top of page

Search Results

36 results found with an empty search

  • Vas en Gebed Loop Saam

    Vas is nie 'n vereiste of iets wat Abba Vader ons dwing om te doen nie. Dis ook nie iets waaroor Abba Vader ons gaan straf as ons dit nie doen nie. Nee … vas is 'n uitnodiging. Dis iets wat jy vrywilliglik doen. Dit is wanneer ek sê: "Abba Vader, ek breek uit die gejaag van die wêreld en kom soek U aangesig in gebed en vas." Regdeur Abba Vader se Woord het Sy kinders Sy aangesig gesoek en Hom genader deur gebed en vas. So het koning Josafat ook gedoen toe hy in bewind was. In 2 Kronieke 20:2-3  lees ons: "Toe hulle kom en aan Jósafat berig bring en sê: Daar kom ‘n groot menigte teen u van anderkant die see, van Edom af, en kyk, hulle is al in Háseson-Tamar — dit is Éngedi — het Jósafat bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda ‘n vasdag uitgeroep." Koning Josafat en die volk was in die moeilikheid…die vyand was oppad, en vrees en angs het hulle oorval. Maar koning Josafat sê: “Roep almal; kom ons bid en vas en soek Abba Vader se aangesig vir drie dae.” Almal het saam gebid en gevas, en in 2 Kronieke 20:20-24  lees ons: "Daarop maak hulle die môre vroeg klaar en trek na die woestyn van Tekóa uit; en terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die HERE julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees. En hy het met die volk beraadslaag en tot eer van die HERE sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing en by die uittrek op die voorpunt van die gewapendes moes sê: Loof die HERE, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die HERE ‘n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is. Die kinders van Ammon en Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp. En toe Juda op die wagkop by die woestyn kom en hulle na die menigte kyk, lê hulle daar dood op die grond; en niemand het vrygeraak nie." Wow. M.a.w., koning Josafat sê vir die volk: Kom ons soek Abba Vader se aangesig, kom ons bid en vas vir drie dae, want die vyande is oppad. Hulle doen so, en toe hulle klaar is met die vas, gee Abba Vader vir hulle ‘n groot oorwinning, sonder dat hulle ‘n fisiese wapen opgetel het. Die oorwinning was so groot dat dit hulle drie dae geneem het om al die buit in te samel. Dalk sit jy ook vandag in ‘n onmoontlike situasie…kies om Abba Vader se aangesig te soek in gebed en vas. Kies om Abba Vader te nader.

  • Vas jy vir 'n deurbraak?

    Paulus sê in Efesiërs 6:12, “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Jy sien, Abba Vader het ’n groot plan vir jou lewe – en jy weet dit! Het jy geweet dat elke opdrag ’n geboorteplek het? Paulus was op pad na Damaskus toe hy ’n ontmoeting met Yeshua gehad het. Ná hierdie ontmoeting het hy gevas, en Yeshua het hom geroep om die Woord, die Evangelie, te verkondig. Die kerk in Antiogië het ook gevas toe Paulus sy opdrag ontvang het om die Evangelie aan die hele wêreld in die Naam van Yeshua te verkondig. Ek wil jou vandag vertel: Soos jy Abba Vader aanroep in gebed en vas, en Sy aangesig soek, sal Hy nader kom. Dit staan geskryf. Soos Paulus se lewe radikaal verander het, so kan jou lewe ook verander. Wanneer Abba Vader Sy opdrag aan jou gee, sal dit ’n geboorteplek wees – die begin van die groot droom wat Hy nog altyd vir jou gehad het. Die moeilike tyd waardeur jy gegaan het, was voorbereiding vir die plan wat Abba Vader nou vir jou het. Die Woord sê dat toe Daniël begin glo en droom het oor Abba Vader se profesie oor sy lewe, hy in slawerny vasgevang was. Ja, Daniël en sy familie was gebind in gevangenskap. Ons lees dikwels die Bybel sonder om te besef dat Daniël ook deur seer en beproewings gegaan het. Maar luister hier: Die Woord sê in Daniël 10:11–12 dat toe Daniël op dag 21 nog gevas het, ’n engel aan hom verskyn het en gesê het:“Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek. Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou YHVH te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom.” Ons stryd is in die gees, en die vyand wil probeer om die droom wat Abba Vader vir jou het, te vertraag. Die vyand wil jou mismoedig en minderwaardig laat voel, sodat jy die droom uitstel of laat vaar. Maar let op: Die vyand kan niks doen om die droom te stop nie – net jy kan. Die vyand weet hy kan jou nie oorwin nie, maar hy sal probeer om die belofte wat Abba Vader vir jou lewe het, uit te stel. Wanneer jy vas, sal dinge wat opgehou of vertraag is, begin deurbreek.  Wanneer jy vas, aktiveer jy die geesteswêreld om namens jou op te tree. Onthou, Yeshua het veertig dae gevas voor Sy bediening, en die vyand het Hom die heeltyd versoek. Lukas 4:2 sê:“Yeshua is veertig dae lank deur die duiwel versoek...” Nou, Moses het veertig dae gevas.Josua het veertig dae gevas.Paulus het veertien dae gevas, en sy oë is genees. Oor en oor in die Woord sien ons die krag van vas. Die Handelinge Kerk het gevas en wonderwerke gesien. Petrus het drie dae gevas en ’n openbaring ontvang. Daar is wonderlike deurbraakkrag wanneer jy vas en Abba Vader aanroep. Hy sê in Jeremia 33:3:“Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.” Wanneer jy vas: Word Abba Vader se genesende krag in jou lewe vrygestel (Jesaja 58). Kom wonderwerke van voorsiening (Joël 2). Word verslawings afgebreek (Rigters 20; Markus 9). Kom verlore seuns en dogters terug huis toe (Jeremia 31:16). Regdeur die Woord, wanneer mense gevas en Abba Vader aangeroep het, het opwindende dinge gebeur. Moses het as kind in Egipte grootgeword. Hoewel hy die gemak van Egipte geniet het, was hy ontsteld oor die lyding van sy volk, die kinders van Israel. Moses het op eie krag probeer om Israel te bevry, maar dit het tot mislukking gelei. Hy moes vir sy lewe vlug en het uiteindelik ’n rustige lewe by sy skoonpa Jetro gelei. Maar iets het in Moses se lewe ontbreek. Hy was bestem vir meer. Net soos Moses, voel jy dalk ook vasgevang in ’n groef. Jy weet daar is ’n groter droom wat Abba Vader vir jou het, maar jy voel hulpeloos en moedeloos. Hoor hier: Alles het vir Moses verander toe hy iets anders gedoen het. Op een gewone dag het Moses besluit om “ver die woestyn in te gaan,” en daar het hy ’n brandende bos gesien – ’n ontmoeting met Abba Vader. Daardie ontmoeting het Moses se lewe radikaal verander. Sy onsekerhede is vervang met krag en outoriteit van Abba Vader. Jy moet jou vrese oorkom en Abba Vader aanroep met alles in jou. Kom uit jou groef en roetine. Gaan verder as normaal. Daar wag ’n ontmoeting met Abba Vader vir jou. Skrif om oor te mediteer tydens jou vas: Deuteronomium 4:24 : “Want die Here jou God is ’n verterende vuur, ’n jaloerse God.” Lukas 3:16 : “Johannes sê: Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.” Romeine 12:11 : “Wees nie traag in ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.” Levitikus 6:12-13 : “Die vuur op die altaar moet brand, dit mag nie doodgaan nie.” Openbaring 3:15-20 : “Ek weet van jou werke – jy is nie koud of warm nie.”

  • “Mag ek vir ʼn teken vra?" (Deel 6)

    Sagaria 4:6 : “… nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare .” Ons het gesien Gideon het die opdrag van Abba Vader gekry om sy volk te gaan verlos uit die hand van die Midianiete, en Abba Vader sê vir Gideon in Rigters 6:16 : “ Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan. ”  Die Midianiete het altyd net gekom en die oes van die kinders van Abba Vader gesteel en hulle het uit 135 000 manskappe bestaan. Gideon vra Abba Vader vier keer vir tekens om te bevestig dat dit Abba Vader se droom vir hom is en Abba Vader bevestig dit elke keer en gee elke keer vir Gideon ʼn teken.  Gideon roep die manne bymekaar en ons het gesien hoe 32 000 man opdaag, en Abba Vader sê in Rigters 7:3 : “ Die wat bang is en bewe, kan teruggaan en wegdraai… ”  Met ander woorde, Abba Vader sê vir Gideon: “Julle is te veel, die vyand is nog steeds vier teen een en die volk gaan homself verheerlik met so baie man, dis te veel manne, want as julle wen met twee-en-dertigduisend man sal julle die glorie vir julle vat. Julle almal sal dink dit was julle en dat julle weermag groot en sterk is.” Daar was 32 000 man en Gideon sê almal wat bang is en wat bewe kan huis toe gaan en 22 000 gaan huis toe, net 10 000 bly oor. Nou is dit 14 teen 1.  Abba Vader sê verder vir Gideon in Rigters 7:4 : “ Die manskappe is nog te veel… ” en hulle is af na die water toe en dié wat toe met hul tonge die water oplek soos honde, is toe net 300 man wat eenkant gaan staan en Abba Vader sê vir Gideon die ander 9 700 manskappe kan ook maar huis toe gaan.  Gideon bly oor met 300 manskappe teen 135 000 Midianiete. Met ander woorde dit is nou 450 teen 1 en Abba Vader sê: “Ek wil net sekermaak julle is nie hoogmoedig as julle hierdie Midianiete verslaan en sê dit is julle wat so goed is en die eer en glorie vir julle vat nie. Ek wil doodseker maak julle sien wie Ek is.”  Abba Vader sê vir Gideon met 300 man sal hulle hierdie Midianiete gaan aanval, nou is hulle reg vir oorlog, en dat hulle hulself moet kom bewapen. Ons lees in Rigters 7:16-17 : “ en Gideon het die drie honderd man verdeel in drie dele en aan hulle almal ramshorings en leë kruike, met fakkels binne-in die kruike, in die hand gegee en aan hulle gesê: Kyk na my en maak net so; en kyk, as ek by die buitenste lyn van die laer kom, dan moet julle maak net soos ek maak .”  Kan jy dink wat moes hierdie 300 man gedink het? Hulle is 450 teen 1 en Gideon gee vir hulle elkeen ʼn ramshoring, ʼn erdekruik, en ʼn fakkel. “Dit kan tog nie ons wapens wees nie, Gideon! Hoe gaan ons elkeen vierhonderd-en-vyftig mans verslaan met ʼn ramshoring, ʼn erdekruik en ʼn fakkel?”  Gideon sê: “Met hierdie is ons reg vir oorlog, maar nou moet julle doen net wat ek sê en maak net wat ek maak!” En hulle is af in die nag en gaan staan reg rondom die Midianiete se kamp. Toe Gideon die teken gee, blaas hulle die ramshorings en vat die erdekruike en slaan dit stukkend en die vyand is heeltemal verward. Die Midianiete weet nie wat aangaan nie en Abba Vader het die swaard van die een teen die ander gerig, en hulle het mekaar begin doodmaak en die hele laer het gevlug. As ons na hierdie fakkels en die erdekruike kyk wat hulle stukkend slaan, sien ons regdeur Abba Vader se woord, as daar van ʼn kruik (pot) gepraat word, verteenwoordig dit my en jou fisiese liggaam. Gemaak uit die stof van die aarde.  Regdeur Abba Vader se woord, as daar gepraat word van vuur, verteenwoordig dit die Heilige Gees wat in my en jou woon. Johannes die Doper sê in Matteus 3:11 : “ Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur .”  So, wat is die prentjie in Hebreeus van ʼn kleipot met ʼn vuur of ʼn fakkel in, want Gideon sê: “Doen net soos ek: blaas op die ramshorings en breek die kruike met die fakkels binne-in.”  Jy sien, wanneer die erdekruik of die kleipot breek, kan die wêreld die lig wat binne-in hom is, sién brand.  Net so, wanneer ek en jy breek in onsself, breek van die eie ek, kan die wêreld Yeshua se lig in my en jou sien brand. Eweskielik word ons dan ʼn lig wat brand in ʼn donker wêreld. Gideon en sy 300 man het die Midianiete gaan aanval in die nag en die oomblik toe die erdekruike breek, is daar hierdie lig wat brand van die fakkels wat binne-in hierdie erdekruike was.  Paulus sê in Efesiërs 6:12 : “ Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug .”  Die geveg is in die gees en die oomblik wat ek in myself breek en Yeshua se lig deur my brand – dit is wanneer die geveg in die gees oorwin word. Die worstelstryd in die gees gaan nie oor my nie, ek moet doodgaan, dit gaan oor Abba Vader se Gees. Abba Vader sê in Sagaria 4:6 : “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees.”  As ek doodgaan in myself en Yeshua se lig skyn deur my, dan lewe ek in gees. Die vyand is nie bang vir iemand wat in die vlees lewe nie. Die vyand was 450 teen 1 maar die oomblik toe die eie ek breek en die lig skyn, toe is die vyand verward en hulle begin hulself dood te maak en dit is die wonderwerk.  Gideon het gevra vir tekens of wonderwerke en die wolvlies was eers vol dou en toe sonder dou. Gideon het bevestigings en wonderwerke gekry en dit het gemaak dat Gideon móés reageer en gaan doen wat Abba Vader vir hom gevra het om te gaan doen.  Net so vra ek en jy baie vir die wonderwerke of die tekens in ons lewens, maar die vraag is: Wat doen ons met die bevestigings en die tekens wat Abba Vader vir ons gee? Gaan die tekens of die bevestigings wat Abba Vader vir jou gee jou dit laat doen? Die gehoorsaamheid waarvan Abba Vader in sy woord praat, vereis ʼn aksie! Dit verg van my en jou om iets daaromtrent te doen. Jy kan nie vir Abba Vader vir tekens of bevestigings vra en dan niks daaromtrent doen nie.  Kan jy dink hoe het die adrenalien in Gideon gepomp toe Abba Vader vir hom al hierdie tekens en die manier waarop hulle die vyand moes verslaan, 450 teen 1, wys? Gideon het gereageer. Gideon se gehoorsaamheid aan Abba Vader het oorgegaan in aksie. Ek en jy wil ʼn wonderwerk of ʼn teken hê van Abba Vader om sy droom te leef, maar die vraag is: Wat gaan ons doen as Abba Vader dit wel vir ons gee?  Sal ek en jy hierdie tekens, bevestigings of wonderwerke vat en Abba Vader daarmee verheerlik? Jy sien, die droom wat Abba Vader vir my en jou het, en sy bevestigings, gaan nie oor ons nie, dit is daar om Abba Vader te verheerlik. As ons net die gebreekte kruik sal wees, die moontlike sal doen en Yeshua se lig deur ons sal laat skyn, sal Abba Vader die onmoontlike doen.  Paulus sê in 2 Korintiërs 4:6-10 : “ Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn — dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus. Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word .” So, om Abba Vader se droom vir ons lewens te lewe, gaan dit nie oor onsself nie, dit gaan oor Abba Vader. Dit het nooit oor Gideon of oor hoe ʼn goeie krygsman Gideon was, gegaan nie. Die droom was Abba Vader se droom en Gideon het Abba Vader se droom vir sy lewe geleef omdat hy gehoorsaam was en gereageer het. Dit help nie ons vra vir tekens of bevestigings en ons doen niks daaromtrent nie. Abba Vader roep die Gideons in die gees… sal jy opstaan en reageer? Net so roep Abba Vader jou…

