top of page

Die Nare Waarheid oor Kersfees (Deel 4)

Writer's picture: Houtkruis AlephTavHoutkruis AlephTav

Matteus 15:7-8: “Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.”

Kersvader en die nare waarheid oor kersfees

Die woord “Christmas” of Kersfees (“Kerst” vanaf die Middelnederlandse naam vir Christus) is afgelei van die katolieke gebruik van “Christ Mass”, wat afgelei is van die term “Cristes Maesse”, met ander woorde die “Christus-Mis” (in Afrikaans) wat gehou word.


Hierdie term “Christmas” beskryf dus ʼn katolieke instelling en ritueel. Die betekenis van “Christ” of Christus is: die Gesalfde of die Messias. “Christus” is afkomstig van die Griekse woord “Christos” (uitspraak: Khristos). Die woord “Mass” of dan “Maesse”, kom van die Latynse woord “missa” af, wat ʼn viering is van die Eucharistie (die nagmaal, of die “Holy Communion”).


Dus, as ons letterlik daarna kyk, is dit asof hulle die nagmaal, of Yeshua se kruisiging, of die dood van die Gesalfde tydens Kersfees herdenk. Die gedagte dan, dat mense vir mekaar ʼn “merry Christmas” toewens, klink asof hulle inderwaarheid sê: “A merry death of Yeshua, the Anointed!” Of, in Afrikaans, “ʼn Vrolike dood van Yeshua die Gesalfde!” Dan sien ons by herhaling ʼn Kersvader wat uitroep: “Ho-ho-ho! A merry Christmas!” Hierdie is niks anders as Godslasterlik nie, en is sekerlik ʼn gruwel in die oë van Abba Vader.


So, wat het ʼn Kersboom en al die versiersels met die geboorte van Yeshua te doen? Waarskynlik sal die meeste van ons weet dat dit níks met Yeshua te doen het nie. Nogtans is dit deel van ons Kersfeesvieringe! Waar het hierdie gebruik dan ontstaan?


Reeds eeue gelede is die immergroenboom, veral in die Noordelike Halfrond, deur heidene aanbid as die simbool van lewe, vrugbaarheid en voortplanting. ʼn Immergroenboom is gedurende die wintermaande in die huis ingebring, versier en aanbid in die geloof dat dit verhoogde fertiliteit en nuwe lewe sal meebring. Wanneer die kersgeskenke onder die boom geplaas word of geneem word, word daar inderwaarheid voor die boom gebuig!

'n Immergroenboom, kersgeskenke onder die boom

In die lig hiervan sal die volgende Skrif se betekenis duidelik wees: Jeremia 10:1-5: “Hoor die woord wat die Here oor julle gespreek het, o huis van Israel! So sê die Here: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemele, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ʼn boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ʼn ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hammers, dat dit nie waggel nie. Soos ʼn voëlverskrikker in ʼn komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie.


Hoe duidelik is die woord van Abba Vader nie? Kersfees, Kersvader, die kersboom, die gee van geskenke en talle gebruike tydens Kersfees is niks anders as ʼn mengsel van afgodery, Christelike misleiding en kommersiële winsbejag nie. Dit het niks met Yeshua en allermins met die geboorte van ons Verlosser en Koning te doen nie. Die gebruike en tradisies wat daarmee gepaardgaan, is heidens.


Om Kersfees te vier, is soos om vreemde vuur aan Abba Vader te offer (Lev. 10:1-3). Hierdie vreemde vuur is die ontheiliging van dít wat by Abba Vader heilig is. Dit help nie ons vereer Abba Vader met ons woorde nie, maar intussen is ons hart nie een met die van Abba Vader nie (Matt. 15:6-8). 


Kan ons as kinders van Abba Vader onsself regverdig deur te sê dat ons niks met die oorsprong van Kersfees te doen het nie, maar dat ons dit bloot as ʼn Christen-fees vier? Goeie bedoelings kanselleer nie ongehoorsaamheid nie. Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie! (Matt. 6:24).

Die Griekse woord vir kerk is “Ekklesia” en beteken om uitgeroep te wees vir ʼn bepaalde doel. Dit het tyd geword dat volgers van Yeshua as uitgeroepenes leef; ʼn leefwyse wat hulle duidelik sal onderskei van die wêreld.

Om Kersfees te vier, al probeer ons om onsself te regverdig deur daarvan ʼn Christen-fees te wil maak, onderskei ons nie van die wêreld nie.


Wat staan ek en jy te doen ten opsigte van die viering van Kersfees?

Die besluit lê by jou… praat met Pappa God daaroor, gaan praat met kinders van Abba Vader daaroor en doen selfondersoek.

Die vraag is: Sal jy toelaat dat Abba Vader se woord jou tradisie verander omdat jy Hom net só liefhet?

Sal jy Hom gehoorsaam omdat jy Hom soek met alles in jou lewe? Ek deel nie dié met jou om jou te oordeel nie, maar bloot om die waarheid te deel, want die waarheid wat ons ken, maak my en jou vry. 

Iemand in die veld wat staan in vryheid

Mag Abba Vader se asem, die Heilige Gees, die een wees wat my en jou oortuig van die waarheid. Persoonlik kan ek ook getuig, hierdie waarhede was ontstellend en uiteindelik was dit die waarheid wat vrygemaak het. Saam met hierdie vryheid het Abba Vader se vrede en rus gekom.




Recent Posts

See All

Comments


bottom of page