Hoe weet jy die droom wat jy gekry het en waarheen Abba Vader jou stuur, is van Hom af? Is jy doodseker of is daar nog so ʼn bietjie onsekerheid? Abba Vader sê in Spreuke 3:6: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”
So dikwels sit ons egter met onsekerheid en dink: Is hierdie droom van Abba Vader af of is dit my eie selfgesentreerde droom?
Dalk sit jy vandag by hierdie kruispad in jou lewe en jy weet nie watter kant toe om te draai nie en al wat jy wil doen, is om net vir Abba Vader te gehoorsaam (die Hebreeuse woord sh’ma beteken ‘hoor, luister en gehoorsaam’).
Hoe weet ek honderd persent dit is wat Abba Vader wil hê ek moet doen? Is dit nie so dat ons soms besluite maak en ons drome navolg en dan, na ʼn ruk, kom ons agter dit was eintlik die hele tyd ons eie selfgesentreerde drome en nie Abba Vader se droom nie? Ek kan soms teksverse uit Abba Vader se woord gaan haal en sê dis Abba Vader se woord vir my en dan is dit heeltemal uit konteks uit. Ek soek iets in Abba Vader se woord wat vir my die groen lig gee vir my eie drome en dan sê ek: “Maar, Abba Vader… U het gesê!”
Kom ek gebruik ʼn voorbeeld.
Ek bid: “Abba Vader, ek wil graag hierdie nuwe BMW gaan koop. Sal U asseblief vir my wys dit is die regte ding om te doen?”
Dan, iewers deur die dag, kry ek ʼn teksvers, byvoorbeeld Johannes 10:10, wat sê: “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”
Dan is ek so opgewonde en sê dadelik: “Wow, Abba Vader! Dankie vir u antwoord! Ek weet U wil hê ek moet in oorvloed lewe en hierdie BMW is wat U wil hê ek moet hê.”
Die vraag is: Is dit regtig my antwoord van Abba Vader of is my hartsbegeerte net só groot vir wat ek wil hê, dat ek enige iets sal doen om my antwoord te “kook” dat dít die antwoord moet wees?
Het dit al met jou gebeur?
Nog ʼn voorbeeld. Ek het ʼn baie belangrike besluit om te maak. Die maatskappy waar ek werk se kompetisie het ʼn aanbod op my tafel kom neersit en nou moet ek weet wat is Abba Vader se plan vir my. Moet ek bly waar ek is of moet ek die nuwe aanbod aanvaar? Die salaris en voordele is baie, baie beter… “Dit kan tog net van U af kom, Abba Vader?”
Dan vra ek soms raad by vyf ander kinders van Abba Vader, en om saam met my te bid, en drie kom terug en sê: “Ek ervaar jy moet net bly waar jy is.”
Dan reageer ek: “Regtig? Abba Vader, is dit u antwoord? Dit kan mos nie wees nie?”
Die vraag is: Hoe weet ek en jy honderd persent vir seker wat Abba Vader wil hê ons moet doen? Kan ek Abba Vader vir bevestiging vra? Is dit ʼn sonde om vir Abba Vader te vra om net deur ʼn teken te bevestig wat sy droom vir jou lewe is?
Dit is in Abba Vader se woord dat Hy altyd sy woord sal bevestig en dit is nie verkeerd of ʼn sonde om vir Abba Vader vir bevestiging te vra nie. Jy sien, ons het nodig dat Abba Vader vir ons bevestig dat dit wel is wat Hy wil hê ek en jy moet doen.
In Markus 16:20 lees ons: “Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen.”
Yeshua verduidelik en sê dat as jy ʼn broer het wat aanstoot geneem het, gaan praat jy met hom en as hy dan nie luister nie, dan vat jy iemand saam met jou. Dan, in Matteus 18:15-16 staan: “En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan.”
Elke woord kan vasstaan en dit is presies wat die woord “bevestig” beteken. Om iets te bevestig is om iets vas te maak. Wat ons vir Abba Vader vra as ons bevestiging vra, is om sy woord vas te maak, dat daar geen twyfel meer is nie, want dit is vas. Paulus sê in 2 Korintiërs 13:1: “Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.”
So, hoe vra ek vir Abba Vader om sy woord vas te maak of om dit te bevestig? In Rigters 6 weet ons vra Gideon vir Abba Vader dat as daar net dou op sy wolvlies is, is dit vir hom ʼn teken, maar vóór hy nog by die wolvlies kom, het hy al vir Abba Vader gevra om sy woord vir hom te bevestig.
