top of page
Writer's pictureHoutkruis AlephTav

“Mag ek vir ʼn teken vra?" (Deel 2)

Ons het gesien die Engel van Abba Vader het gekom en onder die Terpentynboom gaan sit, terwyl Gídeon juis in die parskuip koring uitslaan om dit teen die Midianiete te beveilig. Die Midianiete het net gekom en die oes van die Israeliete kom steel en Gideon vra (geparafraseer): “Abba Vader, as U met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom en waar is al u wonders waarvan ons vaders ons vertel het? Maar U het ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.” (Lees Rigters 6.)


Abba Vader sê toe vir Gideon: “Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete … Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.”


Gideon hoor Abba Vader, maar is nie seker of dit Hy is nie en vra vir bevestiging en sê: “As ek dan guns in u oë gevind het, doen vir my ʼn teken.”


Ons het gesien Abba Vader het nie kwaad geword vir Gideon omdat hy wou bevestig of dit Abba Vader is wat vir hom sê: “Gaan verlos jou volk van die Midianiete” nie.


Só het ek en jy ook soms onsekerhede oor dinge wat Abba Vader vir ons vra om te doen. Dit is nie verkeerd of ʼn sonde om vir Abba Vader te vra vir ʼn teken of vir bevestiging nie. As ons wil sekermaak of die droom wat ons vir ons lewens het van Abba Vader af is, kan ons Hom gaan vra om dit vir ons te bevestig.


Voor ons egter vir Abba Vader kan vra om die droom wat Hy vir ons het, te bevestig, moet ons tog eers sy stem gehoor het en Hy moes al vir ons ʼn droom gegee het, nie waar nie? So, hoe weet ons wat is die droom wat Abba Vader vir ons het?


Abba Vader sê in Jeremia 1:5: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ʼn profeet vir die nasies gemaak.”


Met ander woorde, voor ek en jy in die moederskoot gevorm is, het Abba Vader vir ons ʼn droom gehad. Abba Vader het ons spesifiek met ʼn doel aanmekaargeweef en die vraag is eerstens: Hoe weet ek wat is die droom wat Abba Vader vir my lewe het?


As jy nie vandag seker is nie, of jy weet nie wat die droom is wat Abba Vader vir jou lewe het nie, wil ek graag met jou deel wat Abba Vader my leer oor hoe om uit te vind. Abba Vader se woord gee ons die antwoord in Numeri 12:6-8: “Toe sê Hy: Hoor tog my woorde. As julle profeet van die Here is, sal Ek deur ʼn gesig My aan hom bekend maak, deur ʼn droom sal Ek met hom spreek. So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die Here.”


Wow! Abba Vader sê Hy sal deur ʼn gesig Hom aan ons bekend maak en deur ʼn droom sal Hy met ons spreek. As ek dit eenvoudig kan stel… as ek Abba Vader se droom vir my lewe wil weet, moet ek eers Abba Vader leer ken. Ek moet smag daarna om in sy teenwoordigheid te kom, om sel toe te gaan, om kerk toe te gaan en om oor Abba Vader se woord te mediteer, dag in en dag uit. Ek moet ʼn hartsbegeerte hê om Abba Vader se teenwoordigheid te soek, sy aangesig te soek, soos wat Moses bereid was om te doen. Leer ken dus die Gewer van die droom, leer ken die Een wat die droom vir jou kan openbaar en jou help om sy droom vir jou lewe te vervul.


Abba Vader se woord sê die kinders van Israel het Abba Vader se dade geken, maar Moses het sy weë geken. As jy wil weet wat is Abba Vader se droom vir jou lewe, leer Abba Vader ken en Abba Vader sal met jou praat – nie met duistere woorde nie, maar duidelik, sodat jy dit sal verstaan.


Abba Vader sê in Eksodus 33:11a: “Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig soos ʼn man met sy vriend spreek.”


Abba Vader het met Moses gepraat soos ʼn vriend, dan sê Yeshua in Johannes 15:15: “Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”


Yeshua sê Hy noem ons vriende want ʼn dienskneg weet nie wat sy heer doen nie, maar ʼn vriend wel. So, ons moet Abba Vader leer ken!


Abba Vader het ʼn droom vir elkeen van ons, maar ek en jy kan ook drome hê. My eie drome vir my lewe, soos ʼn groter huis, duurder kar, of ʼn beter salaris. Ons kan dus ook selfsugtige drome hê en hierdie drome kan ons blokkeer om Abba Vader se droom vir ons lewe te hoor. Daar is sommige van ons selfsugtige drome wat ons moet neerlê om te kan hoor wat Abba Vader se droom vir ons lewens is.

