Wanneer Spyt Te Laat Kom - Die waarheid oor die wegraping (Deel 3)
- Houtkruis AlephTav
- Aug 13, 2025
- 5 min read

Wanneer Spyt Te Laat Kom - Deel 3
“Wanneer die basuin skielik blaas, sal dit te laat wees om reg te maak of jou besluit te verander — alles sal in ’n oogwink verander.
Die wegraping gaan gebeur — of ons gereed is of nie. Die Woord waarsku ons herhaaldelik: moenie ewigheid verruil vir iets tydelik nie. Soos Esau…”
In Hebreërs 12:16-17 lees ons van Esau. Hy het sy eersgeboortereg, iets baie kosbaars, verruil vir net ’n bord lensiesop. Op daardie oomblik het sy honger vir hom belangriker gelyk. Maar later, toe hy besef wat hy verloor het, was dit te laat — selfs toe hy gehuil en gesoebat het, kon hy dit nie terugkry nie.
Dit wys vir ons: spyt kom altyd te laat.
Esau het sy ewige seën verruil vir iets wat net vir ’n kort rukkie bevrediging gegee het. Dit was ’n dom ruil.

En dis ’n groot waarskuwing vir my en jou — moenie jou hemelse beloning verruil vir tydelike plesiertjies van hierdie wêreld nie. Moenie toelaat dat sonde, gemak of wêreldse dinge jou wegneem van dit wat ewig is nie. Jou erfenis in Yeshua is baie meer werd!
Jy kan jouself dalk nou oortuig: “Dis niks ernstig nie,” maar daardie dag gaan kom waar jy wens jy het die regte keuses gemaak.
Ons het gesien die wegraping gaan in ’n oogwink plaasvind — sonder waarskuwing, sonder uitstel. Daardie dag gaan baie, ja, baie wens hulle het vroeër ernstig geraak oor hul verhouding met Yeshua.
Moenie een van hulle wees nie.
Moenie jou ewigheid verkoop vir ’n kort oomblik van plesier nie.
Wees wakker, wees gereed… sodat jy nie agterbly soos Esau wat eers te laat besef het wat hy verloor het nie.

Lesse uit die Skrif oor die Wegraping
Dan, in Matteus 25, leer Yeshua ons ook ’n baie belangrike les. Daar was tien maagde, maar vyf van hulle het nie ekstra olie saamgevat nie. Hulle het uitgestel om reg te maak. Hulle het gedink daar is nog tyd. Maar toe die bruidegom onverwags kom, was hulle nie gereed nie. En toe hulle later probeer regmaak — toe hulle olie gaan koop en terugkom — was dit te laat. Die deur was gesluit.
Hulle het sekerlik gewens: “As ons maar net eerder voorberei het… As ons maar net genoeg olie gehad het.” Maar spyt het niks gehelp nie. Die geleentheid was verby.
By die ryk man en Lasarus in Lukas 16 leer ons dieselfde les: die ryk man het eers ná sy dood spyt gehad. Eers toe dit te laat was, het hy berou gekry oor hoe hy gelewe het. Hy het gesmeek dat iemand sy broers moet waarsku, maar hy kon niks meer aan sy eie lot verander nie. Sy kans om reg te maak was verby.
Dis presies wat Yeshua ons leer deur hierdie verhale: spyt ná die tyd help nie. Die Woord se boodskap is duidelik — Abba Vader is nou genadig. Nou is die tyd om reg te maak, nie eendag nie.
2 Korintiërs 6:2 sê dit direk: “Nou is die tyd van genade, vandag is die dag van verlossing.”
Nie môre nie, nie volgende week nie — vandag.
Net soos die dwase maagde en die ryk man, sal daar geen tyd wees om later reg te maak wanneer daardie dag kom nie. Die wegraping gaan skielik gebeur, soos ’n dief in die nag. Dan sal daar nie meer tyd wees om te besin, reg te maak of om terug te hardloop vir olie nie.
Die vraag is: is jy gereed?

