top of page
65-cropped-sml.jpg

Woordstudie (Parashah)

Daaglikse woordstudies. Soos manna vir die siel elke dag.

Stap-saam-met-Yeshua

Yeshua in die Woord...

PARASHAH

Die eerste en oudste gedeelte van die oorspronklike Hebreeuse Bybel staan bekend as die Torah. Dit is die Hebreeuse naam vir die eerste vyf boeke van die Bybel soos wat ons dit vandag ken: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium.

​

Die Torah is verdeel in 54 gedeeltes wat oor ʼn jaarlikse siklus weekliks bestudeer word. Hierdie weeklikse gedeeltes staan bekend as "parashah" in Hebreeus.

​

Die sikliese parashah is ʼn kombinasie van gedeeltes wat uit beide die Ou Testament en die Nuwe Testament bestudeer word. Hierdie manier van studie, veral die van die Torah, vind reeds vir duisende jare regoor die wêreld plaas.

Die Ou Testament, bekend as die "Tenach," bestaan uit drie dele:
​
  1. Die Torah, wat die eerste vyf boeke van die Bybel insluit.

  2. Die Nevi'im, wat bestaan uit die groot profete (Jesaja, Jeremia, Esegiël) en die kleiner profete (Hosea tot Maleagi).

  3. Die Chetuvim, wat Psalms, Spreuke, Prediker en Klaagliedere insluit.

 

Die Nuwe Testament staan bekend as die "Brit Chadashah" en sluit boeke van Mattheus tot Openbaring in.

 

Ongeveer 1500 jaar voor die geboorte van Yeshua, het Abba Vader die Torah self aan Moses op die berg Sinai gegee. Dit was toe, en is steeds vandag, 'n handleiding wat deur Abba Vader saamgestel is om die mens te help en rigting te gee in sy lewe. Dit is Abba Vader se instruksies, beskerming en liefdevolle onderrig.

 

Die Torah is nooit herroep nie, maar Yeshua, ons Messias, is die Lewende Torah - die Woord van Abba wat vlees geword het. Yeshua het gekom om te wys hoe om die Torah te leef. Sonder Yeshua sou die geskrewe Torah net die dooie letter van die wet wees.

​

Waarom Hebreeus?

 

Deur terug te gaan na die oorspronklike Hebreeuse Bybel ontdek mens waarhede en geloofskatte wat verlore gegaan het as gevolg van vertalings in moderne tale wat nie al die simboliek van Hebreeus kan bevat nie. Daarom verwys ons dikwels na die Hebreeuse betekenis van woorde wanneer ons die woord bestudeer. Jy sal vind dat daar soveel verborge waarhede hierin opgesluit lê!

​

KINDERPARASHAH

Die Kinderparashah (porsie vir die week) bied weeklikse lesse vir kinders om die skatte van Abba Vader se woord te ontdek. Elke week word ʼn avontuurlustige reis aangebied deur stories van die Ou Testament. Kinders leer oor verskeie karakters in Abba Vader se woord, van Abraham tot Moses, en vele ander helde van geloof. Dit is ʼn tyd van ontdekking en groei van geloof, waar insig gedeel word en Abba Vader se woord bespreek word.

Deur hierdie stories ontdek kinders ook Abba Vader se liefde – ʼn liefde wat getrou, geduldig en onvoorwaardelik is. Hulle leer hoe Abba Vader altyd daar is om te beskerm, te lei en te voorsien, ongeag die omstandighede. Hierdie kennis van Abba se liefde help kinders om ʼn sterker, meer persoonlike verhouding met Hom te bou en om die krag van sy liefde in hul eie lewens te ervaar.

Kinder-parashah

"Laat die kindertjies na My toe kom ..."

bottom of page