  • Die Nare Waarheid oor Kersfees (Deel 4)

    Matteus 15:7-8 : “Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.” Die woord “Christmas” of Kersfees (“Kerst” vanaf die Middelnederlandse naam vir Christus) is afgelei van die katolieke gebruik van “Christ Mass”, wat afgelei is van die term “Cristes Maesse”, met ander woorde die “Christus-Mis” (in Afrikaans) wat gehou word. Hierdie term “Christmas” beskryf dus ʼn katolieke instelling en ritueel. Die betekenis van “Christ” of Christus is: die Gesalfde of die Messias. “Christus” is afkomstig van die Griekse woord “Christos” (uitspraak: Khristos ). Die woord “Mass” of dan “Maesse”, kom van die Latynse woord “missa” af, wat ʼn viering is van die Eucharistie (die nagmaal, of die “Holy Communion”). Dus, as ons letterlik daarna kyk, is dit asof hulle die nagmaal, of Yeshua se kruisiging, of die dood van die Gesalfde tydens Kersfees herdenk. Die gedagte dan, dat mense vir mekaar ʼn “merry Christmas” toewens, klink asof hulle inderwaarheid sê: “A merry death of Yeshua, the Anointed!” Of, in Afrikaans, “ʼn Vrolike dood van Yeshua die Gesalfde!” Dan sien ons by herhaling ʼn Kersvader wat uitroep: “Ho-ho-ho! A merry Christmas!” Hierdie is niks anders as Godslasterlik nie, en is sekerlik ʼn gruwel in die oë van Abba Vader. So, wat het ʼn Kersboom en al die versiersels met die geboorte van Yeshua te doen? Waarskynlik sal die meeste van ons weet dat dit níks met Yeshua te doen het nie. Nogtans is dit deel van ons Kersfeesvieringe! Waar het hierdie gebruik dan ontstaan? Reeds eeue gelede is die immergroenboom, veral in die Noordelike Halfrond, deur heidene aanbid as die simbool van lewe, vrugbaarheid en voortplanting. ʼn Immergroenboom is gedurende die wintermaande in die huis ingebring, versier en aanbid in die geloof dat dit verhoogde fertiliteit en nuwe lewe sal meebring. Wanneer die kersgeskenke onder die boom geplaas word of geneem word, word daar inderwaarheid voor die boom gebuig! In die lig hiervan sal die volgende Skrif se betekenis duidelik wees: Jeremia 10:1-5 : “ Hoor die woord wat die Here oor julle gespreek het, o huis van Israel! So sê die Here: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemele, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ʼn boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ʼn ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hammers, dat dit nie waggel nie. Soos ʼn voëlverskrikker in ʼn komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie. ” Hoe duidelik is die woord van Abba Vader nie? Kersfees, Kersvader, die kersboom, die gee van geskenke en talle gebruike tydens Kersfees is niks anders as ʼn mengsel van afgodery, Christelike misleiding en kommersiële winsbejag nie. Dit het niks met Yeshua en allermins met die geboorte van ons Verlosser en Koning te doen nie. Die gebruike en tradisies wat daarmee gepaardgaan, is heidens. Om Kersfees te vier, is soos om vreemde vuur aan Abba Vader te offer (Lev. 10:1-3). Hierdie vreemde vuur is die ontheiliging van dít wat by Abba Vader heilig is. Dit help nie ons vereer Abba Vader met ons woorde nie, maar intussen is ons hart nie een met die van Abba Vader nie (Matt. 15:6-8).  Kan ons as kinders van Abba Vader onsself regverdig deur te sê dat ons niks met die oorsprong van Kersfees te doen het nie, maar dat ons dit bloot as ʼn Christen-fees vier? Goeie bedoelings kanselleer nie ongehoorsaamheid nie. Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie! (Matt. 6:24). Die Griekse woord vir kerk is “Ekklesia” en beteken om uitgeroep te wees vir ʼn bepaalde doel. Dit het tyd geword dat volgers van Yeshua as uitgeroepenes leef; ʼn leefwyse wat hulle duidelik sal onderskei van die wêreld. Om Kersfees te vier, al probeer ons om onsself te regverdig deur daarvan ʼn Christen-fees te wil maak, onderskei ons nie van die wêreld nie. Wat staan ek en jy te doen ten opsigte van die viering van Kersfees? Die besluit lê by jou… praat met Pappa God daaroor, gaan praat met kinders van Abba Vader daaroor en doen selfondersoek. Die vraag is: Sal jy toelaat dat Abba Vader se woord jou tradisie verander omdat jy Hom net só liefhet? Sal jy Hom gehoorsaam omdat jy Hom soek met alles in jou lewe? Ek deel nie dié met jou om jou te oordeel nie, maar bloot om die waarheid te deel, want die waarheid wat ons ken, maak my en jou vry.  Mag Abba Vader se asem, die Heilige Gees, die een wees wat my en jou oortuig van die waarheid. Persoonlik kan ek ook getuig, hierdie waarhede was ontstellend en uiteindelik was dit die waarheid wat vrygemaak het. Saam met hierdie vryheid het Abba Vader se vrede en rus gekom.

  • Die Nare Waarheid oor Kersfees (Deel 3)

