
Spreuke 18:21, “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”
Die Mag van Woorde
Is dit moontlik dat die vyand kinders van Abba Vader vertel dat hulle nie gered is nie? Of vertel die vyand ongelowiges dat hulle gered is? Die vyand doen beide, want hy loop rond soos 'n brullende leeu.
1 Petrus 5:8 sê: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”
Solank ek en jy ‘n hart het soos Dawid, wat Abba Vader soek en sê: “Abba Vader, deurgrond my hart en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!”

Die Waarde van Woorde
Ons het begin kyk na die woorde wat ons spreek en die mag wat dit het oor lewe en dood. Daar is geweldig baie waarde in my en jou woorde.
Watse waarde is daar in ons woorde?
Woorde verbind ons aan Abba Vader.
Woorde verbind ons aan mekaar.
Ja, woorde verbind ons aan mekaar. Spreuke 18:21 sê:“Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”
Hoor gou die volgende vers:
Spreuke 18:22 sê: “Wie ‘n vrou gevind het, het iets goeds gevind en ‘n welgevalle van die HERE verkry.”
Hoe wonderlik is Abba Vader se Woord nie? Hy sê eers dat dood en lewe in die mag van die tong is en dan dat wie ‘n vrou gevind het, iets goeds gevind het.
Die manier hoe ons verbind met Abba Vader is deur ons woorde, en die manier hoe ons verbind met mekaar, met mense, is deur ons woorde.
Dink daaroor: Elke keer wanneer jou verhouding met iemand verbreek het, was woorde betrokke. Dit was of tussen julle, of iemand anders het woorde van dood gespreek, en toe het die verhouding verbrokkel.
Die Krag van Positiewe Woorde
As jy ‘n goeie huwelik of vriendskap wil hê, lê die mag in wat uit jou mond kom. Baie huwelike en verhoudings verbrokkel omdat mense negatiewe woorde spreek. Ons kies om dood te spreek of laat ander dood spreek oor ons verhoudings.
Wanneer ek en jy dood praat oor ons huwelike, kinders, vriendskappe, kollegas, gesondheid en finansies, stem ons nie ooreen met Abba Vader se Woorde nie.
Ons het nie skeppingskrag met ons woorde nie—dit is ‘n wanbegrip. Dit wat mense noem “Name it and claim it” werk nie. As dit gewerk het, sou daar ‘n Ferrari in my motorhuis gestaan het.
Die vyand kan ook niks skep nie—hy spreek net dood. Net Abba Vader kan sê: “Laat daar lewe wees”, en dan is daar lewe.
Ons woorde stem óf ooreen met Abba Vader se plan vir ons lewe óf met die vyand se plan.

Die Woorde Wat Ons Spreek in Ons Verhoudings
Efesiërs 5:25-26 sê: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het, om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord.”
Paulus sê: “nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die Woord!”
Met ander woorde, Yeshua was Sy bruid met die Woord.
Die vraag is: Was ons ons eggenote en vriende met Abba Vader se Woord, of breek ons mekaar af?
Kom ons kies om vandag almal met wie ons praat, te was met Abba Vader se Woord en om nie negatiewe gedagtes wat die vyand plant, te glo nie.
Spreek Ons Lewe Oor Ander?

Lukas 10:27 sê: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.”
Dit beteken dat ek ander se drome net so belangrik moet ag soos my eie.
Spreek ek lewe oor ander se drome of is ek net gefokus op my eie?
Wanneer laas het ons ons eie drome opsy gesit en ander bemoedig en gemotiveer in hulle roeping? Baie mense voel eensaam in hul huwelike en vriendskappe. Soms dink ons dat ons maat, kind of vriend nie veel reg doen nie, maar al is daar net een positiewe aspek in hul lewe, moet ons dit erken en bemoedig.
Kom ons spreek lewe oor mekaar en bid eerder vir mekaar as om mekaar af te breek.

Herstel van Verhoudings
Ek en jy laat die vyand toe of keer hom uit met ons woorde. Spreuke 18:21 sê: “Dood en lewe is in die mag van die tong.”
Die sewe Goddelike woorde vir genesing in enige verhouding is: “Ek was verkeerd. Sal jy my vergewe?”
Woorde verbind ons aan Abba Vader en aan mekaar. As my verhouding met Abba Vader afgedwaal het, herstel ek dit deur berou te toon en my sondes te bely. Dieselfde geld vir verhoudings met ander mense.
As ‘n verhouding verbrokkel het as gevolg van woorde, dan is woorde nodig om dit te herstel. Dit vereis dat ons nederig moet wees en moet sê: “Ek is jammer, ek was verkeerd. Vergewe my asseblief.”
Wie moet jy vandag bel of gaan sien om versoening te bewerkstellig? Watter brug het jy opgeblaas met woorde en moet jy herbou? Die Ruach Ha-Kodesh (die Heilige Gees) sal jou wys met wie jy moet praat.
Kom ons steek trots in ons sak en spreek lewe! Dit is nooit te laat om vandag jou verhouding met Abba Vader of met ‘n ander persoon te herstel nie. Dit is net te laat as ons nie meer asemhaal nie.
Kom ons kies om vandag Abba Vader se Woorde van lewe te spreek oor mekaar!
Kom Ons Bid Saam
Abba Vader, my Skepper, Heilig, Heilig, Heilig is U. Ek loof en prys U. Vader, U is ‘n goeie, goeie God! Vader, kom was my met U Woord en kom leef U droom deur my. Abba, deurgrond my hart en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! Vader, gebruik my as ‘n instrument om U Woorde te spreek. Vader, leer my om te motiveer, te bemoedig en lewe te spreek. Ek bid dit in Yeshua Ha-Mashiach se Naam, die Seun van Yahweh. Amen.
Shalom!
Comments