Ware liefde is nie liggeraak en neem nie aanstoot nie – Deel 2
- Houtkruis AlephTav
- May 14
- 7 min read

Ware liefde word nie maklik geïrriteerd of neem nie maklik aanstoot oor wat ander doen of sê nie. Dit impliseer dat liefde verdraagsaam, geduldig en nie selfgesentreerd is nie.
In Joh 15:5 sê Yeshua: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie."
Yeshua is die bron van lewe en geestelike vrugbaarheid, en sonder Hom is ons geestelik kragteloos. As jy in Yeshua is en Hy in jou, streef jy daarna om ander se foute of tekortkominge nie persoonlik op te neem nie, maar eerder om met begrip en genade te reageer soos Yeshua.
Maar hoekom stoei ons dan so hiermee? Hoekom neem ons so maklik aanstoot of is ons so liggeraak?

Wat bring ons uit balans?
Daar is ‘n paar belangrike redes wat daartoe bydra: onder andere spanning, druk, angs, bekommernis, benoudheid en senuweeagtigheid.
Al hierdie dinge maak ’n mens terneergedruk, tap jou energie, verswak jou gesondheid en maak jou knorrig, geïrriteerd en humeurig. Verder: te hard werk, te veel speel of te veel spandeer. Asook ‘n tekort aan rus, gesonde kos en oefening is alles oorsake.
Dikwels bring ons hierdie dinge oor onsself, en dit maak ons liggeraak. Daarom is dit nodig. Om te leef is soos om ’n boek te lees – jy kan nie net die laaste bladsy oopmaak en alles verstaan nie. Nee, dis ‘n pad van heiligmaking waar jy hand aan hand saam met Abba Vader wandel. Dit beteken ons moet balans vind, prioriteite stel en dinge nie oordeel nie.
Ons gooi te dikwels alle versigtigheid oorboord en hardloop volspoed vorentoe terwyl ons doen wat ook al op daardie spesifieke oomblik reg voel. Dan snak ons na asem, is soos ‘n snaar wat styf gespan is en gereed om enigiemand se kop af te byt. Die toenemende druk kan ons geduld en ons verhoudings laat kwyn.

Die Woord leer ons egter om al hierdie ongesonde negatiewe dinge te vermy deur:
Om te delegeer wanneer jy oorwerk is en voor jy uitgebrand is (Eks. 18:17-23).
Om oormaat te vermy (Spr. 25:16).
Abba Vader spoor ons ook reg deur Sy Woord aan om elke week die sabbatdag opsy te sit vir aanbidding en rus. Dit gee ons tyd om ons battery te herlaai, ons fokus reg te kry en om ‘n bietjie asem te haal in ons besige weeklikse skedule.

