Search Results
64 results found with an empty search
Blog Posts (31)
- Die Liefde Is Nie Jaloers Nie
In 1 Korintiërs 13:4 staan:“Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie.” Wanneer jy iemand regtig liefhet, wens jy hulle die beste toe, selfs al beteken dit dat hulle iets het wat jy nie het nie. Liefde vertrou, liefde gun, en vier saam met die ander — sonder om negatief te voel oor hul suksesse of vreugdes. In Spreuke 27:4 sê die Woord:“Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou?” “Woede is wreed” want woede kan impulsief en vernietigend wees — dit veroorsaak skade. Aanhoudende woede is selfs meer gevaarlik omdat dit opbou en dan uitbreek soos ’n vulkaan. Maar dan sê die Woord: jaloesie is selfs meer vernietigend as woede of toorn, omdat dit dikwels stil en langdurig is. Jaloesie vreet aan ’n mens van binne en kan ander vernietig op subtiele maniere. Dit maak jaloesie amper onhanteerbaar as dit nie erken en aangespreek word nie. Daarom vra jaloesie selfondersoek — nie net van hoe ons ander hanteer nie, maar ook wat in ons eie harte aangaan. Daarom waarsku Abba Vader ons … om op ons hoede te wees vir jaloesie, want dit kan groter skade bring as woede. Daarom sê 1 Korintiërs 13:4 : “Die liefde is nie jaloers nie.” Hoe kan God jaloers wees, maar liefde bly? Maar hoe is dit dan? Want tog sê Abba Vader in Sy huwelikkontrak in Eksodus 20:4–6 : “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van dié wat My haat;en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van dié wat My liefhet en my gebooie onderhou.” Hoekom mag jy nie enige gesnede beeld maak nie? Want Abba Vader is ‘n jaloerse God. Maar 1 Korintiërs 13:4 sê: “Die liefde is nie jaloers nie.” En ons weet 1 Johannes 4:8 sê: “God is liefde.” Om te verstaan: Abba Vader is jaloers vir my en jou gevoelens en jaloers oor my en jou verhouding met Hom. Die woordjie “jaloers” wat Abba Vader gebruik as Hy sê in Eksodus 20:5 “Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God”, is in Hebreeus die woord “qanna.” Hierdie woord word gebruik om Abba Vader se jaloesie te beskryf — nie in ’n sondige sin nie, maar in ’n heilige en regverdige sin. In mense is jaloesie dikwels sondig (as gevolg van afguns), maar Abba Vader se jaloesie beteken: “Hy verdra nie afgode of geestelike ontrouheid nie. Hy eis getrouheid omdat Hy ons liefhet en in ’n verbond saam met ons wil wandel.” Dit is die jaloesie of ywerigheid van ’n liefdevolle, regverdige Vader wat nie sy kinders met ander “gode” wil deel nie. Dit wys Abba Vader se intense liefde en verbondstrou . Hy begeer eksklusiewe lojaliteit van Sy kinders. Die jaloesie in 1 Korintiërs 13:4 waar staan “die liefde is nie jaloers nie”, die Griekse woord vir jaloesie is “zeloo.” Die wortelwoord is “zēlos” wat ywer, vurige begeerte, entoesiasme, of jaloesie kan beteken. Jy sien, jaloesie in Grieks “zeloo” het ’n dubbele betekenis: Positief: ’n vurige begeerte, strewe, of navolging. Negatief: jaloesie, afguns, of nydigheid. In die konteks van 1 Korintiërs 13 beteken jaloesie (of zeloo) afguns. Wanneer ons afgunstig is, begeer ons iets wat nie aan ons behoort nie. Byvoorbeeld: as jy ’n motor bestuur en ek het nie een nie, en ek wil jóú motor hê – dan is ek jaloers of afgunstig. Of jy sien iemand anders se man, en jy het nie ’n man nie, en jy wil háár man hê – dis afguns! Hierdie afgunstige jaloesie beteken: dit is iemand anders s’n, maar jy probeer dit vat. Maar wanneer Abba Vader sê: “Ek is jaloers oor wat Mýne is, want jy behoort aan My. Ek is jou Pottebaker,” dan is Abba Vader nie afgunstig nie, want afguns het geen reg nie. Nee, Abba Vader sê Hy is jaloers omdat Hy my en jou “Tzelem Elohim” geskape het volgens Sy beeld, en ons behoort aan Hom. So, Abba Vader is jaloers oor ons liggame, want ons liggame is die tempel van die Heilige Gees. Daarom is dit Vader se hart dat ons nie mag neerbuig voor enigiets anders as voor Hom nie — ons behoort aan Hom. Yeshua het ten duurste betaal. Kan jy dink as jou vrou of man hul liggame uitleen aan iemand anders? Nee!! Net so behoort ons liggame aan Abba Vader, want Hy is lief vir ons en het ons duur gekoop. Kan dit vir ’n oomblik insink? Pappa God is jaloers op jóú! Jy is waardevol genoeg