Deuteronomium 3:22: “Julle moet vir hulle nie bang wees nie, want dit is die Here julle God wat vir julle stry.”
Ons het gesien Gideon vra Abba Vader drie keer vir tekens om te bevestig dat dit Abba Vader se droom vir hom is en Abba Vader gee elke keer vir hom ʼn teken of bevestiging. Gideon vat toe hierdie outoriteit van Abba Vader en roep die hele weermag van Israel om bymekaar te kom en 32 000 manskappe daag op.
Dit is egter net 32 000 teen die Midianiete wat 135 000 man is en Abba Vader sê vir Gideon:
“Gideon, julle is te veel, die vyand is nog steeds vier teen een en die volk gaan hulself verheerlik met so baie manne, dit is te veel manne, want as julle met
32 000 man wen, sal julle die glorie, die eer, vir julle vat. Julle almal sal dink dit was julle en dat julle weermag groot en sterk is.”
Abba Vader sê verder vir Gideon: “So, Ek wil hê jy moet ʼn aankondiging maak en sê dat enige een wat bang is, huis toe kan gaan.”
Ons het gesien Gideon doen presies wat Abba Vader beveel en sê toe vir die 32 000 man: “Almal wat bang is en wat bewe kan huis toe gaan.”
Twee-en-twintig duisend gaan huis toe, net 10 000 bly oor. Die Midianiete bly nog steeds 135 000 man sterk, met ander woorde, nou is dit 14 teen 1.
Dit is nie al nie…Abba Vader sê verder vir Gideon in Rigters 7:4: “Die manskappe is nog te veel; bring hulle af na die water, dan sal Ek hulle daar vir jou uitsoek; en van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag met jou saamgaan…”
Abba Vader sê toe: “Elkeen wat met sy tong die water soos ʼn hond oplek, moet jy eenkant laat staan; en elkeen wat op sy knieë vooroor buig om te drink, anderkant.”
Dié wat toe met hul tonge die water oplek soos honde is toe net 300 man wat eenkant gaan staan en Abba Vader sê vir Gideon die ander 9 700 man kan ook maar huis toe gaan. Ja, Gideon bly oor met 300 manskappe teen 135 000 Midianiete.
Met ander woorde, dit is nou 450 teen 1 en Abba Vader sê: “Ek wil net sekermaak julle is nie hoogmoedig as julle hierdie Midianiete verslaan en sê dit is júlle wat so goed is en die eer en glorie vir julle vat nie. Ek wil doodseker maak julle sien wie Ek is.”
Abba Vader sê vir Gideon met 300 man sal hulle hierdie Midianiete gaan aanval, nou is hulle reg vir oorlog. Abba Vader haal al die moontlike menslike krag uit sodat die mens nie die eer vat nie en stap saam met Gideon hierdie paadjie van geloof en sê: “Julle het net vir My nodig!”
Paulus sê in 2 Korintiërs 5:7: “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.”
As jy ʼn studie gaan doen en na die Hebreeuse prentjie kyk van die manne wat soos honde water drink, dan is dit nie dieselfde prentjie wat ons het van “lek net die water op” nie.
Die vraag is: Hoe drink jy Abba Vader se woord? As jy kyk hoe ʼn kameel of ʼn perd water drink, is dit stadig, maar as ʼn Jack Russell-terriër water drink, is dit met groot dors en haastig en met groot ywer. Dit is die prentjie wat Abba Vader vir ons in Hebreeus teken: Die haas waarmee hulle die water opslurp.
Regdeur die woord verteenwoordig “water” Abba Vader se woord wat my skoonwas. Maar die vraag is: Hoe drink ek en jy die woord van Abba Vader? Want dit is van kardinale belang in geestelike oorlogvoering. Ek kan nie sonder Abba Vader se woord in geestelike oorlogvoering wees nie. Menslik dink ons: Maar daardie 300 man moes dan sekerlik óf gladiators óf van een of ander spesiale brigade gewees het, nie waar nie? Dit staan nie in Abba Vader se woord nie. Dit kon die 300 swakste ouens gewees het, dit is tog immers wat Gideon via Abba Vader gesê van homself, maar dan ook het krag niks te doen met hoe hulle water drink nie.
