Filippense 4:7: “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”

Mag ek Abba Vader vra vir bevestiging as Hy vir my ʼn droom of ʼn woord gee? Gideon het die opdrag van Abba Vader gekry om sy volk te gaan verlos uit die hand van die Midianiete en Abba Vader sê verder vir Gideon: “Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.”
Gideon vra Abba Vader vier keer vir tekens om te bevestig dat dit Abba Vader se droom vir hom is. Abba Vader bewys eerstens vir Hom dat dit Hy is toe Gideon vir Abba Vader ʼn offer gaan voorberei het en dit op die rots neergesit, en Abba Vader ʼn vuur stuur om die offer reg voor Gideon te verteer.
Dan is ons welbekend met die twee tekens wat Gideon vir Abba Vader vra oor die wolvlies wat eers dou moet op hê en dan, later, dou reg rondom die wolvlies maar nie op die wolvlies self nie, en so bevestig Abba Vader sy woord elke keer. Dan is die vierde bevestiging wat Gideon kry toe hy afsluip na die Midianiete toe en hy hulle hoor praat dat sy swaard hulle gaan verslaan.
Net so, hoef ek en jy nie bang te wees om vir Abba Vader vir ʼn teken te vra nie.
Dawid sê in Psalm 103:8: “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.”
Abba Vader kan nie wag om jou stem te hoor nie en Abba Vader is nie te besig om vir my en jou te bevestig dat dit Hy is wat met ons praat nie.
Abba Vader wil hê ek en jy moet sy stem hoor en wéét dit is Hy wat met ons praat, Hy wil ons Herder wees en wil nie hê iets moet ons ontbreek nie, Hy wil ons na groen weivelde lei, na waters waar daar rus is.
Daar is drie soorte bevestigings in Abba Vader se woord wat elke keer werk as ons wil toets of dít wat ons moet doen wel van Abba Vader af is. Drie beginsels in sy woord vir hoe ons Abba Vader se stem kan toets.

Die eerste een is: Is dit in lyn met Abba Vader se woord, sy beginsels of sy karakter? Abba Vader se stem sal nooit van sy woord verskil nie.
Dit is soos iemand wat ʼn rukkie terug vir my sê hulle verskil van my en hulle het vir Abba Vader gevra en, ja, hulle weet vir seker Jesus het die hele wet kom wegvat en dit is nie meer van toepassing op ons nie.
Die vraag is: Watter wet het Jesus dan kom wegvat, want mag jy vandag steel of moord pleeg?
Dan sê Yeshua ook duidelik in Johannes 14:21: “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”
Jy sien, ons vat een teksvers uit Abba Vader se woord en wil dit gebruik as ʼn antwoord en dit word meestal uit verband geruk.
As ek ʼn woord van Abba Vader wil hê, moet ek sy woord gaan lees en daaroor mediteer. Ons kan nie sê ek het ʼn woord van Abba Vader en dan verskil sy woord met dít wat die Bybel sê nie. Abba Vader se woord kan nooit weerspreek word nie, maar my interpretasie kan die hele woord weerspreek.
Jy kan een vers uit Abba Vader se woord haal en enige iets bewys as jy sou wou.
Net so kan ons Abba Vader se woord verdraai dat ons omstandighede daarby pas. Gideon het sekergemaak hy hoor Abba Vader se stem, al moes hy vir tekens vra, maar Hy wou bevestiging hê van Abba Vader self.

