In die week begin Elul op die Hebreeuse kalender. Elul is die tydperk net voor die volgende feesseisoen van Abba Vader. Elul word ook genoem “Die Koning is in die veld.”
Dit is ‘n tyd van voorbereiding deur Teshuvah of “repentance.” Dis hierdie tydperk waar jy kan terugkeer met berou na die weë van Abba Vader. ‘n Tydperk om seker te maak jou is lampie vol olie vir die koms van ons Bruidegom.
Seisoen van Afsprake! Elul - die Koning is in die veld!
Het dit al ooit met jou gebeur dat jy ʼn afspraak met iemand het en jy is so opgewonde oor die afspraak en toe jy opdaag, was die afspraak reeds twee dae gelede verby? Dit is baie erg… jy het die tyd van die afspraak heeltemal verkeerd gehad en só die afspraak gemis.
Kind van Abba, ons het binnekort spesiale afsprake met Pappa God en baie van Abba Vader se kinders begin nou al met voorbereiding vir hierdie afsprake wat Pappa God met ons het.
Daar is hierdie opgewondenheid maar ook ʼn diepe ondersoek in hierdie tyd wat gedoen word, onder andere: Wat is die toestand van my hart? (Wat ons eintlik veronderstel is om elke dag te doen.)
Abba Vader, die Skepper van hemel en aarde, nooi my en jou om sy feesseisoen te kom vier en nou is ʼn geleentheid wat ons het om selfondersoek te doen en dalk terug te draai van ons verkeerde weë vóór hierdie feesseisoen van Abba Vader aanbreek.
Die vraag is wanneer laas het jy selfondersoek gedoen en vir Abba Vader gevra om jou te wys wat is in jou hart wat nie daar moet wees nie?
Jy sien, as jy op die TV kyk, of op YouTube… ag, sommer reg rondom jou, dan sien jy ons leef in die seisoen waar profesie oor eindtydgebeure voor ons oë bewaarheid word. Abba Vader se feeste, of sy jaarlikse siklus van afsprake met sy kinders, is heenwysings en afbeeldings wat deel uitmaak van hierdie eindtydgebeure.
Daarom is dit so belangrik dat ek en jy Abba Vader se bepaalde afsprake moet vier en moet verstaan. So, waar staan ons en wat gebeur volgende volgens Abba Vader se jaarlikse siklus van afsprake met ons?
Abba Vader sê in Levitikus 23:1-2 vir Moses om vir sy kinders (my en jou) te sê: “Die feestye van die Here (YHVH) wat julle moet uitroep as heilige samekomste – dit is my feestye.”
Met ander woorde, dit is nie ʼn boerefees of nog minder ʼn Joodse fees nie, dit is Abba Vader se eie feeste vir sy kinders.
Hierdie feestye van Abba Vader, soos in Levitikus 23 uiteengesit word, is in drie feesseisoene verdeel, naamlik:
Pesach wat bestaan uit drie opeenvolgende feeste, naamlik: Pasga, Fees van Ongesuurde Brode en die Fees van die Eerstelingsgerf (Eerstelinge). Hierdie feeste is gewoonlik in April op die Gregoriaanse kalender.
Dan, presies vyftig dae later, kry ons die tweede feesseisoen, naamlik Shavuot, ook bekend as Pinksterfees of Fees van Weke, wat ons ook reeds hierdie jaar gevier het.
Dan kry ons die derde feesseisoen wat op ons voorstoep is en wat ons volgende gaan vier, naamlik: Sukkot, ook bekend as die Loofhuttefees, wat bestaan uit drie opeenvolgende feeste, naamlik: die Fees van Trompette (ook genoem Yom Teruah of Rosj HaShana), die Dag van Versoening (Yom Kippur) en die Fees van Tabernakels (Sukkot).
Abba Vader het dus hierdie afsprake of hierdie feeste vir sy kinders waar Hy ʼn uitnodiging aan my en jou rig en Hy sê dit is heilige samekomste. Hierdie laaste feesseisoen in Abba Vader se jaarlikse siklus van afsprake met ons is heenwysings en afbeeldings wat deel uitmaak van die eindtydgebeure.
Dit is dan noodsaaklik dat ons die profetiese betekenis van hierdie laaste afsprake van Abba Vader moet verstaan en vier, naamlik die Fees van Trompette, die Dag van Versoening, die Fees van Tabernakels en die Agtste Dag.
Hierdie laaste feesseisoen begin hierdie jaar op die aand van 2 Oktober met die Fees van Trompette.
Die Fees van Trompette word egter voorafgegaan deur ʼn tydperk van selfondersoek, berou en verootmoediging, bekend as Teshuvah.
