top of page

Die Nare Waarheid oor Kersfees (Deel 3)

Writer's picture: Houtkruis AlephTavHoutkruis AlephTav

2 Timoteus 3:16-17: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Kersvader en die nare waarheid oor kersfees

Ons kan slegs die woord van Abba Vader gebruik om ons in die waarheid te onderrig. Wat ook al my en jou keuse aangaande die viering van Kersfees is; van een ding moet ons sekermaak en dit is dat ek en jy deur Abba Vader geregverdig verklaar word en dat ons nie ons eie geregtigheid oprig nie. Paulus sê in Romeine 10:2-3: “Want ek getuig van hulle dat hulle ʼn ywer vir God het, maar sonder kennis. Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.” 


Niemand van ons kan dit bekostig om onsself voor Abba Vader te probeer regverdig nie. Eendag staan ek en jy alleen voor Abba Vader en al wat dan tel, is die huwelikskontrak (sy woord) en my liefdesverhouding met Hom. As ek Abba Vader liefhet met my hele hart en met my hele siel en met my hele verstand, sê Yeshua, sal ek sy onderrig gehoorsaam (1 Joh. 5:2-3). Ek en jy moet weet en uitvind wat Abba Vader se wil is en dit uit hierdie liefde vir Hom doen, want dan behaag ons Abba Vader en nie mense of onsself nie.


Paulus sê in Galasiërs 1:10: “Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ʼn dienskneg van Christus wees nie.” 


Indien ons iets tot eer van Abba Vader doen, soos om ʼn fees vir Hom te hou, of ʼn gebeurtenis te herdenk, dan behoort ons tog die opdrag in Abba Vader se woord te vind, sodat ons die woord kan gebruik om ons te onderrig hóé om dit te doen? Indien dit nie in sy woord is nie, is dit mensgemaakte tradisies en nie van Abba Vader nie.


Ons is besig om te kyk na Yeshua se geboorte en die ontstaan van Kersfees en as ons gaan kyk na die gee van geskenke op Kersfees, het dit sy ontstaan tydens die Romeinse tydperk vóór Yeshua, toe die gepeupel gedwing was om offerandes en geskenke tydens die fees van Saturnalieë aan die Keiser te gee. Later het die gebruik ontstaan dat die hele bevolking geskenke aan mekaar gegee het. Die Roomse Kerk het dit toe ʼn Christelike gebruik gemaak, deur te sê dit is ʼn voortsetting van die gebruik van Biskop Nikolaas wat gebore is in Turkye in 270 nC en gesterf het in 345 nC.

The Roman Saturnalia by John Reinhard Weguelin
The Roman Saturnalia by John Reinhard Weguelin

Hoor gou: Hy was eers in die 19de eeu as heilige verklaar! Hy was biskop van Myra en was bekend om vir die armes geskenke te gee. In 1087 is Nikolaas se beendere deur sy “volgelinge” na Bari in Italië geneem. Daar het die gebruik ontstaan om geskenke aan mekaar te gee ter herdenking van die afsterwe van Biskop Nikolaas op 6 Desember.


Die “Nikolaas-kultus” het verder in Europa, veral in Duitsland, versprei. Hierdie groepe het hemelgode aanbid waarvan Wodan die hoofgod was. Volgens oorlewering het Wodan ʼn lang wit baard gehad en het hy op ʼn wit perd deur die hemelruim op ʼn bepaalde dag gedurende herfs gery. Mettertyd is die god Wodan met Nikolaas vervang. So het Nikolaas ʼn wit baard gekry, en warm winterklere gedra en op ʼn wit perd gery om op 6 Desember vir almal geskenke te bring.


Ten einde hierdie kultus deel van die Roomse Kerk te maak, is die gee van geskenke op die 25ste Desember (nie meer op die 6de Desember nie) deur die kerk goedgekeur, aangesien dit dan die gebruik van die “Heilige Nikolaas” (Saint Nicolas) sou gewees het. Die Heilige Nikolaas het in 1820 bekend geword as “Santa Claus” (Kersvader) op grond van ʼn satire (“The Knickerbocker Tales”) wat deur Washington Irving geskryf is en wat gebaseer was op sekere Hollandse gebruike en tradisies ten opsigte van Sinterklaas en Swarte Piet – albei se oorsprong ook in afgodery.


Dr Clement Moore, ʼn professor van teologie, het in 1822 ʼn gedig geskryf (“A Visit from Saint Nicholas” wat later hernoem is as “ ’Twas the night before Christmas”) waar hy Santa Claus (Kersvader) beskryf as die een wat geskenke op Kersfees bring. Hy kom deur die hemelruim met ʼn slee wat deur agt takbokke getrek word, klim dan deur die skoorsteen en plaas die geskenke in die kouse van die kinders. 