dat die Skepper van die heelal jaloers oor jou is. Daarom sal Abba Vader nie toelaat dat jy verlore gaan sonder ’n geveg nie. Sy jaloesie is ’n liefdevolle bewys dat jy gekies is. Abba Vader se jaloesie beteken liefde, verbondstrou, en ’n begeerte na ’n eksklusiewe verhouding met jou. Kan jy byvoorbeeld dink hoe jaloers jy op jou kind is? Jy wil nie hê iets moet sleg met hom of haar gebeur nie…is dit nie? Op dieselfde wyse sê Abba Vader regdeur Sy Woord hoe jaloers Hy op my en jou is. Geregverdigde vs. Ongeregverdigde Jaloesie Daar is in werklikheid twee vorme van jaloesie: ’n Geregverdigde jaloesie gebaseer op liefde, en ’n ongeregverdigde jaloesie gebaseer op afguns. Geregverdigde jaloesie kom na vore wanneer iemand wat jy liefhet, iemand wat aan jou behoort, sy of haar hart wegdraai en jou met iemand anders vervang. As ’n vrou ’n buite-egtelike verhouding het en haarself aan iemand anders gee, kan haar man ’n geregverdigde jaloerse woede ervaar as gevolg van sy liefde vir haar. Hy smag daarna om terug te kry wat regtens aan hom behoort. Dis presies wat ons doen met Abba Vader. En daarom het Abba Vader ’n geregverdigde jaloesie teenoor ons. Abba Vader is nie afgunstig op ons en wens dat Hy het wat ons het nie (alles behoort in elk geval reeds aan Hom). Nee, Hy smag na ons en begeer dat ons Hom as ons eerste liefde sal bly liefhê. Dis hier waar Hy eerste in ons lewens is. Abba Vader wil nie hê ons moet toelaat dat enigiets bo Hom voorkeur kry in ons harte nie. Die Woord waarsku ons om niks of niemand anders as Abba Vader te aanbid nie, want Deuteronomium 4:24 sê: “YHVH jou God is ’n verterende vuur, ’n jaloerse God.” Maar waar Paulus sê in 1 Korintiërs 13:4 : “Die liefde is nie jaloers nie” — dis is afgunstige en selfsugtige jaloesie . Want dan is jy jaloers op iemand anders of iets anders as gevolg van selfsugtige redes. Hierdie tipe jaloesie skiet wortel in selfsug — en dit is nie liefde nie. Laat liefde jaloesie oorwin Sukkel jy met jaloesie teenoor ander? Soos: jou vriendin kry ’n baba en nie jy nie? Jou kollega kry die bevordering? Hy of sy het niks verkeerd gedoen nie, maar jy raak bitter as gevolg van hul sukses. Jaloesie is ’n algemene stryd. Dit ontvlam wanneer iemand anders jou kalklig steel en iets kry wat jy wil hê. Dit kan baie pynlik wees, afhangende van hoe selfsugtig jy is. In plaas daarvan om hulle geluk toe te wens, blaas jy jou woede aan en dink sleg van hulle. As jy nie versigtig is nie, seil jaloesie soos ’n adder tot in jou hart en vergiftig jou motiewe en verhoudings. Dit kan keer dat jy die lewe van liefde leef wat Abba Vader vir jou bedoel het. Jakobus 3:16 sê:“Waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.” Reg deur die Woord sien ons hoe jaloesie tot geweld, sonde en selfs moord lei: Kain en Abel: jaloesie lei tot moord. Josef se broers: jaloesie lei tot verraad en slawerny. Saul teenoor Dawid: jaloesie verander ’n koning in ’n moordenaar. Fariseërs teenoor Yeshua: jaloesie lei tot kruisiging. Abba Vader se Woord leer ons: jaloesie begin stil en ongesiens, maar groei tot woede, haat en vernietiging. Dit bring skeiding tussen mense en tussen ons en Pappa God. ’n Mens raak nie sommer jaloers op vreemdelinge nie. Die mense op wie jy geneig is om jaloers te wees, is gewoonlik naby aan jou. Hulle werk saam met jou, speel in jou liga, is in dieselfde sosiale kringe, leef in jou huis, of aanbid saam met jou Abba Vader in dieselfde liggaam. Omdat liefde nie selfsugtig is nie en die ander persoon eerste stel, weier dit om jaloesie vastrapplek te gee. Liefde lei jou om ander se sukses te vier in plaas daarvan om dit te verag. ’n Persoon gevul met Abba Vader se liefde gee nie om as iemand anders beter vaar met iets nie. Nee, hy bemoedig, vertroos, en stig ander in sy lewe. Dis tyd om toe te laat dat liefde, nederigheid en dankbaarheid enige jaloesie vernietig wat in ons harte na vore kom. 'n Gebed om vry te kom van jaloesie Abba Vader, ek is jammer dat ek soms jaloers is. Ek wil daarvan vry wees. Verander my hart en vul hom met U liefde. Leer my om ander te seën en nie te vergelyk nie. Om meer en meer soos Yeshua te wees, want liefde is nie jaloers nie. Ek bid dit in Yeshua se Naam, die Seun van YHVH. Amen.
