Search Results
36 results found with an empty search
- Liefde is bedagsaam
Psalm 139:17-18 “Hoe kosbaar is dan vir my U gedagtes, o YHVH! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.” Die Woord leer ons dat Abba Vader se gedagtes iets van onskatbare waarde is — nie iets wat goedkoop of alledaags is nie. Dawid is in bewondering dat Abba Vader aan hom dink — dis ’n persoonlike, liefdevolle betrokkenheid. Abba Vader dink net so voortdurend liefdevol aan jou, en dis iets van onmeetbare waarde. Die omvang van Abba Vader se sorg en planne vir ’n mens is meer as wat iemand ooit kan begryp. Abba Vader se betrokkenheid en liefde is so oorvloedig dat dit elke aardse maatstaf oortref. In Psalm 139:17-18 beeld Dawid Abba Vader se liefdevolle bewusheid, Sy oorvloedige sorg en Sy altyd-teenwoordigheid uit — op ’n manier wat diep persoonlik en troostend is. Jy sien, liefde dink . Liefde is nie ’n onnadenkende gevoel wat op die golwe van emosie ry en verstandelik aan die slaap raak nie. Liefde hou die gedagtes besig, wetend dat liefdevolle optrede deur liefdevolle gedagtes voorafgegaan word. As ’n jong man verlief raak vir die eerste keer, is hy natuurlik bedagsaam. Hy sal ure lank droom oor hoe sy nooi of geliefde lyk, wonder wat sy doen, en aan indrukwekkende dinge dink om te sê. Hy sal graag bely: “Ek kan nie ophou om aan jou te dink nie.” Die probleem is: die motivering vir bedagsaamheid vervaag soos tyd verloop. Jy sien, as jy nie leer om bedagsaam te wees nie, sal jy op die ou einde spyt wees oor die geleenthede wat jy laat verbygaan het, waar jy jou liefde kon gewys het. So, wat beteken dit om "bedagsaam" te wees? Om bedagsaam te wees beteken om: Met aandag en respek op te tree, Te dink oor jou woorde en dade voordat jy praat of optree, Ander mense se gevoelens en situasies in ag te neem, Stil te staan by Abba Vader se wil en leiding, eerder as om haastig en roekeloos op te tree. In die Woord leer ons dat bedagsaamheid insig en wysheid bring. (Spreuke 14:29) Om bedagsaam te wees is om eers goed te luister en te dink voordat jy praat of optree. (Jakobus 1:19) Om bedagsaam te wees is om vriendelik en hulpvaardig teenoor ander op te tree. (Filippense 4:5) So, waarom is dit belangrik om bedagsaam te wees? Omdat dit Abba Vader se karakter weerspieël. Dit vermy konflik en bevorder vrede. Bedagsaamheid is om Abba Vader se leiding af te wag, eerder as om net op jou eie insigte staat te maak. Wanneer ons bedagsaam lewe, eer ons Abba Vader deur wysheid, sagmoedigheid en liefde te toon — dis karaktereienskappe wat Hom weerspieël. Die liefde vereis bedagsaamheid – die soort wat brûe bou deur die konstruktiewe kombinasie van geduld, goedgesindheid en onselfsugtigheid. Liefde leer ons hoe om mekaar tegemoet te kom. Voorbeelde van bedagsaamheid in die Woord: Abram: Abram is ’n voorbeeld in die Woord van iemand wat bedagsaam en vredeliewend opgetree het. Toe Abraham en sy neef Lot se herders begin stry het oor weiding en water vir hul vee, het Abraham bedagsaam opgetree deur die konflik te benader met vrede en selfverloëning. Abram sê vir Lot in Genesis 13:8-9 : “Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan.” Abraham het nie op sy regte aangedring as die ouer en leier tussen hulle nie. In plaas daarvan gee hy vir Lot eerste keuse oor die land — ’n daad van bedagsaamheid en nederigheid in ’n potensieel gespanne situasie. Josef: Josef was net so bedagsaam in ’n moeilike situasie. Josef se broers het hom uit jaloesie as ’n slaaf verkoop. Later, toe Josef ’n magtige leier in Egipte geword het en sy broers kom na hom toe vir hulp tydens ’n hongersnood, het hy ’n unieke kans gehad om wraak te neem. Maar in plaas daarvan was hy bedagsaam, vol deernis en het hy hulle vergewe. Josef sê vir hulle in Genesis 45:5 : “Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het YHVH my voor julle uit gestuur.” Josef het dus hul nood raakgesien, hulle versorg en hulle vergewe — selfs al het hulle hom swaar te na gekom. Dit wys ’n diep vlak van bedagsaamheid, nie net in sy woorde nie, maar ook in sy dade. Rut: In die boek Rut betoon Rut bedagsaamheid en lojaliteit aan haar skoonma, Naomi. Nadat Naomi se man en seuns gesterf het, kies Rut om saam met haar terug te keer na Betlehem — selfs al was sy self ’n Moabitiese vrou en kon teruggaan na haar eie mense. Rut sê vir Naomi in Rut 1:16 : “Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God.” Verder betoon Rut bedagsaamheid deur hoe hard sy werk om kos te versamel vir haar en Naomi, en hoe respekvol sy met Boas omgaan. Hierdie is almal mense in die Woord wat bedagsaamheid betoon het. Dit wys dat bedagsaamheid dikwels beteken om ander bo jouself te stel — selfs wanneer dit moeilik is. Die uiteindelike voorbeeld: Yeshua Natuurlik is die uiteindelike voorbeeld van bedagsaamheid Yeshua self. Hy het mense met deernis behandel; Hy het selfs Sy vyande vergewe aan die kruis. (Lukas 23:34) So dink daaraan: Wat as jy vandag doelbewus kies om bedagsaamheid te wys teenoor iemand wat dit dalk nie verwag nie? Soos byvoorbeeld: Luister met aandag na iemand sonder om daardie persoon in die rede te val. Stuur ’n bemoedigende boodskap aan iemand wat stil geraak het. Bid vir iemand wat swaarkry — sonder dat hulle dit eers weet. Vergewe iemand in jou hart, selfs al vra hulle nie daarvoor nie. Help iemand sonder om iets terug te verwag. Besluit om elke oggend op te staan en te sê: “Vandag kies ek om met ’n sagte hart en ’n oop gemoed deur die dag te gaan. Ek sal bedagsaam wees teenoor die mense rondom my — deur te luister, vriendelik te wees, geduldig te reageer en bereid te wees om ander se laste ligter te maak, want dis presies wat my Koning, my Messias gedoen het.” Ten laaste, onthou: Elke klein daad van bedagsaamheid kan hoop bring in iemand anders se dag. Soos Yeshua jou bedagsaam behandel, wil jy dit ook mos aan ander wys. Kom ons bid saam: Vader, dankie vir U bedagsaamheid en liefde. Dankie dat U aan my dink en dat U my liefhet. Ek wil verander en meer en meer soos Yeshua bedagsaam wees. Ek bid dit in Yeshua Ha-Mashiach se Naam, die Seun van YHVH. Amen.
