top of page
Writer's pictureHoutkruis AlephTav

“Mag ek vir ʼn teken vra?" (Deel 3)

Kan ek vir Abba Vader vra om sy droom vir my lewe te bevestig? Dalk sit jy vandag by ʼn kruispad in jou lewe en jy wil net weet watter kant toe om te draai en al wat jy wil doen is om net vir Abba Vader te gehoorsaam en doen wat Hy sê. Ons weet ons kan ons antwoorde “kook” deur net die regte teksvers te soek en dan te sê: “Sien, daar’sy! Hier is die antwoord van Abba Vader af.”


Ons kan egter beslis vir Abba Vader vir ʼn teken of bevestiging vra soos wat Gideon gedoen het. Gaan lees gerus Rigters 6. Ons het gesien die Engel van Abba Vader het gekom en onder die terpentynboom gaan sit, en Abba Vader sê toe deur die Engel vir Gideon: “Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.”


Gideon hoor toe Abba Vader, maar is nie seker of dit Hy is nie en vra vir bevestiging en sê: “As ek dan guns in u oë gevind het, doen vir my ʼn teken.”

Abba Vader het nie vir Gideon kwaad geword omdat hy wou bevestig of dit Abba Vader is wat vir hom sê: “Gaan verlos jou volk van die Midianiete” nie. Gideon het vir ʼn teken gevra en ons weet Abba Vader het vir hom ʼn teken gegee, en net so kan ek en jy vir Abba Vader vir ʼn teken vra.


So, wat doen Gideon toe nadat hy die teken van Abba Vader gekry het? Onthou, Gideon moet die Israeliete van die Midianiete gaan verlos wat net gekom en hulle oes gesteel het. Hulle was meer, groter en sterker as Gideon-hulle.


Met ander woorde, Gideon sê: “Abba Vader, ek weet dis U, ek weet U het met my gepraat, maar rêrig… die Midianiete gaan verslaan … Ek? … Hoe?”


Wat doen Gideon? Gideon vra nóg ʼn teken! Gideon vra vir Abba Vader in Rigters 6:36-37: “As U werklik deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het – ek sal die wolvlies op die dorsvloer neerlê: as daar net op die vlies dou is, terwyl die grond oral droog is, dan sal ek weet dat U deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het.


Gideon vra weer vir ʼn teken en Abba Vader is nie kwaad omdat Gideon Hom weer vir ʼn teken vra nie. Rigters 6:38 sê: “En dit was so: toe hy die volgende môre vroeg opstaan, het hy die vlies uitgebring en die dou uit die vlies uitgedruk, ʼn kom vol water.”


Met ander woorde, Abba Vader gee vir Gideon nog ʼn teken. ʼn Mens wil amper vra: "Gideon… sal jy nóú glo dis waarvoor Abba Vader jou roep?"


Gideon sê egter toe vir Abba Vader in Rigters 6:39: “Laat U toorn nie teen my ontvlam nie, en laat my net hierdie keer mag spreek; laat my tog net hierdie keer met die vlies ʼn proef neem: laat dit op die vlies alleen droog wees terwyl daar op die grond oral dou is.”


Gideon vra vir Abba Vader ʼn derde teken en Abba besluit nie om iemand anders te gaan vra omdat Gideon vir tekens vra nie en Abba Vader word nie kwaad of ongeduldig met Gideon nie. Hy gee vir Gideon ʼn derde teken en het dit daardie nag só gedoen: Op die vlies alleen was dit droog, maar oral op die grond was daar dou.


Met ander woorde, Abba Vader is oukei met ons as ons vir bevestiging vra. Dit is in orde om die volgende te vra: “Abba Vader, ek wil bevestig… ek hoor U, dit is nie Ú wat nie praat nie, dit is my vermoë om te hoor wat die probleem is. Vader, ek kry te maklik my eie gedagtes en selfgesentreerde drome en ek wil net sekermaak dit is U, Abba.”


Abba Vader leer my dit is nie net in orde om seker te maak dit is Hy nie, maar dit is wat sy woord ons leer om te doen. Jy sien, wat Abba Vader my leer, is mý droom gaan oor mý, oor my status en my gemak en oor die eie ek. Alles tot voordeel van myself. Abba Vader se droom vir my lewe is hoe Hy my kan gebruik om ʼn instrument te wees tot sy verheerliking. Hoe kan Hy my gebruik om ʼn verskil te maak vir sy kinders. Hoe kan Hy my gebruik om liefde en lig vir ʼn gebroke wêreld te wees.