- Liefde bedek alles
In 1 Korintiërs 13:7 staan: “Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” My en jou hart is soos ’n tuin. In die tuin van jou hart is daar ’n plek waar jy graag gaan sit, veral wanneer jy positiewe en bemoedigende dinge ervaar in die geestelike familie waarin Abba Vader jou geplant het. Let wel, elke dag plant ons iets daarin met wat ons dink , sê en doen. Wanneer jy liefde, vergifnis, hoop en geloof kies, plant jy blomme van vrede, vertroue en vreugde. Wanneer jy kies om vinnig te vergewe , maak jy die grond los sodat nuwe dinge kan groei. Wanneer jy die beste in ander sien , soos Abba Vader na Sy kinders kyk, gee jy sonlig en water aan wat goed is. Dít tussen die rose, waar jy rus vind. Elke blom in die tuin waar Abba Vader jou plant herinner jou aan iets mooi in iemand anders. In hierdie tuin sien jy die goeie eienskappe van ander — karaktertrekke soos eerlikheid , ywer , wysheid en vriendelikheid . Daarom, elke keer as jy hierdie tuin besoek, groei jou waardering en dankbaarheid vir jou geestelike familie. Hoe meer tyd jy in die tuin deurbring, hoe meer sien jy hoe ryk en mooi die tuin is wat Abba Vader rondom jou geplant het. Maar elke tuin het onkruid. Daar is teleurstellings , misverstande , kritiek of selfs jaloesie . Jy sien, as ons onkruid soos bitterheid , jaloesie of woede toelaat om te bly, begin daar onkruid groei wat dan die goeie verstik. Dis hier waar dit moeilik raak om die mooi in die tuin raak te sien. Daarom, trek die onkruid uit. Besproei die goeie dinge in jou hart en sien weer raak wat Abba Vader geplant het in die mense om jou. ’n Familie, nes ’n tuin, het daaglikse aandag nodig. Jy kan nie net een keer plant en hoop dit hou vir altyd nie. Jy moet gereeld onkruid uittrek, snoei, natgooi en soms net gaan sit en geniet daar waar Abba Vader jou saam geplant het. 🌾 Onkruid, Genade en Die Keuse om Liefde te Saai Jy sien, liefde is nie net ’n gevoel nie. Dis ’n verbintenis om daagliks in jou tuin te werk, selfs op dae wat dit moeilik is. Elke keer as jy positiewe dinge raaksien, soos vriendelikheid , harde werk , gebede of die klein maniere waarop mense vir jou omgee , word daar ’n saad van liefde , vertroue en waardering gesaai . Jy hou die tuin gesond deur gereeld water te gee met die Woord wat saam bestudeer word, met lof, dankbaarheid en bewuste aandag. In Filippense 4:8 staan: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” Abba Vader moedig ons aan om ons gedagtes te “plant” en te “versorg” rondom die goeie eienskappe van ander. In 1 Tessalonisense 5:11 staan: “Bemoedig mekaar dan en bou mekaar op, soos julle trouens reeds doen.” Jy sien, in die geestelike familie waar Abba Vader ons plant, moet ons mekaar opbou deur aanmoediging en liefde. In Galasiërs 6:9-10 staan: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd ook oes. Laat ons dus, solank ons die geleentheid het, aan almal goed doen, veral aan die huisgesin van die geloof.” Goed doen is soos saai, en in die geestelike familie is ons geroep om met liefde en waardering te oes en te saai. Maar wanneer jy nie fokus op die mooi nie en net fokus op foute, kritiek en teleurstellings, begin jy onkruid plant. En as jy dit nie gou uittrek nie, oorgroei dit alles wat mooi is, totdat die tuin verwaarloos lyk en jy wonder of daar ooit iets goed was. Die punt is: wat jy saai en versorg in jou gedagtes en dade, bepaal die gesondheid van jou verhoudings. Ons almal maak foute en ons almal het areas waar groei nodig is. Almal het onopgeloste probleme, seerkry en emosionele bagasie. Romeine 3:23 sê: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Daar is geen uitsonderings nie. Elke mens het al gefaal en tekortgeskiet aan Abba Vader se Woord. Ons het almal in woorde, dade of gedagtes iets gedoen wat nie met Abba Vader se wil ooreenstem nie. Die “onkruid” wat in ons harte groei, soos bitterheid, trots, jaloesie of ongeduld, is ’n gevolg van die sondeval. Romeine 3:23 herinner ons dat niemand se tuin perfek is nie en dat ons almal genade nodig het. Maar dit maak die goeie nuus nóg mooier. Romeine 3:24 (die volgende vers) sê: “en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Yeshua Ha-Mashiach is.” Met ander woorde, jy het dalk onkruid, maar Abba Vader gee jou genade, gereedskap en saad om weer mooi dinge in jou tuin te laat groei. Die probleem is egter dat ons hierdie aaklige geneigdheid het om ons eie negatiewe eienskappe as onbelangrik af te maak, terwyl ons ander se mislukkings onder ’n vergrootglas plaas. 💛 Laat Liefde die Fokus Bly Kom ons dring tot die kern van die saak. Die liefde kies om die beste oor ander kinders van Abba Vader te glo. Dit gee hulle die voordeel van die twyfel. Dit weier om die onbekende met negatiewe aannames te vul. En wanneer ons ergste vrese bewaarheid word, doen die liefde alles om dit te hanteer en vorentoe te beweeg. Die liefde fokus soveel moontlik op die positiewe. Dit is tyd om anders te begin dink. Dit is tyd om toe te laat dat liefde die tuin van jou gedagtes en fokus bewerk. Daar is dalk onkruid — herinneringe, teleurstellings en swakhede — maar die enigste rede waarom jy ooit daardie onkruid moet raaksien, is sodat jy weet hoe om doelgerig vir daardie persoon te bid. En wanneer jy daardie dor plekke of stukkende blommetjies raaksien, neem die waterkan van gebed en skryf teen die tuinmuur: “Met liefde bedek.” Dis nou tyd om in die tuin van waardering in te trek. Wanneer jy kies om op die mooi en goeie dinge te fokus, begin nuwe blomme skielik oopgaan. Jy sien dinge raak wat jy lank gelede miskien gemis het. Daar is drome wat nog moet blom, en talente wat wag om soos verborge skatte uitgegrawe te word. Maar om hierdie tuin regtig te leer ken, moet jy besluit: “Ek wil dit versorg.”“Ek wil ontdek, bewonder, waardeer." Jy sien, ek en jy moet ’n gewoonte daarvan maak om negatiewe gedagtes in toom te hou en eerder op ander se positiewe eienskappe te fokus. Dit is ’n besluit wat jy neem, of ander dit nou verdien of nie. Die keuse bly joune!
- Ware liefde is nie liggeraak en neem nie aanstoot nie – Deel 2
Ware liefde word nie maklik geïrriteerd of neem nie maklik aanstoot oor wat ander doen of sê nie. Dit impliseer dat liefde verdraagsaam, geduldig en nie selfgesentreerd is nie. In Joh 15:5 sê Yeshua: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Yeshua is die bron van lewe en geestelike vrugbaarheid, en sonder Hom is ons geestelik kragteloos. As jy in Yeshua is en Hy in jou, streef jy daarna om ander se foute of tekortkominge nie persoonlik op te neem nie, maar eerder om met begrip en genade te reageer soos Yeshua. Maar hoekom stoei ons dan so hiermee? Hoekom neem ons so maklik aanstoot of is ons so liggeraak? Wat bring ons uit balans? Daar is ‘n paar belangrike redes wat daartoe bydra: onder andere spanning, druk, angs, bekommernis, benoudheid en senuweeagtigheid. Al hierdie dinge maak ’n mens terneergedruk, tap jou energie, verswak jou gesondheid en maak jou knorrig, geïrriteerd en humeurig. Verder: te hard werk, te veel speel of te veel spandeer. Asook ‘n tekort aan rus, gesonde kos en oefening is alles oorsake. Dikwels bring ons hierdie dinge oor onsself, en dit maak ons liggeraak. Daarom is dit nodig. Om te leef is soos om ’n boek te lees – jy kan nie net die laaste bladsy oopmaak en alles verstaan nie. Nee, dis ‘n pad van heiligmaking waar jy hand aan hand saam met Abba Vader wandel. Dit beteken ons moet balans vind, prioriteite stel en dinge nie oordeel nie. Ons gooi te dikwels alle versigtigheid oorboord en hardloop volspoed vorentoe terwyl ons doen wat ook al op daardie spesifieke oomblik reg voel. Dan snak ons na asem, is soos ‘n snaar wat styf gespan is en gereed om enigiemand se kop af te byt. Die toenemende druk kan ons geduld en ons verhoudings laat kwyn. Die Woord leer ons egter om al hierdie