Dawid: jaloesie verander ’n koning in ’n moordenaar.

  • Fariseërs teenoor Yeshua: jaloesie lei tot kruisiging.


Abba Vader se Woord leer ons: jaloesie begin stil en ongesiens, maar groei tot woede, haat en vernietiging. Dit bring skeiding tussen mense en tussen ons en Pappa God.


’n Mens raak nie sommer jaloers op vreemdelinge nie.

Die mense op wie jy geneig is om jaloers te wees, is gewoonlik naby aan jou.

Hulle werk saam met jou, speel in jou liga, is in dieselfde sosiale kringe, leef in jou huis, of aanbid saam met jou Abba Vader in dieselfde liggaam.


Omdat liefde nie selfsugtig is nie en die ander persoon eerste stel, weier dit om jaloesie vastrapplek te gee. Liefde lei jou om ander se sukses te vier in plaas daarvan om dit te verag. ’n Persoon gevul met Abba Vader se liefde gee nie om as iemand anders beter vaar met iets nie. Nee, hy bemoedig, vertroos, en stig ander in sy lewe.


Dis tyd om toe te laat dat liefde, nederigheid en dankbaarheid enige jaloesie vernietig wat in ons harte na vore kom.

Hearts blooming into flowers under the sun labeled “Dankbaarheid” and “Tevredenheid” representing the antidote to jealousy.

'n Gebed om vry te kom van jaloesie

Abba Vader, ek is jammer dat ek soms jaloers is. Ek wil daarvan vry wees. Verander my hart en vul hom met U liefde. Leer my om ander te seën en nie te vergelyk nie. Om meer en meer soos Yeshua te wees, want liefde is nie jaloers nie. Ek bid dit in Yeshua se Naam, die Seun van YHVH. Amen.

Comments


bottom of page