top of page

“Mag ek vir ʼn teken vra?" (Deel 6)

Writer's picture: Houtkruis AlephTavHoutkruis AlephTav

Sagaria 4:6: “…nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.”

Mag ek vir 'n teken vra?

Ons het gesien Gideon het die opdrag van Abba Vader gekry om sy volk te gaan verlos uit die hand van die Midianiete, en Abba Vader sê vir Gideon in Rigters 6:16: “Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.” 


Die Midianiete het altyd net gekom en die oes van die kinders van Abba Vader gesteel en hulle het uit 135 000 manskappe bestaan. Gideon vra Abba Vader vier keer vir tekens om te bevestig dat dit Abba Vader se droom vir hom is en Abba Vader bevestig dit elke keer en gee elke keer vir Gideon ʼn teken. 


Gideon roep die manne bymekaar en ons het gesien hoe 32 000 man opdaag, en Abba Vader sê in Rigters 7:3: “Die wat bang is en bewe, kan teruggaan en wegdraai…” 


Met ander woorde, Abba Vader sê vir Gideon: “Julle is te veel, die vyand is nog steeds vier teen een en die volk gaan homself verheerlik met so baie man, dis te veel manne, want as julle wen met twee-en-dertigduisend man sal julle die glorie vir julle vat. Julle almal sal dink dit was julle en dat julle weermag groot en sterk is.”


Daar was 32 000 man en Gideon sê almal wat bang is en wat bewe kan huis toe gaan en 22 000 gaan huis toe, net 10 000 bly oor. Nou is dit 14 teen 1. 

Abba Vader sê verder vir Gideon in Rigters 7:4: “Die manskappe is nog te veel…” en hulle is af na die water toe en dié wat toe met hul tonge die water oplek soos honde, is toe net 300 man wat eenkant gaan staan en Abba Vader sê vir Gideon die ander 9 700 manskappe kan ook maar huis toe gaan. 


Gideon bly oor met 300 manskappe teen 135 000 Midianiete. Met ander woorde dit is nou 450 teen 1 en Abba Vader sê: “Ek wil net sekermaak julle is nie hoogmoedig as julle hierdie Midianiete verslaan en sê dit is julle wat so goed is en die eer en glorie vir julle vat nie. Ek wil doodseker maak julle sien wie Ek is.” 


Abba Vader sê vir Gideon met 300 man sal hulle hierdie Midianiete gaan aanval, nou is hulle reg vir oorlog, en dat hulle hulself moet kom bewapen. Ons lees in Rigters 7:16-17: “en Gideon het die drie honderd man verdeel in drie dele en aan hulle almal ramshorings en leë kruike, met fakkels binne-in die kruike, in die hand gegee en aan hulle gesê: Kyk na my en maak net so; en kyk, as ek by die buitenste lyn van die laer kom, dan moet julle maak net soos ek maak.” 


Kan jy dink wat moes hierdie 300 man gedink het? Hulle is 450 teen 1 en Gideon gee vir hulle elkeen ʼn ramshoring, ʼn erdekruik, en ʼn fakkel. “Dit kan tog nie ons wapens wees nie, Gideon! Hoe gaan ons elkeen vierhonderd-en-vyftig mans verslaan met ʼn ramshoring, ʼn erdekruik en ʼn fakkel?” 


Gideon sê: “Met hierdie is ons reg vir oorlog, maar nou moet julle doen net wat ek sê en maak net wat ek maak!” En hulle is af in die nag en gaan staan reg rondom die Midianiete se kamp. Toe Gideon die teken gee, blaas hulle die ramshorings en vat die erdekruike en slaan dit stukkend en die vyand is heeltemal verward. Die Midianiete weet nie wat aangaan nie en Abba Vader het die swaard van die een teen die ander gerig, en hulle het mekaar begin doodmaak en die hele laer het gevlug.


As ons na hierdie fakkels en die erdekruike kyk wat hulle stukkend slaan, sien ons regdeur Abba Vader se woord, as daar van ʼn kruik (pot) gepraat word, verteenwoordig dit my en jou fisiese liggaam. Gemaak uit die stof van die aarde. 

Regdeur Abba Vader se woord, as daar gepraat word van vuur, verteenwoordig dit die Heilige Gees wat in my en jou woon. Johannes die Doper sê in Matteus 3:11: “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.” 

