Johannes 4:23-24: “Maar daar kom ʼn uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”
Volgens hierdie bogenoemde verse is dit duidelik dat Abba Vader dié soek wat Hom in gees en waarheid aanbid. Psalm 119:160 sê: “Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.”
Dan sê Psalm 119:1 (AFR83): “Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here.”
So, wat is die waarheid oor Kersfees?
So, wat is die waarheid oor Kersfees? Of kan ons eers kyk wat is die waarheid aangaande die geboorte van Yeshua? Is dit op 25 Desember, soos die meerderheid kinders van Abba Vader glo?
Wanneer ons hierdie waarheid weet, kan elkeen self besluit om óf die waarheid te glo en daarvolgens op te tree óf om die tradisie van mense te bly volg. Het jy al gewonder wanneer is Yeshua werklik gebore? Is daar maniere wat ons kan bepaal wanneer Yeshua gebore is? Ons weet dat daar geen enkele teksvers is wat vir ons die presiese datum van Yeshua se geboorte gee nie.
Ons lees in Lukas 2:8: “En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.”
In die Noordelike Halfrond (Israel) is Desember die middel van die winter. Die skaapherders het nie gedurende die wintermaande saam met hulle skape in die oop veld oornag nie, want dit was te koud.
Maar om te bepaal wanneer die geboorte van Yeshua om en by was, moet ons kyk na die geboorte van Johannes die Doper. Die dienswerk wat Johannes se vader, Sagaría, in die tempel verrig het, is die sleutel om die “geheimenis” aangaande die datum van Yeshua se geboorte oop te sluit!
In Lukas 1:5-9 staan: “Daar was in die dae van Herodes, koning van Judéa, ʼn sekere priester met die naam van Sagaría, uit die afdeling van Abía; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet. En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel. En hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei op ver gevorderde leeftyd. En terwyl hy besig was om die priesteramp voor God te bedien in die beurt van sy afdeling, het die lot volgens priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die tempel van die Here en reukwerk te brand.”
Sedert die dae van Koning Dawid, was daar 24 afdelings van priesters wat aangestel was om tempeldiens te verrig (1 Kron. 24; 1 Kron. 8:14). Die afdeling Abía waarby Sagaría ingedeel was, was die agtste afdeling (1 Kron. 24:10). Elke afdeling het twee keer per jaar vir sewe dae dienswerk verrig (1 Kron. 9:25). Elke afdeling se dienswerk het begin en geëindig op die Sabbat (2 Kron. 23:8).
Volgens die Skrifte weet ons dat die dienswerk van die afdeling Abía gedurende die tiende week van die jaar volgens die Hebreeuse kalender (Abba Vader se kalender) was, naamlik ongeveer die 12de tot die 18de van die maand Sivan en wat ooreenstem met Mei/Junie volgens die Gregoriaanse kalender.
In Lukas 1:11-17 lees ons dat terwyl Sagaría met sy dienswerk besig was, het daar ʼn engel aan hom verskyn wat hom meegedeel het dat Elisabet swanger sal word met ʼn seun wat hulle Johannes moet noem.
Volgens Lukas 1:23-25 kan ons wel ʼn berekening doen van wanneer Elisabet swanger geword het. Lukas 1:23-25: “En toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan. En ná hierdie dae het Elisabet, sy vrou, ontvang en haar vyf maande lank verberg en gesê: So het die Here met my gedoen in die dae toe Hy my aangesien het om my smaad onder die mense weg te neem.”
Die logiese afleiding wat ons dus hieruit kan maak, is dat Elisabet volgens die Gregoriaanse kalender gedurende Junie van daardie jaar met Johannes die Doper swanger geword het. Dit beteken dat Johannes nege maande later gebore is, naamlik in Maart of vroeg in April die daaropvolgende jaar.
Volgens die Hebreeuse kalender stem dit ooreen met die maand Nissan, ook bekend as Aviv (Abib) en wat die eerste maand volgens die Hebreeuse, Abba Vader se, kalender is (Ex. 12:1-11). Die moontlikheid bestaan dus dat Johannes die Doper tydens Pesag (Paasfees) gebore is. Wat is die verband hiervan met die geboorte van Yeshua?
Die antwoord vind ons in Lukas 1:26: “En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ʼn stad in Galiléa met die naam van Násaret…”
Dan lees ons ook in Lukas 1:36: “En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook ʼn seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is.”
Beide hierdie verse verwys na die sesde maand van Elisabet se swangerskap. Indien Elisabet dus ses maande swanger was toe Maria swanger geword het, is die logiese gevolgtrekking dat Yeshua ses maande ná Johannes gebore is.
Aangesien ons reeds gesien het dat Johannes in Maart /April (die maand Nissan) gebore is, beteken dit dat Yeshua gedurende September of vroeg Oktober van dieselfde jaar gebore is! Volgens Abba Vader se kalender (die Hebreeuse kalender) stem dit ooreen met die sewende maand, bekend as Tishri. Volgens Levitikus 23:24-44. Daarom is dit ook ʼn logiese gevolgtrekking dat Yeshua gebore is tydens die Fees van Tabernakels.
Is daar meer bewyse? Ja, ons sal daarna kyk.
Is dit belangrik om hierdie te weet? Yeshua sê in Johannes 8:31b-32:
“As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak."
Mag die waarheid ons vrymaak om Abba Vader in gees en waarheid te dien!
Net ʼn vraag om oor te mediteer: As ek en jy in September of Oktober verjaar, wat sê dit vir jou van die mense wat jou verjaarsdag in Desember vier? Kén hulle jou?
Commenti