Liefde is nie selfsugtig nie
- Houtkruis AlephTav
- Apr 22
- 5 min read

Fil 2:3 – “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”
Die Griekse woord vir selfsug is eritheia (ἐριθεία), wat beteken: selfsugtige ambisie; wedywering; twisagtigheid; en stryery wat spruit uit eiebelang.
Eritheia het oorspronklik verwys na werwing vir ’n politieke amp in die antieke Griekse samelewing – dit het ’n selfsoekende gedrag aangedui, eie ambisie gedryf deur persoonlike gewin, ten koste van eenheid of waarheid.
Daarom sê Jakobus in Jakobus 3:14–16:“Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle harte het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.”
Selfsug is deel van die werke van die vlees (Galasiërs 5:20).
In die Woord het selfsug dus ’n sterk negatiewe konnotasie: dit is nie net ambisie nie, maar ambisie wat gewortel is in eiebelang, verdeeldheid en manipulasie – die teenoorgestelde van die dienskneg-hart en nederige liefde waarvan Yeshua ons leer
In Romeine 12:9–11 staan: “Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.”

Die Gees van Hierdie Wêreld: Selfsug as Kultuur
Ons leef in ’n wêreld wat behep is met die “eie ek” of “self”. Die hedendaagse kultuur leer jou om jou fokus te plaas op jou voorkoms, jou gevoelens en jou persoonlike begeertes as die belangrikste prioriteite. As daar ooit ’n woord was wat die teenoorgestelde van liefde is, is dit selfsug.
Ongelukkig is selfsug iets waarmee ons gebore word. Ons is almal gebore met ’n sondige natuur – ’n natuur soos Adam. Ek en jy is gebore met sonde, dieselfde natuur as die vyand – ons wil net raakgesien word. Byvoorbeeld: ons wil hê die eerste woord wat ’n baba sê, moet “Pappa” of “Mamma” wees. Maar baie keer is die baba se eerste woord: “Myne!”
Ons is van nature gefokus op ons eie behoeftes, wat ek wil hê en wat myne is! Hierdie selfgesentreerdheid kom van die vyand. Die belangrikste persoon in jou lewe is dikwels – jy self.
Hoe toets ons dit? Wie is die eerste persoon wat jy soek in ’n groepfoto? Jy kyk of jy daar is, en as jy nie goed lyk nie, is die hele foto vir jou “lelik”. Is dit nie so nie? Ons is gebore in sonde en selfgesentreerdheid!
Die teenoorgestelde van selfsug is liefde – Yeshua!
1 Johannes 4:8 sê: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.”
Hulle het vir Yeshua gesê: “Ons is mal oor U leerstellings.” Toe antwoord Hy:“Ek sê niks tensy Ek dit nie reeds van My Vader gehoor het nie.”Toe sê hulle: “Ons is mal oor die wonderwerke wat U doen,” en Hy antwoord:“Ek doen niks tensy Ek dit nie reeds by My Vader gesien het nie.”
Elke keer wat mense vir Yeshua eer wou gee, het Hy dit aan Abba Vader gegee. Hoe meer ons soos Yeshua word, hoe meer gee ons eer aan Abba Vader en aan ander – eerder as aan onsself.
Die vyand se natuur is: “Ek wil glorie hê. Ek wil aanbid word. Ek wil belangrik wees.” En die vraag is: Ek en jy? Wat straal ons lewens uit?
Selfsug of liefde? Byna elke sondige daad wat ooit gepleeg is, kan teruggevoer word na ’n selfsugtige motief. Dis ’n eienskap wat ons in ander haat, maar in onsself probeer ons dit regverdig.
Ons kan nie die selfsug in ander uitwys sonder om te erken dat ons self daaraan skuldig is nie – dit sou skynheilig wees.
Hoekom het ons lae standaarde vir onsself, maar hoë verwagtings van ander? Die antwoord is ’n bitter pil om te sluk: Ons almal is selfsugtig!
1 Korintiërs 13:5 sê: “Liefde soek nie sy eie belang nie.”
Selfs ’n vrygewige daad kan selfsugtig wees as jy dit doen om eer te ontvang of om ander te manipuleer. Jy tree óf op uit liefde vir ander, óf uit liefde vir jouself.
Ware liefde word slegs bevredig wanneer dit ander bevoordeel. Jy kan nie tegelyk uit ware liefde én uit selfsug optree nie.

Liefde bring innerlike vreugde. Wanneer jy leeg raak van jouself, kan jy ander liefhê – en dan word hulle welstand vir jou ’n prioriteit.
As dit vir jou moeilik is om jou eie begeertes prys te gee tot voordeel van ander, is dit dalk tyd om jou hart te ondersoek – dalk is selfsug ’n groter probleem as wat jy erken.
Die mense rondom jou – by die werk, by die huis – het ’n opinie oor jou. Is dit ’n liefdevolle opinie?
Filippense 2:3 herhaal: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”
Die konsep van selfsug en eiebelang kom ook in Hebreeus voor in Esegiël 34, waar Abba Vader deur Esegiël profeteer teen leiers wat net vir hulself sorg.
Esegiël 34:1–4:“So spreek YHVH: Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie? Julle eet die vet en beklee julle met die wol; julle slag die vettes, maar die skape laat julle nie wei nie; julle versterk die swakkes nie, maak die siekes nie gesond nie, verbind nie die gewondes nie, bring nie die afgedwaaldes terug nie, en soek nie die verlore nie; maar met strengheid en hardheid heers julle oor hulle.”
Abba Vader praat hier nie van letterlike herders nie, maar van geestelike leiers – dié aan wie Hy Sy kinders toevertrou het.
Die “skape” is die kinders van Abba Vader. Hy gebruik die natuurlike om ons geestelik te leer.
Abba Vader lys vyf dinge wat geestelike leiers nie doen nie:
Julle versterk nie die swakkes nie – julle doop nie in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees nie.
Julle maak die siekes nie gesond nie – julle bid nie vir genesing nie.
Julle verbind nie die gewondes nie – geen innerlike genesing.
Julle bring nie die afgedwaaldes terug nie – julle help nie met verlossing nie.
Julle soek nie die verlore nie – geen evangelisasie nie.
Esegiël 34:5 – “So het hulle dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie; en hulle het die voedsel geword vir al die wilde diere van die veld.”
Die kinders van Abba Vader het verstrooid geraak omdat geestelike leiers net vir hulself sorg. Dit is selfsug!
Hoekom vra ons nie vandag vir Abba Vader om ons leeg te maak van selfsugtigheid nie? Want:Liefde is nie selfsugtig nie.
Matteus 28:19–20 – “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Selfsug of Liefde? Die Groot Vraag
Die vraag is: Wanneer gaan ek en jy hierdie opdrag van Yeshua ernstig opneem? Die vyand neem sy werk ernstig op – om Abba Vader se kinders te verslind.
Maar ons sal dit nie regkry as ons selfsugtig is nie…Slegs deur liefde, wanneer ons die skoene van bereidheid aantrek want liefde soek nie sy eie belang nie. Amen.
Comments