    2 Timoteus 3:16-17 : “ Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus .” Ons kan slegs die woord van Abba Vader gebruik om ons in die waarheid te onderrig. Wat ook al my en jou keuse aangaande die viering van Kersfees is; van een ding moet ons sekermaak en dit is dat ek en jy deur Abba Vader geregverdig verklaar word en dat ons nie ons eie geregtigheid oprig nie. Paulus sê in Romeine 10:2-3 : “ Want ek getuig van hulle dat hulle ʼn ywer vir God het, maar sonder kennis. Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie .”  Niemand van ons kan dit bekostig om onsself voor Abba Vader te probeer regverdig nie. Eendag staan ek en jy alleen voor Abba Vader en al wat dan tel, is die huwelikskontrak (sy woord) en my liefdesverhouding met Hom. As ek Abba Vader liefhet met my hele hart en met my hele siel en met my hele verstand, sê Yeshua, sal ek sy onderrig gehoorsaam (1 Joh. 5:2-3). Ek en jy moet weet en uitvind wat Abba Vader se wil is en dit uit hierdie liefde vir Hom doen, want dan behaag ons Abba Vader en nie mense of onsself nie. Paulus sê in Galasiërs 1:10 : “ Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ʼn dienskneg van Christus wees nie .”  Indien ons iets tot eer van Abba Vader doen, soos om ʼn fees vir Hom te hou, of ʼn gebeurtenis te herdenk, dan behoort ons tog die opdrag in Abba Vader se woord te vind, sodat ons die woord kan gebruik om ons te onderrig hóé om dit te doen? Indien dit nie in sy woord is nie, is dit mensgemaakte tradisies en nie van Abba Vader nie. Ons is besig om te kyk na Yeshua se geboorte en die ontstaan van Kersfees en as ons gaan kyk na die gee van geskenke op Kersfees, het dit sy ontstaan tydens die Romeinse tydperk vóór Yeshua, toe die gepeupel gedwing was om offerandes en geskenke tydens die fees van Saturnalieë aan die Keiser te gee. Later het die gebruik ontstaan dat die hele bevolking geskenke aan mekaar gegee het. Die Roomse Kerk het dit toe ʼn Christelike gebruik gemaak, deur te sê dit is ʼn voortsetting van die gebruik van Biskop Nikolaas wat gebore is in Turkye in 270 nC en gesterf het in 345 nC. The Roman Saturnalia by John Reinhard Weguelin Hoor gou: Hy was eers in die 19de eeu as heilige verklaar! Hy was biskop van Myra en was bekend om vir die armes geskenke te gee. In 1087 is Nikolaas se beendere deur sy “volgelinge” na Bari in Italië geneem. Daar het die gebruik ontstaan om geskenke aan mekaar te gee ter herdenking van die afsterwe van Biskop Nikolaas op 6 Desember. Die “Nikolaas-kultus” het verder in Europa, veral in Duitsland, versprei. Hierdie groepe het hemelgode aanbid waarvan Wodan die hoofgod was. Volgens oorlewering het Wodan ʼn lang wit baard gehad en het hy op ʼn wit perd deur die hemelruim op ʼn bepaalde dag gedurende herfs gery. Mettertyd is die god Wodan met Nikolaas vervang. So het Nikolaas ʼn wit baard gekry, en warm winterklere gedra en op ʼn wit perd gery om op 6 Desember vir almal geskenke te bring. Ten einde hierdie kultus deel van die Roomse Kerk te maak, is die gee van geskenke op die 25ste Desember (nie meer op die 6de Desember nie) deur die kerk goedgekeur, aangesien dit dan die gebruik van die “Heilige Nikolaas” (Saint Nicolas) sou gewees het. Die Heilige Nikolaas het in 1820 bekend geword as “Santa Claus” (Kersvader) op grond van ʼn satire (“The Knickerbocker Tales”) wat deur Washington Irving geskryf is en wat gebaseer was op sekere Hollandse gebruike en tradisies ten opsigte van Sinterklaas en Swarte Piet – albei se oorsprong ook in afgodery. Dr Clement Moore, ʼn professor van teologie, het in 1822 ʼn gedig geskryf (“A Visit from Saint Nicholas” wat later hernoem is as “ ’Twas the night before Christmas”) waar hy Santa Claus (Kersvader) beskryf as die een wat geskenke op Kersfees bring. Hy kom deur die hemelruim met ʼn slee wat deur agt takbokke getrek word, klim dan deur die skoorsteen en plaas die geskenke in die kouse van die kinders.  In 1862 tot 1866 het Thomas Nast van die Harper’s Weekly  strokiesprente geteken van Kersvader. Hy het aan Kersvader die eienskappe van ʼn vriendelike vet omie gegee en nie as die streng Heilige Nikolaas wat tot op daardie stadium voorgehou was nie. Hy het ook aan Kersvader ʼn huis in die Noordpool “gegee”. In 1931 het die Coca-Cola maatskappy die Sweedse kommersiële kunstenaar, Haddon Sundblom, gekontrakteer om ʼn Kersvader te skep wat in rooi getooi is en Coca-Cola drink. Dit was die laaste stap in die skep van Kersvader met sy wit baard en rooi klere wat op ʼn takbokslee deur die hemelruim ry. In 1941 is die lied “Rudolph, the Red-Nosed Reindeer” gekomponeer wat deur die sanger Gene Autry bekend gemaak is.  Volgens bogenoemde is dit duidelik dat hoewel die oorsprong van Kersfees teruggevoer kan word na die Babiloniese afgodsdiens, is dit maar eers vir ongeveer die afgelope honderd jaar wat die viering van Kersfees ʼn groot kommersiële sukses geword het. Opvallend van Kersfees, is die feit dat mense wat gedurende die jaar Abba Vader op soveel wyses verloën, wel op Kersdag ʼn ophef van die Koning van alle konings maak en dan allerhande afgode se gebruike daarmee vereenselwig. Die moderne Kersfees is sekerlik een van die grootste kommersiële suksesstories van die wêreld. Kersfees, Kersvader, die kersfeesboom en, ja, selfs Yeshua het ʼn suksesvolle “handelsmerk” geword wat maatskappye gebruik om top verkope vir die jaar te bereik. Dit is die tyd wat die oorgrote meerderheid van die wêreldbevolking ʼn afgodsfees hou waaraan ʼn Christelike karakter gegee is.  Ons almal regverdig die gee van geskenke op grond van die wyse manne wat geskenke aan Yeshua gegee het, maar verloor egter uit die oog dat die wyse manne nie geskenke gebring het om Yeshua se geboorte te herdenk nie, maar wel omrede dit die gebruik van daardie tyd was om geskenke aan ʼn koning te gee. As jy gaan kyk waar hierdie wyse manne vandaan kom, het hulle 1 600 km ver gestap om in Betlehem te kom. Dan staan daar in Matteus 2:11 : “ Hulle het die huis ingegaan en die kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys .”  Huis? Was dit nie ʼn krip nie? Ja, dit was en gaan kyk jy na die Griekse woord vir “Kindjie”, dan is die betekenis eerder ʼn ‘kleuter’ of ʼn jong kind’. Jy sien, Yeshua was toe al omtrent twee jaar oud en dit was die gebruik om net vir die koning geskenke te gee. Geskenke is aan Yeshua gegee en nie vir mekaar nie. Die gee van geskenke vir mekaar, is dus nie Bybels nie, maar wel van heidense oorsprong.  Abba Vader sê in Deuteronomium 12:31-23  “ So mag jy nie handel met die HERE jou God nie; want alles wat vir die HERE ʼn gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen, want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie .” Die vraag is: Kan ons regtig verwag dat Abba Vader ons goeie bedoelings moet verstaan indien dit teenstrydig met sy wil is? Goeie bedoelings is nie ʼn plaasvervanger vir gehoorsaamheid nie. Jy kan opreg in jou bedoelings wees, maar jy kan opreg verkeerd wees en sondig. Prof Gerrie leer my as jy 90% gehoorsaam is, is jy nie gehoorsaam nie. Gehoorsaamheid verg 100%. Hierdie les het Saul geleer nadat hy die Amalekiete verslaan het. Sy goeie bedoelings met die offerhande van dit wat Abba Vader met die banvloek getref het, het hom sy koningskap gekos. Abba Vader vereis allereers gehoorsaamheid (1 Sam. 15:21-23).  Volgens hierdie Skrif beskou Abba Vader ongehoorsaamheid as sonde gelykstaande aan waarsêery en afgodediens. Waar los hierdie my en jou? Dit is ons besluit of ons regtig deel wil neem aan al dié gebruike en tradisies, die meeste waarvan direk met afgodery verbind kan word.

  • “Mag ek vir ʼn teken vra?" (Deel 5)

    Filippense 4:7 : “ En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus .” Mag ek Abba Vader vra vir bevestiging as Hy vir my ʼn droom of ʼn woord gee? Gideon het die opdrag van Abba Vader gekry om sy volk te gaan verlos uit die hand van die Midianiete en Abba Vader sê verder vir Gideon: “Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.”  Gideon vra Abba Vader vier keer vir tekens om te bevestig dat dit Abba Vader se droom vir hom is. Abba Vader bewys eerstens vir Hom dat dit Hy is toe Gideon vir Abba Vader ʼn offer gaan voorberei het en dit op die rots neergesit, en Abba Vader ʼn vuur stuur om die offer reg voor Gideon te verteer.  Dan is ons welbekend met die twee tekens wat Gideon vir Abba Vader vra oor die wolvlies wat eers dou moet op hê en dan, later, dou reg rondom die wolvlies maar nie op die wolvlies self nie, en so bevestig Abba Vader sy woord elke keer. Dan is die vierde bevestiging wat Gideon kry toe hy afsluip na die Midianiete toe en hy hulle hoor praat dat sy swaard hulle gaan verslaan.  Net so, hoef ek en jy nie bang te wees om vir Abba Vader vir ʼn teken te vra nie. Dawid sê in Psalm 103:8 : “ Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid .”  Abba Vader kan nie wag om jou stem te hoor nie en Abba Vader is nie te besig om vir my en jou te bevestig dat dit Hy is wat met ons praat nie.  Abba Vader wil hê ek en jy moet sy stem hoor en wéét dit is Hy wat met ons praat, Hy wil ons Herder wees en wil nie hê iets moet ons ontbreek nie, Hy wil ons na groen weivelde lei, na waters waar daar rus is. Daar is drie soorte bevestigings in Abba Vader se woord wat elke keer werk as ons wil toets of dít wat ons moet doen wel van Abba Vader af is. Drie beginsels in sy woord vir hoe ons Abba Vader se stem kan toets. Die eerste een is: Is dit in lyn met Abba Vader se woord, sy beginsels of sy karakter? Abba Vader se stem sal nooit van sy woord verskil nie.  Dit is soos iemand wat ʼn rukkie terug vir my sê hulle verskil van my en hulle het vir Abba Vader gevra en, ja, hulle weet vir seker Jesus het die hele wet kom wegvat en dit is nie meer van toepassing op ons nie. Die vraag is: Watter wet het Jesus dan kom wegvat, want mag jy vandag steel of moord pleeg?  Dan sê Yeshua ook duidelik in Johannes 14:21 : “ Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar .”  Jy sien, ons vat een teksvers uit Abba Vader se woord en wil dit gebruik as ʼn antwoord en dit word meestal uit verband geruk.  As ek ʼn woord van Abba Vader wil hê, moet ek sy woord gaan lees en daaroor mediteer. Ons kan nie sê ek het ʼn woord van Abba Vader en dan verskil sy woord met dít wat die Bybel sê nie. Abba Vader se woord kan nooit weerspreek word nie, maar my interpretasie kan die hele woord weerspreek.  Jy kan een vers uit Abba Vader se woord haal en enige iets bewys as jy sou wou. Net so kan ons Abba Vader se woord verdraai dat ons omstandighede daarby pas. Gideon het sekergemaak hy hoor Abba Vader se stem, al moes hy vir tekens vra, maar Hy wou bevestiging hê van Abba Vader self. Die tweede manier waarop ek ʼn woord van Abba Vader kan bevestig, is deur goddelike raad . Met ander woorde, stem ander kinders van Abba Vader saam met my? Nie advies van sommer enige iemand nie, maar kinders van Abba Vader. Jy sien, wat ons doen, is ons gaan na iemand toe en vra: “Wat dink jy van dit wat ek moet doen?”  Dan sal die persoon sê hy dink nie dit is Abba Vader nie. Dan gaan ek na die volgende persoon toe en vra wat dink hy en dan sal die persoon sê hy dink nie dit is Abba Vader nie. Dan kom ek by ʼn persoon wat sê hy stem saam met wat ek dink, net om my my sin te gee en om my goed te laat voel. Dit is nie goddelike raad nie. Goddelike raad is mense wat regtig vir Abba Vader ken, ʼn intieme verhouding met Hom het, wat sy karakter ken, sy woord ken en wat my ken.  Met ander woorde, moenie na enige iemand toe hardloop en gaan raad vra nie. Spreuke 12:15  sê: “ Die weg van ʼn dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad .”  Dan sê Spreuke 19:20-21 : “ Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees. Baie planne is in ʼn man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan .”  Dan sê Spreuke 24:6  ook: “ Want deur goeie oorleg kan jy voorspoedig oorlog voer, en die oorwinning is deur die menigte van raadgewers .”  In 1 Konings 12 lees ons die verhaal van Rehabeam en die skeuring van die ryk. Na Salomo se dood kom die volk na Rehabeam en vra verligting van die swaar las wat op hulle geplaas is – hoë belastings, dwangarbeid, ens. Rehabeam konsulteer twee groepe mense: die ouer garde, die raadgewers van sy pa, en dan die jonger manne, sy vriende.  Die ouer mense beveel aan dat Rehabeam gehoor gee aan die versoeke van die volk en dat as hy die mense dien, sal hulle hom vir altyd dien. Watter goeie raad is dit nie om ʼn dienskneg te wees nie? Yeshua sê in Matteus 20:27-28 : “ En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ʼn losprys vir baie .”  Rehabeam konsulteer toe die jonger manne, sy vriende. Hulle beveel aan dat hy die volk se verpligtinge vermeerder en dat hy vir hulle moet sê: “Julle dink my pa se hand was swaar, maar my kleinvinger is swaarder.”  Hulle sê vir hom hy moet die volk laat besef dat hy die koning is. Rehabeam aanvaar die raad van sy vriende – die verkeerde keuse. Dit lei tot die skeuring van die ryk en dit het Abba Vader se kinders in twee geskeur. Die lewe is soms meer ingewikkeld. Ons weet Absalom het in opstand teen Dawid gekom en Dawid moes uit Jerusalem vlug. Absalom moes ʼn besluit maak: Moes hy vir Dawid agtervolg of moes hy eers met sy mag bevestig?  Hy het twee raadgewers. Agitofel was Dawid se top raadgewer, maar nou is hy aan Absalom lojaal. Agitofel beveel aan dat Dawid onmiddellik agternagesit en verslaan word. Húsai was ʼn vriend van Dawid, maar sit in Absalom se binnekring. Hy doen hom voor as iemand wat bereid is om vir Absalom raad te gee. Húsai se raad is dat Absalom voorlopig niks doen nie, en in 2 Samuel 15:31  bid Dawid: “ o Here, verydel tog die raad van Agitófel! ”  Abba Vader luister na Dawid se gebed en Absalom neem ʼn dwase besluit. Absalom volg Húsai se raad – die verkeerde raad, want kort daarna sterf Absalom en Agitofel hang homself op (2 Sam 15-18). Almal van ons het soms raadgewers nodig, maar ons moet die raad wat ons kry versigtig oorweeg.  Ons moet begin deur te vra waarom ons raad wil hê. Wat is ons motivering? Is dit om soos Absalom en Rehabeam ons eie ego te bevorder? Of is dit om Abba Vader se heerlikheid te bevorder? As dit oor ons eie sukses en selfverheerliking gaan, kan ons nie verwag dat ons gaan slaag nie.  Dit is soos die persoon wat na die pastoor toe gaan en sê: “Pastoor, ek het my vrou gelos en bly nou by ʼn ander vrou en het jou raad nodig.”  Die pastoor antwoord hom en sê: “Het jy al die Bybel gelees?”  Hy sê: “Ja, die Here het vir my ʼn woord uit die Bybel gegee om my vrou te los en by hierdie vrou te gaan bly.”  Die pastoor sê toe vir hom: “Nee, God het nie vir jou hierdie woorde uit sy woord gegee nie, die vyand het.”  Die vyand het Yeshua versoek en wat het die vyand gedoen? Die vyand het Skrif uit Abba Vader se woord aangehaal. Met ander woorde, die vyand kwoteer die woord. Yeshua sê: “Nee, daar staan geskrywe, daar staan geskrywe, daar staan geskrywe.” Yeshua ís die woord! Jy sien, die persoon het nie vir raad gegaan nie, maar vir goedkeuring om in sonde te lewe en om Abba Vader se woord te skend. Met ander woorde, stem dit wat jy moet doen vir Abba Vader ooreen met die raad van ander kinders van Abba Vader en die woord? Die derde manier hoe ek ʼn woord van Abba Vader kan bevestig, is deur Abba Vader se shalom  vrede. Het ek vrede in my besluit? Wandel ek saam met Abba Vader in sy weë en is daar kalmte en vrede in my? Paulus sê in Kolossense 3:15 : “ En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar .”  Met ander woorde, laat Abba Vader se vrede in jou, jou vertel of dit veilig is vir jou of moet jy eerder uit hierdie situasie kom. Hoeveel keer het ons al nié vrede gehad nie, maar dan doen ons dit in elk geval? Abba Vader lei ons nooit deur vrees nie, Hy lei ons altyd deur geloof. As jy nie vrede het nie, kom weg.  Filippense 4:7  sê: “ En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus .”  Hoeveel keer lê ons in die aand en rondrol en kan nie slaap nie oor goed in ons lewe?  Dit is omdat ons in ʼn rigting op pad is en daar is nie vrede nie. As ek net eenvoudig sal sê: “Abba Vader, ek wou so graag hierdie gedoen het, maar ek het nie vrede nie, so ek sal stop en ek gaan nie sonder u vrede beweeg nie”, dan sal die vrede terugkom. Miskien gaan jy deur ʼn baie moeilike tyd in jou lewe en jy staan op ʼn kruispad waar jy vra: “Waarnatoe nou, Abba Vader?”  Abba Vader is by jou en sal met jou praat. As jy Hom nader, sal Hy jou nader. Abba Vader sê in Psalm 32:8 : “ Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees .”  As jy dan nie seker is of dit Abba Vader is wat met jou praat nie, vra Hom vir bevestiging, lees Abba Vader se woord en as dit in lyn is met sy woord, vra mede-kinders van Abba Vader en as hulle saamstem en daar is vrede in jou hart, weet dit is Abba Vader se woord of droom vir jou lewe.

