top of page

Die Woorde Wat Ek Spreek – No. 4

Writer: Houtkruis AlephTavHoutkruis AlephTav

Psalm 63:4, “Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys."

A woman talking positively

Die Krag van Woorde

Ps 63:3

“Want U goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.”


Woorde het 'n Prys

Ons het vorige keer begin kyk na die waarheid van woorde, en ons het gesien dat my en jou woorde 'n prys het en dat my en jou woorde seermaak. Die derde ding is: my en jou woorde hou.


Jy sien, die leuen van die vyand is dat woorde in die lug verdwyn. Woorde verdwyn nie net nie...dit hou.


Die Tong as 'n Klein Vuurtjie

Jak 3:6 sê: "Net so is die tong ook ‘n klein lid en beroem hom op groot dinge—kyk hoe ‘n groot hoop hout steek ‘n klein vuurtjie aan die brand."

Het jy al ooit, soos ek, gewonder hoekom die tong, soos 'n klein vuurtjie, 'n groot hoop hout aan die brand kan steek?


Die rede is dat daar reeds 'n groot hoop hout is. Wat dit beteken, is dat ek iets vir iemand op 'n grappige manier sê, maar ek verwoes daardie persoon, want ek weet nie hoeveel ander mense al iets daaroor gesê het nie. Hulle het 'n hele hoop hout daar gelos, en my vuurtjie, my tong, kom steek die hele hoop hout aan die brand.


Het jy al ooit iets gesê en dan nie kon glo hoekom dit so groot geword het nie? Dis omdat daar reeds 'n groot hoop hout lê.

Ek verstaan dat 'n bokser, nadat hy 'n geveg geveg het, dadelik seer het, maar die ergste seer lê nog voor vir weke. Net so is dit met my en jou woorde ... dit wat ek nou vir iemand sê, maak dadelik seer, maar die ergste seer lê nog voor. Dit is asof die woorde in jou kop maal en jou stukkie vir stukkie verniel, want woorde hou.

Verbale Mishandeling en die Gevolge Daarvan

Hoeveel mense sit vandag nie in situasies waar hulle verbaal mishandel word in die huwelik of selfs by die werk nie? Dit doen stelselmatig soveel skade aan hulle selfbeeld. Dit is 'n proses wat hulle stukkie vir stukkie, dag vir dag, afbreek.

Is jy dalk een van hulle?

Jy sien, in 'n huwelik is daar altyd een wat beter kommunikeer as die ander een, maar onthou: woorde maak seer en woorde hou. Moenie altyd die een wees wat die laaste woord in wil kry nie, want jy mag dalk die een wees wat nou die onenigheid wen, maar jy is besig om die huweliksooreenkoms te verloor.


Wen Jy die Geveg, Maar Verloor die Oorlog?

Jy mag dalk dink jy wen die geveg, maar jy is besig om die oorlog saam te verloor!

Meeste huwelike wat eindig na dertig jaar van getroude lewe, eindig omdat een van hulle opstaan, die wit handdoek ingooi en sê: "Ek kan nie meer nie...ek kan nie meer hierdie verbale mishandeling hanteer nie...ek gee op."


Wat moet ek doen as ek die persoon is wat almal so verbaal mishandel? Verander nou, erken dit en gee dit vir Abba Vader, want jy is besig om skade te doen wat vir 'n baie, baie lang tyd kan hou.


Of is jy vandag die slagoffer van iemand se skerp tong? Dit is wanneer iemand jou voortdurend met woorde aanval. Dit kan insluit: belaster, verneder, onder kruisverhoor neem, beledig, boelie, blameer, slegsê, tart, afkam, uitskel, gil, beskuldig of teister.


As jy 'n slagoffer is van verbale mishandeling, kan jy nie die wonde sien wat uiteindelik rofies sal vorm en hopelik sal genees nie. Verbale mishandeling is 'n voortdurende proses waarin jy verneder en minderwaardig laat voel word.


Dit veroorsaak onbeskryflike skade aan jou selfbeeld. Dit voel asof jy geen waarde het nie en asof jy net dooie bene is. Jou selfbeeld is al so verpletter dat jy begin glo jy kan nie langer op jou eie klaarkom nie. Dit is nie die waarheid nie, kind van die Allerhoogste.

Woorde as 'n Monument

Abba Vader het jou geskape met 'n doel en wil lewe in jou blaas. Abba Vader kan vandag lewe in jou dooie bene blaas. Hy roep jou op jou naam en wil jou optel, want Abba Vader sê in Jer 29:11: "Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee."


Met ander woorde, slegte woorde hou lank, maar die goeie nuus is dat goeie woorde ook lank hou. Paulus sê in 2 Tim 1:3: "I remember you in my prayers night and day." In 2 Tim 1:5 sê Paulus: "When I call to remembrance the genuine faith that is in you..."


Wanneer jy 'n grafsteenmonument sien, is dit nie daar om jou te vertel dat iemand dood is nie, maar eerder om jou te herinner dat iemand geleef het. Dit is 'n herinnering aan 'n lewe.


Dis ook hoekom 'n ouma vir 'n kleinkind kan bid, en dan, jare later, word haar gebede bewaar. Sy het monumente gebou vir daardie kleinkind vir Abba Vader om te sien. My ouma het vir jare vir my gebid, en ek het aande wakker geword en gesien hoe sy langs my bed sit met haar hande met olie op my kop. Sy was besig om monumente te bou vir Abba Vader om te sien. Ek kon dit nooit verstaan nie en het gedink sy is 'n bietjie "weird", maar vandag kan ek net met trane in my oë sê: Dankie, dankie, dankie, Ouma.


Wat Kies Jy?

Die waarheid van woorde is: woorde het 'n prys, maar dit kan ook 'n belegging wees. Jy kan belê in mense met die woorde wat jy spreek, of jy kan wegvat en dood veroorsaak met die woorde wat jy spreek. Woorde maak seer, maar woorde kan ook genees.

Slegte woorde hou lank, maar goeie woorde, Abba Vader se Woorde, hou ook lank. Die vraag is: Wat kies ek en jy? Kies ons om lewe te praat, of kies ons om dood te praat? Spr 18:21 sê: "Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet."

Dawid sê in Ps 63:3: "Want U goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys."


Kom ons gebruik vandag eerder ons woorde om ons Pappa God te verheerlik en te prys!


Comentarios


bottom of page