Die tweede manier waarop ek ʼn woord van Abba Vader kan bevestig, is deur goddelike raad. Met ander woorde, stem ander kinders van Abba Vader saam met my? Nie advies van sommer enige iemand nie, maar kinders van Abba Vader. Jy sien, wat ons doen, is ons gaan na iemand toe en vra: “Wat dink jy van dit wat ek moet doen?”
Dan sal die persoon sê hy dink nie dit is Abba Vader nie. Dan gaan ek na die volgende persoon toe en vra wat dink hy en dan sal die persoon sê hy dink nie dit is Abba Vader nie. Dan kom ek by ʼn persoon wat sê hy stem saam met wat ek dink, net om my my sin te gee en om my goed te laat voel. Dit is nie goddelike raad nie.
Goddelike raad is mense wat regtig vir Abba Vader ken, ʼn intieme verhouding met Hom het, wat sy karakter ken, sy woord ken en wat my ken.
Met ander woorde, moenie na enige iemand toe hardloop en gaan raad vra nie.
Spreuke 12:15 sê: “Die weg van ʼn dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad.”
Dan sê Spreuke 19:20-21: “Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees. Baie planne is in ʼn man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan.”
Dan sê Spreuke 24:6 ook: “Want deur goeie oorleg kan jy voorspoedig oorlog voer, en die oorwinning is deur die menigte van raadgewers.”
In 1 Konings 12 lees ons die verhaal van Rehabeam en die skeuring van die ryk. Na Salomo se dood kom die volk na Rehabeam en vra verligting van die swaar las wat op hulle geplaas is – hoë belastings, dwangarbeid, ens. Rehabeam konsulteer twee groepe mense: die ouer garde, die raadgewers van sy pa, en dan die jonger manne, sy vriende.
Die ouer mense beveel aan dat Rehabeam gehoor gee aan die versoeke van die volk en dat as hy die mense dien, sal hulle hom vir altyd dien. Watter goeie raad is dit nie om ʼn dienskneg te wees nie? Yeshua sê in Matteus 20:27-28: “En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ʼn losprys vir baie.”
Rehabeam konsulteer toe die jonger manne, sy vriende. Hulle beveel aan dat hy die volk se verpligtinge vermeerder en dat hy vir hulle moet sê: “Julle dink my pa se hand was swaar, maar my kleinvinger is swaarder.”
Hulle sê vir hom hy moet die volk laat besef dat hy die koning is. Rehabeam aanvaar die raad van sy vriende – die verkeerde keuse. Dit lei tot die skeuring van die ryk en dit het Abba Vader se kinders in twee geskeur.
Die lewe is soms meer ingewikkeld. Ons weet Absalom het in opstand teen Dawid gekom en Dawid moes uit Jerusalem vlug. Absalom moes ʼn besluit maak: Moes hy vir Dawid agtervolg of moes hy eers met sy mag bevestig?
Hy het twee raadgewers. Agitofel was Dawid se top raadgewer, maar nou is hy aan Absalom lojaal. Agitofel beveel aan dat Dawid onmiddellik agternagesit en verslaan word. Húsai was ʼn vriend van Dawid, maar sit in Absalom se binnekring. Hy doen hom voor as iemand wat bereid is om vir Absalom raad te gee. Húsai se raad is dat Absalom voorlopig niks doen nie, en in 2 Samuel 15:31 bid Dawid:
“o Here, verydel tog die raad van Agitófel!”
Abba Vader luister na Dawid se gebed en Absalom neem ʼn dwase besluit. Absalom volg Húsai se raad – die verkeerde raad, want kort daarna sterf Absalom en Agitofel hang homself op (2 Sam 15-18). Almal van ons het soms raadgewers nodig, maar ons moet die raad wat ons kry versigtig oorweeg.
Ons moet begin deur te vra waarom ons raad wil hê. Wat is ons motivering? Is dit om soos Absalom en Rehabeam ons eie ego te bevorder? Of is dit om Abba Vader se heerlikheid te bevorder? As dit oor ons eie sukses en selfverheerliking gaan, kan ons nie verwag dat ons gaan slaag nie.
Dit is soos die persoon wat na die pastoor toe gaan en sê: “Pastoor, ek het my vrou gelos en bly nou by ʼn ander vrou en het jou raad nodig.”
Die pastoor antwoord hom en sê: “Het jy al die Bybel gelees?”
Hy sê: “Ja, die Here het vir my ʼn woord uit die Bybel gegee om my vrou te los en by hierdie vrou te gaan bly.”
Die pastoor sê toe vir hom: “Nee, God het nie vir jou hierdie woorde uit sy woord gegee nie, die vyand het.”
Die vyand het Yeshua versoek en wat het die vyand gedoen? Die vyand het Skrif uit Abba Vader se woord aangehaal. Met ander woorde, die vyand kwoteer die woord. Yeshua sê: “Nee, daar staan geskrywe, daar staan geskrywe, daar staan geskrywe.”
Yeshua ís die woord! Jy sien, die persoon het nie vir raad gegaan nie, maar vir goedkeuring om in sonde te lewe en om Abba Vader se woord te skend. Met ander woorde, stem dit wat jy moet doen vir Abba Vader ooreen met die raad van ander kinders van Abba Vader en die woord?

Die derde manier hoe ek ʼn woord van Abba Vader kan bevestig, is deur Abba Vader se shalom vrede. Het ek vrede in my besluit? Wandel ek saam met Abba Vader in sy weë en is daar kalmte en vrede in my? Paulus sê in Kolossense 3:15: “En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.”
Met ander woorde, laat Abba Vader se vrede in jou, jou vertel of dit veilig is vir jou of moet jy eerder uit hierdie situasie kom. Hoeveel keer het ons al nié vrede gehad nie, maar dan doen ons dit in elk geval? Abba Vader lei ons nooit deur vrees nie, Hy lei ons altyd deur geloof. As jy nie vrede het nie, kom weg.
Filippense 4:7 sê: “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”
Hoeveel keer lê ons in die aand en rondrol en kan nie slaap nie oor goed in ons lewe?
Dit is omdat ons in ʼn rigting op pad is en daar is nie vrede nie. As ek net eenvoudig sal sê: “Abba Vader, ek wou so graag hierdie gedoen het, maar ek het nie vrede nie, so ek sal stop en ek gaan nie sonder u vrede beweeg nie”, dan sal die vrede terugkom.
Miskien gaan jy deur ʼn baie moeilike tyd in jou lewe en jy staan op ʼn kruispad waar jy vra: “Waarnatoe nou, Abba Vader?”
Abba Vader is by jou en sal met jou praat. As jy Hom nader, sal Hy jou nader.
Abba Vader sê in Psalm 32:8: “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.”
As jy dan nie seker is of dit Abba Vader is wat met jou praat nie, vra Hom vir bevestiging, lees Abba Vader se woord en as dit in lyn is met sy woord, vra mede-kinders van Abba Vader en as hulle saamstem en daar is vrede in jou hart, weet dit is Abba Vader se woord of droom vir jou lewe.

Comments