- Liefde is nie selfsugtig nie
Fil 2:3 – “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.” Die Griekse woord vir selfsug is eritheia (ἐριθεία), wat beteken: selfsugtige ambisie; wedywering; twisagtigheid; en stryery wat spruit uit eiebelang. Eritheia het oorspronklik verwys na werwing vir ’n politieke amp in die antieke Griekse samelewing – dit het ’n selfsoekende gedrag aangedui, eie ambisie gedryf deur persoonlike gewin, ten koste van eenheid of waarheid. Daarom sê Jakobus in Jakobus 3:14–16 :“Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle harte het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.” Selfsug is deel van die werke van die vlees ( Galasiërs 5:20 ). In die Woord het selfsug dus ’n sterk negatiewe konnotasie: dit is nie net ambisie nie, maar ambisie wat gewortel is in eiebelang, verdeeldheid en manipulasie – die teenoorgestelde van die dienskneg-hart en nederige liefde waarvan Yeshua ons leer In Romeine 12:9–11 staan: “Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.” Die Gees van Hierdie Wêreld: Selfsug as Kultuur Ons leef in ’n wêreld wat behep is met die “eie ek” of “self”. Die hedendaagse kultuur leer jou om jou fokus te plaas op jou voorkoms, jou gevoelens en jou persoonlike begeertes as die belangrikste prioriteite. As daar ooit ’n woord was wat die teenoorgestelde van liefde is, is dit selfsug . Ongelukkig is selfsug iets waarmee ons gebore word. Ons is almal gebore met ’n sondige natuur – ’n natuur soos Adam. Ek en jy is gebore met sonde, dieselfde natuur as die vyand – ons wil net raakgesien word. Byvoorbeeld: ons wil hê die eerste woord wat ’n baba sê, moet “Pappa” of “Mamma” wees. Maar baie keer is die baba se eerste woord: “Myne!” Ons is van nature gefokus op ons eie behoeftes, wat ek wil hê en wat myne is! Hierdie selfgesentreerdheid kom van die vyand. Die belangrikste persoon in jou lewe is dikwels – jy self . Hoe toets ons dit? Wie is die eerste persoon wat jy soek in ’n groepfoto? Jy kyk of jy daar is, en as jy nie goed lyk nie, is die hele foto vir jou “lelik”. Is dit nie so nie? Ons is gebore in sonde en selfgesentreerdheid! Die teenoorgestelde van selfsug is liefde – Yeshua! 1 Johannes 4:8 sê: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” Hulle het vir Yeshua gesê: “Ons is mal oor U leerstellings.” Toe antwoord Hy:“Ek sê niks tensy Ek dit nie reeds van My Vader gehoor het nie.”Toe sê hulle: “Ons is mal oor die wonderwerke wat U doen,” en Hy antwoord:“Ek doen niks tensy Ek dit nie reeds by My Vader gesien het nie.” Elke keer wat mense vir Yeshua eer wou gee, het Hy dit aan Abba Vader gegee. Hoe meer ons soos Yeshua word, hoe meer gee ons eer aan Abba Vader en aan ander – eerder as aan onsself. Die vyand se natuur is: “Ek wil glorie hê. Ek wil aanbid word. Ek wil belangrik wees.” En die vraag is: Ek en jy? Wat straal ons lewens uit? Selfsug of liefde? Byna elke sondige daad wat ooit gepleeg is, kan teruggevoer word na ’n selfsugtige motief. Dis ’n eienskap wat ons in ander haat, maar in onsself probeer ons dit regverdig. Ons kan nie die selfsug in ander uitwys sonder om te erken dat ons self daaraan skuldig is nie – dit sou skynheilig wees. Hoekom het ons lae standaarde vir onsself, maar hoë verwagtings van ander? Die antwoord is ’n bitter pil om te sluk: Ons almal is selfsugtig! 1 Korintiërs 13:5 sê: “Liefde soek nie sy eie belang nie.” Selfs ’n vrygewige daad kan selfsugtig wees as jy dit doen om eer te ontvang of om ander te manipuleer. Jy tree óf op uit liefde vir ander, óf uit liefde vir jouself. Ware liefde word slegs bevredig wanneer dit ander bevoordeel. Jy kan nie tegelyk uit ware liefde én uit selfsug optree nie. Liefde bring innerlike vreugde. Wanneer jy leeg raak van jouself, kan jy ander liefhê – en dan word hulle welstand vir jou ’n prioriteit. As dit vir jou moeilik is om jou eie begeertes prys te gee tot voordeel van ander, is dit dalk tyd om jou hart te ondersoek – dalk is selfsug ’n groter probleem as wat jy erken. Die mense rondom jou – by die werk, by die huis – het ’n opinie oor jou. Is dit ’n liefdevolle opinie? Filippense 2:3 herhaal: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.” Die konsep van selfsug en eiebelang kom ook in Hebreeus voor in Esegiël 34 , waar Abba Vader deur Esegiël profeteer teen leiers wat net vir hulself sorg. Esegiël 34:1–4 :“So spreek YHVH: Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie? Julle eet die vet en beklee julle met die wol; julle slag die vettes, maar die skape laat julle nie wei nie; julle versterk die swakkes nie, maak die siekes nie gesond nie, verbind nie die gewondes nie, bring nie die afgedwaaldes terug nie, en soek nie die verlore nie; maar met strengheid en hardheid heers julle oor hulle.” Abba Vader praat hier nie van letterlike herders nie, maar van geestelike leiers – dié aan wie Hy Sy kinders toevertrou het. Die “skape” is die kinders van Abba Vader. Hy gebruik die natuurlike om ons geestelik te leer. Abba Vader lys vyf dinge wat geestelike leiers nie doen nie: Julle versterk nie die swakkes nie – julle doop nie in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees nie. Julle maak die siekes nie gesond nie – julle bid nie vir genesing nie. Julle verbind nie die gewondes nie – geen innerlike genesing. Julle bring nie die afgedwaaldes terug nie – julle help nie met verlossing nie. Julle soek nie die verlore nie – geen evangelisasie nie. Esegiël 34:5 – “So het hulle dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie; en hulle het die voedsel geword vir al die wilde diere van die veld.” Die kinders van Abba Vader het verstrooid geraak omdat geestelike leiers net vir hulself sorg. Dit is selfsug! Hoekom vra ons nie vandag vir Abba Vader om ons leeg te maak van selfsugtigheid nie? Want: Liefde is nie selfsugtig nie. Matteus 28:19–20 – “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Selfsug of Liefde? Die Groot Vraag Die vraag is: Wanneer gaan ek en jy hierdie opdrag van Yeshua ernstig opneem? Die vyand neem sy werk ernstig op – om Abba Vader se kinders te verslind. Maar ons sal dit nie regkry as ons selfsugtig is nie… Slegs deur liefde, wanneer ons die skoene van bereidheid aantrek want liefde soek nie sy eie belang nie. Amen.
- Liefde is Goedgesind
LIEFDE IS GOEDGESIND In Spreuke 3:3-4 lees ons: “Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart. Dan sal jy genade vind en 'n goeie insig in die oë van YHVH en van die mense.” Die woord “liefde” hier is die Hebreeuse woord chesed . Ons het in die vorige blok gesien dat chesed -liefde die karaktereienskappe van Abba Vader is wat Hy in ons deponeer wanneer ons Yeshua aanvaar en in verbond saam met Hom wandel. Dit is hierdie liefde en trou wat ons nie moet verlaat nie. Een van die karaktereienskappe van hierdie liefde is goedgesindheid . In die Woord verwys goedgesindheid na 'n houding van vriendelikheid, deernis en genade teenoor ander. Dit is 'n uitdrukking van liefde en respek wat nie net na dié strek wat ons liefhet nie, maar ook na dié wat ons nie ken nie – selfs ons vyande. Is dit nie waarom Yeshua ons leer en sê in Matteus 5:44 nie: “Julle moet jul vyande liefhê; seën dié wat julle vervloek, doen goed aan dié wat julle haat, en bid vir dié wat julle beledig en vervolg...”? Goedgesindheid is een van die vrugte van die Gees wat in Galasiërs 5:22-23 genoem word, en is dus 'n kenmerk van 'n Volgeling van die Weg. Paulus skryf in Efesiërs 4:32: “Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar, soos YHVH ook in Yeshua julle vergewe het.” Hier beklemtoon die Woord die belangrikheid daarvan om goedgesind te wees teenoor ander, en om onsself nie vas te vang in wrok of onreg nie, maar eerder die genade en liefde wat ons van Abba Vader ontvang het, aan ander te betoon. In Matteus 10:8b sê Yeshua: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” Goedgesindheid in die Woord is nie net 'n emosie nie, maar 'n daad van deernis en 'n lewenswyse wat ander se behoeftes bo jou eie stel. Goedgesindheid bestaan uit vier basiese kernbestanddele: 1. Sagmoedigheid Wanneer jy goedgesind is, is jy versigtig oor hoe jy ander behandel. Jy is dus nooit onnodig bitsig of kortaf nie. Jy is sensitief. Teer. Selfs wanneer jy iemand moet teregwys of reghelp, doen jy jou uiterste bes om dit sagmoedig en liefdevol te doen. Jy praat die waarheid in liefde. Yeshua sê in Matteus 11:29 : “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Ons Leermeester het my en jou met sagmoedigheid en teerheid geleer – net so moet ons ook ander leer en help. Rustigheid en vrede is die vrug van 'n sagmoedige hart. Sagmoedigheid is ook een van die vrugte van die Gees ( Galasiërs 5:23 ). 2. Hulpvaardigheid Goedgesindheid beteken ook jy is hulpvaardig en gereed om spesifieke behoeftes te vervul. Dit is om ander te dien sonder om bekommerd te wees oor jou eie behoeftes of regte. Goedgesindheid maak 'n mens nuuskierig oor ander se behoeftes en motiveer jou om daardie behoeftes te bevredig, selfs al beteken dit dat jy jou eie behoeftes opsy skuif. 3. Gewilligheid Goedgesindheid inspireer jou om gewillig te wees – bereid om saam te werk. In plaas van om eiesinnig, onwillig of hardkoppig te wees, gee jy jou samewerking en bly jy diensbaar. In plaas van om te kla en verskonings te soek, soek jy redes om ander te dien en Yeshua se hande en voete te wees. 'n Goedgesinde persoon beëindig duisende potensiële argumente deur hul bereidheid om te luister, eerder as om hul eie wil af te dwing. Ons wonder dikwels: “Waar en hoe kan ek Yeshua se hande wees?” – en dit kan begin deur net tyd te maak vir ander en na hulle te luister. Wees gewillig. 4. Neem inisiatief in goeie werke Goedgesindheid dink vooruit, neem inisiatief, en gee dan die eerste tree. Dit is 'n weerspieëling van geloof, ywer en 'n bereidwilligheid om volgens Abba Vader se leiding op te tree. Galasiërs 6:9-10 sê:“Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgenote van die geloof.” Met ander woorde, inisiatief beteken om geleenthede aan te gryp en ander te help of te dien in die liggaam van Yeshua sonder om te wag dat iemand anders begin. Yeshua het vir ons die voorbeeld gestel – Hy het nie gewag dat mense om hulp vra nie; Hy het die inisiatief geneem om diegene rondom Hom te dien, te onderrig en lief te hê. Om inisiatief te neem, roep Volgelinge van die Weg op om proaktief te wees in hulle diens. Yeshua eer dié wat verantwoordelikheid neem en doelgerig optree, eerder as om passief te wag. Dit verg inisiatief om Yeshua se opdrag op te neem en dissipels te gaan maak, hulle te doop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, en om hulle te leer om alles te onderhou wat Hy beveel het. Ja, Yeshua gee Sy dissipels die opdrag om uit te gaan, die inisiatief te neem om die Goeie Nuus te versprei, dissipels te maak en ander van Sy liefde te leer. Dit beteken om aktief te soek na maniere om ander te dien, Abba Vader se wil na te jaag en só jou geloof uit te leef. Kies vandag om nie te wag om eerste goedgesind te wees nie. Liefde is nie gebaseer op gevoelens nie – nee, liefde is 'n vasberadenheid om bedagsaam op te tree, selfs wanneer dit lyk of daar geen beloning is nie. Jy sal nooit leer liefhê voordat jy geleer het om goedgesind te wees nie. Kom ons bid saam: Vader, kom vul my met U liefde. Ek wil goedgesind wees in U Koninkryk en U verheerlik in alles wat ek doen.Ek bid dit in Yeshua HaMashiach se Naam, die Seun van YHVH. Amen.