  • “Mag ek vir ʼn teken vra?" (Deel 4)

    Deuteronomium 3:22 : “ Julle moet vir hulle nie bang wees nie, want dit is die Here julle God wat vir julle stry. ” Ons het gesien Gideon vra Abba Vader drie keer vir tekens om te bevestig dat dit Abba Vader se droom vir hom is en Abba Vader gee elke keer vir hom ʼn teken of bevestiging. Gideon vat toe hierdie outoriteit van Abba Vader en roep die hele weermag van Israel om bymekaar te kom en 32 000 manskappe daag op. Dit is egter net 32 000 teen die Midianiete wat 135 000 man is en Abba Vader sê vir Gideon: “Gideon, julle is te veel, die vyand is nog steeds vier teen een en die volk gaan hulself verheerlik met so baie manne, dit is te veel manne, want as julle met 32 000 man wen, sal julle die glorie, die eer, vir julle vat. Julle almal sal dink dit was julle en dat julle weermag groot en sterk is.”  Abba Vader sê verder vir Gideon: “So, Ek wil hê jy moet ʼn aankondiging maak en sê dat enige een wat bang is, huis toe kan gaan.” Ons het gesien Gideon doen presies wat Abba Vader beveel en sê toe vir die 32 000 man: “Almal wat bang is en wat bewe kan huis toe gaan.”  Twee-en-twintig duisend gaan huis toe, net 10 000 bly oor. Die Midianiete bly nog steeds 135 000 man sterk, met ander woorde, nou is dit 14 teen 1. Dit is nie al nie…Abba Vader sê verder vir Gideon in Rigters 7:4 : “ Die manskappe is nog te veel; bring hulle af na die water, dan sal Ek hulle daar vir jou uitsoek; en van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag met jou saamgaan …”  Abba Vader sê toe: “Elkeen wat met sy tong die water soos ʼn hond oplek, moet jy eenkant laat staan; en elkeen wat op sy knieë vooroor buig om te drink, anderkant.”  Dié wat toe met hul tonge die water oplek soos honde is toe net 300 man wat eenkant gaan staan en Abba Vader sê vir Gideon die ander 9 700 man kan ook maar huis toe gaan. Ja, Gideon bly oor met 300 manskappe teen 135 000 Midianiete. Met ander woorde, dit is nou 450 teen 1 en Abba Vader sê: “Ek wil net sekermaak julle is nie hoogmoedig as julle hierdie Midianiete verslaan en sê dit is júlle wat so goed is en die eer en glorie vir julle vat nie. Ek wil doodseker maak julle sien wie Ek is.”   Abba Vader sê vir Gideon met 300 man sal hulle hierdie Midianiete gaan aanval, nou is hulle reg vir oorlog. Abba Vader haal al die moontlike menslike krag uit sodat die mens nie die eer vat nie en stap saam met Gideon hierdie paadjie van geloof en sê: “Julle het net vir My nodig!”  Paulus sê in 2 Korintiërs 5:7 : “ Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie .”  As jy ʼn studie gaan doen en na die Hebreeuse prentjie kyk van die manne wat soos honde water drink, dan is dit nie dieselfde prentjie wat ons het van “lek net die water op” nie. Die vraag is: Hoe drink jy Abba Vader se woord? As jy kyk hoe ʼn kameel of ʼn perd water drink, is dit stadig, maar as ʼn Jack Russell-terriër water drink, is dit met groot dors  en haastig en met groot ywer. Dit is die prentjie wat Abba Vader vir ons in Hebreeus teken: Die haas waarmee hulle die water opslurp. Regdeur die woord verteenwoordig “water” Abba Vader se woord wat my skoonwas. Maar die vraag is: Hoe drink ek en jy die woord van Abba Vader? Want dit is van kardinale belang in geestelike oorlogvoering. Ek kan nie sonder Abba Vader se woord in geestelike oorlogvoering wees nie. Menslik dink ons: Maar daardie 300 man moes dan sekerlik óf gladiators óf van een of ander spesiale brigade gewees het, nie waar nie?  Dit staan nie in Abba Vader se woord nie. Dit kon die 300 swakste ouens gewees het, dit is tog immers wat Gideon via Abba Vader gesê van homself, maar dan ook het krag niks te doen met hoe hulle water drink nie.  Jy sien, dit het nooit oor hulle gegaan nie en dit was nooit ʼn oorlog vir hulle nie. Net so was Jerigo nooit ʼn oorlog vir Josua en die manne nie. Dit gaan nog altyd oor Abba Vader wat vir my en jou veg en Hy wat vir ons die oorwinning gee. Die oorlog is wel nie myne en joune nie, maar ons moet gehoorsaam wees en bly staan. Jy sien, dit is as Abba Vader vir ons veg dat die mure van Jerigo val. Dit maak nie saak of ons kans 450 teen 1 is nie, as Abba Vader vir my en jou veg en ons is gehoorsaam, soos Gideon, sal ons wen. Moses het self ook vir die volk Israel gesê, toe Farao met sy bemanning en leërmagte die volk agternagesit en hulle baie bang geraak het, in Eksodus 14:13-14 : “ Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees .”  Dan sê Abba Vader ook vir Josua in Deuteronomium 3:22 : “ Julle moet vir hulle nie bang wees nie, want dit is die Here julle God wat vir julle stry .” Onthou, Abba Vader het al drie keer vir Gideon tekens gegee dat dit Abba Vader is wat met hom praat, maar Gideon sê: “Sjoe… Abba Vader, vierhonderd en vyftig teen een! Vader, ek wil nog ʼn teken hê!” en Abba Vader sê in Rigters 7:9-11 : “ Staan op, gaan af in die laer, want Ek gee dit in jou hand. En as jy bang is om af te gaan, gaan jy dan saam met jou dienaar Pura af na die laer toe en luister wat hulle praat; en daarna sal jou hande sterk word, en jy sal in die laer aftrek. Hy gaan toe af saam met sy dienaar Pura tot by die buitenste lyn van die gewapendes wat in die laer was .”  Met ander woorde, Gideon sluip in die nag af na die Midianiete se kamp toe, want Abba Vader het vir hom ʼn bemoedigende woord daar en Gideon hoor toe wat die vyande onder mekaar gesels net soos Abba gesê het, en Rigters 7:13-14  sê: “ En toe Gídeon aankom, vertel ʼn man aan ʼn ander juis ʼn droom en sê: Kyk, ek het ʼn droom gehad: Daar rol ʼn hard gebakte garsbrood in die laer van die Midianiete en kom tot by die tent en slaan dit dat dit omval en keer dit onderstebo, en toe lê die tent daar! En die ander een het geantwoord en gesê: Dit is niks anders nie as die swaard van Gídeon, die seun van Joas, die Israeliet; God het die Midianiete en die hele laer in sy hand gegee .”   Sjoe!  Met ander woorde, Gideon sit en luister hierdie klomp vyande af en Abba Vader gee vir Gideon nog ʼn bevestiging, want “toevallig” beteken ‘toe val God se lig’. Ja, Gideon kry ʼn vierde teken wat hom toe geweldig gemotiveer en bemoedig het. Gideon hoor ʼn gebakte garsbrood gaan die tent slaan en dit gaan omval. Regdeur Abba Vader se woord verteenwoordig “brood” ook Abba Vader se woord. So, Abba Vader se woord, sy swaard, het die Midianiete verslaan.  Jy sien, soos Gideon, as ek en jy onseker is oor dinge wat Abba Vader wil hê ons moet doen, kan ons Hom vir bevestiging of vir ʼn teken vra. Maar dit vereis nog steeds gehoorsaamheid om te doen wat Abba Vader sê en Hy sal dan die oorlog in jou lewe vir jou wen. Die geveg is nie ons sʼn nie, maar Abba Vader sʼn, maar die wonderwerk lê in ons gehoorsaamheid wat oorgaan in aksie!  Die vraag is: As Abba Vader sy woord bevestig, sal jy dit doen? Daar is ʼn geveg… die geveg is ʼn werklikheid. Die geveg is in die gees en ek en jy is net die instrumente in Abba Vader se hand as ons in geloof presies doen wat Abba Vader vir ons sê, al dink ons die kans om te verloor is 450 teen 1.

