Is dit nodig om te weet waarmee die wêreld besig is?
Kan die wêreld met sy dinge ons insluk in goed wat ons nie eers besef waarvoor dit regtig staan nie?
Halloween is nie net onskuldige pret nie
Ek het so drie of vier jaar gelede, om en by hierdie tyd, een aand gou petrol ingegooi en toe stop daar twee jongmanne voor my.
Dit het gelyk asof hulle in een massiewe oorlog was of in ʼn motorongeluk, want dis wonde en bebloede gesigte, tot ek besef het hulle is op pad na ʼn Halloween-partytjie toe, hulle is net so opgemaak.
So, die vraag is: Is Halloween nie net onskuldige pret nie?
Orals waar ons kom… en ek kry selfs foto’s van familie en vriende wat Halloween-partytjieshou.
Die tipiese foto's wat jy kry van mense wat hulle opmaak in duiwels, spoke, demone en geraamtes; hekse – met gevlegte strooihoede, wat dikwels op besems ry. En met ʼn swart kat op hulle skouers; dwerge; uile, vlermuise en spinnekoppe; vampiers en dan kry jy pampoene met lanterns in sommer by die naaste Woolworths.
Dan die tradisionele kleure vir hierdie Halloween-partytjies is swart, rooi en oranje.
So die vraag is: Is dit gevaarlik vir ʼn kind van God om deel daarvan te vorm en hoekom?
Jy sien, ons sê so maklik: “Abba Vader sal ons vashou en niks sal ons uit sy hand uit ruk nie,”maar ons lees partykeer net so halfpad, want Abba Vader se instruksies sê: “Gaan van hulle af weg en sonder julle af en moenie wat onrein is aanraak nie, dan sal Ek julle aanneem en vir julle ʼn Vader wees en julle sal vir My seuns en dogters wees.”
Moet nie wat onrein is eers aanraak nie!
Um, dis nie hoe die wêreld ons leer nie, nee. Die wêreld kom sê: “Jy kan hieraan deelneem, dis onskuldige pret en vermaak vir die kinders. Jy kan hierdie heidense feeste vier en jy kan deel wees van Yeshua se bruid en Abba Vader is so duidelik daaroor.”
Inteendeel, Abba Vader sê in Hosea 4:6: “My volk gaan ten gronde weens 'n gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.”
Ek en jy as kinders van Abba Vader is uitgekies om in hierdie verhouding met Abba Vader te wees en om in sy teenwoordigheid te kan kom en saam met Hom te wandel maar ʼn gebrek aan kennis gaan maak dat Abba Vader ons verwerp, want Abba Vader se woord sê in Hosea 4:6: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp…”
Met ander woorde, as ek nie Abba Vader se waarheid leer en dit nakom nie, sal ek nie in sy teenwoordigheid kom nie en sal Hy my verwerp.
Halloween is ʼn godsdienstige dag, maar nie vir Abba Vader wat ons dien nie.
Hoor gou-gou: Die nare waarheid oor Halloween is dat dit nie onskuldige pret is om Halloween te vier nie. Dit is ʼn afgodsfees en kinders van Abba Vader moet wegbly daarvan af.
Nee, dis tyd om Abba Vader se waarheid te ondersoek, sy geheimenisse, en dit te leef, om nie meer kompromieë met die wêreld te sluit nie.
So, wat is die oorsprong van Halloween?
Dit is nodig om hierdie te weet, want Abba Vader se woord sê ons moet die strategieë van die vyand ken. Halloween se wortels lê in heidense afgodsdiens. Dit is een van hierdie afgodsfeeste wat gevier is deur die heidennasies. Hierdie fees is gevier op die 31ste Oktober wat die einde was van die heidennasies se oesjaar.
Met ander woorde, dit was die einde van hulle somer, die begin van winter. Hulle herfs het 1 November begin. Die naam van hierdie fees was die fees van Samhain.
Samhain beteken ‘summer’s end’ of die einde van somer en dis ʼn fees wat gevier is tot eer van die dooies. Dit is ʼn fees van die dood.
Die heidennasies het geglo dat die dooies, mense wat in jou huis geleef het en wat op hierdie dag gesterf het, weer terugkeer aarde toe en terugkeer na hulle huise toe en dan het hulle hierdie fees gehou om eer te bring aan die dooies en aan die voorvaders van hulle wat al gesterf het. Hulle het dan op hierdie fees lewende offers gebring. Sataniste het getuig hieroor en sê dit is nié ʼn storieboekstorietjie nie. Hierdie aand was baie sterk in waarsêery, in die oproep van geeste en in die kommunikasie met geeste.