A broken jar of clay with a light shining through it.

So, wat is die prentjie in Hebreeus van ʼn kleipot met ʼn vuur of ʼn fakkel in, want Gideon sê: “Doen net soos ek: blaas op die ramshorings en breek die kruike met die fakkels binne-in.” 


Jy sien, wanneer die erdekruik of die kleipot breek, kan die wêreld die lig wat binne-in hom is, sién brand. 


Net so, wanneer ek en jy breek in onsself, breek van die eie ek, kan die wêreld Yeshua se lig in my en jou sien brand. Eweskielik word ons dan ʼn lig wat brand in ʼn donker wêreld.

Gideon en sy 300 man het die Midianiete gaan aanval in die nag en die oomblik toe die erdekruike breek, is daar hierdie lig wat brand van die fakkels wat binne-in hierdie erdekruike was. 


Paulus sê in Efesiërs 6:12: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” 


Die geveg is in die gees en die oomblik wat ek in myself breek en Yeshua se lig deur my brand – dit is wanneer die geveg in die gees oorwin word. Die worstelstryd in die gees gaan nie oor my nie, ek moet doodgaan, dit gaan oor Abba Vader se Gees. Abba Vader sê in Sagaria 4:6: “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees.” 


As ek doodgaan in myself en Yeshua se lig skyn deur my, dan lewe ek in gees. Die vyand is nie bang vir iemand wat in die vlees lewe nie. Die vyand was 450 teen 1 maar die oomblik toe die eie ek breek en die lig skyn, toe is die vyand verward en hulle begin hulself dood te maak en dit is die wonderwerk. 


Gideon het gevra vir tekens of wonderwerke en die wolvlies was eers vol dou en toe sonder dou. Gideon het bevestigings en wonderwerke gekry en dit het gemaak dat Gideon móés reageer en gaan doen wat Abba Vader vir hom gevra het om te gaan doen. 


Net so vra ek en jy baie vir die wonderwerke of die tekens in ons lewens, maar die vraag is:

Wat doen ons met die bevestigings en die tekens wat Abba Vader vir ons gee?

Gaan die tekens of die bevestigings wat Abba Vader vir jou gee jou dit laat doen? Die gehoorsaamheid waarvan Abba Vader in sy woord praat, vereis ʼn aksie! Dit verg van my en jou om iets daaromtrent te doen. Jy kan nie vir Abba Vader vir tekens of bevestigings vra en dan niks daaromtrent doen nie. 


Kan jy dink hoe het die adrenalien in Gideon gepomp toe Abba Vader vir hom al hierdie tekens en die manier waarop hulle die vyand moes verslaan, 450 teen 1, wys? Gideon het gereageer. Gideon se gehoorsaamheid aan Abba Vader het oorgegaan in aksie. Ek en jy wil ʼn wonderwerk of ʼn teken hê van Abba Vader om sy droom te leef, maar die vraag is: Wat gaan ons doen as Abba Vader dit wel vir ons gee? 


Sal ek en jy hierdie tekens, bevestigings of wonderwerke vat en Abba Vader daarmee verheerlik? Jy sien, die droom wat Abba Vader vir my en jou het, en sy bevestigings, gaan nie oor ons nie, dit is daar om Abba Vader te verheerlik. As ons net die gebreekte kruik sal wees, die moontlike sal doen en Yeshua se lig deur ons sal laat skyn, sal Abba Vader die onmoontlike doen. 


Paulus sê in 2 Korintiërs 4:6-10: “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn — dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus. Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word.”


So, om Abba Vader se droom vir ons lewens te lewe, gaan dit nie oor onsself nie, dit gaan oor Abba Vader. Dit het nooit oor Gideon of oor hoe ʼn goeie krygsman Gideon was, gegaan nie. Die droom was Abba Vader se droom en Gideon het Abba Vader se droom vir sy lewe geleef omdat hy gehoorsaam was en gereageer het.

Dit help nie ons vra vir tekens of bevestigings en ons doen niks daaromtrent nie. Abba Vader roep die Gideons in die gees… sal jy opstaan en reageer? Net so roep Abba Vader jou…
Hands reached out

27 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page