  • “Mag ek vir ʼn teken vra?" (Deel 3)

    Kan ek vir Abba Vader vra om sy droom vir my lewe te bevestig? Dalk sit jy vandag by ʼn kruispad in jou lewe en jy wil net weet watter kant toe om te draai en al wat jy wil doen is om net vir Abba Vader te gehoorsaam en doen wat Hy sê. Ons weet ons kan ons antwoorde “kook” deur net die regte teksvers te soek en dan te sê: “Sien, daar’sy! Hier is die antwoord van Abba Vader af.” Ons kan egter beslis vir Abba Vader vir ʼn teken of bevestiging vra soos wat Gideon gedoen het. Gaan lees gerus Rigters 6. Ons het gesien die Engel van Abba Vader het gekom en onder die terpentynboom gaan sit, en Abba Vader sê toe deur die Engel vir Gideon: “Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.” Gideon hoor toe Abba Vader, maar is nie seker of dit Hy is nie en vra vir bevestiging en sê: “As ek dan guns in u oë gevind het, doen vir my ʼn teken.” Abba Vader het nie vir Gideon kwaad geword omdat hy wou bevestig of dit Abba Vader is wat vir hom sê: “Gaan verlos jou volk van die Midianiete” nie. Gideon het vir ʼn teken gevra en ons weet Abba Vader het vir hom ʼn teken gegee, en net so kan ek en jy vir Abba Vader vir ʼn teken vra. So, wat doen Gideon toe nadat hy die teken van Abba Vader gekry het? Onthou, Gideon moet die Israeliete van die Midianiete gaan verlos wat net gekom en hulle oes gesteel het. Hulle was meer, groter en sterker as Gideon-hulle. Met ander woorde, Gideon sê: “Abba Vader, ek weet dis U, ek weet U het met my gepraat, maar rêrig… die Midianiete gaan verslaan … Ek? … Hoe?” Wat doen Gideon? Gideon vra nóg ʼn teken! Gideon vra vir Abba Vader in Rigters 6:36-37 : “ As U werklik deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het – ek sal die wolvlies op die dorsvloer neerlê: as daar net op die vlies dou is, terwyl die grond oral droog is, dan sal ek weet dat U deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het. ” Gideon vra weer vir ʼn teken en Abba Vader is nie kwaad omdat Gideon Hom weer vir ʼn teken vra nie. Rigters 6:38  sê: “ En dit was so: toe hy die volgende môre vroeg opstaan, het hy die vlies uitgebring en die dou uit die vlies uitgedruk, ʼn kom vol water .” Met ander woorde, Abba Vader gee vir Gideon nog ʼn teken. ʼn Mens wil amper vra: "Gideon… sal jy nóú glo dis waarvoor Abba Vader jou roep?" Gideon sê egter toe vir Abba Vader in Rigters 6:39 : “ Laat U toorn nie teen my ontvlam nie, en laat my net hierdie keer mag spreek; laat my tog net hierdie keer met die vlies ʼn proef neem: laat dit op die vlies alleen droog wees terwyl daar op die grond oral dou is .” Gideon vra vir Abba Vader ʼn derde teken en Abba besluit nie om iemand anders te gaan vra omdat Gideon vir tekens vra nie en Abba Vader word nie kwaad of ongeduldig met Gideon nie. Hy gee vir Gideon ʼn derde teken en het dit daardie nag só gedoen: Op die vlies alleen was dit droog, maar oral op die grond was daar dou. Met ander woorde, Abba Vader is oukei  met ons as ons vir bevestiging vra. Dit is in orde om die volgende te vra: “Abba Vader, ek wil bevestig… ek hoor U, dit is nie Ú wat nie praat nie, dit is my vermoë om te hoor wat die probleem is. Vader, ek kry te maklik my eie gedagtes en selfgesentreerde drome en ek wil net sekermaak dit is U, Abba.” Abba Vader leer my dit is nie net in orde om seker te maak dit is Hy nie, maar dit is wat sy woord ons leer om te doen. Jy sien, wat Abba Vader my leer, is mý droom gaan oor mý, oor my status en my gemak en oor die eie ek. Alles tot voordeel van myself. Abba Vader se droom vir my lewe is hoe Hy my kan gebruik om ʼn instrument te wees tot sy verheerliking. Hoe kan Hy my gebruik om ʼn verskil te maak vir sy kinders. Hoe kan Hy my gebruik om liefde en lig vir ʼn gebroke wêreld te wees. Net so het Abba Vader vir Josef ʼn droom gegee en Josef sê vir sy broers in Genesis 37:6-11 : “ Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het. Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig …”  Ons weet Abba Vader het inderwaarheid vir Josef twee drome gegee en elke keer in die drome is dit sy familie wat voor hom buig. Jy sien, hierdie droom van Abba Vader vir Josef was net ʼn stukkie van die vervulling van Abba Vader se uiteindelike droom vir Josef. Die vervulling van Josef se droom was nie dat almal voor hom moes buig omdat hy so groot held of so wonderlik is nie, nee, inteendeel, Abba Vader se woord sê ons mag net voor Hom buig. Jy sien, die droom wat Abba Vader gehad het, was dat Hy Josef wou gebruik in ʼn tyd van hongersnood om duisende mense van kos te voorsien. Abba Vader het vir Josef gebruik as ʼn instrument om sy volk te red van hongersnood. Abba Vader se prentjie is groter as my selfsugtige prentjie en my eie behoeftes en my status. Dit gaan nie oor my nie, dit gaan oor Abba Vader se glorie… en daarom kan ons vir Abba Vader vra vir bevestiging vir sy droom. Die vraag is: Kan Abba Vader sy droom vir jou lewe deur jou kom leef? Abba Vader se droom vir Gideon het nie gegaan oor hoe wonderlik Gideon is nie, nee… Abba Vader se droom vir Gideon het gegaan oor hoe Hy vir Gideon en sy manne kan gebruik om Abba Vader se volk te verlos.  Gideon vra Abba Vader drie keer vir tekens om te bevestig dat dit Abba Vader se droom vir hom is en Abba Vader gee drie keer vir hom ʼn teken. Gideon vat toe hierdie outoriteit en roep die hele weermag van Israel om bymekaar te kom en 32 000 man daag op. Slegs 32 000 teen die Midianiete wat 135 000 man is en Abba Vader sê vir Gideon in Rigters 7:2-3 : “ Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê: My eie hand het my verlos. Roep dan nou tog uit voor die ore van die manskappe en sê: Die wat bang is en bewe, kan teruggaan en wegdraai van die gebergte van Gílead af .” Met ander woorde, Abba Vader sê vir Gideon hulle is te veel, die vyand is nog steeds vier teen een en die volk gaan hulself verheerlik met so baie man; dit is te veel manne, want as hulle met 32 000 man wen, sal hulle die glorie vir hulle vat. Hulle almal sou dink dit was hulle en dat hulle weermag groot en sterk is. Abba Vader sê vir Gideon: “So, Ek wil hê jy moet ʼn aankondiging maak en sê dat enige een wat bang is, huis toe kan gaan.” Dalk, as ek Gideon was, sou ek die eerste een gewees het wat terugdraai huis toe… Of dalk gevra het vir nog ʼn teken, want sjoe, 32 000 teen 135 000?  So, daar was 32 000 man wat opgedaag het en Gideon doen presies wat Abba Vader sê en sê toe vir die 32 000 man: “Almal wat bang is en wat bewe kan huis toe gaan en 22 000 gaan huis toe, net 10 000 bly oor. Gits… kan jy dink hoe het Gideon se gesig gelyk? Die Midianiete bly nog steeds 132 000 man, met ander woorde, nou is dit veertien teen een. Ek is seker die 22 000 man wat omgedraai het, het vir Gideon en sy 10 000 man wat oorgebly het gesê: “Sterkte, ons bid vir julle, hoor!” Gideon, wat aanvanklik vir Abba Vader gesê het: “Ag, Vader, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie.” Dalk voel jy ook soos Gideon vandag en sê: “Wie ek, Abba? Ek is die swakste, die kleinste, die jongste?” Abba Vader het egter vir hom gesê: “Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.” En nou? Nou is Gideon en sy manne veertien teen een? Het Abba Vader se drie tekens of bevestigings vir Gideon hierdie geloof gegee om te doen presies wat Abba Vader sê? Het Gideon dalk besef dat Abba Vader se droom vir sy lewe groter is as sy eie droom? Het Gideon dalk besef dat Abba Vader hom net wil gebruik as ʼn instrument in Abba se hande vir sy glorie? Net so… Hoekom nie ek en jy ook ons eie drome neerlê en streef na die droom wat Abba Vader vir ons het nie? Hoekom nie streef om, soos Gideon, ʼn instrument in Abba Vader se hande te wees nie? Kom ons doen wat Paulus in  2 Timoteus 2:22  sê: “ Vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ʼn rein hart aanroep .”

  • Mag ek vir ʼn teken vra?