ongesonde negatiewe dinge te vermy deur: Om te delegeer wanneer jy oorwerk is en voor jy uitgebrand is (Eks. 18:17-23). Om oormaat te vermy (Spr. 25:16). Abba Vader spoor ons ook reg deur Sy Woord aan om elke week die sabbatdag opsy te sit vir aanbidding en rus. Dit gee ons tyd om ons battery te herlaai, ons fokus reg te kry en om ‘n bietjie asem te haal in ons besige weeklikse skedule. Dieper redes agter ligteerbaarheid Daar is egter ‘n dieper rede waarom jy so vinnig ligtgeraak raak of aanstoot neem, nl.: Selfsug Wanneer jy vinnig ligtgeraak word, kan die kern van die probleem dikwels in jou hart gevind word. Yeshua sê in Mat 12:34: “Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.” Sommige mense is waarlik soos suurlemoene: wanneer die lewe hulle druk, bring dit ‘n suur reaksie voort in plaas daarvan om die geleentheid te gebruik om lemonade (soet) van die situasie te maak. Jy sien, wanneer iemand maklik kwaad word, is dit ‘n teken dat verborge selfsug of onsekerheid teenwoordig is waar liefde veronderstel is om te heers. Selfsug dra egter baie ander maskers: Wellus Wellus kom byvoorbeeld na vore wanneer jy ondankbaar is vir wat jy het en kies om hartstogtelik na iets te smag wat verbode is. Wanneer jou hart wellustig is, sal dit maklik gefrustreerd en kwaad word. Jakobus sê in Jak 4:1-3 : “WAARVANDAAN kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” Bitterheid Bitterheid skiet wortel wanneer jy veroordelend optree en weier om deur jou woede te werk. ‘n Verbitterde mens se opgekropte woede kom na die oppervlak wanneer hy uitgelok word. Paulus sê in Efe 4:31-32 : “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” Gierigheid In Gen 3:1 lees ons:“Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” M.a.w. die eerste ding wat die slang doen, is om twyfel te bring oor die Woord van Abba Vader. Eva antwoord die slang in Gen 3:2-4 : “Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;” So wat die slang doen, is om presies die teenoorgestelde as wat Abba Vader gesê het, te sê. Die slang gaan verder en sê vir Eva in Gen 3:5-6 : “maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.” M.a.w. die vyand se strategie is nog altyd om my en jou te kry om Abba Vader se Woord te betwyfel. Eva het gesien “dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë,” en wat amazing is: meeste van ons dink dit was die enigste boom wat ‘n lus was vir die oë. Dink gou – was dit die enigste boom wat ‘n lus was vir die oë? Nee, hoor gou wat sê Gen 2:9: “En YHVH het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.” M.a.w. al die bome in die tuin was begeerlik om te sien. Maar die slang het Eva oortuig dat hierdie boom anders was. Die woordjie “begeerlik” is ook soms vertaal as: gierigheid, wellus of begeer. Die woordjie “wellus” is egter baie keer vertaal as “begeer”. Met ander woorde, die slang het die boom so mooi ingekleur dat Eva gedink het dat Abba Vader vir haar iets wegsteek. Eva het gedink dat daar iets anders is wat haar sal gelukkig maak – en is dit nie gierigheid nie? Die vyand het Eva laat verstaan dat Abba Vader vir haar iets goeds wegsteek. En die vraag is: hoekom sal Abba Vader vir my en jou, Sy kinders, iets goeds wegsteek? Abba Vader wil vir ons net die beste hê – soos wat enige ouer vir sy kind die beste wil gee. Maar soos Eva, is dit nie wat ons ook soms dink nie? Dink ons nie Abba Vader steek vir ons goed weg nie? Dis een van die redes hoekom ons ook maklik ligtgeraak en aanstoot neem – en as ons net sou leer om Abba Vader te gehoorsaam en te vertrou... Abba Vader seën ons as ons in geloof op Hom vertrou en Hom gehoorsaam. 