
Spreuke 18:20-21"Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrengs van sy lippe. Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet."
Is die kwaliteit van my en jou lewe afhanklik van die woorde wat ons spreek? Volgens Abba Vader se Woord het die woorde wat ons spreek die krag van lewe of dood. Glo ons werklik dat die woorde wat ons spreek so belangrik is dat dit kan lei tot lewe of dood? Abba Vader leer my dat dit van kardinale belang is wat uit ons mond kom.
Abba Vader het alles geskep deur te spreek, soos ons lees in Genesis 1:3: "En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig." Hy het geskep deur te praat, en ek en jy is geskep Tzelem Elohim, volgens Sy beeld, met Sy asem wat Hy in ons geblaas het en wat ons lewe gee.
In ons wandel saam met Abba Vader ontdek ons sekere waarhede wat nog altyd in Sy Woord was. Hoe meer ons in intimiteit met Hom wandel, hoe meer beweeg ons vanuit die donker in die lig. As kinders van Abba Vader leer ons uit Sy Woord openbarings wat nog altyd daar was. Wanneer ons ons woorde in ooreenstemming bring met Abba Vader se Woord, spreek ons lewe, en dit dra vrug.
Met ander woorde: Is jou woorde vandag ooreenstemmend met lewe of met dood? Wat stel jy vry wanneer jy praat—lewe of dood? Daar is geweldige waarde in ons woorde. Watse waarde dra jou woorde?

Woorde verbind ons aan Abba Vader
Die eerste belangrike punt oor ons woorde is dat woorde ons aan Abba Vader verbind. Deur woorde kom Abba Vader van die geestelike sfeer waar Hy leef na die vleeslike sfeer waar ons leef. Abba Vader het Sy Seun Yeshua gestuur as die brug tussen ons en Hom. Yeshua is die Woord.
In Johannes 1:1 lees ons: "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God." Dan sê Johannes 1:14: "En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon..."
Psalm 107:20 sê: "Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red."
Die gaping tussen ons en Abba Vader, wat deur sonde veroorsaak is, is oorbrug deur die Woord. Paulus sê in Romeine 10:8-10:"Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid, en met die mond bely ons tot redding."
Wanneer ons ons geloof in Yeshua met ons mond bely, stem ons saam dat Hy die Seun van God is, dat Hy vir ons sondes aan die kruis gesterf het, dat Hy opgestaan het op die derde dag, en dat Hy opgevaar het na die hemel. Hierdie geloof en belydenis verbind ons aan Abba Vader.

Woorde reflekteer die hart
Yeshua sê in Matteus 12:34-37:"Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word."
Yeshua wys hier daarop dat ons woorde 'n refleksie is van ons harte. As jou hart hard en ongenaakbaar is, sal jou woorde dit weerspieël.
Die Fariseërs wat teen Yeshua gespreek het, het hul harte verharde, en Yeshua waarsku dat dit tot hul geestelike ondergang kan lei.
Abba Vader hoor elke woord wat ons spreek, want Hy is alomteenwoordig. Wanneer ons berou het oor ons woorde en ons harte aan Hom oorgee, belowe Hy om ons 'n nuwe hart te gee. Esegiël 36:26-27 sê:"Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee."
Wat spreek jy vandag?
Yeshua sê in Matteus 12:36:"Van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag."
Wat jy spreek, is 'n refleksie van wat in jou hart aangaan. Laat Abba Vader jou hart deurgrond en jou woorde rig om lewe en nie dood te spreek nie.

Comments