Op die Hebreeuse kalender is die tydperk van selfondersoek gedoen in die maand van Elul.
Vóór ons oor hierdie selfondersoektydperk bekend as Teshuvah in die maand van Elul praat… Hoekom is hierdie feeste van Abba Vader vandag nog belangrik? Was dit nie net belangrik in Moses se tyd nie en moet ek en jy dit nog vier?
Ja, ons moet hierdie vier en verstaan, want die eerste twee feesseisoene is reeds deur Yeshua met sy eerste koms na die aarde vervul. Yeshua is die Pesach-lam wat vir ons geslag is om ons te bevry van die slawejuk van sonde. (Dit het gebeur op die eerste fees, naamlik Pesach.)
Yeshua is die Ongesuurde Brood; die Een sonder sonde en die Brood van die Lewe wat in al ons behoeftes van gees, siel en liggaam voorsien. (Dit is reeds vervul deur Yeshua op die Fees van Ongesuurde Brood.)
Yeshua is Abba Vader se Eerstelingsgerf; die eerste om uit die dood op te staan en die eerste van Abba Vader se oes wat deur die genade in Yeshua ingesamel word. (Reeds vervul deur Yeshua op die Fees van Eerstelinge.)
Yeshua het veertig dae later opgevaar na die hemel, sodat ons Ruach HaKodesh (die Heilige Gees) kon ontvang om hier op aarde geregverdig in krag en gehoorsaamheid volgens Abba Vader se onderrig en instruksies, sy woord (die Bybel), te leef. (Dit is ook reeds vervul deur Yeshua op Pinkster of Sjavuot).
Die laaste feesseisoen wat begin met sononder op 2 Oktober hierdie jaar (2024) is ʼn heenwysing na Yeshua se wederkoms as die Koning van konings en as die Leeu van Juda wat sal kom om vir ewig te regeer.
Daarom is hierdie laaste seisoen van afsprake met Abba Vader van kardinale belang en moet ons die betekenis daarvan verstaan. Die feit dat die eerste vier bestemde tye presies volgens profesie op die aangewese datums op die uur vervul is, is bevestiging en bewys dat die laaste feesseisoen ook presies volgens profesie vervul sal word. Daarom is dit baie belangrik om Abba Vader se afsprake op sy kalender te gedenk en te verstaan.
Dit is hierdie afwagting op die wederkoms van ons Bruidegom Yeshua. Abba Vader het sy bestemde tye met ʼn doel ingestel en Yeshua sê in Lukas 24:44: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.”
Die wederkoms van ons Bruidegom Yeshua sal tydens Abba Vader se laaste feesseisoen – vervul word!
Met ander woorde, indien dit belangrik was om Abba Vader se afsprake voor die eerste koms van Yeshua te hou, is dit ook belangrik om dit steeds te gedenk ter voorbereiding vir ons Bruidegom Yeshua se tweede koms as die Koning van konings!
In dié week begin Elul op die Hebreeuse kalender. Elul is die tydperk net voor die volgende feesseisoen van Abba Vader. Elul word ook genoem “Die Koning is in die veld”.
Dit is ʼn tyd van voorbereiding deur teshuvah of belydenis en bekering (‘repentance’). Dit is hierdie tydperk waar jy met berou kan terugkeer na die weë van Abba Vader. ʼn Tydperk om seker te maak jou lampie is vol olie vir die koms van ons Bruidegom.
ʼn Tydperk om seker te maak jy het nie afgedwaal van Abba Vader se weë nie en so kan jy ook jou hart ondersoek. Dawid sê in Psalm 139:23-24: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ʼn weg is van smart, en lei my op die ewige weg.”
Is dit nie dalk tyd vir my en jou om ook soos Dawid te sê: “Deurgrond my hart, Abba Vader” nie?
Hierdie tydperk van terugkeer na Abba Vader toe is ook volgens geskiedenisboeke die tydperk van die jaar wat daarop dui dat Yeshua se doop en sy veertig dae in die woestyn alles gedurende Teshuvah plaasgevind het.
Volgens die Hebreeuse kalender is die aanvang van Teshuvah altyd op die eerste dag van Elul en eindig op die Dag van Versoening (Yom Kippur) – ʼn tydperk van veertig dae. Volgens geskiedenisboeke en tradisie word ook geglo dat Moses op 1 Elul die berg Sinai opgegaan het om die tweede stel tien gebooie te ontvang ná die gebeure rondom die goue kalf. Hiervolgens het Moses op 10 Tishri, op Yom Kippur, teruggekeer, nadat versoening tussen Abba Vader en Israel, sy kinders, weer bewerkstellig is. Moses was dus ʼn totaal van veertig dae op die berg – die tydperk van Teshuvah, waartydens die volk hulself ondersoek het en berou getoon het.