1 Tim. 6:9-10 sê: “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” Hierdie sterk begeertes, gekombineer met ontevredenheid, veroorsaak dat jy uitvaar teenoor enigiemand wat in jou pad staan. Trots Hoogmoed of trots veroorsaak dat jy bitsig optree ten einde jou ego en reputasie te beskerm. Sien, iemand wat hoogmoedig is, heg baie waarde aan hoe ander hulle sien. Enige woord van hulp of leiding voel vir ‘n hoogmoedige persoon soos 'n aanval op hul ego. Dit maak dat hulle oorreageer op dinge wat ander dalk maklik sou ignoreer. Trotse of hoogmoediges sien hulself as reg of beter , en dus is dit moeilik om te aanvaar dat hulle kan mislei of verkeerd wees. As iemand hulle teëstaan, voel dit soos ’n bedreiging – en hulle raak vinnig geïrriteerd of verdedigend. Wanneer dinge nie verloop soos hulle wil nie – of wanneer mense hul nie behandel met die verwagte respek nie – verloor hulle geduld, neem aanstoot en reageer bitsig of seergemaak. Liefde se genesende pad Liefde en nederigheid , aan die ander kant, help jou om dinge nie persoonlik op te neem nie — jy is dan meer geneig om te luister, te leer en ander met genade te hanteer. Wanneer liefde (Yeshua) egter jou hart in besit neem, wanneer Hy jou wingerstok is, is jou fokus nie langer net op jouself nie maar op Hom — en dan verander jy. Dis hier waar Hy wat in jou is, jou lei om maklik te vergewe in plaas daarvan om wrok te koester. Om dankbaar te wees in plaas van gierig. Om tevrede te wees eerder as om al hoe meer skuld te maak. Liefde (Yeshua in jou) spoor jou aan om gelukkig te wees wanneer iemand anders sukses behaal eerder as om uit pure jaloesie in die nag wakker te lê. KIES VANDAG OM LIEFDEVOL IN PLAAS VAN GEÏRRITEERD OP MOEILIKE SITUASIES TE REAGEER. KIES OOK VANDAG OM MAKLIK TE VERGEWE. “As die lewe vir jou suurlemoene gee, moenie suur wees nie — maak liewer lemoenade.” Kom ons bid saam Yeshua, U is ons Wingerstok en ons U lote – meer en meer asb van U. Vergewe ons asb dat ons so maklik ligtgeraak en aanstoot neem. Snoei ons, dat ons vir U vele vrug kan dra. Ek bid dit in Yeshua HaMashiach se Naam, die Seun van YHVH. Amen.
Other Pages (32)
- Woordstudievrae | Houtkruis Bediening
Welkom by die Houtkruis Bediening se Bybelstudievrae. Soek en laai die Bybelstudievrae af volgens jaarlyste. Woordstudievrae Laai die Bybelstudie (Midrash) dokumente af. Parashah 1 - Bereshit (Nog nie beskikbaar nie) Parashah 2 - Noach (Nog nie beskikbaar nie) Parashah 3 - Lech Lecha (Nog nie beskikbaar nie) Parashah 4 - Vayera 2024 Parashah 5 - Chayei Sarah 2024 Parashah 6 - Toldot 2025 Parashah 7 - Vayetze 2024
- Woordstudie | Houtkruis Bediening
Houtkruis Bediening Woordstudie en Parashah agtergrond inligting vir volwassenes en kinders. Woordstudie (Parashah) Daaglikse woordstudies. Soos manna vir die siel elke dag. Yeshua in die Woord... Kliek hier PARASHAH Die eerste en oudste gedeelte van die oorspronklike Hebreeuse Bybel staan bekend as die Torah. Dit is die Hebreeuse naam vir die eerste vyf boeke van die Bybel soos wat ons dit vandag ken: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium. Die Torah is verdeel in 54 gedeeltes wat oor ʼn jaarlikse siklus weekliks bestudeer word. Hierdie weeklikse gedeeltes staan bekend as "parashah" in Hebreeus. Die sikliese parashah is ʼn kombinasie van gedeeltes wat uit beide die Ou Testament en die Nuwe Testament bestudeer word. Hierdie manier van studie, veral die van die Torah, vind reeds vir duisende jare regoor die wêreld plaas. Die Ou Testament, bekend as die "Tenach," bestaan uit drie dele: Die Torah, wat die eerste vyf boeke van die Bybel insluit. Die Nevi'im, wat bestaan uit die groot profete (Jesaja, Jeremia, Esegiël) en die kleiner profete (Hosea tot Maleagi). Die Chetuvim, wat Psalms, Spreuke, Prediker en Klaagliedere insluit. Die Nuwe Testament staan bekend as die "Brit Chadashah" en sluit boeke van Mattheus tot Openbaring in. Ongeveer 1500 jaar voor die geboorte van Yeshua, het Abba Vader die Torah self aan Moses op die berg Sinai gegee. Dit was toe, en is steeds vandag, 'n handleiding wat deur Abba Vader saamgestel is om die mens te help en rigting te gee in sy lewe. Dit is Abba Vader se instruksies, beskerming