In Rigters 6:11-17 lees ons: “Toe het die Engel van die HERE gekom en gaan sit onder die terpentynboom wat by Ofra staan, wat aan Joas, die Abiësriet, behoort het, terwyl sy seun Gídeon juis koring uitslaan in die parskuip om dit te beveilig teen die Midianiete. En die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die HERE is met jou, dapper held! Toe vra Gídeon Hom: Ag, my heer, as die HERE met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van vertel het, deur te sê: Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar nou het die HERE ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete. Toe draai die HERE na hom toe en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie? Maar hy vra Hom: Ag, Here, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie. Toe sê die HERE vir hom: Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan. En hy antwoord Hom: As ek dan guns in u oë gevind het, doen vir my ʼn teken, dat U dit is wat met my spreek."
Met ander woorde, hier vra Gideon: “As dit U is, Abba Vader, wat met my praat, gee vir my ʼn teken dat ek u stem hoor.”
Gideon gaan verder en sê in Rigters 6:18: “Verwyder U tog nie hiervandaan voordat ek by U kom en my gawe uitbring en voor U neersit nie. Hy sê toe: Ek sal bly totdat jy terugkom.”
Abba Vader praat dus met Gideon, en Gideon sê: “Abba Vader, gee my ʼn teken dat dit U is wat met my praat.”
Gideon het nodig om te weet dit is Abba Vader. Wat wonderlik is, is dat Abba Vader nie snaaks teenoor Gideon opgetree het omdat Gideon wou bevestig dat dit Abba Vader is wat met hom praat nie. Dan sê Gideon: “Laat my toe om ʼn offer vir U voor te berei” en Abba Vader sê: “Ek sal bly totdat jy terugkom.”
Met ander woorde, Abba Vader sal wag sodat ek en jy honderd persent kan weet dit is Hy wat met ons praat. Onthou, daar was nie ʼn winkel naby of ʼn “drive through” nie. Gideon moes ʼn bokkie gaan slag en voorberei het en dan sê die woord het hy die vleis in ʼn mandjie na die plek toe gevat waar die Engel Abba Vader se woorde aan hom gebring het onder die terpentynboom en dit daar neergesit.
Onthou, Gideon vra vir ʼn teken.
Dan sê Rigters 6:20-21: “Maar die Engel van God het vir hom gesê: Neem die vleis en die ongesuurde koeke, en sit dit op hierdie rots neer en gooi die sous daaroor uit. En hy het so gedoen. Daarop steek die Engel van die HERE die punt van die staf wat in sy hand was, uit en raak die vleis en die ongesuurde koeke aan; toe gaan daar vuur op uit die rots en verteer die vleis en die ongesuurde koeke. Intussen het die Engel van die HERE verdwyn uit sy oë.”
Wow! Dit is mos ʼn teken van Abba Vader, dan nie, Gideon? Gideon was so opgewonde oor die teken wat Abba Vader deur sy Engel vir hom gegee het en die woord sê in Rigters 6:22-24: “Toe Gídeon bemerk dat dit die Engel van die HERE was, sê Gídeon: Ag, Here HERE! want ek het die Engel van die HERE gesien van aangesig tot aangesig! Maar die HERE sê vir hom: Vrede vir jou! Vrees nie! Jy sal nie sterwe nie. Toe bou Gídeon daar ʼn altaar vir die HERE en noem dit: Die HERE is vrede! Dit staan vandag nog daar by Ofra van die Abiësriete.”
Gideon het ʼn teken gevra en Abba Vader het vir hom ʼn teken gegee. Ek en jy hoef nie bang te wees om vir Abba Vader ʼn teken te vra nie.
Dawid sê in Psalm 103:8: “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.”
Abba Vader kan nie wag om jou stem te hoor nie en Hy is nie te besig om vir my en jou te bevestig dat dit Hy is wat met ons praat nie. Inteendeel, as ek en jy in verbond is met Hom, intiem saam met Hom wandel, sê Abba Vader vandag vir ons in Psalm 32:8: “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.”
Abba Vader wil hê ek en jy moet sy stem hoor en weet dit is Hy wat met ons praat, Hy wil ons Herder wees en wil nie hê iets moet ons ontbreek nie, Hy wil ons na groen weivelde lei, na waters waar daar rus is. Abba Vader wil ons nie net na groen weivelde toe lei nie, maar ook deur die donker klowe. Loof en prys Abba Vader!
Comentários