Wat as jy agterbly? - Die waarheid oor die wegraping (Deel 1)
- Houtkruis AlephTav
- Jul 23
- 5 min read

Die Waarheid oor die wegraping - Deel 1
Dink net vir ‘n oomblik… jy word wakker een oggend… jou huis is tjoepstil… jou geliefdes is skielik net… weg. Jy sit die nuus aan… chaos oral. Motors wat verongeluk het sonder bestuurders. Vliegtuie wat uit die lug geval het. Mense spoorloos verdwyn.
Het jy al gehoor van die wegraping? Jy gaan daarvan hoor — en as jy agterbly, omdat jy nie reg is daarvoor…gaan jy dit met jou eie oë sien. Die Woord van Abba Vader sê dit gaan gebeur. En as dit gebeur, sal die wêreld desperaat probeer verduidelik wat plaasgevind het. Die media gaan leuens versprei. Die wêreldleiers gaan stories uitdink.
Mense gaan selfs sê dit was aliens… of ‘n geheimsinnige energieverskynsel… maar almal sal weier om die waarheid te glo! Want die Woord sê duidelik in 1 Korintiërs 2:14: “Die natuurlike mens verstaan nie die dinge van die Gees van God nie… dit is vir hom dwaasheid.”
Die vraag is: Wil jy die waarheid hoor voor dit te laat is? Wil jy weet wat die Woord regtig sê oor hierdie skokkende dag wat voorlê?
“Moenie jouself laat mislei deur mense se stories of opinies nie… moenie eers my glo sonder om self die Woord na te slaan nie. Laat die Woord die Woord verduidelik. Vra Abba Vader om self vir jou Sy Waarheid oop te breek oor hierdie dag wat op pad is — die Waarheid wat jou siel kan red!”

Yeshua het ons vooraf gewaarsku oor die wegraping
Yeshua self het ons gewaarsku in Matteus 24:37-39 toe Hy sê: “Net soos dit in die dae van Noag was, so sal dit wees by die koms van die Seun van die mens. Mense het geëet en gedrink, getrou en in die huwelik uitgegee — tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en hulle het niks verstaan totdat die vloed gekom en almal weggeneem het nie. So sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens.”
Hierdie woorde van Yeshua is ernstig. Yeshua sê die meeste mense gaan aangaan asof niks gaan gebeur nie. Hulle gaan hul normale lewens leef — werk, trou, hul eie dinge doen — en dan… onverwags… gaan alles verander in ’n oogwink.
Een van die grootste redes waarom baie mense nie gereed gaan wees nie, is omdat hulle nie die Woord van Abba Vader ken nie. Abba Vader sê in Hosea 4:6: “My volk gaan ten gronde weens ’n gebrek aan kennis.”
Die vyand weet al te goed dat onkunde mense weerloos maak. Wanneer jy nie Abba Vader se Woord ken nie, glo jy enige storie, enige vals lering, en jy raak maklik mislei.
Ons het nodig om nugter en waaksaam te wees want daar is ‘n vyand wat aktief werk om mense geestelik blind te hou. Sy naam was Lucifer, wat beteken “ligdraer” — iemand wat moes lig bring. Maar ná sy val weens hoogmoed…is hy die een wat mense weghou van die Lig.
Hy gebruik leuens om jou oë toe te maak sodat jy nie die waarheid sien nie. Die Woord sê in 2 Korintiërs 4:4: “Die god van hierdie wêreld het die sinne van die ongelowiges verblind sodat die lig van die evangelie nie oor hulle kan skyn nie.”
Die vyand wil hê jy moet aanhou leef in die duisternis… onbewus van die ware gevaar en onvoorbereid vir Yeshua se koms.Yeshua sê in Lukas 21:36: “Waak dan en bid altyd, dat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge te ontvlug en om voor die Seun van die mens te staan.”
Die keuse lê by elkeen van ons — gaan jy waaksaam en nugter wees, of gaan jy soos die mense in Noag se tyd verras word wanneer dit te laat is?