en liefdevolle onderrig. Die Torah is nooit herroep nie, maar Yeshua, ons Messias, is die Lewende Torah - die Woord van Abba wat vlees geword het. Yeshua het gekom om te wys hoe om die Torah te leef. Sonder Yeshua sou die geskrewe Torah net die dooie letter van die wet wees. Waarom Hebreeus? Deur terug te gaan na die oorspronklike Hebreeuse Bybel ontdek mens waarhede en geloofskatte wat verlore gegaan het as gevolg van vertalings in moderne tale wat nie al die simboliek van Hebreeus kan bevat nie. Daarom verwys ons dikwels na die Hebreeuse betekenis van woorde wanneer ons die woord bestudeer. Jy sal vind dat daar soveel verborge waarhede hierin opgesluit lê! Kliek hier KINDERPARASHAH Die Kinderparashah (porsie vir die week) bied weeklikse lesse vir kinders om die skatte van Abba Vader se woord te ontdek. Elke week word ʼn avontuurlustige reis aangebied deur stories van die Ou Testament. Kinders leer oor verskeie karakters in Abba Vader se woord, van Abraham tot Moses, en vele ander helde van geloof. Dit is ʼn tyd van ontdekking en groei van geloof, waar insig gedeel word en Abba Vader se woord bespreek word. Deur hierdie stories ontdek kinders ook Abba Vader se liefde – ʼn liefde wat getrou, geduldig en onvoorwaardelik is. Hulle leer hoe Abba Vader altyd daar is om te beskerm, te lei en te voorsien, ongeag die omstandighede. Hierdie kennis van Abba se liefde help kinders om ʼn sterker, meer persoonlike verhouding met Hom te bou en om die krag van sy liefde in hul eie lewens te ervaar. "Laat die kindertjies na My toe kom ..." Kliek hier "Ek is die Lig en die Lewe..." DIE NUWE TESTAMENT Ons bestudeer saam die boeke in die Nuwe Testament in ons video reekse. Kliek hier WOORDSTUDIE (MIDRASH) Laai die vraelyste af vir ons Woordstudie op Woensdae: Kliek hier "U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad."
- Houtkruis Bediening | Word deel van 'n geestelike familie | Pretoria, South Africa
Word deel van 'n Houtkruis Bediening se geestelike familie waar die waarheid jou vrymaak en jy so jou skeppingsdoel kan ontdek. Volg Yeshua, die Weg, die Waarheid en die Lewe. WELKOM BY Word deel van 'n geestelike familie waar die waarheid jou vrymaak en jy so jou skeppingsdoel kan ontdek. Dienstye: Saterdae 09:00 - 11:00 Preke Feeste Woordstudie Manna Blog Verlossing Om verlos te word van dít wat jou in slawerny bind om sodoende die skeppingsdoel te leef wat Vader nog altyd vir jou het. Woord "Dit is die eer van God om 'n saak te verberg, maar die eer van konings om 'n saak na te speur" Spreuke 25:2 Aanbidding Om in waarheid en in gees te aanbid en Vader se tasbare, manifesterende teenwoordigheid te ervaar. Waarmee is ons tans besig? HOUTKRUIS BEDIENING WEEKLIKSE SKEDULE Kies die knoppies hieronder om na die skakels te gaan. Midrash-Woordbestudering Skakel in Tiener-Woordbestudering Zoom skakel Sabbatdiens Skakel in Handelinge-diens Skakel in Skakel in Die 4 Evangelies-diens DAAGLIKSE BROOD Daaglikse Brood All Categories Play Video Play Video 09:34 Tweede versoeking - Beskerming - No 2 | Daaglikse Brood | Deel 47 @houtkruisbediening Play Video Play Video 07:54 Om te ken | Daaglikse Brood | Deel 43 @houtkruisbediening Play Video Play Video 08:31 Derde versoeking - Mag en aanbidding | Daaglikse Brood | Deel 48 @houtkruisbediening Play Video Play Video 06:30 Woestyn tydperk - Eerste Versoeking | Daaglikse Brood | Deel 46 @houtkruisbediening Play Video Play Video 07:52 Om te gloei | Daaglikse Brood | Deel 45 @houtkruisbediening Play Video Play Video 09:23 Tweede Versoeking - Beskerming | Daaglikse Brood | Deel 47 @houtkruisbediening Play Video Play Video 09:24 Om te groei | Daaglikse Brood | Deel 44 @houtkruisbediening Play Video Play Video 07:43 Om waardig te wandel in die heilige roeping | Daaglikse Brood | Deel 42 @houtkruisbediening Lees meer hieroor op ons Mannah Blog Artikel Pasga Reeks 2025 Pasga Reeks 2025 All Categories Play Video