Die liefde waarsku - Die waarheid oor die wegraping (Deel 2)
- Houtkruis AlephTav
- Jul 31
- 7 min read

Die liefde waarsku - Deel 2
Regdeur die hele Woord van Abba Vader, van die Ou Testament regdeur tot in Openbaring word daar geprofeteer oor die laaste dae en die eindtyd.
Wanneer ons praat oor die wegraping en eindtydgebeure, moet ons nie vreesbevang word nie, maar die Woord sê ons moet mekaar bemoedig daarmee. Waar staan dit?
In 1 Tess. 4:16-18 staan: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
Hier sê Paulus reguit dat die lering oor Yeshua se koms nie bedoel is om ons bang of vreesbevange te maak nie, maar om mekaar te bemoedig.In Abba Vader se Woord belowe Hy dat Yeshua weer gaan kom, dat Hy Sy bruid gaan wegraap, en dat ons vir altyd by Hom gaan wees. Dit is nie ’n dreigement nie, dit is ’n wonderlike vooruitsig!
Ons praat daaroor, want dit gee ons hoop, herinner ons aan Abba Vader se getrouheid en help ons om gereed te bly. Daarom bemoedig ons mekaar daarmee … omdat ons weet: ons toekoms is saam met Hom, vir ewig!

Liefde waarsku wanneer daar gevaar is
Stel jou voor … iemand kom na jou toe en sê: “Ek het van ’n betroubare bron gehoor dat daar op 23 September ’n aanval gaan wees — ja, van vliegtuie wat in ’n groot gebou gaan invlieg.”
Kan ek jou vra … wat sou jy doen as jy regtig geglo het dit is waar? Sou jy stilbly omdat jy bang is mense gaan jou uitlag of dink jy maak onnodige drama? Of sou jy mense waarsku omdat jy hulle wil help?
Selfs al sou dit nie daardie dag gebeur nie, sou jy tog nie stilbly nie — want jy sou mense liefhê genoeg om hulle te waarsku, sodat hulle voorbereid is.
Net so sê die Woord van Abba Vader dat Yeshua weer kom, dis die waarheid. Ons weet nie presies watter dag en uur nie, maar Yeshua self sê ons moet waak en gereed wees.In 1 Tessalonisense 5 waarsku Paulus ons om nugter en waaksaam te wees, want die dag van die Here kom skielik soos ’n dief in die nag.
Ons moet egter gereed wees, wag met vreugde, nie met vrees nie. Want ons weet ons gaan by Yeshua wees!
Jy sien … liefde bly nie stil wanneer daar gevaar is nie. Ware liefde waarsku, bemoedig en help ander om reg te wees. Dis hoekom Yeshua self vir ons vertel en gewaarsku het oor Sy wederkoms — nie om ons bang te maak nie, maar omdat Hy ons liefhet en wil hê ons moet gereed wees.
Die Waarheid oor die Wegraping en die Wederkoms van Yeshua
Wanneer ons kyk na die wonderlike beloftes van Abba Vader, staan een belofte uit bo alles — die grootste van almal: Yeshua gaan weer kom!
Maar wanneer ons praat oor Sy wederkoms, moet ons mooi verstaan daar is twee verskillende gebeure.

Eerstens, daar is die wegraping. Dit is wanneer Yeshua nie aarde toe kom nie, maar Sy bruid kom haal om Hom in die wolke te ontmoet (1 Tessalonisense 4:17). Dis nie vir almal nie, maar vir Sy bruid — diegene wat gereed is, wat Hom ken en wat Hom liefhet en wag op Hom.
Nou, mense verskil oor wanneer dit gaan gebeur: sommige glo voor die groot verdrukking, ander sê in die middel daarvan, en sommige sê aan die einde — daarna gaan ons kyk, maar vir nou wat belangrik is, is dat Yeshua gesê het ons moet gereed wees, want ons weet nie presies wanneer nie.

Tweedens, daar is Yeshua se openlike wederkoms. Hierdie keer kom Hy nie alleen nie — Hy kom saam met Sy vrou, die bruid wat saam met Hom was. Hy kom nie net in die lug om ons weg te haal nie, maar Hy kom fisies terug aarde toe.
Die Woord sê in Sagaria 14:4 dat Hy Sy voete op die Olyfberg sal sit. Dit gebeur aan die einde van die groot verdrukking, by die slag van Armagedon, waar Yeshua Sy vyande oorwin. Daarna vestig Hy Sy Koninkryk op aarde en regeer oor al die nasies as Koning van konings.
Daar is dus ’n duidelike verskil:
Die wegraping is privaat, vir die bruid, en ons ontmoet Hom in die wolke.
Die wederkoms is openlik, vir die hele wêreld om te sien, en Hy kom aarde toe om te regeer.
Beide is beloftes in die Woord — en dit wys hoe belangrik dit is om gereed te wees!
Die Geheime Betekenis van die Wegraping – Harpatso en Atomos
Ons het gesien in gedeelte 1 dat 1 Tessalonisense 4:17 sê “Then we who are alive and remain shall be caught up together with them in the clouds to meet the Lord in the air...”
“Caught up” is die woord in Grieks “harpatso.”
“Harpatso” beteken: “to seize, to catch away, to be pulled or taken away by force.” Dit is wat die Griekse woord beteken.
Die doel van die wegraping, hierdie “weggryp” van Yeshua se bruid, is baie spesiaal:

Eerstens: Dit is om die bruilofsmaal van die Lam by te woon. Die Woord praat op verskeie plekke van hierdie vreugdevolle feesmaal waar Yeshua Sy bruid ontvang — ’n tyd van blydskap, liefde en beloning vir hulle wat gereed was.

Tweedens: Dit is om saam met Yeshua na die plek te gaan wat Hy voorberei het. Yeshua sê in Johannes 14:1-3: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van My Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as ek gegaan het en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Nou Abba Vader se Woord sê die wegraping sal in ‘n oogwink plaasvind.
In 1 Korintiërs 15:52 sê Paulus: “Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.”
“In ’n oogwink” beteken in ’n splinternuwe, vinnige oomblik, so vinnig soos om jou oog te knip — dit gaan nie oor minute of ure nie, maar letterlik binne ’n splitsekonde.
Die oorspronklike Griekse woord wat hier gebruik word, is “atomos”, wat beteken “‘n ondeelbare klein tydseenheid” — iets wat nie verder opgedeel kan word nie.
M.a.w. die wegraping gaan skielik en onmiddellik gebeur, sonder waarskuwing of tyd om voor te berei op daardie oomblik. Daarom sê die Woord ons moet altyd gereed wees, want wanneer die basuin blaas, gebeur dit vinnig, onverwags, en niemand kan dit stop of keer nie.
Yeshua sê ook in Lukas 21:34-36:“Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle skielik oorval nie. Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die aarde woon. Waak dan en bid altyd deur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”
Het jy gehoor? Yeshua waarsku ons om wakker en gereed te wees, omdat daar ’n tyd van groot moeilikheid oor die aarde kom.
Yeshua, wat alles weet, praat van swaarkry, verdrukking, oordeel, hongersnood, oorlog, siektes en baie ander dinge wat die wêreld gaan tref voordat Hy as Koning terugkom.
Is dit nie dalk die tyd waarna die Bybel verwys as die Groot Verdrukking nie?
Yeshua waarsku ons om nie vas te klou aan hierdie wêreld en sy dinge nie. Dinge soos basiese lewensbehoeftes, geld, kos, partytjies, plesier, bekommernisse en daaglikse dinge kan maklik ons harte oorlaai. Dan raak ons geestelik lui, afgestomp of onverskillig — en ons raak geestelik aan die slaap.
Dan kom daardie dag skielik soos ’n strik en vang ons onkant, sonder enige waarskuwing.
So Yeshua sê ook vir ons wat om te doen: Waak en bid altyd. Dit beteken:
Bly geestelik wakker — moenie geestelik lui of aan die slaap wees nie.
Bid dat jy waardig geag sal word om hierdie dinge te ontvlug — in ander woorde, dat jy gereed sal wees om saam met Hom weggevat te word vóór die oordele losbars.

So belowe Yeshua dat as ons waak en bid, sal Hy ons nie in die oordeel los nie. Dat ons saam met Hom sal gaan, om by Hom veilig te wees wanneer die wêreld swaar tye deurmaak.
Yeshua sê nie hierdie dinge om ons bang te maak nie, maar om ons te help om voorbereid te wees. Dis ’n liefdevolle waarskuwing sodat ons nie agterbly nie.
Stel jou voor: jy hoor daar kom ’n groot storm, groter as enigiets wat die wêreld al gesien het. En iemand waarsku jou: “Oor ’n paar dae gaan alles hier oorstroom word.”
Ja, sommige mense sal lag en sê dis onsin; ander sal sê: “Ons sal later dink daaraan.” Maar ’n paar mense sal egter luister, hulle goed pak, en betyds ry na ’n veilige plek toe.
En wanneer die storm kom, sal dit te laat wees vir diegene wat bly lag het.
Maar dié wat gewaak en voorberei het, sal veilig wees.
Is dit nie wat Yeshua ons self oor waarsku en sê nie? Die storm van oordeel kom, maar as ons waak, gereed is en saam met Hom gaan, hoef ons nie te vrees nie.

Comments