- Liefde verander jou
In 1 Johannes 4:8 staan: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” Liefde verander ons. Wanneer ons verander, kies ons om geduldig te wees. Dan reageer ons positief op 'n negatiewe situasie. Ons kies om nie maklik kwaad te word nie. Ons kies om lankmoedig of geduldig te wees in plaas daarvan om 'n kort humeur te hê. Hoekom? Want liefde verander jou! Hoor wat sê 1 Johannes 4:12: “As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en sy liefde het in ons volmaak geword.” Die woord vir liefde in Grieks is "Agape" – die liefde wat Abba Vader aan die wêreld getoon het: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het” ( Johannes 3:16 ). Agape is Abba Vader se liefde Dit is sterk, onveranderlik en ewig. "Agape" liefde is nie “wêreldse liefde” wat net op emosies reageer nie. Nee, "Agape" liefde is onvoorwaardelik. Die Hebreeuse woord vir hierdie "Agape" liefde is "ahava". Die profeet Hosea gebruik die Hebreeuse woord "ahava" op verskeie plekke, veral wanneer hy Israel aanspoor om terug te keer na YHVH. Abba Vader belowe in Hosea 14:5: “Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend.” "Ahava" liefde se Hebreeuse prentjie is die idee van voorkeur of keuse. Met ander woorde, "ahava" liefde behels 'n besluit. Die Hebreeuse konsep is: "Ek kies." Dis 'n keuse om lief te hê vir die res van jou lewe. Die Hebreeuse ingesteldheid vir liefde staan in Johannes 14:15, waar Yeshua sê: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” Dit is 'n aksie! "Ahava liefde" is om jou lewe op te offer vir ander, soos Yeshua syne vir ons geoffer het ( Efesiërs 5:25 ). Dit word deels gedoen deur te sterf aan jouself, want Paulus sê in Galasiërs 5:24: “Maar die wat aan Yeshua behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.” Ons moet dit daagliks doen, want die wêreld gebruik materialistiese dinge soos 'n huis, 'n motor, 'n vakansie, 'n salaris of selfs jou pos by die werk om jou verhouding met Abba Vader en met mekaar te breek. Daarom sê Yeshua in Lukas 9:23: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” Om hierdie "Ahava liefde" te hê, moet jy Yeshua aanvaar en aan Hom behoort. Jy moet gevul word met Abba Vader se "Chesed" liefde. Chesed liefde: Abba Vader se troue liefde In Genesis 24:12 bid Abraham se dienskneg Elieser vir 'n vrou vir Isak en vra: “YHVH, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer.” Die Hebreeuse woord vir "bewys guns" is "chesed" , wat vriendelikheid beteken. Maar "Chesed" het baie betekenisse! Dit is die woord wat gebruik word in Eksodus 34:6 om Abba Vader se karaktereienskappe te beskryf. "Chesed" beskryf eintlik Abba Vader se liefde vir ons. "Chesed" het 'n hiërargie. Dit kom slegs van Abba Vader na ons toe – nie andersom nie. Dit vloei net in een rigting. 1 Johannes 4:12 sê: “As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en sy liefde het in ons volmaak geword.” Dit beteken dat wanneer ons Yeshua aanvaar as ons Verlosser, Abba Vader ons vul met Sy "Chesed" liefde. Dit gee ons die volgende karaktereienskappe van Abba Vader: Genade en barmhartigheid Liefde wat lojaal en goedertierend is Guns en liefdevolle goedhartigheid – Hier word jy diensbaar, want Yeshua sê in Markus 10:45: “Want selfs die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en om sy lewe as 'n losprys te gee.” Onwankelbare liefde – Psalm 136 beskryf dit as liefde wat vir ewig bly. Dit is liefde wat jou nooit los nie, selfs al is dit onverdiend. Verbondsliefde – Paulus beskryf dit in 1 Korintiers 13:4-7: “Liefde is lankmoedig en vriendelik; dit is nie jaloers nie; dit praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Abba Vader sê in Eksodus 20:6: “Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.” In Hebreeus beteken dit: “Vir julle wat my 'Ahava' (onvoorwaardelike liefde) het, sal Ek met my 'Chesed' liefde vul.” Wanneer jy met hierdie liefde gevul is, verstaan jy wat ware verbondsliefde is. Jy begin jou liefdesreis saam met Abba Vader, met Yeshua as jou verbondsvennoot. Jy neem die besluit om jouself onvoorwaardelik aan Hom toe te wy. Met Abba Vader se "Chesed" liefde in jou, word jy goedgesind. Efesiërs 4:32 sê: “Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” Geduld is hoe liefde reageer om 'n negatiewe situasie te voorkom, en goedgesindheid is hoe liefde optree om 'n positiewe situasie te verseker. Geduld voorkom 'n probleem; goedgesindheid bring seën mee. Een is voorkomend, die ander proaktief. Hierdie twee aspekte van liefde is die hoekstene waarop baie ander eienskappe gebou word. Die Woord beklemtoon hoe belangrik liefde en goedgesindheid is: Spreuke 3:3-4 sê: “Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart. Dan sal jy genade vind en 'n goeie insig in die oë van God en die mense.” Gebed: Vader, dankie dat U my so lief het dat U U eniggebore Seun gegee het, sodat ek wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Vul my met U "Chesed" liefde sodat ek soos Yeshua onvoorwaardelik kan liefhê. Sonder U is ek niks. Dankie vir U liefde. Ek bid dit in Yeshua Ha-Mashiach se Naam, die Seun van YHVH. Amen.