    Hoe weet jy die droom wat jy gekry het en waarheen Abba Vader jou stuur, is van Hom af? Is jy doodseker of is daar nog so ʼn bietjie onsekerheid? Abba Vader sê in Spreuke 3:6: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” So dikwels sit ons egter met onsekerheid en dink: Is hierdie droom van Abba Vader af of is dit my eie selfgesentreerde droom? Dalk sit jy vandag by hierdie kruispad in jou lewe en jy weet nie watter kant toe om te draai nie en al wat jy wil doen, is om net vir Abba Vader te gehoorsaam (die Hebreeuse woord sh’ma  beteken ‘hoor, luister en gehoorsaam’). Hoe weet ek honderd persent dit is wat Abba Vader wil hê ek moet doen? Is dit nie so dat ons soms besluite maak en ons drome navolg en dan, na ʼn ruk, kom ons agter dit was eintlik die hele tyd ons eie selfgesentreerde drome en nie Abba Vader se droom nie? Ek kan soms teksverse uit Abba Vader se woord gaan haal en sê dis Abba Vader se woord vir my en dan is dit heeltemal uit konteks uit. Ek soek iets in Abba Vader se woord wat vir my die groen lig gee vir my eie drome en dan sê ek: “Maar, Abba Vader… U het gesê!” Kom ek gebruik ʼn voorbeeld. Ek bid: “Abba Vader, ek wil graag hierdie nuwe BMW gaan koop. Sal U asseblief vir my wys dit is die regte ding om te doen?” Dan, iewers deur die dag, kry ek ʼn teksvers, byvoorbeeld Johannes 10:10 , wat sê: “ Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. ” Dan is ek so opgewonde en sê dadelik: “Wow, Abba Vader! Dankie vir u antwoord! Ek weet U wil hê ek moet in oorvloed lewe en hierdie BMW is wat U wil hê ek moet hê.” Die vraag is: Is dit regtig my antwoord van Abba Vader of is my hartsbegeerte net só groot vir wat ek wil hê, dat ek enige iets sal doen om my antwoord te “kook” dat dít die antwoord moet wees? Het dit al met jou gebeur? Nog ʼn voorbeeld. Ek het ʼn baie belangrike besluit om te maak. Die maatskappy waar ek werk se kompetisie het ʼn aanbod op my tafel kom neersit en nou moet ek weet wat is Abba Vader se plan vir my. Moet ek bly waar ek is of moet ek die nuwe aanbod aanvaar? Die salaris en voordele is baie, baie beter… “Dit kan tog net van U af kom, Abba Vader?” Dan vra ek soms raad by vyf ander kinders van Abba Vader, en om saam met my te bid, en drie kom terug en sê: “Ek ervaar jy moet net bly waar jy is.” Dan reageer ek: “Regtig? Abba Vader, is dit u antwoord? Dit kan mos nie wees nie?”  Die vraag is: Hoe weet ek en jy honderd persent vir seker wat Abba Vader wil hê ons moet doen? Kan ek Abba Vader vir bevestiging vra? Is dit ʼn sonde om vir Abba Vader te vra om net deur ʼn teken te bevestig wat sy droom vir jou lewe is? Dit is in Abba Vader se woord dat Hy altyd sy woord sal bevestig en dit is nie verkeerd of ʼn sonde om vir Abba Vader vir bevestiging te vra nie. Jy sien, ons het nodig dat Abba Vader vir ons bevestig dat dit wel is wat Hy wil hê ek en jy moet doen. In Markus 16:20  lees ons: “ Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen .” Yeshua verduidelik en sê dat as jy ʼn broer het wat aanstoot geneem het, gaan praat jy met hom en as hy dan nie luister nie, dan vat jy iemand saam met jou. Dan, in Matteus 18:15-16  staan: “ En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. ” Elke woord kan vasstaan en dit is presies wat die woord “bevestig” beteken. Om iets te bevestig is om iets vas te maak. Wat ons vir Abba Vader vra as ons bevestiging vra, is om sy woord vas te maak, dat daar geen twyfel meer is nie, want dit is vas. Paulus sê in 2 Korintiërs 13:1:  “ Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan .” So, hoe vra ek vir Abba Vader om sy woord vas te maak of om dit te bevestig? In Rigters 6 weet ons vra Gideon vir Abba Vader dat as daar net dou op sy wolvlies is, is dit vir hom ʼn teken, maar vóór hy nog by die wolvlies kom, het hy al vir Abba Vader gevra om sy woord vir hom te bevestig. In Rigters 6:11-17  lees ons: “ Toe het die Engel van die HERE gekom en gaan sit onder die terpentynboom wat by Ofra staan, wat aan Joas, die Abiësriet, behoort het, terwyl sy seun Gídeon juis koring uitslaan in die parskuip om dit te beveilig teen die Midianiete. En die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die HERE is met jou, dapper held! Toe vra Gídeon Hom: Ag, my heer, as die HERE met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van vertel het, deur te sê: Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar nou het die HERE ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete. Toe draai die HERE na hom toe en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie? Maar hy vra Hom: Ag, Here, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie. Toe sê die HERE vir hom: Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan. En hy antwoord Hom: As ek dan guns in u oë gevind het, doen vir my ʼn teken, dat U dit is wat met my spreek ." Met ander woorde, hier vra Gideon: “As dit U is, Abba Vader, wat met my praat, gee vir my ʼn teken dat ek u stem hoor.” Gideon gaan verder en sê in Rigters 6:18 : “ Verwyder U tog nie hiervandaan voordat ek by U kom en my gawe uitbring en voor U neersit nie. Hy sê toe: Ek sal bly totdat jy terugkom .” Abba Vader praat dus met Gideon, en Gideon sê: “Abba Vader, gee my ʼn teken dat dit U is wat met my praat.” Gideon het nodig om te weet dit is Abba Vader. Wat wonderlik is, is dat Abba Vader nie snaaks teenoor Gideon opgetree het omdat Gideon wou bevestig dat dit Abba Vader is wat met hom praat nie. Dan sê Gideon: “Laat my toe om ʼn offer vir U voor te berei” en Abba Vader sê: “Ek sal bly totdat jy terugkom.” Met ander woorde, Abba Vader sal wag sodat ek en jy honderd persent kan weet dit is Hy wat met ons praat. Onthou, daar was nie ʼn winkel naby of ʼn “drive through” nie. Gideon moes ʼn bokkie gaan slag en voorberei het en dan sê die woord het hy die vleis in ʼn mandjie na die plek toe gevat waar die Engel Abba Vader se woorde aan hom gebring het onder die terpentynboom en dit daar neergesit. Onthou, Gideon vra vir ʼn teken. Dan sê Rigters 6:20-21 : “ Maar die Engel van God het vir hom gesê: Neem die vleis en die ongesuurde koeke, en sit dit op hierdie rots neer en gooi die sous daaroor uit. En hy het so gedoen. Daarop steek die Engel van die HERE die punt van die staf wat in sy hand was, uit en raak die vleis en die ongesuurde koeke aan; toe gaan daar vuur op uit die rots en verteer die vleis en die ongesuurde koeke. Intussen het die Engel van die HERE verdwyn uit sy oë .”  Wow! Dit is mos ʼn teken van Abba Vader, dan nie, Gideon? Gideon was so opgewonde oor die teken wat Abba Vader deur sy Engel vir hom gegee het en die woord sê in Rigters 6:22-24 : “ Toe Gídeon bemerk dat dit die Engel van die HERE was, sê Gídeon: Ag, Here HERE! want ek het die Engel van die HERE gesien van aangesig tot aangesig! Maar die HERE sê vir hom: Vrede vir jou! Vrees nie! Jy sal nie sterwe nie. Toe bou Gídeon daar ʼn altaar vir die HERE en noem dit: Die HERE is vrede! Dit staan vandag nog daar by Ofra van die Abiësriete .” Gideon het ʼn teken gevra en Abba Vader het vir hom ʼn teken gegee. Ek en jy hoef nie bang te wees om vir Abba Vader ʼn teken te vra nie. Dawid sê in Psalm 103:8 : “ Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. ” Abba Vader kan nie wag om jou stem te hoor nie en Hy is nie te besig om vir my en jou te bevestig dat dit Hy is wat met ons praat nie. Inteendeel, as ek en jy in verbond is met Hom, intiem saam met Hom wandel, sê Abba Vader vandag vir ons in Psalm 32:8 : “ Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees .” Abba Vader wil hê ek en jy moet sy stem hoor en weet dit is Hy wat met ons praat, Hy wil ons Herder wees en wil nie hê iets moet ons ontbreek nie, Hy wil ons na groen weivelde lei, na waters waar daar rus is. Abba Vader wil ons nie net na groen weivelde toe lei nie, maar ook deur die donker klowe. Loof en prys Abba Vader!

  • “Mag ek vir ʼn teken vra?" (Deel 2)

    Ons het gesien die Engel van Abba Vader het gekom en onder die Terpentynboom gaan sit, terwyl Gídeon juis in die parskuip koring uitslaan om dit teen die Midianiete te beveilig. Die Midianiete het net gekom en die oes van die Israeliete kom steel en Gideon vra (geparafraseer):  “Abba Vader, as U met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom en waar is al u wonders waarvan ons vaders ons vertel het? Maar U het ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.” (Lees Rigters 6.) Abba Vader sê toe vir Gideon: “Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete … Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.” Gideon hoor Abba Vader, maar is nie seker of dit Hy is nie en vra vir bevestiging en sê: “As ek dan guns in u oë gevind het, doen vir my ʼn teken.” Ons het gesien Abba Vader het nie kwaad geword vir Gideon omdat hy wou bevestig of dit Abba Vader is wat vir hom sê: “Gaan verlos jou volk van die Midianiete” nie. Só het ek en jy ook soms onsekerhede oor dinge wat Abba Vader vir ons vra om te doen. Dit is nie verkeerd of ʼn sonde om vir Abba Vader te vra vir ʼn teken of vir bevestiging nie. As ons wil sekermaak of die droom wat ons vir ons lewens het van Abba Vader af is, kan ons Hom gaan vra om dit vir ons te bevestig. Voor ons egter vir Abba Vader kan vra om die droom wat Hy vir ons het, te bevestig, moet ons tog eers sy stem gehoor het en Hy moes al vir ons ʼn droom gegee het, nie waar nie? So, hoe weet ons wat is die droom wat Abba Vader vir ons het? Abba Vader sê in Jeremia 1:5 : “ Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ʼn profeet vir die nasies gemaak .” Met ander woorde, voor ek en jy in die moederskoot gevorm is, het Abba Vader vir ons ʼn droom gehad. Abba Vader het ons spesifiek met ʼn doel aanmekaargeweef en die vraag is eerstens: Hoe weet ek wat is die droom wat Abba Vader vir my lewe het? As jy nie vandag seker is nie, of jy weet nie wat die droom is wat Abba Vader vir jou lewe het nie, wil ek graag met jou deel wat Abba Vader my leer oor hoe om uit te vind. Abba Vader se woord gee ons die antwoord in Numeri 12:6-8 : “ Toe sê Hy: Hoor tog my woorde. As julle profeet van die Here is, sal Ek deur ʼn gesig My aan hom bekend maak, deur ʼn droom sal Ek met hom spreek. So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die Here .” Wow!  Abba Vader sê Hy sal deur ʼn gesig Hom aan ons bekend maak en deur ʼn droom sal Hy met ons spreek. As ek dit eenvoudig kan stel… as ek Abba Vader se droom vir my lewe wil weet, moet ek eers Abba Vader leer ken. Ek moet smag daarna om in sy teenwoordigheid te kom, om sel toe te gaan, om kerk toe te gaan en om oor Abba Vader se woord te mediteer, dag in en dag uit. Ek moet ʼn hartsbegeerte hê om Abba Vader se teenwoordigheid te soek, sy aangesig te soek, soos wat Moses bereid was om te doen. Leer ken dus die Gewer van die droom, leer ken die Een wat die droom vir jou kan openbaar en jou help om sy droom vir jou lewe te vervul. Abba Vader se woord sê die kinders van Israel het Abba Vader se dade geken, maar Moses het sy weë geken. As jy wil weet wat is Abba Vader se droom vir jou lewe, leer Abba Vader ken en Abba Vader sal met jou praat – nie met duistere woorde nie, maar duidelik, sodat jy dit sal verstaan. Abba Vader sê in Eksodus 33:11a : “ Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig soos ʼn man met sy vriend spreek .” Abba Vader het met Moses gepraat soos ʼn vriend, dan sê Yeshua in Johannes ‪ 15:15 : “ Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het .” Yeshua sê Hy noem ons vriende want ʼn dienskneg weet nie wat sy heer doen nie, maar ʼn vriend wel. So, ons moet Abba Vader leer ken! Abba Vader het ʼn droom vir elkeen van ons, maar ek en jy kan ook drome hê. My eie drome vir my lewe, soos ʼn groter huis, duurder kar, of ʼn beter salaris. Ons kan dus ook selfsugtige drome hê en hierdie drome kan ons blokkeer om Abba Vader se droom vir ons lewe te hoor. Daar is sommige van ons selfsugtige drome wat ons moet neerlê om te kan hoor wat Abba Vader se droom vir ons lewens is. Sy droom is altyd beter as my droom vir my lewe. Die vraag is: Wat is dit wat ons keer om Abba Vader beter te leer ken sodat Hy soos ʼn vriend met ons kan praat? Is dit dalk selfgesentreerdheid… die eie ek wat te belangrik is? Hoekom is ek dan so selfgesentreerd? Hoekom gaan alles dan net oor my? Want hoogmoed is in my hart! Yeshua sê in Matteus ‪ 12:34 : “ Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond .” Dit is baie duidelik dat as daar iets in jou hart is, sal dit by jou mond uitkom. Hoogmoed het altyd ʼn STEM! Jy hoor hom! Hoogmoed wil altyd gehoor word. Hoogmoed wil altyd sy opinie gee en hoogmoed val altyd ander in die rede. As ek of jy iemand in die rede val, is dit omdat daar hoogmoed in ons hart is, want ons opinie is altyd belangriker as ander sʼn. Met ander woorde, mense is halfpad besig om ʼn storie te vertel en jy spring eers in, want jy moet nou eers jou sê sê. Dit is hoogmoed en ons moet daarmee afreken anders gaan dit ons blokkeer om Abba Vader se droom vir ons lewe te hoor of om die droom tot vervulling te bring. So, hoe gaan ek dit doen? Deur die wortel van hoogmoed te hanteer. Het jy al, soos ek, meer as een keer met hoogmoed in jou lewe gesukkel? Hoekom sukkel ons kort-kort met hoogmoed in ons lewens? Abba Vader leer my twee dinge. Eerstens , ons werk met die vrug in plaas van die wortel. So dikwels kom jy agter… Sjoe, ek het baie hoogmoedig opgetree of ek het die persoon so lelik in die rede geval en weet ek was hoogmoedig . Dan sê ek vir myself: “Ek gaan eerder nie meer so baie praat nie, ek gaan nou net stilbly.” As ek minder gaan praat, gaan die hoogmoed nêrens heen nie; die hoogmoed is nog steeds daar. Deur stil te bly gaan hoogmoed nie stop nie. So ek moet iets doen om die wortel van hoogmoed uit my lewe te trek. Wat is die wortel van hoogmoed? Abba Vader leer my onsekerheid  is ʼn rede vir hoogmoed. As jy ooit ʼn hoogmoedige persoon sien of hoor, weet daardie persoon sukkel geweldig met onsekerheid. As hoogmoed in jou hart is, is onsekerheid in jou siel. Tweedens , met elke nuwe uitdaging kom nuwe verantwoordelikhede en kom daar nuwe onsekerhede. Met ander woorde, ek is so naby aan Abba Vader, ek wandel elke dag saam met Hom en ek doen net wonderlik en dan ewe skielik kry ek ʼn verhoging of word ʼn groter leier en ewe skielik besef ek: O nee… ek kan nie dit doen nie , en daar kom die onsekerheid. Jy sien, ons kan nie hierdie onsekerheid regstel deur meer selfvertroue te hê nie, want dit vererger net die hoogmoed in ons. Nee, ek en jy moet al ons vertroue in Abba Vader sit. Jy kan nie ʼn houding hê van: “Ja, weet jy, ek is werklik baie goed hierin” nie. Dit is hoogmoed en Abba Vader haat hoogmoed. So, as daar onsekerheid is, moet ons leer om dit te hanteer. Die vyand sê vir Yeshua in die woestyn, Lukas 4:3 : “ As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dat dit brood moet word .” Yeshua het nooit vir Satan geantwoord en gesê: “Ja, jy is reg, Ek is die Seun van God” nie. Hoekom het Yeshua dit nooit vir hom gesê nie? Yeshua het gewéét wie Hy in Abba Vader is. Hy het geweet Hy is die Seun van God, en ʼn Kind van God. Yeshua leer ons hoe om met onsekerheid af te reken… ek en jy moet op die plek kom waar ons wéét ons is kinders van Abba Vader. Nie deur werke nie, maar deur genade is ons gered! Dit is hoe jy onsekerheid hanteer, deur te verstaan jy is ʼn kind van Abba Vader. Abba Vader het jou geskape met ʼn doel en jy is nou hier op aarde met ʼn baie spesifieke droom wat Abba Vader vir jou het. So, kom ons vra Hom om hierdie droom vir ons te wys of net weer te bevestig en kom ons leef sy droom.