In 1862 tot 1866 het Thomas Nast van die Harper’s Weekly strokiesprente geteken van Kersvader. Hy het aan Kersvader die eienskappe van ʼn vriendelike vet omie gegee en nie as die streng Heilige Nikolaas wat tot op daardie stadium voorgehou was nie. Hy het ook aan Kersvader ʼn huis in die Noordpool “gegee”. In 1931 het die Coca-Cola maatskappy die Sweedse kommersiële kunstenaar, Haddon Sundblom, gekontrakteer om ʼn Kersvader te skep wat in rooi getooi is en Coca-Cola drink. Dit was die laaste stap in die skep van Kersvader met sy wit baard en rooi klere wat op ʼn takbokslee deur die hemelruim ry. In 1941 is die lied “Rudolph, the Red-Nosed Reindeer” gekomponeer wat deur die sanger Gene Autry bekend gemaak is. 


Volgens bogenoemde is dit duidelik dat hoewel die oorsprong van Kersfees teruggevoer kan word na die Babiloniese afgodsdiens, is dit maar eers vir ongeveer die afgelope honderd jaar wat die viering van Kersfees ʼn groot kommersiële sukses geword het. Opvallend van Kersfees, is die feit dat mense wat gedurende die jaar Abba Vader op soveel wyses verloën, wel op Kersdag ʼn ophef van die Koning van alle konings maak en dan allerhande afgode se gebruike daarmee vereenselwig.

Koop van Kersfees Geskenke
Die moderne Kersfees is sekerlik een van die grootste kommersiële suksesstories van die wêreld.

Kersfees, Kersvader, die kersfeesboom en, ja, selfs Yeshua het ʼn suksesvolle “handelsmerk” geword wat maatskappye gebruik om top verkope vir die jaar te bereik. Dit is die tyd wat die oorgrote meerderheid van die wêreldbevolking ʼn afgodsfees hou waaraan ʼn Christelike karakter gegee is. 

Die moderne Kersfees is  sekerlik een van die grootste kommersiële  suksesstories van die wêreld.

Ons almal regverdig die gee van geskenke op grond van die wyse manne wat geskenke aan Yeshua gegee het, maar verloor egter uit die oog dat die wyse manne nie geskenke gebring het om Yeshua se geboorte te herdenk nie, maar wel omrede dit die gebruik van daardie tyd was om geskenke aan ʼn koning te gee. As jy gaan kyk waar hierdie wyse manne vandaan kom, het hulle 1 600 km ver gestap om in Betlehem te kom. Dan staan daar in Matteus 2:11: “Hulle het die huis ingegaan en die kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys.” 


Huis? Was dit nie ʼn krip nie? Ja, dit was en gaan kyk jy na die Griekse woord vir “Kindjie”, dan is die betekenis eerder ʼn ‘kleuter’ of ʼn jong kind’. Jy sien, Yeshua was toe al omtrent twee jaar oud en dit was die gebruik om net vir die koning geskenke te gee. Geskenke is aan Yeshua gegee en nie vir mekaar nie. Die gee van geskenke vir mekaar, is dus nie Bybels nie, maar wel van heidense oorsprong. 

Abba Vader sê in Deuteronomium 12:31-23 “So mag jy nie handel met die HERE jou God nie; want alles wat vir die HERE ʼn gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen, want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.”

Die vraag is: Kan ons regtig verwag dat Abba Vader ons goeie bedoelings moet verstaan indien dit teenstrydig met sy wil is?

Goeie bedoelings is nie ʼn plaasvervanger vir gehoorsaamheid nie. Jy kan opreg in jou bedoelings wees, maar jy kan opreg verkeerd wees en sondig.

Goeie bedoelings is nie 'n plaasvervanger vir gehoorsaamheid nie.

Prof Gerrie leer my as jy 90% gehoorsaam is, is jy nie gehoorsaam nie. Gehoorsaamheid verg 100%. Hierdie les het Saul geleer nadat hy die Amalekiete verslaan het. Sy goeie bedoelings met die offerhande van dit wat Abba Vader met die banvloek getref het, het hom sy koningskap gekos. Abba Vader vereis allereers gehoorsaamheid (1 Sam. 15:21-23). 


Volgens hierdie Skrif beskou Abba Vader ongehoorsaamheid as sonde gelykstaande aan waarsêery en afgodediens.

Waar los hierdie my en jou? Dit is ons besluit of ons regtig deel wil neem aan al dié gebruike en tradisies, die meeste waarvan direk met afgodery verbind kan word.



Recent Posts

See All

Comentarios


bottom of page