- Liefde is Lankmoedig & Geduldig
Paulus sê in Efesiërs 4:1-2: “Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig van die roeping waarmee julle geroep is —met alle nederigheid , sagmoedigheid en lankmoedigheid , terwyl julle mekaar in liefde verdra...” Ons weet Yeshua is liefde. In 1 Joh 4:8 staan: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” As ons Yeshua aanvaar as ons Verlosser en Saligmaker, dan kom leef die Heilige Gees in ons, en die vrug van die Heilige Gees is liefde. Die Groei van Geduld in Ons Lewens M.a.w., die saadjie van liefde wat op my hart gesaai word deur die Woord van Abba Vader oor geduld begin groei, en ek word al hoe meer soos Yeshua, wat geduldig en lankmoedig is. As die saad, wat die Woord van Abba Vader is, op my hart gesaai word, verkry ek nie dadelik die vrug van geduld nie, maar dit groei met tyd. Yeshua, of liefde, is geduldig! Liefde is die lewe se kragtigste motiveerder en het baie meer diepte en betekenis as wat ons besef. Het jy ook hierdie hartsbegeerte om meer en meer te verander soos Yeshua? Wil jy alles doen soos Yeshua in geduld? Wat Sou Yeshua Doen? 'n Rukkie terug het almal hierdie bandjies gedra wat sê: W.W.J.D., wat beteken: What would Jesus do? - Is dit my en jou fokus? Daar was 'n storie van 'n visserman wat langs 'n rivier vis gevang het saam met 'n baie ryk man. Die ryk man het met verwondering toegekyk hoe die visserman elke paar minute 'n redelike groot vis vang. Na net 'n uur het die visserman begin om op te pak en huis toe te gaan. Die ryk man het hom gestop en gevra: "Hoekom is jy so gou oppad?" "Wel," sê die visserman, "ek het genoeg vis vir die week gevang en ek het nie meer nodig nie. Ek wil nou huis toe gaan en Abba Vader se Woord verder bestudeer en tyd saam met my familie spandeer." Die ryk man sê: "Maar dink aan wat jy kan doen met meer vis. Jy kan die ekstra vis verkoop, die geld gebruik om te belê in meer visstokke, dan kan jy 'n boot koop en mense huur om meer vis te vang terwyl jy toesig hou oor die operasie." "En wat is die doel van dit alles?" vra die visserman. "Wel," antwoord die ryk man, "jy kan dan iemand huur om jou besigheid te bestuur en dan kan jy doen wat jy regtig wil in die lewe." Met dit het die visserman sy visstok opgetel, die ryk man gegroet en gesê: "Dankie, maar ek dóén reeds wat ek regtig wil in die lewe!" Die Belangrikheid van Geduld en Liefde Die punt van hierdie storie is dat ons soms so vasgevang raak in ons daaglikse lewe dat ons nie eers meer tyd het vir mekaar in die familie of in Abba Vader se Woord nie. Hoe meer tyd ons spandeer in Abba Vader se Woord, hoe meer saad word op ons harte gesaai wat vrug dra, soos geduld, want geduld is liefde. Liefde doen altyd wat vir ander die beste is, en dit kan ons die krag gee om die grootste probleme te trotseer. Die Krag van Liefde in Ons Verhoudings Het jy geweet ons word almal gebore met 'n lewenslange hunkering na liefde? Hoekom? Want ons Pottebaker is Liefde! Hy het ons in liefde gevorm en gemaak met ‘n spesifieke doel. Daarom het jou man, jou vrou, jou boetie, jou sussie en jou naaste l iefde desperaat nodig, soos ons longe suurstof nodig het. Liefde verander ons rede om te leef. Liefde maak verhoudings betekenisvol. Geen familie of huwelik is suksesvol daarsonder nie. Liefde het twee sleutels: geduld en vriendelikheid. Alle ander eienskappe van liefde vloei uit hierdie twee kenmerke of sleutels van liefde voort. En dit is waar jou uitdaging begin: met geduld, want liefde sal jou inspireer om 'n geduldige mens te word, en die vyand wil juis die teenoorgestelde bereik. Liefde kom verander ons, en wanneer ons verander, kies ons om geduldig te wees. Dan reageer jy positief op 'n negatiewe situasie. Jy kies ook om nie maklik kwaad te word nie. Jy kies om lankmoedig of geduldig te wees in plaas daarvan om ‘n kort humeur te hê. Jakobus sê in Jakobus 5:7: “Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het.” Dis niks lekker om by iemand te wees wat ongeduldig is oor alles nie. Ongeduld veroorsaak dat jy oorreageer , kwaad word en dwase dinge sê en doen waaroor jy later spyt is. Die ironie van woede is dat dit nuwe verkeerdhede tot gevolg het. Om so briesend kwaad en woedend te word oor iets, maak dinge byna nooit beter nie. Nee, inteendeel, dit vererger en veroorsaak meer bykomende probleme. Geduld keer dat dwaasheid die oorhand kry. Dink bietjie hieroor... Kap jy vinnig terug, of hou jy jou emosies in toom wanneer iemand in jou familie jou omkrap? Is jy geneig om vinnig kwaad te word wanneer jy onregverdig behandel word? Indien wel, versprei jy gif in plaas van medisyne . Hoekom nie vandag voorneem om geduld te beoefen nie? Hoekom nie kies om van vandag af geduldig met mekaar te wees nie en Abba Vader te vra om ons te help nie? Kom ons bid saam: Vader, dankie dat U geduldig en lankmoedig is met my. Vergewe my asseblief my ongeduld en kom deponeer U liefde van geduld in my. Ek wil nie meer ongeduldig wees nie. Meer en meer van U. Ek bid dit in Yeshua Ha-Mashiach se Naam, die Seun van YHVH. Amen.
- Vas in kettings – No. 3
Herodes se Plan en God se Getrouheid Ons weet dat Herodes, nadat hy vir Jakobus doodgemaak het, ook vir Petrus gevang en in die tronk gestop het met die doel om hom die volgende dag tereggestel te kry. Herodes was so vasberade om Petrus dood te maak dat hy selfs vier wagte (twee-twee om die beurt) aangestel het om hom op te pas. Boonop was Petrus se hande en voete met twee kettings vasgeketting. Net so is die vyand vandag nog besig om alles in sy vermoë te doen om my, jou en elke kind van Abba Vader, wat gevul is met die Heilige Gees, te weerhou van vryheid. Die vyand sal alles in sy mag doen om Yeshua se hande en voete te stop sodat ons nie verder kan doen waarvoor Abba Vader ons geroep het nie. Tog het ons gesien dat Abba Vader sy beste werk doen in omstandighede wat menslik onmoontlik en vreesaanjaend lyk. Abba Vader, wat sy beloftes aan ons gegee het, is getrou en sal altyd getrou wees – maak nie saak hoe onmoontlik, hopeloos of vreesvol die situasie mag wees nie. Yeshua sê in Markus 10:27: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.” Die Kettings van Vrees en Twyfel Onthou, Petrus was in die tronk gegooi en met twee kettings vasgeketting – een aan sy hande en een aan sy voete. Interessant genoeg, wie anders was so vasgemaak? Yeshua was aan die kruis vasgespyker – sy hande en sy voete! Kan dit wees dat hierdie twee kettings wat Petrus se hande en voete vasgeketting het, simbolies is van vrees en twyfel? Is dit nie juis vrees en twyfel wat ons weerhou om Yeshua se hande en voete te wees in ‘n gebroke wêreld nie? Yeshua sê in Matteus 28:19: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Maar doen ons dit? Of kyk ons hoe ander dit doen terwyl ons wag? Wag ons vir genoeg kennis? Vir geleerdheid? Of is dit die kettings van vrees en twyfel wat ons so vashou dat ons nooit die opdrag uitvoer nie? Dalk staan jy tans by ‘n kruispad in jou lewe. Abba Vader het ‘n wonderlike droom vir jou, en jy weet dit. Maar die vyand kom en lê al hierdie sogenaamde onmoontlike hindernisse voor jou neer, sodat jy skaars die droom wat Abba Vader vir jou het, kan raaksien. Dís presies wat die vyand doen! Hy sal alles in sy vermoë doen om jou vas te ketting, jou in ‘n onmoontlike situasie te sit en jou te verhinder om die droom wat Abba Vader vir jou het, uit te leef. Hy wil jou voete vasketting sodat hy die roeping wat Abba Vader vir jou het, kan stop. So, watter twee kettings gebruik die vyand? Die ketting van vrees. Die ketting van twyfel. Vrees sê vir jou: Jy kan nie gaan waar Abba Vader sê jy moet gaan nie. Jy het nie wat dit verg nie. Jy is nie geleerd genoeg nie. Wat gaan mense van jou sê? Of: Wat as ek dit nie maak nie? Wat as ek misluk? Wat as ek nie goed genoeg is nie? Hierdie ketting van vrees pak ‘n mens vas en hou jou so stewig vasgeketting dat jy nêrens kan beweeg nie. Maar vrees is nie van Abba Vader nie! Paulus sê in 2 Timoteus 1:7: “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” Hoekom waag ons dit dan nie om, soos Petrus, uit die boot te klim nie? Uit die Boot Klim en Op die Water Loop Petrus het al voorheen gevrees en getwyfel. Toe Yeshua die menigte gevoed het, het Hy na ‘n plek gegaan waar Hy alleen kon wees. Intussen het die dissipels omtrent 5 tot 6 km van hulle bestemming af op die See van Galilea gesukkel teen ‘n sterk wind. Hulle moes veg om die boot regop te hou – en toe sien hulle iets op die water na hulle toe kom! Hulle het groot geskrik en uitgeroep: “Dis ‘n spook!” Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” (Matteus 14:26-27) Soms is dit net nodig om Abba Vader se stem in ons storm te hoor, om te weet Hy is met ons. Maar ons raak vasgevang in ons eie vrese en sien net die golwe en kettings wat ons bind. Die gerusstelling van Yeshua se teenwoordigheid op die water het egter ‘n reaksie by Petrus ontlok – hy het sy voete op die water gesit en die onmoontlike gewaag! Toe Petrus Yeshua in die storm hoor, het hy bo sy vrees en twyfel uitgestyg en in geloof begin loop, omdat hy vir Yeshua gesien en gehoor het. Yeshua het vir Petrus gesê: “Kom!” Met ander woorde, Hy het hom uitgenooi om die onmoontlike te doen. As jy op die water wil loop, moet jy bereid wees om uit die boot te klim sodat die kettings van vrees en twyfel kan afval. Baie keer lyk ons omstandighede so onmoontlik dat dit voel asof ons nooit daaruit gaan kom nie. Maar hoor weer: As jy op die water wil loop – moet jy uit die boot klim! Petrus het sy Koning op die water gesien en uitgeroep: “As dit U is, beveel my om op die water te loop.” Yeshua het hom met een woord geantwoord: “Kom!!” Interessant genoeg het Yeshua hom nie vooraf uitgenooi nie. Dit was Petrus se begeerte wat hom daartoe gedryf het, en toe hy optree, het sy geloof dit vir hom moontlik gemaak om op die water te loop! Die kettings van vrees en twyfel hou ons egter weg van geloofstappe wat Abba Vader van ons vra. Watse stappe van geloof moet ek en jy vandag neem? Kyk ons na die golwe en kettings wat ons bind, of rig ons ons fokus op Hom? As ons op die water wil loop, moet ons bereid wees om uit die boot te klim. Dit vra dat ons opstaan en stap in die rigting waarheen Abba Vader ons roep – al is ons hoe bang en al twyfel ons hoe. Abba Vader maak soms deure vir ons oop, maar ons ignoreer dit, omdat ons nie die onbekende wil betree nie. Ons sien so baie ander op die water loop, maar ons is nie bereid om dieselfde geloofstap te neem nie. Dan raak ons jaloers en wonder hoekom hulle so ‘n wonderlike lewe het. So die vraag is: Is jou hande en voete tans vasgeketting om dit te doen waarvoor Abba Vader jou geroep het? Sal jy opstaan en uit die boot klim? As jy op die water wil loop … moet jy bereid wees om op te staan en uit die boot te klim!