  • Wat is liefde?

    Die wêreld leer ons, "love hurts!" of "liefde is ingewikkeld." Of liefde is so onseker. Jy is nooit seker daarvan nie, want môre is jy weer alleen? Soveel flieks, soveel liedjies, soveel sepies gaan oor liefde. Orals waar jy kom, lees jy van liefde; as jy die radio aansit, hoor jy 'n liefdeslied. As jy die koerant koop, lees jy van ‘n liefde wat gebreek het of wat nie uitgewerk het nie. Is die liefde wat ons van die wêreld kry, nie net so plastiek nie? Hoeveel liefdes-teleurstellings het jy al gekry? Het jy al so seer gekry dat jy vandag voel dat jy nie meer 'n idee het wat liefde is nie? Jy dink dalk by jouself, "Wat is liefde?'" Of jy het net al so seer gekry dat jy nie meer sal waag om weer lief te hê nie? Is jy dalk ook die een wat vandag sê: "Ek soek my hele lewe al na liefde." Ek wil jou vandag kom bemoedig met 'n woord van Liefde, Hom self. Abba Vader sê vandag vir jou: My kind... Jy mag My dalk nie ken nie, maar Ek weet alles van jou af. Psalm 139:1 Jy soek jou hele lewe na liefde... Ek is Liefde. 1 Johannes 4:8 Ek weet wanneer jy sit en wanneer jy opstaan. Psalm 139:2 Ek is bekend met al jou paaie. Psalm 139:3 Ek het elke liewe haar op jou kop getel. Matteus 10:29-31 Jy is gemaak na My beeld. Genesis 1:27 Deur My leef jy, beweeg jy en bestaan jy; jy is My nageslag. Handelinge 17:28 Ek het jou geken voordat Ek jou in jou moederskoot gevorm het. Jeremia 1:4-5 Ek het jou gekies toe Ek die skepping beplan het. Efesiërs 1:11-12 Jy was nie ‘n fout nie; al jou dae is in My boek geskryf. Psalm 139:15-16 Ek het die presiese datum van jou geboorte bepaal en waar jy sal woon. Handelinge 17:26 Jy is op wonderbaarlike wyse geskape. Psalm 139:14 Ek het jou bymekaar geweef in jou moeder se skoot. Psalm 139:13 En jou gehelp vanaf die dag wat jy gebore is. Psalm 71:6 Ek is verkeerdelik verteenwoordig deur dié wat My nie ken nie. Johannes 8:41-44 Ek is nie ver en kwaad nie, maar Ek is die uitdrukking van liefde. 1 Johannes 4:16 En dit is My begeerte om My liefde aan jou te oorweldig, net omdat Ek jou Vader is en jy My kind is. 1 Johannes 3:1 Ek offer jou meer as wat jou aardse pa ooit kan. Matteus 7:11 Ek is die perfekte Vader. Matteus 5:48 Elke goeie gawe wat jy ontvang, kom van My hand af. Jakobus 1:17 Ek is jou voorsiener en Ek voldoen aan al jou behoeftes. Matteus 6:31-33 My plan vir jou toekoms was nog altyd met hoop gevul. Jeremia 29:11 Want Ek is lief vir jou met 'n ewige liefde. Jeremia 31:3 My gedagtes teenoor jou is ontelbaar, soos die sand op die strand. Psalm 139: 17-18 En Ek verheug My oor jou deur te jubel en te juig. Sefanja 3:17 Ek sal nooit ophou goed doen vir jou nie. Jeremia 32:40 Jy is My kosbare besitting. Eksodus 19:5 Ek begeer om jou te vestig met My hele hart en My hele siel. Jeremia 32:41 Ek wil jou groot en wonderlike dinge wys. Jeremia 33:3 As jy My soek met jou hele hart, sal jy My vind. Deuteronomium 4:29 Vind jou vreugde in My, en Ek sal jou die begeertes van jou hart gee. Psalm 37:4 Dit is Ek wat daardie begeertes vir jou gee. Fillipense 2:13 Ek is in staat om meer vir jou te doen as wat jy ooit sal kan dink. Efesiërs 3:20 Ek is jou grootste bemoediger. 2 Tessalonisense 2:16-17 Ek is ook die Vader wat jou troos in al jou probleme. 2 Korintiërs 1:5 As jou hart gebreek is, is Ek naby jou. Psalm 34:18 Soos 'n herder ‘n lam dra, dra Ek jou na aan My hart. Jesaja 40:11 Eendag sal Ek elke traan van jou oë afvee. Openbaring 21:3-4 En Ek sal al die pyn wat jy gelei het op aarde wegvat. Openbaring 21:4 Ek is jou Pa en Ek is lief vir jou, net so lief as wat Ek My Seun, Jesus, het. Johannes 17:23 In Yeshua is My liefde aan jou geopenbaar. Johannes 17:26 Hy is die presiese verteenwoordiger van My bestaan. Hebreërs 1:3 Hy het kom demonstreer dat Ek vir jou is, nie teen jou nie. Romeine 8:31 En om jou te kom vertel dat Ek nie jou sondes tel nie. Yeshua het gesterf sodat jy versoen kan word. 2 Korintiërs 5:18-19 Sy dood was die uiteindelike uitdrukking van My liefde vir jou. 1 Johannes 4:10 Ek het alles opgegee wat Ek liefhet, sodat Ek dalk jou liefde kan ontvang. Romeine 8:32 As jy die geskenk van My Seun, Jesus, ontvang, ontvang jy My. 1 Johannes 2:23 En niks sal jou ooit weer van My liefde skei nie. Romeine 8:38-39 Kom huistoe, en Ek sal die grootste partytjie gooi wat die hemel al ooit gesien het. Lukas 15:7 Ek was nog altyd Vader en Ek sal altyd Vader wees. Efesiërs 3:14-15 My vraag is net: Sal jy My kind wees? Johannes 1:12-13 Ek wag vir jou... Lukas 15:11-32 Liefde Jou Abba…