Net so het Abba Vader vir Josef ʼn droom gegee en Josef sê vir sy broers in Genesis 37:6-11: “Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het. Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig…”

 Ons weet Abba Vader het inderwaarheid vir Josef twee drome gegee en elke keer in die drome is dit sy familie wat voor hom buig. Jy sien, hierdie droom van Abba Vader vir Josef was net ʼn stukkie van die vervulling van Abba Vader se uiteindelike droom vir Josef.


Die vervulling van Josef se droom was nie dat almal voor hom moes buig omdat hy so groot held of so wonderlik is nie, nee, inteendeel, Abba Vader se woord sê ons mag net voor Hom buig. Jy sien, die droom wat Abba Vader gehad het, was dat Hy Josef wou gebruik in ʼn tyd van hongersnood om duisende mense van kos te voorsien.


Abba Vader het vir Josef gebruik as ʼn instrument om sy volk te red van hongersnood. Abba Vader se prentjie is groter as my selfsugtige prentjie en my eie behoeftes en my status. Dit gaan nie oor my nie, dit gaan oor Abba Vader se glorie… en daarom kan ons vir Abba Vader vra vir bevestiging vir sy droom. Die vraag is: Kan Abba Vader sy droom vir jou lewe deur jou kom leef? Abba Vader se droom vir Gideon het nie gegaan oor hoe wonderlik Gideon is nie, nee… Abba Vader se droom vir Gideon het gegaan oor hoe Hy vir Gideon en sy manne kan gebruik om Abba Vader se volk te verlos.


 Gideon vra Abba Vader drie keer vir tekens om te bevestig dat dit Abba Vader se droom vir hom is en Abba Vader gee drie keer vir hom ʼn teken. Gideon vat toe hierdie outoriteit en roep die hele weermag van Israel om bymekaar te kom en 32 000 man daag op. Slegs 32 000 teen die Midianiete wat 135 000 man is en Abba Vader sê vir Gideon in Rigters 7:2-3: “Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê: My eie hand het my verlos. Roep dan nou tog uit voor die ore van die manskappe en sê: Die wat bang is en bewe, kan teruggaan en wegdraai van die gebergte van Gílead af.”


Met ander woorde, Abba Vader sê vir Gideon hulle is te veel, die vyand is nog steeds vier teen een en die volk gaan hulself verheerlik met so baie man; dit is te veel manne, want as hulle met 32 000 man wen, sal hulle die glorie vir hulle vat. Hulle almal sou dink dit was hulle en dat hulle weermag groot en sterk is. Abba Vader sê vir Gideon: “So, Ek wil hê jy moet ʼn aankondiging maak en sê dat enige een wat bang is, huis toe kan gaan.”


Dalk, as ek Gideon was, sou ek die eerste een gewees het wat terugdraai huis toe… Of dalk gevra het vir nog ʼn teken, want sjoe, 32 000 teen 135 000?

 So, daar was 32 000 man wat opgedaag het en Gideon doen presies wat Abba Vader sê en sê toe vir die 32 000 man: “Almal wat bang is en wat bewe kan huis toe gaan en 22 000 gaan huis toe, net 10 000 bly oor. Gits… kan jy dink hoe het Gideon se gesig gelyk? Die Midianiete bly nog steeds 132 000 man, met ander woorde, nou is dit veertien teen een.


Ek is seker die 22 000 man wat omgedraai het, het vir Gideon en sy 10 000 man wat oorgebly het gesê: “Sterkte, ons bid vir julle, hoor!”


Gideon, wat aanvanklik vir Abba Vader gesê het: “Ag, Vader, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie.”


Dalk voel jy ook soos Gideon vandag en sê: “Wie ek, Abba? Ek is die swakste, die kleinste, die jongste?”


Abba Vader het egter vir hom gesê: “Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.”


En nou? Nou is Gideon en sy manne veertien teen een? Het Abba Vader se drie tekens of bevestigings vir Gideon hierdie geloof gegee om te doen presies wat Abba Vader sê?


Het Gideon dalk besef dat Abba Vader se droom vir sy lewe groter is as sy eie droom? Het Gideon dalk besef dat Abba Vader hom net wil gebruik as ʼn instrument in Abba se hande vir sy glorie? Net so… Hoekom nie ek en jy ook ons eie drome neerlê en streef na die droom wat Abba Vader vir ons het nie?

Hoekom nie streef om, soos Gideon, ʼn instrument in Abba Vader se hande te wees nie? Kom ons doen wat Paulus in 2 Timoteus 2:22 sê: “Vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ʼn rein hart aanroep.”



2 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page