Die tyd is min — Die waarheid moenie verswyg word nie
In Noag se tyd het hy almal gewaarsku, maar niemand het na hom geluister nie. Hoekom nie? Omdat hulle nie kon verstaan dat reën uit die hemel sou val nie (want dit het nog nooit gereën nie – Gen. 2:5-6) — net so kan mense vandag nie verstaan dat Yeshua Sy bruid gaan wegraap en in die wolke ontmoet nie.
Hoor gou-gou: Noag het gewaarsku, maar mense het vir hom gelag, hom belaglik gemaak, en aangehou leef soos hulle altyd gedoen het. Maar toe die eerste druppels reën geval het, was dit al te laat.
En vandag? Net so. Baie predikers en kerke bly stil oor die wegraping. Hoekom? Omdat daar soveel verskillende opinies is. Baie leraars is bang die waarheid gaan mense aanstoot gee. Sommige is bekommerd dat mense gaan wegloop uit die kerk as hulle oor oordeel en gereedheid preek. Ander glo dit is ‘n moeilike onderwerp en eerder vermy hulle dit.
Maar die Woord waarsku ons: die dag van ons Bruidegom Yeshua gaan kom soos ‘n dief in die nag (1 Tessalonisense 5:2) — skielik. Onverwags. En net diegene wat gereed is, sal saam met Yeshua weggeraap word — die res gaan agterbly.
’n Ander rede hoekom daar so min oor die wegraping gepraat word, is omdat mense sê dit saai vrees. Maar ek verstaan dit nie, want ek wil liewer nou al weet.
Ek kan nie wag om by Yeshua te wees nie — dit maak my opgewonde! Ja, daar is hierdie opgewondenheid, hierdie wederkoms-verwagting in my hart van … Kom Yeshua, kom!

HY KOM — EN DIT IS ’N BELOFTE
Yeshua se wederkoms is ’n belofte. In Handelinge 1:10-11, net nadat Yeshua in ’n wolk weggeraap is, sê twee manne in wit klere vir die dissipels: “Galilése manne, hoekom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Yeshua wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien wegvaar het.”
Hierdie belofte leer ons dat Yeshua presies weer gaan kom soos Hy weggegaan het — op ’n wolk. Net soos Hy die eerste keer op die wolke na die hemel toe opgevaar het, gaan Hy ook Sy bruid kom haal op ’n wolk. Dit gaan ’n wonderlike en vreugdevolle ontmoeting wees, waar ons vir ewig by Hom sal wees.
Maar tog sê baie mense: “Maar kyk, die woord ‘wegraping’ staan nêrens in die Bybel nie!”Is dit waar?
Wel, in 1 Tessalonisense 4:17 in die KJ staan: “Then we who are alive and remain shall be caught up together with them in the clouds to meet the Lord in the air... And thus we shall always be with the Lord.”
In die oorspronklike Grieks word die woord vir “caught up” vertaal as harpazō. Hierdie woord beteken letterlik: “om te gryp, weg te ruk, of met krag weg te neem.” Dit is dus presies wat die wegraping beteken — ons word met krag uit hierdie wêreld weggeruk om by Yeshua in die wolke te wees.

Baie mense lag vandag as hulle hoor van die wegraping. Hulle sê: “Dit sal nooit gebeur nie… mense het dit al gesê vir jare en niks het gebeur nie.”
Maar die Bybel waarsku ons oor hierdie houding. In 2 Petrus 3:3-4 sê Petrus: “Eerstens moet julle weet dat daar in die laaste dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeertes lewe en sê: ‘Waar is die belofte van Sy wederkoms? Want van die begin af het alles dieselfde gebly.’”
Dit is niks nuuts nie. In Noag se tyd het mense gelag — totdat die eerste druppels geval het. Sara het gelag toe God sê sy sal ’n kind hê, want sy het gedink dis onmoontlik. Maar God het haar reguit gevra: “Is iets vir die Here te wonderbaar?” ’n Jaar later het sy die belofte vasgehou.
God se beloftes verander nie. Die wêreld sê dis ’n grap, maar vir die bruid van Yeshua is dit ’n vaste waarheid. Ons Bruidegom kom op die wolke — skielik, onverwags, soos Hy belowe het.
Die vraag is: Lag jy…of leef jy gereed?



Comments