  • Elul: Die Koning is in die veld

    In die week begin Elul op die Hebreeuse kalender. Elul is die tydperk net voor die volgende feesseisoen van Abba Vader. Elul word ook genoem “Die Koning is in die veld.” Dit is ‘n tyd van  voorbereiding deur Teshuvah of “ repentance .” Dis hierdie tydperk  waar jy kan terugkeer met berou na die weë van Abba Vader. ‘n Tydperk om seker te maak jou is lampie vol olie vir die koms van ons Bruidegom. Seisoen van Afsprake! Elul - die Koning is in die veld! Het dit al ooit met jou gebeur dat jy ʼn afspraak met iemand het en jy is so opgewonde oor die afspraak en toe jy opdaag, was die afspraak reeds twee dae gelede verby? Dit is baie erg… jy het die tyd van die afspraak heeltemal verkeerd gehad en só die afspraak gemis.  Kind van Abba, ons het binnekort spesiale afsprake met Pappa God en baie van Abba Vader se kinders begin nou al met voorbereiding vir hierdie afsprake wat Pappa God met ons het.  Daar is hierdie opgewondenheid maar ook ʼn diepe ondersoek in hierdie tyd wat gedoen word, onder andere: Wat is die toestand van my hart? (Wat ons eintlik veronderstel is om elke dag te doen.)  Abba Vader, die Skepper van hemel en aarde, nooi my en jou om sy feesseisoen te kom vier en nou is ʼn geleentheid wat ons het om selfondersoek te doen en dalk terug te draai van ons verkeerde weë vóór hierdie feesseisoen van Abba Vader aanbreek.  Die vraag is wanneer laas het jy selfondersoek gedoen en vir Abba Vader gevra om jou te wys wat is in jou hart wat nie daar moet wees nie?  Jy sien, as jy op die TV kyk, of op YouTube… ag, sommer reg rondom jou, dan sien jy ons leef in die seisoen waar profesie oor eindtydgebeure voor ons oë bewaarheid word. Abba Vader se feeste, of sy jaarlikse siklus van afsprake met sy kinders, is heenwysings en afbeeldings wat deel uitmaak van hierdie eindtydgebeure.  Daarom is dit so belangrik dat ek en jy Abba Vader se bepaalde afsprake moet vier en moet verstaan. So, waar staan ons en wat gebeur volgende volgens Abba Vader se jaarlikse siklus van afsprake met ons?  Abba Vader sê in Levitikus 23:1-2 vir Moses om vir sy kinders (my en jou) te sê: “ Die feestye van die Here (YHVH)  wat julle moet uitroep as heilige samekomste – dit is my feestye. ”  Met ander woorde, dit is nie ʼn boerefees of nog minder ʼn Joodse fees nie, dit is Abba Vader se eie feeste vir sy kinders.  Hierdie feestye van Abba Vader, soos in Levitikus 23 uiteengesit word, is in drie feesseisoene  verdeel, naamlik:  Pesach  wat bestaan uit drie opeenvolgende feeste, naamlik: Pasga , Fees van Ongesuurde Brode  en die Fees van die Eerstelingsgerf  (Eerstelinge). Hierdie feeste is gewoonlik in April op die Gregoriaanse kalender.   Dan, presies vyftig dae later, kry ons die tweede feesseisoen, naamlik Shavuot , ook bekend as Pinksterfees of Fees van Weke, wat ons ook reeds hierdie jaar gevier het.  Dan kry ons die derde feesseisoen wat op ons voorstoep is en wat ons volgende gaan vier, naamlik: Sukkot,  ook bekend as die Loofhuttefees, wat bestaan uit drie opeenvolgende feeste, naamlik: die Fees van Trompette  (ook genoem Yom Teruah of Rosj HaShana), die Dag van Versoening  (Yom Kippur) en die Fees van Tabernakels  (Sukkot).  Abba Vader het dus hierdie afsprake of hierdie feeste vir sy kinders waar Hy ʼn uitnodiging aan my en jou rig en Hy sê dit is heilige samekomste. Hierdie laaste feesseisoen in Abba Vader se jaarlikse siklus van afsprake met ons is heenwysings en afbeeldings wat deel uitmaak van die eindtydgebeure. Dit is dan noodsaaklik dat ons die profetiese betekenis van hierdie laaste afsprake van Abba Vader moet verstaan en vier, naamlik die Fees van Trompette, die Dag van Versoening, die Fees van Tabernakels en die Agtste Dag.  Hierdie laaste feesseisoen begin hierdie jaar op die aand van 2 Oktober met die Fees van Trompette.  Die Fees van Trompette word egter voorafgegaan deur ʼn tydperk van selfondersoek, berou en verootmoediging, bekend as Teshuvah .  Op die Hebreeuse kalender is die tydperk van selfondersoek gedoen in die maand van Elul.  Vóór ons oor hierdie selfondersoektydperk bekend as Teshuvah  in die maand van Elul praat… Hoekom is hierdie feeste van Abba Vader vandag nog belangrik? Was dit nie net belangrik in Moses se tyd nie en moet ek en jy dit nog vier?  Ja, ons moet hierdie vier en verstaan, want die eerste twee feesseisoene is reeds deur Yeshua met sy eerste koms na die aarde vervul. Yeshua is die Pesach-lam wat vir ons geslag is om ons te bevry van die slawejuk van sonde. (Dit het gebeur op die eerste fees, naamlik Pesach.)  Yeshua is die Ongesuurde Brood; die Een sonder sonde en die Brood van die Lewe wat in al ons behoeftes van gees, siel en liggaam voorsien. (Dit is reeds vervul deur Yeshua op die Fees van Ongesuurde Brood.)  Yeshua is Abba Vader se Eerstelingsgerf; die eerste om uit die dood op te staan en die eerste van Abba Vader se oes wat deur die genade in Yeshua ingesamel word. (Reeds vervul deur Yeshua op die Fees van Eerstelinge.)  Yeshua het veertig dae later opgevaar na die hemel, sodat ons Ruach HaKodesh (die Heilige Gees) kon ontvang om hier op aarde geregverdig in krag en gehoorsaamheid volgens Abba Vader se onderrig en instruksies, sy woord (die Bybel), te leef. (Dit is ook reeds vervul deur Yeshua op Pinkster of Sjavuot). Die laaste feesseisoen wat begin met sononder op 2 Oktober hierdie jaar (2024) is ʼn heenwysing na Yeshua se wederkoms as die Koning van konings en as die Leeu van Juda wat sal kom om vir ewig te regeer.  Daarom is hierdie laaste seisoen van afsprake met Abba Vader van kardinale belang en moet ons die betekenis daarvan verstaan. Die feit dat die eerste vier bestemde tye presies volgens profesie op die aangewese datums op die uur vervul is, is bevestiging en bewys dat die laaste feesseisoen ook presies volgens profesie vervul sal word. Daarom is dit baie belangrik om Abba Vader se afsprake op sy kalender te gedenk en te verstaan.  Dit is hierdie afwagting op die wederkoms van ons Bruidegom Yeshua. Abba Vader het sy bestemde tye met ʼn doel ingestel en Yeshua sê in Lukas 24:44 : “ Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word .”  Die wederkoms van ons Bruidegom Yeshua sal tydens Abba Vader se laaste feesseisoen – vervul word! Met ander woorde, indien dit belangrik was om Abba Vader se afsprake voor die eerste koms van Yeshua te hou, is dit ook belangrik om dit steeds te gedenk ter voorbereiding vir ons Bruidegom Yeshua se tweede koms as die Koning van konings!  In dié week begin Elul op die Hebreeuse kalender. Elul is die tydperk net voor die volgende feesseisoen van Abba Vader. Elul word ook genoem “Die Koning is in die veld”. Dit is ʼn tyd van voorbereiding deur teshuvah  of belydenis en bekering (‘repentance’). Dit is hierdie tydperk waar jy met berou kan terugkeer na die weë van Abba Vader. ʼn Tydperk om seker te maak jou lampie is vol olie vir die koms van ons Bruidegom.  ʼn Tydperk om seker te maak jy het nie afgedwaal van Abba Vader se weë nie en so kan jy ook jou hart ondersoek. Dawid sê in Psalm 139:23-24 : “ Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ʼn weg is van smart, en lei my op die ewige weg .”  Is dit nie dalk tyd vir my en jou om ook soos Dawid te sê: “Deurgrond my hart, Abba Vader” nie?  Hierdie tydperk van terugkeer na Abba Vader toe is ook volgens geskiedenisboeke die tydperk van die jaar wat daarop dui dat Yeshua se doop en sy veertig dae in die woestyn alles gedurende Teshuvah  plaasgevind het.  Volgens die Hebreeuse kalender is die aanvang van Teshuvah  altyd op die eerste dag van Elul en eindig op die Dag van Versoening (Yom Kippur) – ʼn tydperk van veertig dae. Volgens geskiedenisboeke en tradisie word ook geglo dat Moses op 1 Elul die berg Sinai opgegaan het om die tweede stel tien gebooie te ontvang ná die gebeure rondom die goue kalf. Hiervolgens het Moses op 10 Tishri, op Yom Kippur, teruggekeer, nadat versoening tussen Abba Vader en Israel, sy kinders, weer bewerkstellig is. Moses was dus ʼn totaal van veertig dae op die berg – die tydperk van Teshuvah, waartydens die volk hulself ondersoek het en berou getoon het.  So wat beteken “ teshuvah ”?  “Teshuvah” beteken terugkeer, om om te draai van my verkeerde weë. Dit is om terug te keer na Abba Vader se woord vir ʼn lewe as geregverdigde, met ʼn rein hart en skoon hande in Yeshua. Dit is om met berou en verootmoediging “terug te keer” nadat selfondersoek gedoen is van jou geestelike welstand en van jou verhouding met Abba Vader. Abba se woord sê egter ek en jy moet elke dag tot inkeer kom (‘repent’), nie net in die veertig dae nie. Voor Abba Vader jou geskape het, het Hy ʼn droom vir jou lewe gehad (Jer. 1:5). Daar is ʼn spesifieke doel met jou lewe en die vraag is: Is ek en jy die persoon of leef ek en jy die droom wat Abba Vader spesifiek vir ons lewens het?  Vraag: In my daaglikse wandel saam met Abba Vader, is ek so lief vir Hom dat ek sy woord gehoorsaam en daarop reageer? Is ons gehoorsaam aan Pappa God se woord en wandel ons saam met Hom, alles uit liefde uit? Dan, ás ons Bruidegom Yeshua met sy wederkoms op die volgende feesseisoen (ons gaan nog steeds nie weet op watter dag en uur nie) kom, soos wat Hy gekom het en die ander feesseisoene vervul het, moet ons nie dan as bruid reg wees nie? Net so, moet ons nie élke dag reg wees nie? En die vraag is, is ons?  Dawid sê in Psalm 27:8 : “ Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o Here (YHVH)!” So die maand Elul word dus beskou as ʼn belangrike tydperk van nadenke, introspeksie en bekering voor die volgende feeste.  Om die eerbiedige aard van hierdie maand te beklemtoon, word die sjofar of ramshoring tydens elke oggendgebedsdiens gedurende die maand Elul geblaas. Elul - 'n Maand van introspeksie Alhoewel Elul ʼn maand van bekering is, is dit ook ʼn tyd om Abba Vader se genade en vergifnis te oordink. Dit is in wese ʼn tydperk van vernuwing – ʼn geleentheid om nader aan Abba Vader te kom en om Hom te vra om jou te vul met sy olie.  Tradisioneel word hierdie tydperk beskou as ʼn tyd wanneer Abba Vader toeganklik is – wanneer “die Koning in die veld is”. Daar is tye wanneer die Koning sy paleis verlaat en die veld in gaan. Op hierdie tydstip kan enigiemand hom nader, en gedurende die maand Elul word gesê dat Abba Vader Homself op hierdie manier toeganklik maak. As gevolg van die Koning se teenwoordigheid word meer tyd bestee aan Torah-studie, in vuriger gebed, groter vrygewigheid en gee.  Daarom ʼn tyd van ontmoeting met die Koning van die Konings – ʼn tyd om gelukkig te wees.  ʼn Tyd om onsself te ondersoek om te ontdek wat ontwikkeling nodig het, wat vernuwe moet word en wat losgelaat moet word. Vir teshuvah  om effektief te wees, moet ons persoonlike tyd opsysit, weg van afleidings af, sodat ons die jaar kan hersien, ons geestelike groei vir die afgelope jaar kan hersien. Die vraag is: Het ek jy geestelik gegroei die jaar? Het ons gegroei in ons verhouding met Abba Vader, asook met ander? Ons doen dit omdat ons die volgende Feesseisoen wil begin met geen wrok van die verlede nie, en omdat ons weet dat wrokke net onsself seermaak.  In 2 Kronieke 7:14  sê Abba Vader: “ As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees .” As gelowiges weet ons dat die troon van Abba Vader áltyd vir ons toeganklik is deur Yeshua. Tog het ons soms ʼn gestruktureerde tyd nodig om reg te maak wat verkeerd geloop het. Laat ons dus ten volle van hierdie tydperk van guns gebruik maak. Laat ons dus opreg berou toon oor ons sondes teen ander en teenoor Abba Vader, en vra vir sy genade terwyl ons genade bewys aan diegene wat teen ons gesondig het. Hoekom nie die tyd gebruik om Abba Vader te nader met groter toewyding aan Hom en sy woord nie? Hebreërs 4:16  sê: “ Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word. ” Abba Vader maak dit baie duidelik as ons Hom nader, sal Hy ook iets doen. Ja, Abba Vader sê in Jeremia 29:12-13 : “ Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart .” Jakobus sê ook in Jakobus 4:8 : “ Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! ” Hoekom nie ons Koning nader nie? Ons Koning is in die veld!

bottom of page