Lukas 2:1-5: “En in daardie dae het daar ʼn bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word. Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was. En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad. En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was.”
Daar is verskeie aanduidings in die Skrifte wat bewys dat Yeshua gebore is in September/Oktober. Die “registrasie” waarna hierbo verwys word, was vir belastingdoeleindes. Hierdie registrasie was aan die einde van die oestyd in Israel en het saam met die fees van Tabernakels geval, wat ook deur Abba Vader so beplan was dat dit aan die einde van die oestyd gehou word, naamlik September/Oktober volgens die Gregoriaanse kalender.
Keiser Augustus het nie so ʼn registrasie gedurende die wintermaande gedoen nie, aangesien dit enige reistog per voet of donkie baie moeilik sou gemaak het. Met ander woorde, dit was met hierdie reis Betlehem toe, toe Josef en Maria in September/Oktober daar aankom en Maria haar eersgebore Seun Yeshua gebaar het en Hom in doeke toegedraai en Hom in die krip neergelê het, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
Hoekom is hierdie feite oor die geboorte van Yeshua belangrik?
Ons weet daar is geen opdrag in Abba Vader se woord om die geboorte van Yeshua te herdenk nie! En ons weet dat Yeshua nie sy dissipels geleer het om sy geboortedag te herdenk nie, maar wel sy kruisiging en opstanding. Die vraag is: Hoekom gedenk ons dan die geboorte van Yeshua, en dan ook nog op ʼn datum waarop Hy nie gebore is nie? Die antwoord is omdat dit ʼn tradisie is wat deur die Rooms-Katolieke Kerk ingestel was. En hierdie tradisie is ʼn verbastering van die waarheid van die Skrifte met die leuen van afgodery. Afgodery?
Is dit hoekom Abba Vader sê: Hosea 4:6 “My volk gaan ten gronde weens 'n gebrek aan kennis”?
Kersfees se oorsprong kan teruggevoer word na die Babiloniese godsdiens. Die groot hoer van Babilon (Op. 17:4-5) is verantwoordelik vir die uiteindelike vestiging van hierdie fees as ʼn sogenaamde Christenfees. Geestelike dwaling of misleiding staan bekend as hoerery. Babilon staan derhalwe bekend as “die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Op. 17:5).
Kortliks kan die geskiedenis soos volg opgesom word:
Noag het drie seuns gehad, naamlik: Sem, Gam en Jafet. Gam het ná die sondvloed sy rug op Abba Vader gekeer. Hy het ʼn seun gehad met die naam Kus (Gen. 10:6) en hy het al hoe verder van Abba Vader se lig af beweeg en dus al hoe meer in geestelike duisternis verval. Kus was die vader van Nimrod en hy was ʼn geweldenaar of ʼn maghebber op aarde. Nimrod het die stad Babilon gebou (Gen. 10:9-10), asook die toring van Babel (Gen. 11:1-9). Hy en sy volgelinge het al verder afgewyk van die weë van Abba Vader. Nimrod het getrou met Semiramis wat ʼn seun met die naam Tammus gehad het.
As hoof van die Babiloniese godsdiens was ʼn opperpriester aangestel wie se woord wet was. Semiramis, die vrou van Nimrod, was die eerste opperpriesteres. Sy het ʼn afgodsdiens daar gestel waar sy die hoëpriester was en waar sy en haar seun aanbid moes word: Semiramis was die hemelkoningin en haar seun, Tammus, die songod. Dit was die begin van die moeder-kind dwaalleer (kultus) waarvan die moeder met die kind in haar arms die simbool is. Lank voor die geboorte van Yeshua het volke van die Noordelike Halfrond feeste gehou wat die koms van die somer en die nuwe jaar gevier het.
Hierdie feeste was grootliks toegewy aan die songod en die god van landbou, terwyl die moeder-kind aanbidding ook sentraal tot hierdie afgodery was. By die verskillende volke, en binne die verskillende kulture, het hierdie afgode onder verskillende name bekend gestaan en was hierdie feeste op verskillende wyses gevier.
Hierdie feeste het saamgeval met die sonkeerpunt wat in daardie jare gereken was as op 25 Desember. Vandag weet ons egter dat die sonkeerpunt 21 Desember is. Die doel van hierdie fees was om die songod te verwelkom, of om sy oorwinning oor die winter te vier, of om sy geboorte te vier en om die gode van die toekomstige oes te vereer.
Hierdie feeste het oor enkele dae (gewoonlik 12) gestrek, maar 25 Desember was gewoonlik die hoogtepunt van die feeste.
Kenmerkend van hierdie feeste was ondermeer die volgende:
Gee van geskenke; versiering van die immergroen boom (simbolies van lewe en voortplanting); brand van kerse om die koms van die songod aan te moedig; die sing van liedere in die strate en die versiering van huise met steekbessie (“Holly berry”) en voëlent (“Mistletoe”) (beide simbole van fertiliteit).
Die bekendste van hierdie feeste, en die een wat die grootste invloed gehad het op die wyse wat Kersfees tans gevier word, en derhalwe op die kerk (die liggaam van Yeshua), was die fees van Saturnalieë. Jare later, het Keiser Konstantyn (312 nC) die liggaam van Yeshua as die staatskerk verklaar en op dié wyse die vervolging van kinders van Abba Vader beëindig. Hy het die sogenaamde, en selfaangestelde, “beskermer van die Christen-geloof geword”. Talle heidense gebruike is die kerk ingebring.
ʼn Gruwelike vermenging tussen die Christen-kerk en die moeder-kind afgodsdiens het gevolg. Gedurende die vierde eeu nC het die Roomse Kerk die fees van Saturnalieë as deel van die Christenfeeste herken. Hiermee is gehoop dat die ongelowiges na die kerk sou stroom en daar op dié wyse deur die kerk die beheer oor mense verkry sou word.
Omrede daar niks “Christelik” aan die fees was nie, het Pous Julius I in 350 nC die laaste dag van hierdie fees, naamlik 25 Desember, as die geboortedag van Yeshua verklaar. Op hierdie wyse het die Roomse Kerk ʼn heidenfees ʼn Christelike karakter gegee en ook die heidene binne die kerk tevrede gestel. Vermenging van die Christen-geloof en heidense praktyke het plaasgevind en die viering van Kersfees as die geboortedag van Yeshua het ontstaan.
Dit alles in ag geneem, hoe seer moet dit nie ons Pappa God se hart maak nie. Hy het ons so lief Hy het sy eie Seun gestuur en ek val vir hierdie heidense feeste wat glad nie in Abba Vader se woord staan nie. Moet ek stilbly daaroor?
Die besluit is myne en joune. Vir elkeen van ons wat hierdie nare waarheid oor kersfees hoor, is dit ʼn geweldige skok en daarom stel ek voor om self die Skrifte te ondersoek of hierdie dinge die waarheid is (Hand. 17:11). ʼn Oorvloed inligting is ook in ensiklopedieë en op die internet beskikbaar om self ʼn studie hieroor te maak en tot jou eie gevolgtrekking te kom.
Die vraag bly egter: As jy gebore is in September/Oktober en mense vier jou verjaarsdag met heidense praktyke, wat sê dit vir jou oor hulle kennis oor jou?
Comments