Play Video 01:15:55 𝒀𝒆𝒔𝒉𝒖𝒂 𝒔𝒆 𝒉𝒂𝒓𝒕𝒔𝒗𝒆𝒓𝒍𝒂𝒏𝒈𝒆 | 𝐏𝐚𝐬𝐠𝐚 𝐑𝐞𝐞𝐤𝐬: 𝐀𝐚𝐧 𝐭𝐚𝐟𝐞𝐥 𝐬𝐚𝐚𝐦 𝐘𝐞𝐬𝐡𝐮𝐚 | 20 𝐀𝐩𝐫𝐢𝐥 2025 Play Video Play Video 01:25:05 Die nalatenskap van Yeshua | Pasga Reeks: Aan tafel saam Yeshua | 17 April 2025 @houtkruisbediening Play Video Play Video 01:14:12 Ontvang, erken en geglo | Pasga Reeks: Aan tafel saam Yeshua | 16 April 2025 @houtkruisbediening Play Video Play Video 01:19:55 Yeshua doen vir ons voorbidding | Pasga Reeks: Aan tafel saam Yeshua | 15 April 2025 @houtkruisbediening Play Video Play Video 01:22:55 Verheerlik U Seun, sodat U verheerlik kan word | Pasga Reeks: Aan tafel saam Yeshua | 14 April 2025 @houtkruisbediening Play Video Play Video 01:20:34 Die uur het gekom | Pasga Reeks: Aan tafel saam Yeshua | 13 April 2025 Play Video Play Video 01:42:44 Die Koning van die Jode | Pasga Reeks: Aan tafel saam Yeshua | 12 April 2025 @houtkruisbediening Play Video Play Video 01:11:46 Die aand voor Yeshua se kruisiging | Pasga Reeks: Aan tafel saam Yeshua | 11 April 2025 @houtkruisbediening Gesels met ons Ons almal voel soms... SKAAM, SKULDIG EN NAAK Elkeen van ons voel soms skaam, skuldig en naak êrens in ons lewens want ons is mens en maak foute, maar Vader roep ons om Hom te nader ten spyte daarvan. LEEG Miskien voel jy leeg, want dit voel asof jy ver van Abba Vader is en nie sy stem kan hoor nie. OORWELDIG Dalk wil jy graag dieper delf in die woord maar jy voel oorweldig en weet nie waar om te begin nie. “Een Sabbat-oggend, 01:30 val ek voor Pappa se voete neer in my bidkamer. Ek vra: 'Abba, wat is tog die nut van gebed as niks dan gebeur nie?' Heilige Gees bedien my daar op my knieë en hernude krag vloei deur my binneste. Later, toe ek Pappa se huis binnetree is die tema van die onderrig: 'Hoe lyk jou gebedslewe?' Wow! Abba het ons boetie Louis voorberei om ons uit die stof te haal en weereens te beklemtoon dat ons gebedslewe ʼn baie ernstige saak vir Hom is! Wat ʼn voorreg om aan ʼn geestelike familie soos Houtkruis te behoort! ʼn Familie waar ons nie versuim om die onderlinge byeenkomste te onderhou nie, ʼn familie waar ons Abba se woord bestudeer en waar sy woord die hoogste outoriteit dra en meer as alles: waar ons ʼn huis van gebed is! Ek voel so geliefd en spesiaal tussen ons Houtkruis-familie en is so geseënd om ʼn veilige geestelike heenkome te hê.” Ida Maritz Bedienings By Houtkruis... By Houtkruis weet ons dat jy in volle vennootskap met Abba Vader wil stap. Om dit te doen moet jy toegerus wees met ʼn dieper kennis van sy woord. ʼn Algemene probleem is dat daar onrealistiese verwagtinge geskep word wat jou skaam, skuldig en naak laat voel. Ons voel dan ook dat ons nie genoeg in intimiteit met Hom groei nie, maar by Houtkruis glo ons dat jy in Abba se beeld geskape is – uniek, volgens skeppingsdoel. Ons verstaan dat dit oorweldigend kan wees en dat dit jou skuldig of moedeloos kan laat voel. Daarom het Abba dit op ons harte gelê om ʼn plek te skep waar jy kan deel word van ʼn geestelike familie wat jou toerus in sy woord, opbou en ondersteun, en as sulks help om jou skeppingsdoel te ontdek. HOE WORD JY DEEL? REGISTREER Voorsien jou naam, epos en selnommer. ONTVANG WOORD Ontvang daaglikse dagstukkies op WhatsApp. BELEEF VERANDERING Die Lewende Woord het die krag om lewens te verander. WAT KAN JY VERWAG VAN HOUTKRUIS? Ons verstaan dit is ʼn groot besluit om jou lewe te verander en tyd af te staan, so vul jou besonderhede hier in en laai gerus die volgende drie video’s gratis af om ʼn voorsmaak te kry van die diepte van die Woord: Registreer Kontak ons Woord van Bemoediging Woord van Bemoediging All Categories Play Video Play Video 04:32 Play Video Play Video 14:00 Play Video Play Video 16:37 Play Video Play Video 09:04 Play Video Play Video 05:06 Play Video Play Video 05:50 Play Video Play Video 03:13 Play Video Play Video 06:29 Bly in kontak deur in te teken om ons e-posse te ontvang. E-pos Teken Aan Baie dankie!