- Die Woorde Wat Ek Spreek – No. 4
Psalm 63:4, “Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys." Die Krag van Woorde Ps 63:3 “Want U goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.” Woorde het 'n Prys Ons het vorige keer begin kyk na die waarheid van woorde, en ons het gesien dat my en jou woorde 'n prys het en dat my en jou woorde seermaak. Die derde ding is: my en jou woorde hou. Jy sien, die leuen van die vyand is dat woorde in die lug verdwyn. Woorde verdwyn nie net nie...dit hou. Die Tong as 'n Klein Vuurtjie Jak 3:6 sê: "Net so is die tong ook ‘n klein lid en beroem hom op groot dinge—kyk hoe ‘n groot hoop hout steek ‘n klein vuurtjie aan die brand." Het jy al ooit, soos ek, gewonder hoekom die tong, soos 'n klein vuurtjie, 'n groot hoop hout aan die brand kan steek? Die rede is dat daar reeds 'n groot hoop hout is. Wat dit beteken, is dat ek iets vir iemand op 'n grappige manier sê, maar ek verwoes daardie persoon, want ek weet nie hoeveel ander mense al iets daaroor gesê het nie. Hulle het 'n hele hoop hout daar gelos, en my vuurtjie, my tong, kom steek die hele hoop hout aan die brand. Het jy al ooit iets gesê en dan nie kon glo hoekom dit so groot geword het nie? Dis omdat daar reeds 'n groot hoop hout lê. Ek verstaan dat 'n bokser, nadat hy 'n geveg geveg het, dadelik seer het, maar die ergste seer lê nog voor vir weke. Net so is dit met my en jou woorde ... dit wat ek nou vir iemand sê, maak dadelik seer, maar die ergste seer lê nog voor. Dit is asof die woorde in jou kop maal en jou stukkie vir stukkie verniel, want woorde hou. Verbale Mishandeling en die Gevolge Daarvan Hoeveel mense sit vandag nie in situasies waar hulle verbaal mishandel word in die huwelik of selfs by die werk nie? Dit doen stelselmatig soveel skade aan hulle selfbeeld. Dit is 'n proses wat hulle stukkie vir stukkie, dag vir dag, afbreek. Is jy dalk een van hulle? Jy sien, in 'n huwelik is daar altyd een wat beter kommunikeer as die ander een, maar onthou: woorde maak seer en woorde hou. Moenie altyd die een wees wat die laaste woord in wil kry nie, want jy mag dalk die een wees wat nou die onenigheid wen, maar jy is besig om die huweliksooreenkoms te verloor. Wen Jy die Geveg, Maar Verloor die Oorlog? Jy mag dalk dink jy wen die geveg, maar jy is besig om die oorlog saam te verloor! Meeste huwelike wat eindig na dertig jaar van getroude lewe, eindig omdat een van hulle opstaan, die wit handdoek ingooi en sê: "Ek kan nie meer nie...ek kan nie meer hierdie verbale mishandeling hanteer nie...ek gee op." Wat moet ek doen as ek die persoon is wat almal so verbaal mishandel? Verander nou, erken dit en gee dit vir Abba Vader, want jy is besig om skade te doen wat vir 'n baie, baie lang tyd kan hou. Of is jy vandag die slagoffer van iemand se skerp tong? Dit is wanneer iemand jou voortdurend met woorde aanval. Dit kan insluit: belaster, verneder, onder kruisverhoor neem, beledig, boelie, blameer, slegsê, tart, afkam, uitskel, gil, beskuldig of teister. As jy 'n slagoffer is van verbale mishandeling, kan jy nie die wonde sien wat uiteindelik rofies sal vorm en hopelik sal genees nie. Verbale mishandeling is 'n voortdurende proses waarin jy verneder en minderwaardig laat voel word. Dit veroorsaak onbeskryflike skade aan jou selfbeeld. Dit voel asof jy geen waarde het nie en asof jy net dooie bene is. Jou selfbeeld is al so verpletter dat jy begin glo jy kan nie langer op jou eie klaarkom nie. Dit is nie die waarheid nie, kind van die Allerhoogste. Woorde as 'n Monument Abba Vader het jou geskape met 'n doel en wil lewe in jou blaas. Abba Vader kan vandag lewe in jou dooie bene blaas. Hy roep jou op jou naam en wil jou optel, want Abba Vader sê in Jer 29:11: "Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee." Met ander woorde, slegte woorde hou lank, maar die goeie nuus is dat goeie woorde ook lank hou. Paulus sê in 2 Tim 1:3: "I remember you in my prayers night and day." In 2 Tim 1:5 sê Paulus: "When I call to remembrance the genuine faith that is in you..." Wanneer jy 'n grafsteenmonument sien, is dit nie daar om jou te vertel dat iemand dood is nie, maar eerder om jou te herinner dat iemand geleef het. Dit is 'n herinnering aan 'n lewe. Dis ook hoekom 'n ouma vir 'n kleinkind kan bid, en dan, jare later, word haar gebede bewaar. Sy het monumente gebou vir daardie kleinkind vir Abba Vader om te sien. My ouma het vir jare vir my gebid, en ek het aande wakker geword en gesien hoe sy langs my bed sit met haar hande met olie op my kop. Sy was besig om monumente te bou vir Abba Vader om te sien. Ek kon dit nooit verstaan nie en het gedink sy is 'n bietjie "weird", maar vandag kan ek net met trane in my oë sê: Dankie, dankie, dankie, Ouma. Wat Kies Jy? Die waarheid van woorde is: woorde het 'n prys, maar dit kan ook 'n belegging wees. Jy kan belê in mense met die woorde wat jy spreek, of jy kan wegvat en dood veroorsaak met die woorde wat jy spreek. Woorde maak seer, maar woorde kan ook genees. Slegte woorde hou lank, maar goeie woorde, Abba Vader se Woorde, hou ook lank. Die vraag is: Wat kies ek en jy? Kies ons om lewe te praat, of kies ons om dood te praat? Spr 18:21 sê: "Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet." Dawid sê in Ps 63:3: "Want U goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys." Kom ons gebruik vandag eerder ons woorde om ons Pappa God te verheerlik en te prys!