Jy sien, dit het nooit oor hulle gegaan nie en dit was nooit ʼn oorlog vir hulle nie.
Net so was Jerigo nooit ʼn oorlog vir Josua en die manne nie. Dit gaan nog altyd oor Abba Vader wat vir my en jou veg en Hy wat vir ons die oorwinning gee. Die oorlog is wel nie myne en joune nie, maar ons moet gehoorsaam wees en bly staan.
Jy sien, dit is as Abba Vader vir ons veg dat die mure van Jerigo val. Dit maak nie saak of ons kans 450 teen 1 is nie, as Abba Vader vir my en jou veg en ons is gehoorsaam, soos Gideon, sal ons wen. Moses het self ook vir die volk Israel gesê, toe Farao met sy bemanning en leërmagte die volk agternagesit en hulle baie bang geraak het, in Eksodus 14:13-14: “Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.”
Dan sê Abba Vader ook vir Josua in Deuteronomium 3:22: “Julle moet vir hulle nie bang wees nie, want dit is die Here julle God wat vir julle stry.”
Onthou, Abba Vader het al drie keer vir Gideon tekens gegee dat dit Abba Vader is wat met hom praat, maar Gideon sê:
“Sjoe… Abba Vader, vierhonderd en vyftig teen een! Vader, ek wil nog ʼn teken hê!” en Abba Vader sê in Rigters 7:9-11: “Staan op, gaan af in die laer, want Ek gee dit in jou hand. En as jy bang is om af te gaan, gaan jy dan saam met jou dienaar Pura af na die laer toe en luister wat hulle praat; en daarna sal jou hande sterk word, en jy sal in die laer aftrek. Hy gaan toe af saam met sy dienaar Pura tot by die buitenste lyn van die gewapendes wat in die laer was.”
Met ander woorde, Gideon sluip in die nag af na die Midianiete se kamp toe, want Abba Vader het vir hom ʼn bemoedigende woord daar en Gideon hoor toe wat die vyande onder mekaar gesels net soos Abba gesê het, en Rigters 7:13-14 sê: “En toe Gídeon aankom, vertel ʼn man aan ʼn ander juis ʼn droom en sê: Kyk, ek het ʼn droom gehad: Daar rol ʼn hard gebakte garsbrood in die laer van die Midianiete en kom tot by die tent en slaan dit dat dit omval en keer dit onderstebo, en toe lê die tent daar! En die ander een het geantwoord en gesê: Dit is niks anders nie as die swaard van Gídeon, die seun van Joas, die Israeliet; God het die Midianiete en die hele laer in sy hand gegee.”
Sjoe! Met ander woorde, Gideon sit en luister hierdie klomp vyande af en Abba Vader gee vir Gideon nog ʼn bevestiging, want “toevallig” beteken ‘toe val God se lig’. Ja, Gideon kry ʼn vierde teken wat hom toe geweldig gemotiveer en bemoedig het. Gideon hoor ʼn gebakte garsbrood gaan die tent slaan en dit gaan omval. Regdeur Abba Vader se woord verteenwoordig “brood” ook Abba Vader se woord. So, Abba Vader se woord, sy swaard, het die Midianiete verslaan.
Jy sien, soos Gideon, as ek en jy onseker is oor dinge wat Abba Vader wil hê ons moet doen, kan ons Hom vir bevestiging of vir ʼn teken vra. Maar dit vereis nog steeds gehoorsaamheid om te doen wat Abba Vader sê en Hy sal dan die oorlog in jou lewe vir jou wen.
Die geveg is nie ons sʼn nie, maar Abba Vader sʼn, maar die wonderwerk lê in ons gehoorsaamheid wat oorgaan in aksie!
Die vraag is: As Abba Vader sy woord bevestig, sal jy dit doen? Daar is ʼn geveg… die geveg is ʼn werklikheid.
Die geveg is in die gees en ek en jy is net die instrumente in Abba Vader se hand as ons in geloof presies doen wat Abba Vader vir ons sê, al dink ons die kans om te verloor is 450 teen 1.
Comments