So wat beteken “teshuvah”?
“Teshuvah” beteken terugkeer, om om te draai van my verkeerde weë. Dit is om terug te keer na Abba Vader se woord vir ʼn lewe as geregverdigde, met ʼn rein hart en skoon hande in Yeshua. Dit is om met berou en verootmoediging “terug te keer” nadat selfondersoek gedoen is van jou geestelike welstand en van jou verhouding met Abba Vader. Abba se woord sê egter ek en jy moet elke dag tot inkeer kom (‘repent’), nie net in die veertig dae nie. Voor Abba Vader jou geskape het, het Hy ʼn droom vir jou lewe gehad (Jer. 1:5). Daar is ʼn spesifieke doel met jou lewe en die vraag is: Is ek en jy die persoon of leef ek en jy die droom wat Abba Vader spesifiek vir ons lewens het?
Vraag: In my daaglikse wandel saam met Abba Vader, is ek so lief vir Hom dat ek sy woord gehoorsaam en daarop reageer? Is ons gehoorsaam aan Pappa God se woord en wandel ons saam met Hom, alles uit liefde uit? Dan, ás ons Bruidegom Yeshua met sy wederkoms op die volgende feesseisoen (ons gaan nog steeds nie weet op watter dag en uur nie) kom, soos wat Hy gekom het en die ander feesseisoene vervul het, moet ons nie dan as bruid reg wees nie? Net so, moet ons nie élke dag reg wees nie? En die vraag is, is ons?
Dawid sê in Psalm 27:8: “Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o Here (YHVH)!”
So die maand Elul word dus beskou as ʼn belangrike tydperk van nadenke, introspeksie en bekering voor die volgende feeste.
Om die eerbiedige aard van hierdie maand te beklemtoon, word die sjofar of ramshoring tydens elke oggendgebedsdiens gedurende die maand Elul geblaas.
Elul - 'n Maand van introspeksie
Alhoewel Elul ʼn maand van bekering is, is dit ook ʼn tyd om Abba Vader se genade en vergifnis te oordink.
Dit is in wese ʼn tydperk van vernuwing – ʼn geleentheid om nader aan Abba Vader te kom en om Hom te vra om jou te vul met sy olie.
Tradisioneel word hierdie tydperk beskou as ʼn tyd wanneer Abba Vader toeganklik is – wanneer “die Koning in die veld is”. Daar is tye wanneer die Koning sy paleis verlaat en die veld in gaan. Op hierdie tydstip kan enigiemand hom nader, en gedurende die maand Elul word gesê dat Abba Vader Homself op hierdie manier toeganklik maak.
As gevolg van die Koning se teenwoordigheid word meer tyd bestee aan Torah-studie, in vuriger gebed, groter vrygewigheid en gee.
Daarom ʼn tyd van ontmoeting met die Koning van die Konings – ʼn tyd om gelukkig te wees.
ʼn Tyd om onsself te ondersoek om te ontdek wat ontwikkeling nodig het, wat vernuwe moet word en wat losgelaat moet word. Vir teshuvah om effektief te wees, moet ons persoonlike tyd opsysit, weg van afleidings af, sodat ons die jaar kan hersien, ons geestelike groei vir die afgelope jaar kan hersien.
Die vraag is: Het ek jy geestelik gegroei die jaar? Het ons gegroei in ons verhouding met Abba Vader, asook met ander? Ons doen dit omdat ons die volgende Feesseisoen wil begin met geen wrok van die verlede nie, en omdat ons weet dat wrokke net onsself seermaak.
In 2 Kronieke 7:14 sê Abba Vader: “As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”
As gelowiges weet ons dat die troon van Abba Vader áltyd vir ons toeganklik is deur Yeshua. Tog het ons soms ʼn gestruktureerde tyd nodig om reg te maak wat verkeerd geloop het. Laat ons dus ten volle van hierdie tydperk van guns gebruik maak.
Laat ons dus opreg berou toon oor ons sondes teen ander en teenoor Abba Vader, en vra vir sy genade terwyl ons genade bewys aan diegene wat teen ons gesondig het.
Hoekom nie die tyd gebruik om Abba Vader te nader met groter toewyding aan Hom en sy woord nie? Hebreërs 4:16 sê: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”
Abba Vader maak dit baie duidelik as ons Hom nader, sal Hy ook iets doen. Ja, Abba Vader sê in Jeremia 29:12-13: “Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.”
Jakobus sê ook in Jakobus 4:8: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!”
Hoekom nie ons Koning nader nie? Ons Koning is in die veld!
Comments