Die heidense gelowe het geglo en glo vandag nog dat op hierdie aand wat die somer en die winter van mekaar skei, was hierdie onsigbare hekke oop tussen die geesteswêreld en die fisiese wêreld en die dooies kon heen en weer beweeg, die demoniese magte.
Hulle glo hierdie geeste kan heen en weer beweeg op hierdie aand en daarom is dit die hoë Sabbat-seisoen van waarsêery, goëlery en fortuinvertellings.
Dit is hierdie afgodsgelowe wat Satan aanbid en 31 Oktober is die groot aand.
Abba Vader sê in Levitikus 19:31: “Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die HERE julle God.”
Op hierdie dag van Halloween is gebid vir hierdie dooies, om eer aan hulle te bring en Paulus sê in Romeine 1:22-25: “Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos 'n verganklike mens of soos voëls of diere of slange… Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen.”
Abba Vader se instruksies is so duidelik teen afgodery en afgodery word ook meer veroordeel as enigiets anders. Abba Vader sê in Eksodus 20:4-6: “Jy mag nie vir jouself afgode maak nie… jy mag nie voor hulle kniel om hulle te aanbid nie.”
Johannes sê in 1 Johannes 5:21: “Moenie op afgode vertrou of vir julleself afgode maak nie. Ek, die Here, is julle God.”
Dan sê baie mense: “Ja, maar Halloween het ʼn Christelike oorsprong?”
Halloween het geen Christelike oorsprong nie. In die jaar 837 is dit egter saamgevoeg met ʼn fees van die Rooms-Katolieke kerk, toe die Pous gesê het: “Kom ons vat hierdie fees van Samhain, en ons fees van All Saints en voeg dit saam.”
All Saints Day is ʼn dag wat die Rooms-Katolieke vandag nog vier waar hulle ook bid vir die dooies (wat net so onbybels is). Hulle het hierdie twee dae saamgevoeg en hulle het dit genoem All Hallow’s Eve wat met tyd verander het na Halloween. In die woordeboek, as jy na die betekenis van Halloween soek,dan staan daar “Allerheiligeaand”.
Daar is nêrens in Abba Vader se woord ʼn fees wat Hy ingestel het om te bid vir die dooies nie of om eer aan hulle te bring nie.
Yeshua sê in Matteus 8:22: “Volg My, en laat die dooies hul eie dooies begrawe.”
Met ander woorde, dit is ʼn “allerheiligeaand” maar vir wie? Vir seker nie vir Abba Vader nie! Net Abba Vader is heilig!
So, op hierdie dag van Halloween is gebid vir dooies en dit was die fees van Samhain. As hulle die fees van Halloween vier maak hulle massiewe vreugdevure of “bonfires” en dan het die priesters van die heidense gelowe hulle deur sekere rituele gelei.
Daar is op hierdie aand, onder andere offers, gebring van diere, bv. swart katte en van hulle oeste omdat die somer verby is. Vreugdevure se Engelse naam is bonfire en die oorspronklike naam van “bonfire” was “bone fire” omdat hulle hierdie karkasse van diere daarop gegooi het. Al hierdie offers is gebring vir die god van Samhain wat ʼn god van die dood is. Daar was selfs mense geoffer vir hierdie god van hulle.
Abba Vader se woord sê in Deuteronomium 12:29-31: “As die HERE jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? ‒ dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die HERE jou God nie; want alles wat vir die HERE ʼn gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode.”
Abba Vader se woord sê vir ons dit is die werk van die Antichris, die magte van Satan, dit is lankal aan die werk, en dis vandag nog presies dieselfde.
Hierdie heidense geloof het geglo dat deur die vuurproses, deur die offers te bring en deur die vuur te gaan, het hulle deur ʼn reiniging gegaan van die ou jaar die nuwe jaar in. Hierdie priesters het kostuums gedra rondom die vuur.
So, hoekom het hulle kostuums gedra?
Hoor gou-gou: As die dooies en hierdie geeste uit die geesteswêreld aarde toe gekom het, het die priesters hulleself vermom sodat hierdie geeste hulle nie sou herken as ʼn mens nie en gedink het hulle was een van hulle en dan kon hulle saam met hulle feesvier en dit is waar hierdie kostuums vandaan gekom het. Hoe belaglik!
Wil ek en jy ook hierdie kostuums dra? Nee dankie vir Halloween-kostuums!
Want Halloween is ʼn hoë Sabbat vir satanisme en baie ander afgodsdienste en afgodery.
Dan word daar ʼn speletjie gespeel, naamlik “trick-or-treat”.
Die priesters en hulle dienaars het by huise en by plase om gegaan en dan het hulle offers gekollekteer wat vir die afgod Samhain gebring is.