Sy droom is altyd beter as my droom vir my lewe.


Die vraag is: Wat is dit wat ons keer om Abba Vader beter te leer ken sodat Hy soos ʼn vriend met ons kan praat? Is dit dalk selfgesentreerdheid… die eie ek wat te belangrik is? Hoekom is ek dan so selfgesentreerd? Hoekom gaan alles dan net oor my? Want hoogmoed is in my hart!


Yeshua sê in Matteus 12:34: “Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.”


Dit is baie duidelik dat as daar iets in jou hart is, sal dit by jou mond uitkom. Hoogmoed het altyd ʼn STEM! Jy hoor hom! Hoogmoed wil altyd gehoor word. Hoogmoed wil altyd sy opinie gee en hoogmoed val altyd ander in die rede. As ek of jy iemand in die rede val, is dit omdat daar hoogmoed in ons hart is, want ons opinie is altyd belangriker as ander sʼn. Met ander woorde, mense is halfpad besig om ʼn storie te vertel en jy spring eers in, want jy moet nou eers jou sê sê. Dit is hoogmoed en ons moet daarmee afreken anders gaan dit ons blokkeer om Abba Vader se droom vir ons lewe te hoor of om die droom tot vervulling te bring.

So, hoe gaan ek dit doen? Deur die wortel van hoogmoed te hanteer. Het jy al, soos ek, meer as een keer met hoogmoed in jou lewe gesukkel? Hoekom sukkel ons kort-kort met hoogmoed in ons lewens?


Abba Vader leer my twee dinge. Eerstens, ons werk met die vrug in plaas van die wortel. So dikwels kom jy agter… Sjoe, ek het baie hoogmoedig opgetree of ek het die persoon so lelik in die rede geval en weet ek was hoogmoedig. Dan sê ek vir myself: “Ek gaan eerder nie meer so baie praat nie, ek gaan nou net stilbly.”

As ek minder gaan praat, gaan die hoogmoed nêrens heen nie; die hoogmoed is nog steeds daar. Deur stil te bly gaan hoogmoed nie stop nie. So ek moet iets doen om die wortel van hoogmoed uit my lewe te trek. Wat is die wortel van hoogmoed?


Abba Vader leer my onsekerheid is ʼn rede vir hoogmoed. As jy ooit ʼn hoogmoedige persoon sien of hoor, weet daardie persoon sukkel geweldig met onsekerheid. As hoogmoed in jou hart is, is onsekerheid in jou siel.

Tweedens, met elke nuwe uitdaging kom nuwe verantwoordelikhede en kom daar nuwe onsekerhede. Met ander woorde, ek is so naby aan Abba Vader, ek wandel elke dag saam met Hom en ek doen net wonderlik en dan ewe skielik kry ek ʼn verhoging of word ʼn groter leier en ewe skielik besef ek: O nee… ek kan nie dit doen nie, en daar kom die onsekerheid. Jy sien, ons kan nie hierdie onsekerheid regstel deur meer selfvertroue te hê nie, want dit vererger net die hoogmoed in ons.


Nee, ek en jy moet al ons vertroue in Abba Vader sit. Jy kan nie ʼn houding hê van: “Ja, weet jy, ek is werklik baie goed hierin” nie. Dit is hoogmoed en Abba Vader haat hoogmoed.


So, as daar onsekerheid is, moet ons leer om dit te hanteer. Die vyand sê vir Yeshua in die woestyn, Lukas 4:3: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dat dit brood moet word.”


Yeshua het nooit vir Satan geantwoord en gesê: “Ja, jy is reg, Ek is die Seun van God” nie. Hoekom het Yeshua dit nooit vir hom gesê nie? Yeshua het gewéét wie Hy in Abba Vader is. Hy het geweet Hy is die Seun van God, en ʼn Kind van God.

Yeshua leer ons hoe om met onsekerheid af te reken… ek en jy moet op die plek kom waar ons wéét ons is kinders van Abba Vader. Nie deur werke nie, maar deur genade is ons gered!


Dit is hoe jy onsekerheid hanteer, deur te verstaan jy is ʼn kind van Abba Vader. Abba Vader het jou geskape met ʼn doel en jy is nou hier op aarde met ʼn baie spesifieke droom wat Abba Vader vir jou het. So, kom ons vra Hom om hierdie droom vir ons te wys of net weer te bevestig en kom ons leef sy droom.



2 views0 comments

Recent Posts

See All

コメント


bottom of page