- Vas in kettings – No. 2
Vasgevang in 'n Onmoontlike Situasie Ons het in die vorige blog gesien dat Herodes, nadat hy Jakobus doodgemaak het, ook vir Petrus gegryp en in die tronk gesit het om na die Paasfees tereggestel te word. Herodes was so ernstig daaroor om Petrus die volgende dag dood te maak dat hy selfs vier wagte (twee-twee om die beurt) gekry het om Petrus in die tronk dop te hou, met sy voete en hande vasgeketting. Net so is die vyand vandag nog besig om alles in sy vermoë te doen om my, jou en elke kind van Abba Vader wat gevul is met die Heilige Gees te verhinder om vry te kom. Die vyand sal alles doen om Yeshua se hande en voete te keer om verder te doen waarvoor Abba Vader ons geroep het. Dit is die vyand se wil om ons van die Waarheid af weg te hou en ons vas te sluit met soldate langs ons. Die vraag is: Is jy ook vandag so vasgevang in slawerny deur die vyand en deur omstandighede in jou lewe? Dit voel asof jy nie eers kan asemhaal nie, want die vyand sal alles doen om te verhoed dat jy doen waarvoor Abba Vader jou geroep het. Petrus was vasgevang, toegesluit onder geweldige sekuriteit. Hy sou nêrens heen gaan nie, behalwe om die volgende dag doodgemaak te word. Net so leer Abba Vader se Woord ons dat die vyand ons in 'n geestelike tronk wil hou en dink hy het ons vas in kettings ... ons Yeshua-voete, ons Yeshua-hande. Hy verklaar: "Jy gaan nêrens nie!" Die vyand sê verder: "Jy dink jy het hierdie roeping van Abba Vader ... om te preek, of om hande op siekes te lê, of om 'n profeet of 'n evangelis te wees? Maar weet jy wat jy het? ... Jy het 'n tronk, jy het kettings! Jy is vas!" Onmoontlike Situasies Voel jy vandag so? Voel dit vir jou asof dit wat so in jou brand om vir Abba Vader te doen, onmoontlik is? Dit voel so "far-fetched". Ek bedoel, jy het soldate om jou, jy het twee kettings aan jou, jy is in 'n tronksel en daar is nog twee ander deure. Dit is in die natuurlike 'n onmoontlike situasie! Jy is vas en dis jou lot! 'n Onmoontlike situasie! Let wel, 'n onmoontlike situasie in die natuurlike is normaal vir 'n kind van Abba Vader. Iemand het onlangs vir my gevra: "Roelf, as Abba Vader ons so lief het en so groot en kragtig is, hoe kan Hy toelaat dat daar sulke onmoontlike situasies in kinders van God se lewens opduik?" Dalk wonder jy ook vandag. Jy sit in 'n onmoontlike situasie by die werk, by die kerk of in 'n verhouding met iemand, en dit lyk donker. Dit lyk asof jy vas is soos Petrus, en jy het dalk dieselfde vraag? Dit is donker, dit is nag, en jy wil amper sê: "Ek het nie meer hoop in hierdie onmoontlike situasie in my lewe nie." Voel jy so? Ons almal kom een of ander tyd op 'n plek waar ons nie weet waarnatoe nie en waar ons hopeloos voel. Maar Abba Vader se Woord leer my: "Abba Vader doen Sy beste werk in aansienlike, onmoontlike en vreesvolle situasies!" Wanneer ons Abba Vader se Woord bestudeer, sien ons baie kinders van Hom wat onmoontlike, vreesvolle situasies beleef het. Trouens, ek kry nêrens in Abba se Woord iemand wat getrou saam met Hom gestap het, wat nie eers in sy lewe 'n onmoontlike en vreesvolle situasie gehad het nie! Onthou, Petrus was vasgeketting en Herodes wou dieselfde met hom doen as met Jakobus – hom stilmaak. Kyk na ander kinders van Abba Vader wat in onmoontlike situasies beland het: Josef is in 'n put gegooi, verraai en deur sy broers verkoop – 'n onmoontlike, hulpelose situasie! Moses en die Israeliete was vasgevang voor die Rooi See met die gevaarlikste leërmag in die wêreld wat in hul nekke blaas – 'n vreeswekkende situasie. Gideon moes met 300 manne veg teen 300 000. Dawid moes teen 'n reus van oor die drie meter lank veg. Ester het 'n koning in die gesig gestaar wat haar volk wou uitwis. Daniël is tussen leeus gegooi, sy vriende in 'n vuuroond. Jona het in die verkeerde rigting gevlug en homself in 'n walvis se maag bevind – 'n onmoontlike situasie! Yeshua se dissipels het 5000 mans sonder kos gehad om te voed. Lasarus was dood en Martha en Maria was in 'n hartseer, onmoontlike situasie. Abba Vader is Getrou Maar kyk wat het Abba Vader gedoen: Josef het tweede in bevel van Egipte geword en sy familie se redding bewerkstellig. Moses en die Israeliete het droogvoets deur die Rooi See gegaan. Gideon het gewen sonder om 'n wapen te lig. Dawid het Goliat verslaan. Ester se volk is gered. Daniël het ongedeerd uit die leeukuil gekom, sy vriende het ongedeerd uit die vuur gekom. Jona het berou getoon en die walvis het hom uitgespoeg. Die dissipels het gesien hoe 5000 mense geëet het met 12 mandjies oor. Lasarus het opgestaan uit die dood. Jeremia het 'n profeet geword. Timoteus het 'n kerk gebou. Abraham het die vader van baie nasies geword. En die mure van Jerigo het geval! Wat vir jou dalk lyk na 'n onmoontlike situasie, is vir Abba Vader 'n gunstige geleentheid! Net Abba Vader kan 'n gemors in 'n boodskap verander, 'n beproewing in 'n triomf, 'n toets in 'n getuienis, 'n slagoffer in 'n oorwinnaar! Abba Vader se krag is sterk wanneer ons swak is. Kom ons begin Abba Vader loof en prys in ons onmoontlike, vreesvolle situasies! Die Abba Vader wat vir ons Sy beloftes gegee het, is getrou en sal altyd getrou wees – maak nie saak hoe onmoontlik, hopeloos of vreesvol die situasie lyk nie!
- Vas in kettings – No. 1
Net voor Yeshua se opvaarding na die hemel sê Yeshua vir Sy dissipels in Handelinge 1:8: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.” Ons weet 10 dae later, in die bovertrek waar die dissipels was, het daar “skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind gekom, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees…” Die dissipels is vervul met die Heilige Gees en het presies gaan doen wat Yeshua se opdrag was: om almal te gaan vertel tot aan die uithoeke van die aarde van Yeshua. Ja, die dissipels was gevul met die Heilige Gees, en daar het so ‘n vuur in hulle gebrand dat hulle die hele wêreld aan die brand gaan verkondig het met die evangelie. Brand daardie vuur nog in ons? Die vraag is: Brand hierdie selfde vuur in ons, maak nie saak wat mense doen nie… hoe stil hulle jou probeer maak nie… sal jy steeds die evangelie van Abba Vader verkondig? In Handelinge 12:1-3 sê Lukas: “En omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande geslaan aan sommige uit die gemeente om hulle kwaad aan te doen. En hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard omgebring. En toe hy sien dat dit die Jode welgevallig was, het hy verder ook Petrus in hegtenis geneem. En dit was die dae van die ongesuurde brode.” Jakobus (Johannes se broer), wat saam met Petrus en Johannes in die binnekring van Yeshua was, is deur Herodes doodgesteek met ‘n swaard net om hom stil te maak. Ja, doodgesteek net sodat hy nie verder die evangelie kon verkondig nie… want die vuur wat in die dissipels gebrand het, was ‘n onstuitbare vuur. Herodes se plan om Petrus stil te maak Net so het Herodes toe vir Petrus gegryp en hom in die tronk gesit om ná die Paasfees doodgemaak te word. Herodes was so ernstig daaroor dat hy selfs vier wagte aangestel het om Petrus dop te hou in die tronk. Herodes wou 100% seker maak daar was nie ‘n “prison break” nie! Miskien was Michael Scofield ( van Prison Break ) ook in die tronk, want Herodes het uit sy pad gegaan om seker te maak Petrus ontsnap nie! Petrus mag nie uit die tronk ontsnap het nie, en Herodes wou hom die volgende dag teregstel sodat hy nie verder kon praat en die evangelie kon verkondig nie. Jy sien, die vyand sal alles doen om my en jou ook stil te maak sodat ons nie die evangelie verkondig nie. Die vyand se strategie om ons vas te hou Herodes het Petrus oorgegee aan vier wagte om hom te bewaak, met die bedoeling om hom ná die Paasfees voor die volk te bring. Kan jy dink… hulle neem jou in hegtenis en is so ernstig daaroor dat hulle jou in die