Houtkruis se kinderbediening vorm ʼn integrale deel van die liggaam en is uiters belangrik omdat dit die grondslag lê vir ons kinders se geestelike ontwikkeling. In ons liggaam leer ons die kinders van Abba Vader se woord deur die waarhede van sy woord te bestudeer, wat hulle help om ʼn sterk geloofbasis te ontwikkel. Daardeur volg ons die opdrag van Deuteronomium 6:7:
"… jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan."
​
Hierdie vers beklemtoon die voortdurende rol van geloofopvoeding in die daaglikse lewe. Deur ons kinders van kleins af in die woord van Abba Vader te onderrig, help ons hulle om die lewenswyshede en waardes wat in die woord vervat is, te verstaan en toe te pas. Dit berei hulle voor om die uitdagings van die lewe met ʼn sterk geloof te hanteer. Verder, deur deel te neem aan die kinderbediening, bou kinders ʼn gemeenskap van medegelowiges om hulle, wat hulle ondersteuning en bemoediging bied vir die geestelike reis waarop hulle is.
Vyfklippiebende
Ons leer van parallelle in stories uit Abba se woord!
Hierdie reeks is ontwerp om kinders tussen die ouderdom van sewe en vyftien te help om Abba Vader se woord op ʼn praktiese manier in hul daaglikse lewens toe te pas. Ons Messias leer ons in stories en parallelle sodat ons daaruit kan leer en dat die woord soos heuning in ons monde is. Daarom gebruik ons verskeie parallelle en stories om ʼn honger onder die kinders te kweek vir daardie heuning van Abba Vader se woord. Ons doel is om kinders te leer hoe om geloof, liefde, gehoorsaamheid, vergifnis en moed in hul alledaagse situasies toe te pas en die gereedskap wat die woord ons gee te gebruik, ongeag die grootsheid van die uitdagings wat hulle mag teëkom.
Aleph-bet vir Kinders
Leer die Hebreeuse alfabet!
Ons kinderbediening bied ʼn opwindende reeks aan wat fokus op die Hebreeuse Aleph-Bet. Abba Vader het vir ons sy oorspronklike woord in Hebreeus gegee en daarom is dit belangrik om dit van ’n vroeë ouderdom af te leer en ons kinders daaraan bloot te stel. Elke week word daar 'n video gedeel waarin kinders oor die diepte en betekenis van elke letter in die Hebreeuse alfabet leer. Hulle ontdek watter woorde met hierdie letters gevorm word en verken die diepte van spesifieke woorde deur die letters waaruit hulle bestaan. Verder leer die kinders ook hoe om hierdie letters te skryf en ontvang begrip van elke letter sodat daar waardering gekweek word vir die Hebreeuse taal en die diepte van die woord. Hierdie reeks bied ʼn unieke ervaring wat hulle nader aan Abba Vader se woord bring.
Poppekas
Kom leer hoe om die woord prakties toe te pas!
Ons poppekasreeks in die kinderbediening word spesifiek gemik op kinders onder die ouderdom van tien. Hierdie reeks deel dieselfde missie en doel as die Vyf Klippie Bende: om kinders te leer hoe om Abba Vader se woord op ʼn praktiese manier in hul daaglikse lewens toe te pas. Die twee hoofkarakters, Boggie en Lielie, neem die kinders op ʼn avontuur waar hulle leer oor geloof, liefde, gehoorsaamheid en vergifnis. Deur middel van lewendige en fassinerende poppekasvertonings, word Bybelse waarhede op ʼn verstaanbare en prettige manier aan die jong kinders oorgedra, sodat hulle hierdie beginsels maklik kan begryp en toepas in hulle lewens.
Shabbatvideo's
Ontdek verskeie waarhede van Abba Vader
Ons kinderbediening bied ʼn Kindershabbat-reeks aan, ʼn inspirerende program vir kinders tussen die ouderdom van sewe en aggtien. Elke week, met aanbreek van die Shabbat, word ʼn video vrygestel waarin ʼn gedeelte uit die week se parashah geleer word. Hierdie reeks is ontwerp om die jeug te help om die verskeie waarhede in Abba Vader se woord te ontdek en te verstaan. In elke video word ʼn spesifieke les uit die week se parashah beklemtoon, wat kinders leer hoe om hierdie insigte in hul daaglikse lewens toe te pas. Hierdie reeks bied ’n ryk geestelike ervaring aan en bevorder die kennis van die woord onder die jeug.
“… jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”
Deut. 6:7