Wegraping as God se Belofte van Ontsnapping
Hoor gou in Lukas 21:36 maak Yeshua ’n belofte. In die KJ-Bybel sê Hy: “Waak dan en bid altyd deur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”
Nou, die woord “ontvlug” in Grieks beteken: “to flee out of, or to escape from.”
Met ander woorde, Yeshua gee ’n belofte dat Sy bruid iets gaan ontvlug.
Wat sal dit wees? Ons gaan daarna kyk… maar as Yeshua ’n belofte maak, sal dit so wees.
Wanneer ons kyk na 1 Tessalonisense 4:17, sien ons een van die mees wonderlike beloftes in die hele Woord. Ja, die Woord sê daar gaan ’n dag wees wanneer Yeshua, ons Messias, Sy bruid sal kom haal. Hy gaan ons wegvoer, weggryp, opneem na Hom toe in die lug — nie om weg te vlug in vrees nie, maar om vir ewig by Hom te wees.
In die oorspronklike Grieks gebruik Paulus hier die woord “harpazō,” wat baie kragtig is. Dit beteken “om te gryp, om weg te ruk, om met krag weg te neem” — amper soos ’n Vader wat Sy kind met liefde uit gevaar wegruk.
Dit is iets dramaties, vinnig en onherroeplik. Dit wys die ernstigheid van wat op die wêreld gaan kom, maar ook die liefdevolle beskerming van Yeshua vir Sy getroue bruid.
Waarom gebeur hierdie dramatiese wegruk?
Die antwoord lê in die woorde van Yeshua self. In Lukas 21:36 waarsku Hy:
“Waak dan en bid altyd, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”
Wanneer ons Lukas 21 lees, vanaf vers 7 tot 36, sien ons ’n vreesaanjaende prentjie van wat oor die wêreld gaan kom — nie net gewone moeilike tye nie, maar tye van oordele soos die wêreld nog nooit gesien het nie:
Oorloë, opstande, mense teen mekaar
Hongersnode, pandemies en natuurrampe soos aardbewings
Vervolging van ware gelowiges, haat, verraaiing, selfs gesinne wat mekaar uitlewer
Vrees wat mense se harte verskrik — wêreldwye paniek en verwarring
Bonatuurlike tekens in die hemel, en uiteindelik, die openbare wederkoms van Yeshua, wanneer elke oog Hom sal sien en Hy op die Olyfberg sal staan (Sagaria 14:4) en regverdig sal oordeel by Armageddon.
Let op: In Lukas 21 praat Yeshua nie van die wegraping self nie, maar van die verskriklike dinge wat oor die aarde gaan kom vóór Sy openbare koms.
Maar Hy gee Sy volgelinge ’n wonderlike belofte van ontsnapping — ’n wegvoering van die bruid vóór hierdie oordeel losbars.

Dit leer ons iets diep belangrik:
Die wegraping is nie net ’n beloning nie, dit is ’n reddingsaksie. Dit is nie vir almal nie, maar vir hulle wat waak en bid, wat naby Yeshua bly, wat volhard in getrouheid. Die wegraping is ’n bruilofsmoment, ’n bruilofsfees — die Bruidegom kom Sy bruid haal om haar veilig by Hom te hê vóór die oordeel op die wêreld losbreek.
So, die vraag is eenvoudig, maar dringend:
Wil jy vasgevang word in hierdie oordeel oor die wêreld — of wil jy deel wees van die bruid wat weggeruk word na Yeshua toe?
Die keuse is vandag.
Nie môre nie. Nie wanneer dit te laat is nie.
Vandag is die dag om seker te maak jy wandel naby Yeshua, jy waak en bid, jy berei jou hart voor om Hom tegemoet te gaan.
Yeshua sê self in Openbaring 3:11: “Ek kom gou; hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.”
Daarom moenie wag vir ’n dag van spyt wat dalk te laat kom nie. Vandag is die dag van genade. Vandag is die dag om jou oliekan vol te hê, jou hart skoon te hê, en jou oë op Yeshua gevestig te hou.


Comments