Dieper redes agter ligteerbaarheid
Daar is egter ‘n dieper rede waarom jy so vinnig ligtgeraak raak of aanstoot neem, nl.:
Selfsug
Wanneer jy vinnig ligtgeraak word, kan die kern van die probleem dikwels in jou hart gevind word. Yeshua sê in Mat 12:34: “Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.”
Sommige mense is waarlik soos suurlemoene: wanneer die lewe hulle druk, bring dit ‘n suur reaksie voort in plaas daarvan om die geleentheid te gebruik om lemonade (soet) van die situasie te maak.
Jy sien, wanneer iemand maklik kwaad word, is dit ‘n teken dat verborge selfsug of onsekerheid teenwoordig is waar liefde veronderstel is om te heers. Selfsug dra egter baie ander maskers:
Wellus
Wellus kom byvoorbeeld na vore wanneer jy ondankbaar is vir wat jy het en kies om hartstogtelik na iets te smag wat verbode is. Wanneer jou hart wellustig is, sal dit maklik gefrustreerd en kwaad word. Jakobus sê in Jak 4:1-3:
“WAARVANDAAN kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.”
Bitterheid
Bitterheid skiet wortel wanneer jy veroordelend optree en weier om deur jou woede te werk. ‘n Verbitterde mens se opgekropte woede kom na die oppervlak wanneer hy uitgelok word. Paulus sê in Efe 4:31-32:
“Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.”
Gierigheid
In Gen 3:1 lees ons:“Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?”
M.a.w. die eerste ding wat die slang doen, is om twyfel te bring oor die Woord van Abba Vader. Eva antwoord die slang in Gen 3:2-4:
“Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;”
So wat die slang doen, is om presies die teenoorgestelde as wat Abba Vader gesê het, te sê. Die slang gaan verder en sê vir Eva in Gen 3:5-6:
“maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.”
M.a.w. die vyand se strategie is nog altyd om my en jou te kry om Abba Vader se Woord te betwyfel. Eva het gesien “dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë,” en wat amazing is: meeste van ons dink dit was die enigste boom wat ‘n lus was vir die oë. Dink gou – was dit die enigste boom wat ‘n lus was vir die oë?
Nee, hoor gou wat sê Gen 2:9: “En YHVH het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.”
M.a.w. al die bome in die tuin was begeerlik om te sien. Maar die slang het Eva oortuig dat hierdie boom anders was. Die woordjie “begeerlik” is ook soms vertaal as: gierigheid, wellus of begeer. Die woordjie “wellus” is egter baie keer vertaal as “begeer”.
Met ander woorde, die slang het die boom so mooi ingekleur dat Eva gedink het dat Abba Vader vir haar iets wegsteek. Eva het gedink dat daar iets anders is wat haar sal gelukkig maak – en is dit nie gierigheid nie?
Die vyand het Eva laat verstaan dat Abba Vader vir haar iets goeds wegsteek. En die vraag is: hoekom sal Abba Vader vir my en jou, Sy kinders, iets goeds wegsteek? Abba Vader wil vir ons net die beste hê – soos wat enige ouer vir sy kind die beste wil gee. Maar soos Eva, is dit nie wat ons ook soms dink nie? Dink ons nie Abba Vader steek vir ons goed weg nie?
Dis een van die redes hoekom ons ook maklik ligtgeraak en aanstoot neem – en as ons net sou leer om Abba Vader te gehoorsaam en te vertrou...
Abba Vader seën ons as ons in geloof op Hom vertrou en Hom gehoorsaam.
1 Tim. 6:9-10 sê: “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”
Hierdie sterk begeertes, gekombineer met ontevredenheid, veroorsaak dat jy uitvaar teenoor enigiemand wat in jou pad staan.
Trots
Hoogmoed of trots veroorsaak dat jy bitsig optree ten einde jou ego en reputasie te beskerm. Sien, iemand wat hoogmoedig is, heg baie waarde aan hoe ander hulle sien. Enige woord van hulp of leiding voel vir ‘n hoogmoedige persoon soos 'n aanval op hul ego. Dit maak dat hulle oorreageer op dinge wat ander dalk maklik sou ignoreer.
Trotse of hoogmoediges sien hulself as reg of beter, en dus is dit moeilik om te aanvaar dat hulle kan mislei of verkeerd wees. As iemand hulle teëstaan, voel dit soos ’n bedreiging – en hulle raak vinnig geïrriteerd of verdedigend. Wanneer dinge nie verloop soos hulle wil nie – of wanneer mense hul nie behandel met die verwagte respek nie – verloor hulle geduld, neem aanstoot en reageer bitsig of seergemaak.

Liefde se genesende pad
Liefde en nederigheid, aan die ander kant, help jou om dinge nie persoonlik op te neem nie — jy is dan meer geneig om te luister, te leer en ander met genade te hanteer. Wanneer liefde (Yeshua) egter jou hart in besit neem, wanneer Hy jou wingerstok is, is jou fokus nie langer net op jouself nie maar op Hom — en dan verander jy.
Dis hier waar Hy wat in jou is, jou lei om maklik te vergewe in plaas daarvan om wrok te koester. Om dankbaar te wees in plaas van gierig. Om tevrede te wees eerder as om al hoe meer skuld te maak.
Liefde (Yeshua in jou) spoor jou aan om gelukkig te wees wanneer iemand anders sukses behaal eerder as om uit pure jaloesie in die nag wakker te lê.

KIES VANDAG OM LIEFDEVOL IN PLAAS VAN GEÏRRITEERD OP MOEILIKE SITUASIES TE REAGEER. KIES OOK VANDAG OM MAKLIK TE VERGEWE.
“As die lewe vir jou suurlemoene gee, moenie suur wees nie — maak liewer lemoenade.”
Kom ons bid saam
Yeshua, U is ons Wingerstok en ons U lote – meer en meer asb van U. Vergewe ons asb dat ons so maklik ligtgeraak en aanstoot neem. Snoei ons, dat ons vir U vele vrug kan dra. Ek bid dit in Yeshua HaMashiach se Naam, die Seun van YHVH. Amen.

Comments