tronk sit met vier soldate net om seker te maak jy ontsnap nie? Dis nogal ernstig, né? Net so is die vyand vandag nog besig om alles in sy vermoë te doen om my en jou en elke kind van Abba Vader, wat gevul is met die Heilige Gees, te weerhou om vry te kom. Dis die vyand se wil om ons van die Waarheid weg te hou en om ons vas te sluit in slawerny. Yeshua sê in Johannes 10:10: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes…” Die aand voor Petrus se dood het Herodes die sekuriteit “ge-upgrade.” Hy wou seker maak dinge gebeur die volgende dag soos beplan. Die Woord is duidelik daaroor en sê vir ons dat Petrus se hande was vas met kettings. Ja, Petrus se Yeshua-hande waarmee hy geloop het… wat, as daardie hande aan ander kinders van Abba Vader geraak het, hulle genees was… en nou, nou is hulle vasgekettig. Waarom was Petrus vasgeketting? Die vyand hou nie daarvan dat die hande van Yeshua ander aanraak nie en sal alles doen om dit te stop. Volgens die geskiedenis, as hulle jou in die tronk gesit het, het hulle nie net jou hande vasgekettig nie, maar ook jou voete aan die muur van die tronk vasgemaak. Sou die vyand dan nie ook Petrus se voete wou vasmaak nie? Daardie Yeshua-voete , wat bereid was om na ander te loop om hulle van die Waarheid te leer en hulle te genees. Die vyand wil dit stop. Petrus was nie net in die tronk nie, hy was vasgekettig met vier wagte wat om die beurt oor hom wag gehou het. Daar was ook twee staal tronkhekke wat gesluit was, en ‘n tronkbewaarder buite die groot hek van die tronk wat ook wag gestaan het om seker te maak Petrus ontsnap nie. Petrus was vasgekettig… vier wagte is aangestel om seker te maak hy gaan nerens. Dis amper asof hulle hom soos ‘n “major serial killer” behandel het! Is jy ook vasgevang? Die vraag is: Is jy ook vandag so vasgevang in slawerny deur die vyand en deur omstandighede in jou lewe? Dis asof jy nie eers kan asemhaal nie, want die vyand sal alles doen sodat jy nie kan doen waarvoor Abba Vader jou geroep het nie. Petrus was vasgevang, opgesluit onder geweldige sekuriteit. Hy kon nêrens gaan nie en sou die volgende dag doodgemaak word. As Petrus sou ontsnap, moes hy nog deur verskeie hindernisse gaan om werklik vry te kom. In die natuurlike oog was dit feitlik onmoontlik vir hom om te ontsnap, en daarom was dit selfs vir Petrus ‘n skok toe hy uit die tronk kom! Handelinge 12:11 sê: “Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk.” Toe Petrus by homself gekom het… met ander woorde, dis asof hy gedink het hy droom! Ons krag lê nie in wêreldse hulp nie. Nee, Dawid sê in Psalm 20:7: “Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar óns sal roem op die Naam van die HERE onse God.” Psalm 121 sê: “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het…” So weet vandag: Abba Vader is met jou en by jou… Hy sluimer of slaap nie. Hy is jou Bewaarder!
- Die Woorde Wat Ek Spreek – No. 3
Psalm 39:1: "Ek wil my weë bewaar, sodat ek nie sondig met my tong nie; ek wil my mond in toom hou solank as die goddelose nog voor my is." Die Mag van Woorde Ons het begin ondersoek hoe die tong mag dra oor lewe en dood. Ons het die waarde van woorde bekyk – maar het jy al ooit gewonder wat die waarheid oor woorde regtig is? Yeshua sê in Mat 12:33: "Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken." Die boom is die hart van 'n mens, en die vrug die mond van 'n mens. Dan gaan Yeshua verder en sê in Mat 12:34-37: "Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word." Met ander woorde, as jy Yeshua aanvaar het as jou Verlosser en Saligmaker, sal jou hart verander, en as jou hart verander... verander jy. Jy sal ook nie meer die dinge spreek wat jy altyd gespreek het nie. Met ander woorde, jou mond verander ook. Die Prys van Woorde Abba Vader leer ons in Sy Woord drie dinge oor die waarheid van woorde, en die eerste ding is: Woorde het 'n prys. Ek en jy kan nie net praat soos ons wil nie, want daar is 'n prys aan ons woorde. Is dit nie net skokkend om te sien hoe mense vandag Yeshua se Naam ydelik gebruik en vloek, en hoe mense dan net hierdie houding het van "ek kan praat net soos ek wil nie"? Ek het "freedom of speech" en ek kan van hom of haar praat en sleg sê en vloek net soos ek wil. Die Gevaar van Vloek en Onverskilligheid Gaan jy vandag saam met jou familie fliek of probeer 'n fliek kyk op Netflix? Kry jy maar min flieks wat gemaak word waar taal nie 'n waarskuwing is nie? Al is daar nie 'n waarskuwing nie, kry jy maar nog steeds dat God se Naam ydelik gebruik word. Abba Vader se derde gebod is in Eksodus 20:7: "Jy mag die Naam van YHVH jou God nie ydelik gebruik nie, want YHVH sal die een wat Sy Naam ydelik gebruik, nie ongestraf laat bly nie." Ek kan mos nie enigiets sê en dink ek gaan nie eendag rekenskap vir Abba Vader moet gee oor elke woord wat ek gespreek het nie? Woorde is nie vry om net te spreek soos wat ek en jy wil nie. Net so kan ek nie enigiets vir my vrou of vir my kinders, 'n vriend of 'n medewerker sê en dink dit gaan my nie kos in my verhoudings nie. Woorde en Die Oordeel Yeshua sê: "Elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag." Met ander woorde, my en jou woorde het verseker 'n prys. Dawid sê in Ps 141:3: "YHVH, stel 'n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe." Dawid sê ook in Ps 39:1: "Ek wil my weë bewaar, sodat ek nie sondig met my tong nie; ek wil my mond in toom hou solank as die goddelose nog voor my is." Met ander woorde, dit is moontlik om te sondig met jou tong! Het jy ook al ooit die volgende gesê: "Ek moet waarskynlik nie die volgende sê nie"? Daardie woorde is dan net die intro... dis om almal nuuskierig te kry en dan trek ek los en blaker alles uit. Dan, na 'n rukkie, dink ek: ek moes dit nooit gesê het nie. Met ander woorde, die Heilige Gees het my eintlik gewaarsku om dit nie te sê nie, en dan doen ek dit maar in elk geval. Jy sien, my en jou woorde het 'n prys! Die Skade van Onbedagsame Woorde Die tweede waarheid oor woorde is: Woorde maak seer. Is dit nie so dat ons vandag so maklik iets sal sê en dan maak dit seer, en dan sê ons vinnig daarby: "Dis net 'n grappie"? Ek het 'n rukkie terug gehoor hoe my een seun vir die ander een iets baie lelik sê, en toe ek hom vra: "Boeta, wat het jy gesê?", toe sê hy: "Pappa, ek grap net." Hoor wat sê Abba Vader se Woord in Spreuke 26:18-19: "Soos een wat onverskillig vuurpyle, dodelike pyle afskiet, so is die man wat sy naaste bedrieg en sê: Ek speel sommer." Woorde as Vrugte van die Hart Abba Vader se Woord sê jy het presies gesê wat in jou hart is. Yeshua sê in Mat 12:34: "Want uit die oorvloed van die hart praat die mond." Dan, hoe skokkend is dit nie vandag om te hoor wat ouers hulle kinders noem nie? Regdeur Abba Vader se Woord is die naam wat jy het 'n mantel en het 'n betekenis oor jou lewe. Woorde van Lewe of Dood So wie is ek en jy om iemand anders... 'n kind van Abba Vader se bediening, die werk wat Hy of sy doen vir die Koninkryk van God, te kritiseer, te bespreek of af te keer? Kan jy dink hoe seer dit vir Abba Vader maak? My pa het vir my as kind geleer: hoekom van iemand anders praat as jy nie lewe of iets goed kan praat nie? Jy sien, die enigste manier hoe ek en jy kan deel met slegte woorde, is om te "repent". Om te vra vir vergifnis. Aan die ander kant, die enigste manier hoe ek met slegte woorde wat na my toe gespreek is, kan deel, is deur te vergewe. Dalk sit jy nog steeds met goed in jou hart waarmee jy stoei wat iemand vir jou gesê het 10 jaar terug? Johannes die Doper sê in Mat 3:10: "Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi." Yeshua het gekom om dit wat oor jou gespreek is, weg te was. Daarom, hoekom nie dit vir Hom gee nie? Dit is Abba Vader se hartsbegeerte! So, die waarheid oor woorde is dat dit 'n prys het, en dit maak baie, baie seer as dit dood spreek.