As hulle by jou huis gekom en vir ʼn offer gevra het, vir ʼn graan offer, of ʼn kalwer, of ʼn skaap, of enigiets en jy het vir hulle gegee, dan het hulle hierdie voorspoed oor jou uitgespreek (ge-chant).
As jy niks gegee het nie en geweier het om by te dra, het hulle jou vervloek met teenspoed. Met ander woorde, trick or treat… jy kan kies.
Later jare, het hierdie ontwikkel dat arm mense by die huise om gegaan het en dan het hulle vir kos gevra en soos wat mense vir hulle kos gegee het, in ruil vir die kos, het hulle vir hulle dooies gebid. Al die dooies wat in daardie familie of daardie huis gesterf het en dan het hierdie mense vir hulle voorspoedseëninge gegee, soos wat die arm mense vir hulle dooies bid. As jy geweier het om vir hulle kos te gee, het hulle ʼn vloek oor jou gespreek.
So, het die kinders van Abba Vader hierdie heidense praktyke of satanistiese rituele begin doen en versag met “dis onskuldige pret”. So, nou hardloop kinders die strate vol met sakkies… klop aan deure en sê: “trick or treat” en wat hulle sê is: “seën of vloek”.
Is dit hoekom Abba Vader sê sy kinders gaan ten gronde weens ’n gebrek aan kennis, want Abba Vader se kinders gaan na ʼn “onskuldige” Halloween-partytjie toe en hulle weet nie waarmee hulle besig is nie?
Hulle besef nie hulle is deel van hierdie afgodsritueel nie en noem dit “onskuldige pret”.
Wil ons regtig ons kinders leer om vloeke uit te spreek oor ander? Is dit wat die woord van Abba Vader ons leer? Of leer die woord ons: “Jy moet jou naaste liefhê en jy moet bid vir jou vyande?”
Abba Vader se woord sê Spreuke 22:6: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”
Wat daarvan as ons ons kinders eerder van Abba Vader se woord leer in plaas daarvan om hulle met die wêreldse pret besig te hou soos die tandmuis, die paashaas, Halloween en Vader Kersfees, wat jy ook een of ander tyd moes leer is nie die waarheid nie.
Hoekom nie net die waarheid van Abba Vader se woord nie?
Dan vat die wêreld hierdie pampoene en hulle sny ʼn gesig uit en sit ʼn lantern of ʼn kers daarbinne, bekend as Jack O’Lantern.
Hierdie is gebruik tydens die fees as ʼn “watchman” om in die geesteswêreld te kyk en dan ook om te sê jy neem deel aan hierdie afgodsfees sodat hulle jou nie kan vervloek nie.
Met ander woorde, hierdie pampoengesigte wat al die winkelsentrums vol is, is gedoen vir jou voorspoedseëninge wat sou kom omdat jy deel is van hierdie fees.
Die simbool van hierdie pampoen, hierdie Jack O’Lantern, wat wêreldbekend is en wat deur ons “onskuldig” gedoen word, want dis “pret”…
Die simbool is “a damned soul” of ʼn verdoemde siel.
Die vraag is: Hoekom wil ek en jy deel hê daarvan? Is dit dalk omdat ons nooit die waarheid geleer is nie?
Abba Vader sê in sy woord Hy haat dit, dit is ʼn afsku vir Hom as ek en jy deelneem aan die rituele van die heidennasies.
Abba Vader se woord gaan verder en sê in Deuteronomium 12:29-32 en 18:9-4 bly weg van hierdie maniertjies en die maniere wat hulle hulle gode aanbid. Abba Vader sê nêrens in sy woord dat ons ʼn fees moet hou om die dooies te eer nie.
Regdeur Abba Vader se woord, Ou en Nuwe Testament, sê Abba Vader se woord niemand kan twee here dien nie; want hy sal die óf een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag.
Paulus sê in 1 Korintiërs 10:21-22: “Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.”
Dit vraag is: Aan wie se tafel wil ek en jy sit?
Abba Vader sê as iemand in jou familie of enige iets vir jou belangriker is as Hy, is jy nie werd om sy kind te wees nie.
Dan, in Eksodus 20:2-5 sê Abba Vader: “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ʼn jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat.”
Met ander woorde, moenie pampoen sny, kostuums dra of enigsins in hierdie satanistiese feeste deelneem nie, maar soek allereers die Koninkryk van God.
2 Korintiërs 6:14-18: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?
Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ʼn volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ʼn Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.”
Ek wens hierdie was in Engels beskikbaar. So baie mense rondom my wat hierdie moet lees, maar wat ongelukkig nie Afrikaans-sprekend is.