- Die Woorde Wat Ek Spreek – No. 1
Spreuke 18:20-21 "Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrengs van sy lippe. Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet." Is die kwaliteit van my en jou lewe afhanklik van die woorde wat ons spreek? Volgens Abba Vader se Woord het die woorde wat ons spreek die krag van lewe of dood. Glo ons werklik dat die woorde wat ons spreek so belangrik is dat dit kan lei tot lewe of dood? Abba Vader leer my dat dit van kardinale belang is wat uit ons mond kom. Abba Vader het alles geskep deur te spreek, soos ons lees in Genesis 1:3 : "En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig." Hy het geskep deur te praat, en ek en jy is geskep Tzelem Elohim , volgens Sy beeld, met Sy asem wat Hy in ons geblaas het en wat ons lewe gee. In ons wandel saam met Abba Vader ontdek ons sekere waarhede wat nog altyd in Sy Woord was. Hoe meer ons in intimiteit met Hom wandel, hoe meer beweeg ons vanuit die donker in die lig. As kinders van Abba Vader leer ons uit Sy Woord openbarings wat nog altyd daar was. Wanneer ons ons woorde in ooreenstemming bring met Abba Vader se Woord, spreek ons lewe, en dit dra vrug. Met ander woorde: Is jou woorde vandag ooreenstemmend met lewe of met dood? Wat stel jy vry wanneer jy praat—lewe of dood? Daar is geweldige waarde in ons woorde. Watse waarde dra jou woorde? Woorde verbind ons aan Abba Vader Die eerste belangrike punt oor ons woorde is dat woorde ons aan Abba Vader verbind. Deur woorde kom Abba Vader van die geestelike sfeer waar Hy leef na die vleeslike sfeer waar ons leef. Abba Vader het Sy Seun Yeshua gestuur as die brug tussen ons en Hom. Yeshua is die Woord. In Johannes 1:1 lees ons: "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God." Dan sê Johannes 1:14 : "En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon..." Psalm 107:20 sê: "Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red." Die gaping tussen ons en Abba Vader, wat deur sonde veroorsaak is, is oorbrug deur die Woord. Paulus sê in Romeine 10:8-10 : "Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid, en met die mond bely ons tot redding." Wanneer ons ons geloof in Yeshua met ons mond bely, stem ons saam dat Hy die Seun van God is, dat Hy vir ons sondes aan die kruis gesterf het, dat Hy opgestaan het op die derde dag, en dat Hy opgevaar het na die hemel. Hierdie geloof en belydenis verbind ons aan Abba Vader. Woorde reflekteer die hart Yeshua sê in Matteus 12:34-37 : "Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word." Yeshua wys hier daarop dat ons woorde 'n refleksie is van ons harte. As jou hart hard en ongenaakbaar is, sal jou woorde dit weerspieël. Die Fariseërs wat teen Yeshua gespreek het, het hul harte verharde, en Yeshua waarsku dat dit tot hul geestelike ondergang kan lei. Abba Vader hoor elke woord wat ons spreek, want Hy is alomteenwoordig. Wanneer ons berou het oor ons woorde en ons harte aan Hom oorgee, belowe Hy om ons 'n nuwe hart te gee. Esegiël 36:26-27 sê: "Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee." Wat spreek jy vandag? Yeshua sê in Matteus 12:36 : "Van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag." Wat jy spreek, is 'n refleksie van wat in jou hart aangaan. Laat Abba Vader jou hart deurgrond en jou woorde rig om lewe en nie dood te spreek nie.
- Die Woorde Wat Ek Spreek – No. 2
Spreuke 18:21, “ Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.” Die Mag van Woorde Is dit moontlik dat die vyand kinders van Abba Vader vertel dat hulle nie gered is nie? Of vertel die vyand ongelowiges dat hulle gered is? Die vyand doen beide, want hy loop rond soos 'n brullende leeu. 1 Petrus 5:8 sê: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.” Solank ek en jy ‘n hart het soos Dawid, wat Abba Vader soek en sê: “Abba Vader, deurgrond my hart en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” Die Waarde van Woorde Ons het begin kyk na die woorde wat ons spreek en die mag wat dit het oor lewe en dood. Daar is geweldig baie waarde in my en jou woorde. Watse waarde is daar in ons woorde? Woorde verbind ons aan Abba Vader. Woorde verbind ons aan mekaar. Ja, woorde verbind ons aan mekaar. Spreuke 18:21 sê: “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.” Hoor gou die volgende vers: Spreuke 18:22 sê: “Wie ‘n vrou gevind het, het iets goeds gevind en ‘n welgevalle van die HERE verkry.” Hoe wonderlik is Abba Vader se Woord nie? Hy sê eers dat dood en lewe in die mag van die tong is en dan dat wie ‘n vrou gevind het, iets goeds gevind het. Die manier hoe ons verbind met Abba Vader is deur ons woorde, en die manier hoe ons verbind met mekaar, met mense, is deur ons woorde. Dink daaroor: Elke keer wanneer jou verhouding met iemand verbreek het, was woorde betrokke. Dit was of tussen julle, of iemand anders het woorde van dood gespreek, en toe het die verhouding verbrokkel. Die Krag van Positiewe Woorde As jy ‘n goeie huwelik of vriendskap wil hê, lê die mag in wat uit jou mond kom. Baie huwelike en verhoudings verbrokkel omdat mense negatiewe woorde spreek. Ons kies om dood te spreek of laat ander dood spreek oor ons verhoudings. Wanneer ek en jy dood praat oor ons huwelike, kinders, vriendskappe, kollegas, gesondheid en finansies, stem ons nie ooreen met Abba Vader se Woorde nie. Ons het nie skeppingskrag met ons woorde nie—dit is ‘n wanbegrip. Dit wat mense noem “Name it and claim it” werk nie. As dit gewerk het, sou daar ‘n Ferrari in my motorhuis gestaan het. Die vyand kan ook niks skep nie—hy spreek net dood. Net Abba Vader kan sê: “Laat daar lewe wees” , en dan is daar lewe. Ons woorde stem óf ooreen met Abba Vader se plan vir ons lewe óf met die vyand se plan. Die Woorde Wat Ons Spreek in Ons Verhoudings Efesiërs 5:25-26 sê: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het, om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord.” Paulus sê: “nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die Woord!” Met ander woorde, Yeshua was Sy bruid met die Woord. Die vraag is: Was ons ons eggenote en vriende met Abba Vader se Woord, of breek ons mekaar af? Kom ons kies om vandag almal met wie ons praat, te was met Abba Vader se Woord en om nie negatiewe gedagtes wat die vyand plant, te glo nie. Spreek Ons Lewe Oor Ander? Lukas 10:27 sê: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” Dit beteken dat ek ander se drome net so belangrik moet ag soos my eie. Spreek ek lewe oor ander se drome of is ek net gefokus op my eie? Wanneer laas het ons ons eie drome opsy gesit en ander bemoedig en gemotiveer in hulle roeping? Baie mense voel eensaam in hul huwelike en vriendskappe. Soms dink ons dat ons maat, kind of vriend nie veel reg doen nie, maar al is daar net een positiewe aspek in hul lewe, moet ons dit erken en bemoedig. Kom ons spreek lewe oor mekaar en bid eerder vir mekaar as om mekaar af te breek. Herstel van Verhoudings Ek en jy laat die vyand toe of keer hom uit met ons woorde. Spreuke 18:21 sê: “Dood en lewe is in die mag van die tong.” Die sewe Goddelike woorde vir genesing in enige verhouding is: “Ek was verkeerd. Sal jy my vergewe?” Woorde verbind ons aan Abba Vader en aan mekaar. As my verhouding met Abba Vader afgedwaal het, herstel ek dit deur berou te toon en my sondes te bely. Dieselfde geld vir verhoudings met ander mense. As ‘n verhouding verbrokkel het as gevolg van woorde, dan is woorde nodig om dit te herstel. Dit vereis dat ons nederig moet wees en moet sê: “Ek is jammer, ek was verkeerd. Vergewe my asseblief.” Wie moet jy vandag bel of gaan sien om versoening te bewerkstellig? Watter brug het jy opgeblaas met woorde en moet jy herbou? Die Ruach Ha-Kodesh (die Heilige Gees) sal jou wys met wie jy moet praat. Kom ons steek trots in ons sak en spreek lewe! Dit is nooit te laat om vandag jou verhouding met Abba Vader of met ‘n ander persoon te herstel nie. Dit is net te laat as ons nie meer asemhaal nie. Kom ons kies om vandag Abba Vader se Woorde van lewe te spreek oor mekaar! Kom Ons Bid Saam Abba Vader, my Skepper, Heilig, Heilig, Heilig is U. Ek loof en prys U. Vader, U is ‘n goeie, goeie God ! Vader, kom was my met U Woord en kom leef U droom deur my. Abba, deurgrond my hart en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! Vader, gebruik my as ‘n instrument om U Woorde te spreek. Vader, leer my om te motiveer, te bemoedig en lewe te spreek. Ek bid dit in Yeshua Ha-Mashiach se Naam, die Seun van Yahweh. Amen. Shalom!












